“Liefie, weet jy die man is besig om jou kantoor blou te verf?” Ek sien dat my man sukkel om sy konsentrasie van die verslag waarmee hy besig is na my te verskuif, maar na ’n paar sekondes blyk dit dat hy my mooi gehoor het, want hy staan vinnig agter die lessenaar op en roep op pad voordeur toe vir Madam Fafa, die personeelbestuurder, om saam te kom. Sekerlik is iemand wat die plaaslike taal magtig is nodig. Om die hoek van die gebou sien hulle dat ek nie hallusineer nie. Die verwer, deur die gebou se eienaar aangestel, is rustig besig om die gebou blou te verf, nie ’n liggiese, dowwe blou nie, net so blou soos “blue” in Ingrid Sundberg se Colour Thesaurus. Ek kan heelwat meer skryf oor die vervolgende woordewisseling tussen my man in Engels, Madam Fafa in Twii en Engels en die verwer se weiering om die wit verf te gebruik soos ooreengekom, maar ek sal volstaan deur te sê dat dit toe blyk dat die eienaar sy deel van die ooreenkoms gestand sal doen en die kantoor se huidige grasgroen sal toeverf, maar met blou, want dis wat hy het. Indien enige ander kleur verlang word, moet die koste van die verf én die verwer self gedra word.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Ghana 1, splinternuwe expats uit Suid-Afrika 0.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Twee weke later, nadat ons geduld reeds boomskraap was oor die slakkepas waarmee opknappingswerk aan die huis gebeur, sien ons met die verbystap na die motor dat die verwer besig is om ons huis pienk te verf. Regtig pienk, donkerpienk. Dieselfde eienaar as by wie ons die kantoor huur, dieselfde verwer, dieselfde beginsel. As ons nie van die verf hou wat hy beskikbaar het nie, kan ons self verf koop en self die verwer betaal.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Ghana 2, splinternuwe expats uit Suid-Afrika 0.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Huis in Takoradi

Drie en ’n half jaar later is die gekleurde huise en besighede deel van my Ghanese landskap. Die deursnee Ghanees is min gepla oor huidige verfneigings of-tegnieke waaroor ons tog so vir dae aaneen kan wroeg wanneer ons huisverf. Groen, heldergeel, blou en pienk word sonder skroom ingespan vir huis of besigheid.

Dit maak pad verduidelik maklik: ”Draai regs by die groen huis en hou aan tot waar die straat doodloop. Daar is ’n klein, blou klerewinkeltjie. Draai daar links.”

Pienk Moskee

Kleur is nie net tot die geboue beperk nie. Helderkleurige plastiekware, besems, “ceiling brushes”, rokke, hemde en materiaal is ’n kleurvolle aanslag op die sinne waar dit op sypaadjies te koop aangebied word. Vrydae en Sondae is erger, want die meeste vrouens is geklee in lang rokke van plaaslik helder, bont katoen. Sogenaamde “waxprint” katoenmateriaal, jare gelede klaarblyklik deur die Hollanders aan die streek bekendgestel, word plaaslik vervaardig en is oral te koop. Dis juis hierdie helderheid en alomteenwoordigheid van hopies materiaal en kleurvolle klere wat my steeds na drie en ’n halfjaar laat kyk, stop, voel en gedurig laat luskry om íéts met hierdie kleurvolheid te skep.

Hier is ’n baie trotse, baie ou tradisie van kleremakers. Informele besigheidjies waar enige kledingstuk op handnaaldwerkmasjiene opgetower word, is oral. Soms is die besigheid se dak ‘n boom se takke en die kleremaker se stoel die sypaadjie. ’n Té groot broek of hemp word losgetorring en heeltemal oorgemaak tot nommerpas grootte – binne ’n dag vir ongeveeer R40. ‘n Lang rok vir ’n formele geleentheid neem ook net ’n dag – gemaak sonder ’n patroon, net van ’n prentjie af, vir R100. Hierdie kleremakers sien ’n mens daagliks op straat met ’n netjiese hopie helder, katoenmateriaal op die kop op pad na hulle winkels toe. Gedurende die tweede maand na ons aankoms hier, het my man eendag nadat ek vir die  hóéveelste keer wou stop om materiaal te kyk en te koop, gesê:

”My vrou, wees rustig. Jy gaan nog vir die volgende paar jaar hier wees. Jy hoef nie nóú al die materiaal te koop nie.”

Steeds, soos in 2012, wil ek gedurig stop om te kyk, prys te vra en te koop. Steeds bewonder ek die vrouens in hulle mooi rokke en elke dag helder die kleurspatsels van besems en plastiekware by informele straatwinkeltjies my wêreld op.

Helder kleur op onverwagse plekke graveer Ghana op ’n spesiale manier in my hart.

Foto’s Jacquelene Botha, behalwe foto van die materiaalstapels.

Jackie Botha

Deel
Gepubliseer deur
Mariette Snyman

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 day Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 day Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.