Deur Zerelda Esterhuizen
Dis baie moeilik om nie vandag bedruk en swartgallig oor die stand van Suid-Afrika te voel nie. Die ekonomie wankel, korrupsie hou nie op nie, politici is wel, politici, alles wat kan ineenstort, stort ineen en dan is daar nog ons aartsvyand, Eskom, en die gepaardgaande lang, donker nagte … Asof dit nie genoeg is dat ons met Suid-Afrika en sy hutspot van probleme sit nie, is daar ook nog die wêreld en al sy kwessies. Só het elkeen wat hierdie artikel lees boonop sy eie mandjie probleme, wat van gesondheid, verhoudings, kinders, werk en finansies kan wissel.
As ’n mens eers begin dink aan als wat verkeerd loop of verkeerd kan loop, is dit baie moeilik om positief te dink en nie angstig te voel nie.
Daar is al heelwat navorsing oor innerlike vrede gedoen en daar is onder meer bevind dat daar ’n sterk verband tussen innerlike vrede en geestelike en fisieke gesondheid is. Te veel negatiewe emosies, het ’n beduidende invloed op jou geestesgesondheid. Negatiewe emosies soos stres, swaarmoedigheid en angstigheid word met ’n hoër risiko vir geestesiektes verbind en negatiewe gedagtes speel ’n kritieke rol in depressie. Die teendeel is waar vir positiewe gedagtes. Jou kop en lyf kan beslis by positiwiteit baat vind.
Die meestertransformeringsafrigter Liezl Thom stem saam. “Hoe meer ’n mens op die negatiewe fokus, hoe meer sien jy dit om jou raak en dit verhoog stresvlakke, wat ’n geweldige impak op ons gesondheid het. Dit is dus ’n vorm van selfsorg om die positiewe te vind en daarop te fokus.”
Liezl sê ’n mens se gemoedstoestand is binne jou beheer, al is jou eksterne omgewing nie.
“Die outeur en lewensafrigter Martha Beck sê altyd: ‘There’s three kinds of business: your business, my business and God’s business – and if it is not my business, I cannot be in it.’
“Dis een van my lewensbeginsels dat as ek iets nie kan beheer nie, help dit nie ek maak myself siek deur my daaroor te bekommer nie. Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan, maar as jy besluit dat jou gemoedstoestand vir jou ’n prioriteit is, vind jy maniere om die dae waarop jy nie so positief voel nie (wat normaal is) so opbouend as moontlik te gebruik totdat jy weer beter voel.”
Gly, bly en kla of bly …
Rean Steenkamp, ’n lewensafrigter van Pretoria, sê Suid-Afrikaners het drie keuses. Hulle kan eerstens emigreer óf hier bly, oor alles kla, na die verlede terugverlang en mor oor hoe swaar dit is om hier te leef óf hulle kan hier bly, maar met ’n ander houding.
“Baie mense kan nie emigreer nie of wil nie hul mense groet nie en besluit om hul bes te doen om die omstandighede hier te verbeter. Hulle hou nie hulself blind vir wat verkeerd is nie, maar hulle besef dat om daaroor te mor nie die omstandighede gaan verander nie,” sê hy.
Hy glo daar is stappe wat ’n mens kan neem om ‘n positiewe ingesteldheid te behou en innerlike vrede te vind.
“’n Mens het altyd twee keuses: Jy kan eerstens ’n lawaai opskop, kla en jouself aan wanhoop en depressie oorgee. Mense wat só reageer voel meestal hulle is nie in beheer van hul lewe nie, maar word deur omstandighede beheer. Jy kan tweedens besluit om iets te doen om jou en ander se omstandighede te verbeter, deur planne te maak en nie sommer net oor te gee nie. Dit is mense wat voel hulle is in beheer van hul eie lewe en wat besef dat kla nie help nie. Hulle weet dat as elkeen ’n positiewe bydrae lewer, kan dit berge versit.”
Rean raak ook omgekrap en moedeloos, maar sy terapie is om daardie emosies as’t ware uit te draf. “Sodra ek myself goed uitgewoed het, voel ek sommer klaar beter. Ek het dan almal wat so onbekwaam en korrup is goed uitgetrap, hulle in ’n vuurpyl gesit en Mars toe gestuur. Ek kan dan die omstandighede kalmer beoordeel en bepaal of dit regtig so erg is as wat ek dink. As ek niks daaraan kan doen nie, weet ek ek moet vrede daarmee maak. Dan bid ek en vra ek die Here om my te help. Dit help om te weet dat ons in ’n gevalle wêreld bly waar daar altyd hartseer, onregverdigheid, haat en chaos gaan wees en dat ons op ’n volgende lewe kan fokus.”
