kategorieë: Persoonlike groei

Klere wat kul

Te midde van ’n groot skoonmaakpoging kom ek op ’n romp af wat ek as student in 1979 gedra het. ’n Pragtige wit broderie anglaiseromp in ’n nommer 12. ’n Nommer 12! Die klere in my kas wissel tussen ’n ses, agt en tien. En boonop pas dié nommer 12 gevaarlik styf om my middel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Dis glad nie vir klerevervaardigers ’n verrassing nie, want die nommer 12 wat jou ma ’n paar dekades gelede gedra het, is myle kleiner as die nommer 12 wat deesdae op die rak lê.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Volgens ’n tabel met die groottes van vroueklere, is ek ’n nommer 6 in Amerika, 10 in Engeland, 38 in Frankryk, 11 in Japan, 42 in Italië en 36 in Duitsland. Alles bloot syfers om inkopies wêreldwyd makliker te maak. Of hoe?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Grootte is ’n hedendaagse maatstaf vir selfbeeld,” verduidelik Susan Head, ’n Amerikaanse kliniese sielkundige.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Klerevervaardigers weet ewe goed dat kleregroottes saak maak, en sedert die jare tagtig is daar kleiner nommers vir die bestaande stel afmetings gegee.

Die verweer was dat iemand wat nou ’n nommer 12 dra, ’n paar dekades gelede waarskynlik met ’n nommer 16 tevrede moes wees. Boonop kan ’n nommer 12 tussen handelsmerke verskil en soms selfs in klere met dieselfde handelsmerk.

Baie verwarrend vir verbruikers, maar volgens ’n Amerikaanse studie net so bevredigend. Dit word “vanity sizing” genoem. ’n nommer 8 in die Amerika van die jare vyftig, het in 1970 ’n nommer 4 geword en in 2006 ’n zero, sê bemarkingsprofessor Arandhna Krishna aan die Universiteit van Michigan in ’n artikel in The Journal of Consumer Psychology.

“Amerikaanse vroue verkies klere met etikette in kleiner eerder as groter nommers. Die krimpende groottes gee hul selfvertroue ’n hupstoot en laat hulle glo hulle is skraler as wat hulle werklik is.”

Dit kan goed vir die siel wees, maar nie so goed vir die hart nie, waarsku die gesondheidspolisie. Volwassenes (en veral vroue) word net groter en groter en die moontlikheid van hartvat- en lewenstylsiektes soos diabetes skiet die hoogte in.

Suid-Afrikaanse vroue het die hoogste voorkoms van vetsug in Afrika suid van die Sahara. 70% van vroue en 30% van mans word as oorgewig geklassifiseer. ’n Volle 42% van hulle is boonop vetsugtig. Daarby is ons kinders derde op die wêreldlys van vetsugtiges.

Sommige kenners glo vanity sizing kan vetsug bevorder, want mense lei hulself om die bos met kleregroottes wat nie groter word nie, al is hulle soos brooddeeg aan die uitrys. Hoekom sal jy briek aandraai en gesonder eet en oefen as jy steeds dieselfde grootte klere dra?

En mans is in dieselfde (gewigtige) bootjie. ’n Paar jaar gelede het die tydskrif Esquire verskeie manslangbroeke getoets en bevind dat die meeste afmetings 4,5 – 7 cm groter as die broekgrootte was. Een handelsmerk het selfs 11 cm groter gemeet.

Volgens die New York Times kan ’n vrou soms ’n nommer 4 in die een handelsmerk dra en ’n 10 in ’n ander. ’n Realistiese koper behoort na die passing van die klere te kyk en haar nie aan die grootte te steur nie.

In die praktyk is dit ’n ander saak. As ’n vrou agterkom dat haar gewone grootte jeans van handelsmerk A styf pas (omdat sy frisser is), maar dat die dieselfde grootte jeans van handelsmerk B gemaklik sit (omdat hul groottes verslap is), sal sy waarskynlik subjektief meer van handelsmerk B hou en eerder daardie denim koop.

