kategorieë: Verhoudings

Jy, jou lyf & die liefde

Geboorte en dood. Dié twee is normale gebeurtenisse in elke mens se lewensverloop, of hoe? Nie uit die oogpunt van ons samelewing nie. Met ouer word en die dood het ons allermins vrede, en hoewel geboorte ’n aanvaarbare onderwerp van bespreking is, is die aanleidende gebeurtenis – seks – nog grootliks taboe.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Ons praat nie graag daaroor nie, veral nie met ons kinders nie, en wonder of iemand oor ons skouer kyk as ons daaroor lees. Dit ten spyte daarvan dat elkeen van ons se bestaan tydens orgasme begin het, soos die Amerikaanse skrywer en ginekoloog dr. Christiane Northrup dit stel. “Dit was minstens vir jou pa plesierig,” voeg sy skalks by.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Indien die vorige paragraaf jou ongemaklik laat voel, is jy nie alleen nie. Charine Glen-Spyron, ’n kliniese sielkundige van Bryanston, het in haar magisterstudie oor die verband tussen eiewaarde en seksuele tevredenheid onder volwasse Suid-Afrikaanse vroue gevind dat seksualiteit steeds ’n gelade en komplekse onderwerp is. Dis insiggewend dat haar driehonderd toetspersone studente tussen 18 en 36 jaar oud was; die vooroordele en ongemaklikhede waarmee dié van ons in ons middeljare grootgeword het, swaai skynbaar steeds die septer onder die jonger geslag. En dit geld alle kulture, sê Charine.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hierdie artikel fokus nie op die reg of verkeerd van sekere uitkyke nie, maar op faktore wat ’n uitwerking op vroue se eiewaarde en seksuele tevredenheid het. “Sienswyses soos dat seks ‘vuil’ is, nie geniet mag word nie, of net vir voortplanting bedoel is, het hul oorsprong in die denke en dikwels godsdienstige oortuigings van groepe waarbinne ons grootword. Dis ’n sosiale konstruk: dit word meestal nie uitgespreek nie en niemand weet hoe dit ontstaan het nie. Tog lê dit diep in die onbewuste en kleur dit ons ervaring.”

Eiewaarde

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Dis ’n rare vrou wat régtig glo sy is goed genoeg. Die meeste van ons se siening van onsself het hier en daar ’n duik, en in sommige gevalle ’n donga.

“Eiewaarde is die waarde wat ons aan onsself as mens heg – die manier waarop ons glo ons in verskillende situasies en by ander mense pas. Die gesin waarin ons grootword, speel ’n deurslaggewende rol. As ouers ondersteunend is, nie te veel druk op hul kinders plaas nie en tevrede is met hul prestasie, is die kinders se eiewaarde hoër.

“Maar ons leef nie in ’n ideale wêreld nie en talle faktore skaad ons selfagting. Indien ’n broer of suster anders behandel word omdat hulle op ’n sekere gebied beter presteer, voel ons minderwaardig. Dieselfde geld wanneer hulle weens siekte, gestremdheid, ’n leerprobleem of om ’n ander rede meer aandag kry. Dikwels wonder ons as volwassenes hoekom ons slegs aanvaarbaar voel as ons meer en meer doen. Dis ’n voortsetting van die patroon uit ons kindertyd.”

Ons ouers se welsyn en eiewaarde beïnvloed ons ook. “Depressie is ’n kliniese toestand en niemand se skuld nie, maar ’n ma wat depressief is, is dikwels emosioneel afwesig – wat kan veroorsaak dat haar dogter weens die gebrek aan koestering aan haar waarde begin twyfel. As ’n ma glo sy is onaantreklik en haarself nie goed versorg nie, kan haar dogters haar sienswyse navolg.

