kategorieë: Verhoudings

Hallo ‘cougar’…

Hulle word die “cougars” genoem: ouer vroue wat allermins hul ouderdom lyk en deur veel jonger mans aangehang word, of soos Suid-Amerikaanse bergleeus (waaraan die term ontleen is) self die jagwerk doen.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Onder bekendes met katelknapies is daar die model Heidi Klum (50) wat in 2019 met Tom Kaulitz (34) getroud is. Die ouderdomsverskil is 16 jaar. Die rock-ster Madonna (65) se naam is sedert haar egskeiding van Guy Richie (ook jonger as sy) met bloedjong mans soos Alex Rodrigues (47) en model Jesus Luz (37) verbind. Die ster van die TV-reeks Friends, Courteney Cox (59), was sewe jaar ouer as haar man, die akteur David Arquette en is 12 jaar ouer as haar kêrel, Johnny McDaid. Hier ter plaatse het die TV-aanbieder Loui Fish al na haarself as ’n “cougar” verwys.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }
Courteney Cox en Johnny McDaid. (Foto: Jason Merritt/Getty Images for UCLA)

Hulle is beslis nie die enigstes nie. Dit wil lyk of ouer vroue besig is om die sosiale reëls oor ouer-vrou-jonger-man verhoudings te herskryf. Of hulle daarin gaan slaag, moet ons nog sien, maar die feit is dat baie meer vroue die deugde van katelknapies ontdek het. Baie steek ook nie langer die verhoudings weg nie, en al doen hulle dit nog incognito, het enkeles hul stories met ons gedeel.

“Here’s to you, Mrs. Robinson!”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

‘Ek trek jonger mans aan’

Andrie* van Durbanville in die Kaap is 55 en lyk aansienlik jonger as haar jare. Maar beslis ook nie 25 soos haar vorige kêrel met wie sy twee jaar lank ’n verhouding gehad het nie.

Haar gesig is verbasend glad, weliswaar met ’n bietjie hulp van buite, maar dis haar beeld wat jonk en funky is. Haar figuur is nie perfek nie, maar sy lyk goed. Beslis nie tannie óf bimbo nie.

Maar dis nie haar voorkoms wat haar aantreklik vir jong mans maak nie, sê sy: “Ek het ’n ingebore behoefte om mense te vertroetel en dis blykbaar wat jonger mans na my toe aantrek. In al hierdie verhoudings was ek die een wat die mentor geword en finansiële sekuriteit voorsien het. Maar almal se psige en intellek was vir my bitter interessant.Ons kon kopstukke sit en praat en filosofeer. Hulle het my ook baie spesiaal laat voel – baie meer as wat ek in my huwelik van 27 jaar ooit ervaar het. Is dit nie maar die een ding waarna elkeen van ons smag nie?

“Ek het altyd gereken ouer vroue met jonger mans reik terug na hul verlore jeugdigheid en iets wat lankal verby is; dat hulle hul jeug wil herskep. Maar nadat ek drie verhoudings ná mekaar met jonger mans gehad het, moet ek eerlik sê dat in al drie gevalle daar ’n werklik besonderse gewaarwording van voorbeskikking was. Asof dit so bedoel was.”

Andrie het tot op 45 ’n baie konvensionele, voorstedelike bestaan gevoer met twee seuns en ’n musiekskool by haar huis. Dit was eers nadat haar ongelukkige huwelik ná 27 jaar op die rotse geloop het dat sy ervaar het dat aansienlik jonger mans haar onweerstaanbaar vind.

“Ek en ’n vriendin het gaan koffie drink en die kelner van 31 was knaend om my telefoonnommer te kry. Hy was eintlik ’n kunstenaar wat nie genoeg geld met sy skilderwerk kon verdien nie en by ’n restaurant gewerk het om sy inkomste aan te vul. Met my vriendin se aansporing het ek later my nommer vir hom gegee maar gereken hy doen dit sommer vir die grap.

“Ek was verras toe hy ’n dag of twee later bel en my vir koffie nooi, maar ek was tog ook nuuskierig en het ingewillig. Wat is die aantrekkingskrag, wou ek weet? Sy verduideliking was dat ek sy lewe van die eerste oomblik af aangeraak het; dat hy kon aanvoel ons is vir mekaar bedoel. Ek was ook bewus van ’n besonderse aanvoeling tussen ons.

