Ina Genade se blog: ’n Nuwe normaal

’n Nuwe normaal deur Ina Genade. Hooffoto: iStock/Наталья Кириллова

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

’n Nuwe normaal

Nog min het ek ’n tyd beleef dat almal so ingestel is op mekaar se doen en late.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Gewoonlik ervaar mens so ’n bietjie daarvan aan die einde van die jaar as baie mense afskaal en by die see is, maar gewoonlik is meeste mense dan steeds te besig om die buitelug of vakansie of gesinstyd of feesdae te geniet om regtig só intens ander se doene en late dop te hou.

Die hoeveelheid vriendskapsversoeke op sosiale media wat ek die laaste week of twee ontvang het, getuig hiervan.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Met die beperkte ruimte en geselskap waarbinne die meeste Suid-Afrikaners en ook verskeie ander lande se inwoners tydens die noodgedwonge grendeltyd leef, kom daar ’n natuurlike behoefte om ’n bietjie uit te reik en te koekeloer wat ander doen, sê en dink tydens dié ongewone tyd.

In my eie kuberruim verryk mense soos die skrywers Dana Snyman, Erns Grundling, Annelie Botes en Johan Bakkes my dae met hulle uit-die-hart skryfstukke oor hulle belewenisse van dié vreemde tyd waarin ons leef. Die skrywer Marion Erskine sorg daagliks vir ’n uit-die-maag lagsessie met sy kreatiewe, soms kranksinnige videos van sy solo-isolasietyd in die Verenigde Arabiese Emirate.

Opregte, positiewe mededelings trek mens soos ’n magneet.

Lees ook: Skeur die voorskrif op

Ongelukkig beteken die kuberkoekeloerdery en uitkyk by die regte venster ook dat alledaagse aktiwiteite nou onder die vergrootglas geplaas word. Ons vergelyk en bespiegel, maak voorstelle en veroordeel summier as iets nie presies met ons siening en manier van doen ooreenstem nie.

’n Enkellopende wat kla dat die alleenheid hom vang, word gou op sy plek gesit deur iemand wat omsingel voel deur veeleisende gesinslede of huismaats. ’n Salvo van Tel jou seëninge! word afgevuur.

As iemand ’n foto durf oplaai van ’n heerlike skaapribbetjie op die kole of ’n skemerdrankie in ’n ruim tuin, word daar aangeneem dat dié persoon met die spreekwoordelike witbrood-onder-die-arm kla – en skaamteloos spog. En die oordeel is fél: Hoe durf sy in haar ontwerpersjeans sit vir ’n selfie as duisende doodgaan van die honger en koue?

Sonder dat ons weet of dit daardie persoon dalk vier ure geneem het om weens gemoedstamheid, ’n kwaai verkoue of eenvoudig net ’n gevoel van moedeloosheid oor die “nuwe normaal” uit die bed uit te klim.

Almal is skielik parate polisiebeamptes, kwasi-politici vol planne of uitgesproke deskundiges op die gebied van virologie en ekonomie. Kuberkrygers en sleutelbordsoldate alom.

Aan die einde van die eerste naweek van die grendeltyd, effe in ’n euforie omdat môre Maandag is, maar daar nie vroeg opgestaan hoef te word vir skool nie, hoor ons ’n onheilspellende getip-tip-tipppp uit die besemkas.

Die geiser het druppend die gees gegee.

Die versekering bevestig dat hulle die volgende dag iemand sal stuur, maar die volgende dag breek aan met die nuus dat iemand dalk nie betyds uit die Kaap sal kan kom nie.

Ons kry iemand plaaslik wat gou kom kyk en die Dinsdag die stukkende affêre kan kom vervang. Dinsdagoggend is dinge maar redelik deurmekaar soos dit gaan na ’n dag en ’n half sonder warm water, maar die gawe loodgieters daag op en so ’n uur sedert hulle begin werskaf het, kom die een kopskuddend ingestap van waar hy gereedskap uit hulle bakkie gaan haal het. Hy moes sopas sy permit om te werk aan die Polisie wys nadat “die bure” glo die Polisie gebel het om te kla omdat ons “bouers” op die erf het. Dit met ’n stukkende geiser wat silwer in die oggendson op ons opritpad lê en blink vir almal om te sien.

Iemand was duidelik verveeld of geïrriteerd omdat hy of sy nie vroegoggend kon gaan draf nie en haal dit toe op die kouewaterbure uit.

Iemand anders verklaar daagliks ingenome dat sy in vyf, ses, sewe dae nog nie ’n voet by haar deur uitgesteek het nie … behalwe om apteek toe te gaan. Dadelik steek iemand anders haar neus in dié saak en vra hoekom die eerste iemand nie eerder laat aflewer het nie. Kort daarna kap iemand teë en sê dat sy nog glád nie uit die huis was nie, want sy bak haar eie brood en oes haar eie groente.

’n Dag later kuberbedank (nog ’n vreemde fenomeen as mens dink dit kon bloot met ’n privaat teksboodskap gedoen wees) laasgenoemde haar gawe bure wat eetgoed oor die heining aangegee het – en ek wonder heimlik of die skons met ’n Dettollappie afgevee is soos sy met ander mense se doene en late maak?

Nog iemand kla steen en been oor ’n plaaslike supermark waarvan die personeel nie sus of so dra nie – en ek wonder heimlik of die klakous met enigiets minder as ’n kassier in ’n Nasa-ruimtepak tevrede sal wees as hy sy brood gaan koop? Dit is tog onsinnig om iets soos handskoene te dra en van item tot item en klant tot klant te vat sonder om tussen items en klante hande te was of saniteer soos wat enige regdenkende met kaal hande sou doen?