“Ontwerpers weet dat tevrede verbruikers voortaan voorkeur aan daardie handelsmerk gaan gee. Skraalheid word soveel bespreek en beklemtoon dat ons ongelukkig groot waarde daaraan heg. Grootte bly in jou onderbewussyn en jy kan nie help om jou daaraan te meet nie.”

Volgens ’n senior modehoof by Saks Fifth Avenue is die Britte en Franse se groottes gewoonlik redelik geloofwaardig, die Italianers se nommers is kleiner (jy sal ’n groter nommer moet kies) en die Amerikaners is aan die vrygewige kant met groter afmetings vir kleiner nommers.

’n Marc Jacobs nommer zero is eintlik ’n nommer 4 en Donna Karan is ook bekend vir haar groottes wat saam met jou groei!

Die begeerlike nommer zero in Amerika het nie voor 2000 bestaan nie. Klaarblyklik het die Amerikaanse ontwerper Nicole Miller dit begin gebruik toe hul verkoopsbestuurder een seisoen die klere se groottes meer vrygewig wou maak. Hulle het toe hul nommer 8 ’n nommer 6 gemaak. Die probleem was dat die petite-grootte wat voorheen ’n nommer 2 was, toe verdwyn het. Dit word toe ’n zero. Namate nommers aangepas is, was dit later nodig om ’n nommer 00 en 000 te skep.

’n Studie het ook getoon dat kopers wat afgehaal voel omdat hulle nie in ’n grootte pas nie (omdat hulle gewig aangesit het) makliker geld sal bestee aan items wat nie aan grootte gekoppel word nie, soos grimering, serpe en bykomstighede.

Jare gelede het ’n storie die rondte gedoen oor ’n fotosessie wat die aktrise Sharon Stone met die Amerikaanse tydskrif W Magazine gehad het. Die grootte van die klere was, helaas, nie na haar smaak nie en ’n helper is gestuur om klere uit Sharon se klerekas te gaan haal – waarvan al die groottes afgeknip was!

Kurwes is sexy

Susan Moses, ’n bekende Amerikaanse stilis van bekendes en glansmense en skrywer van The Art of Dressing for Curves, verduidelik dat dit ’n opdraande stryd is om vanity sizing te verduidelik.

“Dis ’n neiging wat al jare aan die gang is. Die meeste vroue se kleregrootte verskil in elk geval van handelsmerk tot handelsmerk en van ontwerper tot ontwerper omdat elke ontwerper sy eie modelle vir passing en grootte gebruik.

“Ek probeer die kwessie van die emosionele waarde van kleregrootte systap deur aan my kliënte te wys hoe lieflik hulle lyk in klere wat ordentlik pas. Ek moedig vroue altyd aan om hul eie afmetings goed te ken. Wanneer jy weet wat jou eie bors-, middel- en heupafmetings is, kan jy die akkuraatste passing kry. Om jou blind te staar teen die nommer op die etiket is die goorste ding wat jy vir jouself kan doen. Die korrekte pas moet altyd die deurslag gee.

“Ek glo dat wanneer ons vertroue het in wie ons as vroue is, lyk ons nie net wonderlik in die klere waarvan ons hou nie, ons is ook meer gefokus en produktief. Selfvertroue het ’n geweldige uitwerking op alle aspekte van jou lewe. Jy sal verstom wees oor die mate waarin jy ander kan inspireer en wat jy kan vermag as jy goed voel in wat jy dra.

“Vroue van alle vorms en groottes wil graag op hul beste lyk. In die verlede het ontwerpers om die een of ander rede gevoel dat alle groter vroue ovaalvormig is en al die klere vir dié groep is toe ontwerp om vormloos te wees en soveel moontlik toe te maak. Geen moeite is gedoen met vleiende ontwerpe wat die strategiese dele sou pas nie. Gelukkig is daardie dae verby en is daar vandag meer opsies wat enige figuur vlei.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

7 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

7 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

7 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

7 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.