“Tog was ek verleë oor die ouderdomsgaping van veertien jaar en het hom op plekke ontmoet waar ek geweet het vriende en familie ons nie sou sien nie. Dit was moeilik om te aanvaar dat hy net ’n paar jaar ouer as my oudste kind was. Vir hom was die ouderdomsgaping geen probleem nie. Hy was baie volwassse en uiters gemaklik met sy sensualiteit en seksualiteit.

“Tot die aand toe ons by ’n gewilde plek in die omgewing gaan eet en trompop in my seuns vasloop. Hulle was veronderstel om op ’n heel ander plek te wees maar hul planne het verander. Ek was baie ongemaklik maar die kinders glad nie. Om die waarheid te sê, hulle het gedink dis nogal cool.

“Die verhouding het drie jaar gehou tot ek vasgevang begin voel het en moeg was om die mentor en stuurman te wees. Hy het my leeg getap, nes die geval in my huwelik was.

“Ná ’n jaar op my eie, het ek ’n skrywer ontmoet wat ses jaar jonger as ek was. Daar was ’n wonderlike verbintenis tussen ons en ons kon nagte lank filosofeer. Sy hele wese was vir my geweldig opwindend. Dit het net ’n paar maande geduur.

“Daarna is ek en ’n klomp pelle Egipte toe om vir ’n vriendin wat daar skoolgehou het, te gaan kuier. Ná ’n uitputtende dag van vertraagde vlugte en verlore bagasie bespreek ek vir my ’n massering op die boot.

“Ek en die jong masseur het aan die gesels geraak. Teen die derde dag het hy vir my parfuum gegee en gebieg dat hy nog nooit sy hart só teenoor enigiemand kon oopmaak nie.

“Toe ons in Kaïro land, het hy aangehou dat ek net een aand saam met hom moet kom sodat hy sy stad vir my kan wys. Ons het op die Nyl gaan vaar en daar trek hy los en sing met ’n perfekte stem in Arabies ’n lied wat hy spesiaal vir my geskryf het.

“Hy was malverlief op my. Ek het verduidelik hoe onrealisties dit is. Hy was toe 25 en ek 51. Ek was ouer as sy má! Ek het die gebaar baie waardeer, maar daar was nie sprake van verliefdheid nie en ek is terug Suid-Afrika toe.

“Ons het per e-pos begin korrespondeer. As gebore juffrou het ek gevoel ek moet hom leiding gee en ondersteun. Ses maande later het my vriendin uit Kaïro gebel. Sy het dringend ’n onderwyseres nodig en wou weet of ek nie by haar skool wil kom skoolhou nie. Ek was reg vir ’n avontuur en is vort.

“Toe ek eers in Kaïro was, het ek hom liefgekry en ons was twee jaar bymekaar. Tog is ’n verhouding in ’n Arabiese land nie maklik nie. Hy kon nooit alleen in my woonstel kom kuier nie en ons moes mekaar altyd iewers ontmoet. Ek moes hom ook geldelik help.

“Hy is later onder druk van sy familie met ’n ander, jonger vrou getroud, maar het my steeds gesmeek om sy tweede vrou te word.

En nee, dit het nooit oor die seksuele gegaan nie. “In die eerste verhouding was die seks verruklik, maar nie een van die ander verhoudings het op dié gebied noodwendig uitgeblink nie.”

Maar ná drie verhoudings is Andrie klaar met jonger mans. “Ek soek nou iemand van my eie ouderdom wat ek nie moet mentor of finansieel moet ondersteun nie.”

Die aktrise Priyanka Chopra Jonas (41) is 10 jaar ouer as haar man, Nick Jonas. (Foto: Kevin Mazur/MG23/Getty Images for The Met Museum/Vogue)

Ons verskil 14 jaar

Mark (36) en Jane (50) is al elf jaar saam en twee daarvan getroud. “Die ouderdomsverskil van 14 jaar tussen ons was nog nooit ’n kwessie nie. As ek terugkyk na my vorige verhoudings, het ek altyd ouer vroue verkies. Hulle het nog net altyd meer diepte gehad.

“My vriende het haar onmiddellik aanvaar en het nog nooit ’n skewe woord oor haar gesê nie. My ouers het my net aan die begin gewaarsku dat ek bewus moet wees van die werklikheid dat ek later 50 gaan wees en sy 64. Maar het sy haar mooi opgepas en lyk baie jonger as haar 50 jaar. Ek is waarskynlik eerder die een wat ’n paar kilogram kan afskud!