Liezl se wenke vir vrede
- Wees oordeelkundig met jou mediaverbruik. Nuus neig in die algemeen om op die negatiewe te fokus. Ek sê nie ’n mens moet ’n volstruis wees en nie weet wat om jou aangaan nie, maar gee vir jouself ’n sekere hoeveelheid tyd om nuus te lees of te kyk/luister en hou daarby. Dieselfde geld vir sosiale media.
- Die beste teenvoeter vir donker gedagtes is dankbaarheid. Mens kan nie terselfdertyd negatief én dankbaar wees nie. Hou ’n dankbaarheidsdagboek en daag jouself uit om elke dag iets nuuts te vind om oor dankbaar te wees.
- Moenie negatiewe gevoelens onderdruk nie, want dit vat baie energie. As ons nie die emosies kans gee om in ons lywe gevoel te word nie, bou dit op totdat dit ons oorweldig. Gee vir jouself tien minute en laat jouself toe om die negatiewe emosies regtig te voel. Voel hoe dit jou borskas en keel laat toetrek, voel hoe jou hart vinniger klop, voel die angs … Jy sal verbaas wees hoe vinnig die fisieke manifestasies uitwoed. Wanneer jou horlosie aandui dat die tyd verby is, skud jou hande lekker goed uit om van die energie ontslae te raak, haal ’n paar keer diep asem en herinner jouself daaraan dat jy veilig is.
- Haal ’n paar keer per dag diep asem. Wanneer ons met onderliggende angs leef, raak dit ’n gewoonte om vlak asem te haal. Só stuur ons vir ons lywe die boodskap dat ons in gevaar is. Wanneer ons lekker diep asem haal, stuur ons vir ons senuweestelsel die boodskap dat ons veilig is. Dit het ’n impak op ons stresvlakke, bloeddruk en dies meer.
- Help iemand. Navorsing bewys dat wanneer ons iemand anders help, ons goedvoelhormone verhoog en kortisol (die streshormoon) verlaag. Dit het gesondheidsvoordele en maak jou wêreld ’n beter, vriendeliker plek.
- Kom buitenshuis. Die son bly die grootste bron van vitamien D3 wat ’n groot impak op ons gemoed het. Ons as Suid-Afrikaners dink dat ons genoeg vitamien D3 inkry, maar ons is meestal binnenshuis en kry nie genoeg sonstrale nie.
Rean se voorstelle vir vrede
- Versorg jou fisieke, geestelike en emosionele welstand. Doen aktiwiteite wat jou vreugde en ontspanning bied, soos oefening, lees, na musiek luister, of om tyd in die natuur deur te bring. Maak selfsorg ‘n prioriteit om ‘n positiewe ingesteldheid te bevorder. Fisieke oefening is goed vir die liggaam en jou gemoed.
- Omring jouself met ondersteunende en positiewe mense. Deel jou gevoelens met vriende wat jy vertrou of familielede. Oorweeg om by ondersteuningsgroepe aan te sluit of soek professionele indien nodig.
- Neem betekenisvolle aksie. Neem aan aktiwiteite deel wat ‘n positiewe verskil maak. Dink hier aan gemeenskapsdiens, ondersteun plaaslike ondernemings, of beoefen stokperdjies wat jou vreugde bring.
- Leef aandagtig. Skenk aandag aan jou gedagtes, gevoelens en sensasies sonder oordeel. Doen bewustheidsoefeninge.
- Soek na skoonheid en inspirasie. Dit kan wees om kuns, musiek, die natuur te waardeer of deel te neem aan dinge wat jou gelukkig m aak. Wees aktief op soek gaan na opheffende ervarings wat die negatiewe balanseer.
’n Christelike perspektief
Ds Wimpie Wasserman, ’n predikant verbonde aan die Prisma-gemeente in Rant en Dal, Krugersdorp, sê die situasie in die land maak almal bekommerd. “Ons hoef nie ver te kyk om die verval en die nood raak te sien nie. Dit vra dus baie om hoopvol en positief te bly.
“As gelowige is dit belangrik dat ek myself anker in die waarheid van die Evangelie en my identiteit in Christus. Elke dag is onseker, maar wie ek in Christus is, staan vas. Die wete dat ek geliefd, versorg en deur God gedra word, is sterker as my uitdagings. Maar hierdie waarhede moet deel van my gedagtes word en my uitgangspunt vorm om my eie ‘oorlewing’ in hierdie wêreld te verseker. Daarom moet ek moeite doen om myself hieraan te herinner. Stilte en nadenke hieroor help baie.”
Ds Wimpie noem dat vrede nie iets wat net gebeur nie, maar ’n mens moet doelbewus werk om dit te bereik
“Die gesonde balans van bid en werk vir vrede is belangrik. Ons bid vir God se vrede in hierdie wêreld en in ons harte, maar terselfdertyd werk ons vir vrede.”
Lees ook: Verkoue, griep of iets erger? Só weet jy