Die spreekwoord wat sê “Menings is soos agterente – elkeen het een” begin al hoe duideliker word.

Ina Genade se blog: ’n Nuwe normaal iStock/nadia_bormotova

Gepraat van. Dit blyk dat die ergste kommer oor toiletpapiervoorraad reeds tydens die eerste naweek van die grendeltyd besweer is. Die fokus het toe verskuif na die vorige week se vrugte wat nie meer so vars is nie en gevolglik is piesangbrode gebak en op kubermure geplak. Ook hier aan’t huis.

Toe die manne begin uitgekuier raak met al die gebak en geëet, het hulle die bestanddele een-een begin drink in aanlynuitdagings wat massas macho-masochisme, maar bedenklike breinkrag, verg.

Ontwerpersmaskers was die volgende modegier wat op sosiale media gedeel is. Katoen, shweshwe, weefstof en selfs handdoekstof is ingespan. In wisselende grade van doeltreffenheid, vermoed ek, maar kleurvol beslis.

Geen masker kon egter keer dat mens verstik aan fopnuus nie.

Weer eens was ons regering paraat en dreig nie net om diegene wat hulle skuldig maak aan die verspreiding van hierdie vals, opruiende gerugte te vervolg nie, maar hulle slaan toe en verskeie boetes en arrestasies volg. Steeds hou sommige aan om ’n halwe kloutjie by die sleutelbord te bring en oorloos valshede te versprei.

Aan die einde van die tweede week van hierdie abnormale nuwe normaal, word die nuus aangekondig dat ons ’n verdere veertien dae ná die aanvanklike 21 sal moet binne bly. Sakeondernemings se eienaars sug benoud. Mense wat hulle personeel, werkers en huishulpe net ’n week of drie vooruit kon betaal, skud moedeloos die kop. Mense wat van die hand-na-die-mond lewe raak opstandig as wetstoepassers hulle uit die strate en kronkelende, stampende winkeltoue probeer hou.

Hoe nou vorentoe?

Aan die anderkant van die munt sug sommige ouers verlig want wie weet of dit sou veilig wees om die kinders oor ’n week of twee weer skool toe te stuur? Almal weet met die oorgang van seisoene sien ons dikwels meer verkoues en ander skete.

Kenners waarsku dat die ergste nog lank nie verby is nie, want die winter is op pad. Ander is van mening dat die grendeltyd en tot dusver lae getalle vergeleke met die res van die wêreld bloot ’n valse gemoedsrus geskep het en met ’n groot gros van die bevolking wat hulle in elk geval geensins aan die inperkingsreëls gesteur het nie, word vermoed dat die kurwe juis ná die inperking gelig is, skerp gaan styg.

Dit is asof sommiges nou skielik nog meer skuiwergate soek om die huidige maatreëls te buig of te omseil. “Ek het ’n manier gekry om steeds met die hond te gaan stap – ek stap eenvoudig supermark toe,” spog een. “Ek sien geen kwaad daarin as my kind ’n middag by sy maat gaan speel nie, ons gesinne is tog versigtig en was ons hande,” laat ’n ander opstandig hoor.

Lees ook: Aweregs en anders

Ons sien videos waar oortreders in die Kaap en elders op die strand of in woonbuurte gaan stap of met hulle honde gaan draf en dan paniekerig van die wetstoepassers probeer weghardloop. Daar loop sy nou haar rieme styf – sy wou mos die reëls oortree, giggel ons kopknikkend vir mekaar.

Terselftertyd is daar mense wat nie ’n oog knip as ander roofkopieë van e-boeke, tydskrifte en koerante aanstuur nie en klakkeloos aanmoedig en meedeel. “Ek het nie geweet dis verkeerd nie,” verweer hulle en raak skaamkwaad omdat hulle uitgevang is.

Selektiewe sin-vir-geregtigheid, Susan?

* * *

Wat lê vir ons voor in die volgende weke en maande?

Ek dink dit is almal se grootste bekommernis.

Waarheen lei hierdie virus en al die maatreëls om dit te probeer bekamp ons en ons toekoms?

Hoe lyk ons toekoms?

Gaan ek siek word? Gaan my kinders siek word?

Sal daar plek wees in die hospitale?

Sal my sakeonderneming ooit weer die mas opkom?

Gaan my Matriekkind kan eksamen skryf?

Die ekonome en viroloë en dergelike deskundiges waag ingeligte menings en voorspellings. Maar, ek dink niemand weet regtig nie. Ons kan kyk en leer by plekke soos China en dele van Europa waar die getalle weer afwaarts neig en dinge na maande in ’n mate begin terugkeer na normaal. Maar, geen situasie is ’n bloudruk van ’n ander nie.

Gaan dinge ooit weer terugkeer na die normaal wat ons geken het?

Ek twyfel.

As ek sien hoeveel groot feeste en samekomste en vieringe vir “die dag na lockdown” beplan word, hou ek my hart vas. Ons almal mis dit waaraan ons gewoond was – of dit nou vrylik rondry of rondloop in die winkels of in die natuur is, of groot kuiers om braaivleisvure. Maar, ek glo dat die meerderheid sal besef dat dié virus nie gehok sal wees die middernagtelike uur as en wanneer ons gehoktheid uiteindelik opgehef word nie.

Ons behoort nooit weer onoordeelkundig op te tree en ons eie, maar ook ander se lewens in gevaar te stel nie – hetsy deur iemand aan die virus bloot te stel, of op enige ander manier nie.

Lees Ina se ander blogs – klik hier

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.