”Indien jy jou voorkoms weens minderwaardigheidsgevoelens afskeep, moet jy jouself nie veroordeel nie. Kyk eerder of jy maniere kan kry om jou eiewaarde te verhoog. Ons waarde word nie deur ons gewig of voorkoms bepaal nie maar die mate waarin jy jouself respekteer, stuur duidelike seine aan die mense om jou uit. Dis ’n bepalende faktor in hul optrede teenoor jou.

“Ten diepste setel die belewenis van nie-aanvaarding in die gevoel dat jy nie in die voorgeskrewe vorm pas nie. Dis dikwels die gevolg van kulturele en godsdienstige vereistes of rolverwagtinge, soos ‘vroue hoort in die kombuis’. Indien jy hiervan afwyk – as jy met ander woorde ‘anders’ is – lei dit tot innerlike konflik. As jou ouers baie nougeset is, of as jy voel dat jy ’n godsdienstige reël oortree, is dit nog erger.

“Ten opsigte van seksualiteit kan dit ’n mynveld word. Aan die een kant is ons, of ons groep dit nou wil erken of nie, seksuele wesens. Ons is geskape om voort te plant en het ingebore seksuele drange. Aan die ander kant is die boodskap wat ons kry baie keer: ‘Seks is verkeerd’. Ervaar jy seksuele begeertes, voel jy jy is ’n slegte mens / ’n sondaar / iemand wie se waardes nie goed is nie. Om dit te vererger, geld verskillende maatstawwe dikwels vir mans en vroue. Seuns wat verskeie seksmaats of voorhuwelikse seks het, is viriel. Meisies wat dit doen, is slette.

“Die kwessie waarmee talle vroue worstel, is: hoe leef ek as ’n seksuele wese? Hoe versoen ek my natuurlike drange met die ideaal wat aan my voorgehou word? Die onversoenbaarheid van hierdie twee uiterstes word versinnebeeld deur die verskynsel dat mans partykeer slegs een van twee rolle aan hul maats toeken. Hy sien haar óf as die maagd / moeder / vlekkelose vrou na wie hy kan opkyk, óf as die sinlike vrou / sondares. Vroue voel aan dat hulle nie albei mag wees nie en voel verward en skuldig oor hul seksualiteit.”

Charine verwys na Freud se id, ego en superego, die drie ego-state in elkeen van ons. “Die id verteenwoordig jou primitiewe drange, die superego eggo die reëls wat van buite aan jou voorgehou word, en die ego se taak is om die samespel van die id en superego te reguleer. Die ego moet dus ’n balans kry tussen jou normale seksuele drange (die id) en die voorskrifte van die samelewing (die superego). Die mate waarin iemand dit kan regkry, word sy of haar egosterkte genoem.

“Om dit prakties te maak: gestel ’n vroulike student uit ’n huis waar voorhuwelikse seks taboe is, is vier jaar lank in ’n vaste verhouding. Die natuurlike ontwikkelingsgang van ’n verhouding bring ’n paartjie emosioneel én fisiek nader aan mekaar. Die seksuele intensiteit van die verhouding neem outomaties toe.

“As die student geleer is dat ‘goeie vroue wag tot hulle getroud is’ maar ’n toenemende begeerte na seksuele nabyheid ervaar, sal sy skuldig voel. Dis vir haar moeilik om tussen hierdie twee pole rondgeslinger te word. Boonop trou mense deesdae later, wat beteken dat hulle nog ongetroud is op hul vrugbaarste ouderdom. Deur hierdie voorbeeld moedig ek nie voorhuwelikse seks aan nie, maar probeer ek die innerlike konflik belig. Dit het ’n invloed op vroue se eiewaarde, wat onlosmaaklik aan hul seksuele tevredenheid verbind is.”

