Van nuwe sake-avonture tot liefde wat onverwags opvlam, families wat weer nader aan mekaar beweeg en ’n paar gevaarlike geheime wat dreig om uit te lek . . . Dit maak van die feestyd in Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar die kykNET-sepie Suidooster afspeel ’n hutspot van spanning.
’n Hittegolf van bykans-ongekende drama wag op Suidooster-kykers in Desember, en dié storielyne gaan kykers behoorlik die sweet van afwagting laat aftap.
Nazeem droom groot, maar geraamtes ratel
Dit mag dalk die einde van die jaar wees, maar vir Nazeem (Irvine van der Merwe) is Desember die begin van nuwe dinge en as bonus ’n skoon bladsy. Sy onderwêreldse bedrywighede is nou in die truspieëltjie. Waar die Royal eens ’n front was vir twyfelagtige transaksies, probeer hy dit nou omskep as ’n baken van hoop met ’n nuwe reeks produkte, die Royal Crown Collection, wat deur mense in die gemeenskap gemaak word. Hy stel vir Wade (Dean Smith) aan as sy winkelbestuurder en Lee-Ann (Portia Joel) bied aan om die besigheid professioneel te adviseer. Dit klink ideaal . . . behalwe dat Nazeem langtand is oor die moontlikheid dat iemand dalk te diep in sy boeke gaan grawe. Gaan sy verlede hom dalk begin inhaal?
Verbode liefde vir Frankie en Riaan?
Terwyl Kaashifa (Jawaahier Petersen) en die familie uiteindelik hul spirituele reis aanpak, word Frankie (Mienke Ehlers) by Oos Wes oornag in die diep kant ingegooi. Riaan (Daniel Coetzee), soos altyd ongemerk heldhaftig, is daar om haar te ondersteun. Wat begin as hulp tydens ’n krisis, word gou iets meer – ’n magnetiese aantrekkingskrag tussen die twee wat hulle nie heeltemal kan ignoreer nie. Hulle probeer verbete vasklou aan die idee van “net vriende,” maar die realiteit van gevoelens is dikwels minder prakties as wat mense voor hoop. Terwyl hulle dit probeer wegsteek, raak dinge net meer kompleks.

Aiden en Liné se liefde met voorwaardes
Aiden (Theodore Jantjies) se hart klop al hoe vinniger oor Liné (Mila Guy), maar met Jenna (Judi Hattingh) se siekte wat haar wêreld oorheers, voel Liné skuldig om plek in haar lewe vir romanse te maak. Tog bring die lewe vir haar en Aiden ’n paar oomblikke saam wat hulle albei laat wonder of dit nie dalk tog die moeite werd is om liefde te laat wen nie. Intussen is Jenna baie meer betrokke by hierdie nuwe verwikkeling as wat haar gesondheid eintlik toelaat.
Vind Angie haar Romeo?
Humor en romanse bots wanneer ’n eenvoudige misverstand Tristan (Arno Greeff) se aankoms in Ruiterbosch meer opwindend maak as wat dit moes wees – en Angie (Char Carrie) is rooi in die gesig oor dié gebeure. Daar is ’n onmiddellike aangetrokkenheid tussen Ruiterbosch se flambojante naelsalon-eienaar en die aantreklike donkerkop-man. Maar soos die lewe maar is, het Tristan ’n verlede en talle vrae duik op wat hom moontlik vorentoe kan laat bontspring.

Bianca wil nie meer tweede viool speel nie
Bianca (Simone Biscombe) voel reeds vir ’n geruime tyd vasgevang in die rol van die “pastoor se vrou” en sy wil meer betekenis hê in die gemeente. Sy kom met ’n slim idee vorendag – en dit is om ’n app vir die kerk te skep. Wat begin as ’n innoverende plan, ontaard egter vinnig ’n bron van komiese én ernstige chaos. Tegniese foute, anonieme kommentaar en digitale wanfunksies bedreig die vrede onder die gemeentelede terwyl Bianca weier om haar droom te laat vaar. Ja, tegnologie hou baie moontlikhede in, maar eweneens ook baie risiko’s.

’n Feeseisoen met familiedrama
Desember is nooit net ’n tyd van vrede in Ruiterbosch nie, maar dalk gaan ’n paar strydbyle uiteindelik begrawe word. Frankie droom daarvan om haar ouers, Mike (Anrich Herbst) en Amanda (Lindie Strydom), nader aan mekaar te bring, terwyl die twee self worstel met hul eie opgekropte emosies wat reeds lank aan die opbou is.

Suidooster, wat vanjaar sy tiende verjaarsdag vier, word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en om 18:30 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.
Lees ook: WEN ’n Monise Beauty-skoonheidsbederf ter waarde van R2 100!




