Die leier van die DA en minister van landbou, John Steenhuisen, is op 11 November om 21:00 Lee-Ann van Rooi se gas op die gewilde kykNET-geselsprogram Waar daar ’n wil is. Hulle praat oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe, en twee van sy vriende vertel van die kant van John wat mense dalk nie ken nie.
Hier’s ’n voorskou van vyf van die belangrike onderwerpe onder bespreking:
Saam met pres. Cyril Ramaphosa in die Withuis
John sê as ’n politikus was dit ’n eer om deel van die Suid-Afrikaanse afvaardiging te wees wat pres. Donald Trump in die Oval Office op 21 Mei vanjaar besoek het, selfs al is hulle onkant gevang deur ’n video wat die kollig op radikale elemente in die land geplaas het. John verklap dat niemand behalwe pres. Ramaphosa veronderstel was om te praat nie, maar sê dat almal in die afvaardiging daar was om die land op ’n internasionale verhoog te verteenwoordig. John vergelyk dit met ’n krieketwedstryd: Jy staan op die blad en kolf vir jou land wat jy weer op die voorvoet in die verhouding met Amerika wil sit. “Dit was belangrik om ’n punt te maak dat ons ’n RNE (Regering van Nasionale Eenheid) het wat juis ingestel is om elemente soos dié in die video uit die regering te hou.”
Sy politieke loopbaan
John vertel hy het as 22-jarige reeds die politiek betree. Hy het as jong man vir lank in ’n Franse restaurant in uMhlanga gewerk en later vir ’n maatskappy wat die bestuur van, onder meer, woonstelgeboue hanteer het. “Jy leer baie van mense as jy daardie werk doen,” sê hy. John was vir tien jaar ’n wyksraadlid vir die destydse DP (Demokratiese Party), en dit was vir hom ’n goeie fondasie vir sy verdere loopbaan in die politiek. Aan die begin van die program vertel hy meer van sy verdere studies waarmee hy besig is. “Ek is ’n bietjie moeg om Suid-Afrika se mees beroemde matrikulant te wees,” spot hy. “Ek was by die universiteit gewees, maar ek het nie klaargemaak nie. Ek wou seker maak dat ek hierdie graad kan kry om vir myself te verduidelik dat ek dit kan doen, maar dit sal ook bietjie van die ander mense stilmaak.”

Vriende, die liefde en kospotte
Twee van John se goeie vriende, Steve Ikin en Sandy van Hoogstraten, was deel van die program en het vertel dat hulle John se lojaliteit, sin vir humor en vrygewigheid waardeer. John is ’n kranige kok wat graag sy vriende aan tafel bederf. In die gesprek met Lee-Ann praat hy oor hoe hy sy tweede vrou, Terry, ontmoet het toe hulle nog al twee getroud was. “Dit was beslis ’n geval van liefde met die eerste oogopslag. Ek wens dit kon onder ander omstandighede gewees het, maar ná 15 jaar van getroud wees en net geluk, is dit wonderlik om huis toe te kom na iemand wat verstaan waardeur jy gaan,” was sy woorde.
Landbou
Lee-Ann het hom gevra hoe hy gevoel het toe Cyril Ramaphosa hom gebel het om die minister van landbou te word. “Dit was ’n moeilike tyd. Ons was besig met daai gesprekke, en daar was baie onsekerheid. Die eerste aand toe ek dit rêrig geglo het, is toe die president die name genoem het op televisie,” was sy antwoord. Lee-Ann wou ook weet hoe hy as Engelssprekende Suid-Afrikaner aangepas het as minister van landbou in ’n veld wat oorwegend Afrikaans is. (John het van Lee-Ann se vrae in Afrikaans en ander in Engels beantwoord.) “Die mense in die landbousektor is die beste mense in die land,” het hy gesê. “Hulle sien nie probleme nie – hulle sien geleenthede om dinge reg te kry. Hulle help nie net met kos op die tafel nie, maar met ekonomiese groei.”
Die toekoms van Suid-Afrika
John glo ons het ’n blink toekoms, maar reken ons moet ekonomies vinniger groei. “Wanneer die ekonomie groei, spreek dit ook probleme soos werkloosheid, sosiale kwessies en misdaad aan. Ons moet ophou praat en begin dóén.”
Op die vraag wat sy boodskap vir Suid-Afrika is, het John gesê ons is gelukkig om in hierdie mooi land te bly, en dit is die moeite werd om daarvoor te baklei.

Lee-Ann het afgesluit met ’n boodskap wat sy vir John geskryf het:
“Ek gaan ’n T-shirt laat maak wat sê: Landbou is nie vir sissies nie. Want om te bou in hierdie land, moet jy ’n hand vashou; vasklou vir ewig blou, want landbou is nie vir sissies nie”.
Waar daar ’n wil is, met John Steenhuisen as gas, word op 11 November om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Lees ook: Appels, tee en ’n kuif vol karakter: Ivan Zimmermann oor Dawid Rossouw