Seksuele tevredenheid

“Min vroue weet hoe om seksuele tevredenheid te definieer – enersyds omdat hulle bang is iemand veroordeel hulle as hulle hieroor praat, en andersyds omdat vroue geneig is om meer op hul maat se satisfaksie te fokus as op hul eie. Nes die samelewingsreëls ’n deurslaggewende rol in baie vroue se lewe speel, koppel hulle die gehalte van hul seksuele ervaring aan ’n eksterne persoon. Die vraag of dit goed gaan in die slaapkamer, is vir hulle die vraag of hul maat tevrede is. Vrae soos: Is ék gelukkig? of: Waarvan hou ek? kom dikwels nie eens by hulle op nie. Weer eens is dit dikwels die gevolg van ’n onbewuste oortuiging dat mans van seks mag hou, maar dat ‘goeie’ vroue dit nie mag geniet nie.

“Seksuele tevredenheid lê op ’n kontinuum. Daar is nie ’n ‘reg’ en ’n ‘verkeerd’ nie, net wat vir jóú lekker is. As jy nooit hieraan aandag gee nie, kan jy gerus twee dinge doen: luister na jou lyf, en doen klein stappies om jou ervaring plesieriger te maak.

“Vir vroue is seks in ’n groot mate in hul kop. Ons vind dit moeilik om ‘af te skakel’. Ons wonder gedurig: Doen ek die regte ding? Is my maat gelukkig? Dink hy nie my borste lyk nie meer soos tien jaar gelede nie? Dis waarom navorsingsresultate wys dat liggaamsbeeld die belangrikste aspek van eiewaarde is wanneer seksuele tevredenheid ter sprake kom. Baie vroue tob gedurig oor hul liggaam en die aanvaarbaarheid daarvan, selfs in die liefdespel.

“Wanneer jou gedagtes hiermee besig bly, veral tussen die lakens, moet jy besef dat dit wat jy beleef ’n persepsie van die situasie is, en nie noodwendig die werklikheid nie. Jou vooropgestelde idees oor jou liggaamsgebreke kan hemelsbreed van jou man se ervaring van jou lyf verskil. As jy wonder of hy agterkom jou maag is pap, moet jy jou herinner dat jy´ wonder of hy agterkom jou maag is pap.

”Mans is meesters wanneer dit kom by die genieting van die oomblik. Masters and Johnson se navorsing het bewys dat fisieke prikkels mans seksueel stimuleer. Hulle dink nie soveel aan die stand van die verhouding en die ander dinge waaroor vroue hulle moeg maak nie. Hulle kan ’n vrou wat haar klere uittrek een kyk gee en gereed wees vir seks.

“’n Vrou is anders. Dis moeilik om die fokus van jou gedagtes na jou liggaam te verplaas, maar jy kan leer om dit te doen. Vra jou af watter aanrakings jy sensueel en stimulerend vind. Moenie bang wees om die energievloei tussen jou en jou maat te volg nie – geniet dit net. Neem kennis van die stemmetjie wat sê jy mag nie, maar moenie daarop inspeel nie. Uiteraard moet jy niks doen wat teen jou beginsels is of erge ongemak skep nie, maar dis ’n goeie plan om die grense van jou gemaksone geleidelik te verskuif. Sit ’n bietjie druk op jouself en probeer gereeld iets nuuts. As jy slegs met seks in die donker gemaklik is, sit ’n slag die bedliggie aan. Sodra jy daaraan gewoond is, kan jy ’n ander kans waag. Só brei jy jou genotvolle ervarings uit.

“As seks regtig nie meer vir jou lekker is nie, as jy dit nie kan verdra dat jou maat aan jou raak nie of sukkel om ’n orgasme te kry, is dit tyd om hulp te soek. Vroue is geneig om stilswyend in potensiële probleemsituasies te bly totdat die vraagstuk te groot word om op te los. Takel die kwessie betyds.

“Seksuele tevredenheid is ’n kernaspek van fisieke én emosionele gesondheid. Dis ook bepalend vir ’n gelukkige verhouding met jou maat. Werk daaraan. Eien die faktore wat jou ingesteldheid kan benadeel en bespreek dit met iemand wat sal verstaan, of gaan spreek ’n berader. Leef jou lewe voluit!”

Charine Glen-Spyron 011 463 4438

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.