“Ons het saam besluit dat ons nie kinders wou hê nie. Seker gedeeltelik oor die ouderdomsverskil, maar grotendeels omdat ons die vryheid en ons tyd saam geniet – ek reken wel dat indien ek desperaat was om kinders te hê, die verhouding waarskynlik nie sou gewerk het nie.

“Ons het dieselfde belangstellings en hou van mekaar se geselskap. Ons is maar net soos enige ander paartjie, die ouderdomsverskil ten spyt.”

Kris Jenner (68) is 25 jaar ouer as haar kêrel, Corey Gamble. (Foto: Cindy Ord/MG22/Getty Images for The Met Museum/Vogue)

Wat sê die sielkundige?

Die ouer-vrou-jonger-man verhouding is geen nuutjie nie, sê dr. Lynne Robinson, ’n sielkundige van Johannesburg. “In die Middeleeue was koning Hendrik II elf jaar jonger as Eleanor van Aquitaine met wie hy lank getroud was. Die Broadway-skrywers Ruth Gordon en Garson Kanin is in 1942 getroud en het 16 jaar verskil. Hulle was lank en gelukkig getroud.

“Ouer mans het gewoonlik met jonger vroue getrou weens die argaïese persepsie van voortplanting in die huwelik. Boonop verwag die samelewing steeds dat mans die leiding moet neem – wat moeilik is as die man jonger is en die vrou gesien word as die een met die meeste lewenswysheid.”

Hoewel die vrou nou baie meer geëmansipeerd is en ’n goeie salaris verdien, wil dit vir Lynne voorkom of die meeste vroue (selfs die mees uitgesproke feministe in haar praktyk) ’n metgesel soek waarop hulle kan staatmaak en nie noodwendig op ’n praktiese vlak inkoop in die gelyke aandeelhouding in ’n huwelik nie. “Vroue sê maklik dat hulle die gesag deel, maar op ’n praktiese vlak soek hulle ’n man wat die leier kan wees. Dit is wel so dat ’n jonger man se energie na die ouer vrou oorgedra word. Maar uiteindelik dreineer die wanbalans in verantwoordelikheid wat soms in sulke verhoudings is, die vrou se energie.”

Soms is hierdie verhoudings lewensvatbaar omdat die vrou ’n “reddingsmotief” het. Sy voel sy moet hom leiding gee. “So ’n vrou sal die potensiaal in ’n jonger man raaksien, maar in ’n stadium wil sy ook graag hê die potensiaal moet verwesenlik word en druk op hom plaas. Dit is ook so dat vroue wat emosioneel dalk in hul laat tienerjare of vroeë twintigerjare gestagneer het, deur die verhouding met ’n jonger man hul eie emosionele ontwikkeling wil deurvoer.”

Tog wil dit lyk asof baie van hierdie cougar-verhoudings nie die toets van die tyd deurstaan nie. “Daar is min van hierdie verhoudings wat op ’n huwelik uitloop of op lang termyn positief bly.”

Lynne meen dat 10%-15% van Suid-Afrikaanse vroue wat in gegoede gebiede woon verhoudings met jonger mans het, en in minder gegoede gebiede kan dit tot 20% styg. Sy glo nie dat mans noodwendig ouer vroue najaag nie, dis eerder ’n geval van ’n konneksie tussen mense en ouderdom het heel waarskynlik niks daarmee te doen nie.

En dis nie die hunkering na kinders wat die vlieg in die salf is nie. “Dikwels wíl mans nie kinders hê nie en die keuse van ’n ouer vrou waarborg dat hy nooit sy vrou se aandag met kinders hoef te deel nie. Baie jonger mans voel teen hul dertigerjare in ’n hoek gedruk as hul jong vroue druk begin uitoefen om met babas te begin terwyl hulle nog glad nie gereed vir die verantwoordelikheid is nie.”

Maar ligloop, cougars, dis op die oudag waar dinge kan skeefloop. “In ons moderne eeu word daar steeds tradisionele rolle aan vroue en mans toegedig en word dit makliker aanvaar dat jonger vroue hul mans in hul ouderdom versorg as andersom. Ironies genoeg het mans in die algemeen ’n korter lewensverwagting.”

Lees ook: Wat gaan regtig in jou man se kop aan?

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.