kategorieë: Lees

Krismis op Avondster: Hoofstuk 1

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }
Krismis op Avondster
(’n Moderne Kersverhaal)

Oor vier weke is dit Kersfees. Hier is ons spesiale Kersbonus aan jou: ’n Kort novella wat jy tot en met Kersfees kan volg. Krismis op Avondster is ’n Kersverhaal oor hoop, liefde en versoening.’n Moderne Josef en Maria van die Kaapse vlakte se kar breek op ’n eensame pad naby Sutherland, die plek waar mense heen gaan om deur ’n teleskoop groot sterre te volg. ’n Boervrou met ’n sagte hart kom ondanks haar rassistiese man se knorrige houding tot hul redding. Daar is ’n jong bruin skaapwagter wat met sy neus heeldag in die boeke sit en droom van ’n beter toekoms, en Oosterse toeriste wat op pad na die sterrewag verdwaal het en ook kans kry om die wonderwerk op Avondster te aanskou. Die verhaal is geskryf deur MARTIE SWANEPOEL en herinner ons aan die hoop en versoening wat Jesus se geboorte gebring het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

HOOFSTUK 1

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Ek haat my Daddy. God, jy moet my vergewe, maar ek haat hom.”

Mary sit huilend op haar bed en vryf oor die warm plek op haar wang waar haar pa haar geklap het. Haar arm pyn waar sy vuis haar getref het. Sy het geweet wat sy reaksie gaan wees as sy vra of sy die aand saam met vriende kan gaan kuier, maar sy het tog weer probeer.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Terwyl ander tieners op die Kaapse Vlakte lekker jol, sit sy aand na aand in haar kamer. Dis haar tronk, voel sy. Want haar Daddy wil haar “rein hou”. Daddy sê as pastoor sien hy genoeg trane oor tik en tienerswangerskappe, maar Mary voel haar pa straf haar vir die hele Kaapse Vlaktes se sondes.

Sy hoor borde breek in die kombuis en hoe Daddy op haar ma skree. Dan is daar weer dowwe klappe.

Daddy glo sy en haar ma is ongehoorsaam aan God en hy wil hulle op die noue weg hou. Daarom tugtig hy hulle. So sê Daddy.

Mary druk haar ore toe om haar ma se gehuil uit te doof. Sy neurie saggies:

He is the King of Kings, He is the Lord of Lords, His name is Jesus, Jesus, Jesus, Jesus… Oh, He is the King.

Harder en vinniger sing sy asof sy antie Eddy voor die elektrisese orrel in haar pa se kerk hoor speel. Weer en weer sing sy. Tot sy dink dit is veilig om haar vingers uit haar ore te trek.

Haar ma huil steeds. Daddy gil teksverse om haar ma te tugtig.

Mary staan op. Asof sy ’n slaapwandelaar is, stap sy tot in die kombuis. Sy gaan staan voor haar pa. Sy praat saggies.

“Ek gaan kuier, Daddy. Ek gaan. Al slat jy my dood as ek terugkom. Maar hierdie een keer gaan ek.”

Daddy lig sy hand op om haar te klap. Sy koes en hardloop by die voordeur uit met Daddy gillend agterna.

“Mary! Kom terug!”

Haar ma hardloop saam. Sy probeer keer dat Daddy Mary inhaal.

“Asseblief Damian, los die kind!”

Daddy gryp haar ma aan die hare. Mary draai om en ruk aan haar pa se arms.

“Los my ma uit! Hoor jy my, jy los my ma uit! Ons is nie jou punching bags nie. Op jou preekstoel staan: God is Liefde! God slaan nie met vuiste nie. Hy skop jou nie! Hoor jy, Daddy!”

As Daddy baie kwaad word, praat hy met sy preekstoelstem. Soms dink Mary haar pa dink hy is God as hy so praat.

“Die een wat tug liefhet, het kennis lief.”

Daddy se hand klem om haar voorarm. Die ander hand klap haar hard teen die kop. Hy skop haar dat haar bene van pyn onder haar swik.

“Jy en jou moeder se lippe drup van heuningstroop.”

Mary verstom haar altyd oor hoe vinnig Daddy se stem van God na ’n Capy kan verander.

“Slette! Dis wat jy en jou ma is. Wil net gaan hoer op die strate.”

Mary weet dit help niks om met Daddy te redeneer as hy so is nie, maar sy voel sy kan nie stilbly nie. Al kom die klappe weer.

“Al wat ek vra, is om saam met my vriende te gaan kuier! Dis my huis daai Daddy, nie my tronk nie! Ek kan nie net in my kamer sit nie!”

“Jy moet wees soos ’n lieflike wildsbokkie, my dogter! Ek moet jou beskerm. Satan kyk deur jou vriende met listige oë na jou.”

Daddy se vuis tref haar teen die bors.

“Hulle sit dan in jou kerk Daddy? My vriende kom na jou kerk toe!”

“Hulle gaan jou laat afdaal met die trap na die doderyk Jy besprinkel jou bed met mirre en kaneel vir die satan.”

Mary voel nie meer die pyn nie. Sy gee nie meer om nie.

“Ek loop Daddy, ek loop kuier.”

Sy begin hardloop. Sy kom nie eens agter Daddy volg haar nie. Naby Myrtle se huis gaan sit sy uitasem op ’n sypaadjie. Sy trek haar klere reg.

Mens kan die rap-musiek uit Myrtle se huis van ver af al hoor. Myrtle se ma en pa gee nie om nie. Vrydagaande paartie hulle self.

Mary sluip by die tuinhekkie in. Sy is skaam om in te gaan. Myrtle en die ander is haar skoolmaats, maar sy sien hulle net by die skool en by die kerk. Daddy duld nie ’n gekuier in die week nie. Sy sit stil op die stoep en luister na die gelag en gesels binne die huis.

“En die sad face?”

Hy is lank en maer. Sy swart skinny jeans laat sy bene nog maerder lyk. Sy hare is rooiblond gekleur. Kaal geskeer teen die kante soos ’n gangsta. Met net ’n klos hare bo in die middel. Sy staar na sy blinkrooi skoene.

“Ek issie sad nie, ek is happy.”

“Lyk nie so nie. Ek is Josh, Myrtle se broer. Soek jy ’n Coke?”

“Dankie, ek is Mary.”

“Ek weet, die pastor se dogter.”

“Ja, dis my Daddy.”

Hy skulp haar gesig in sy skraal hande en druk sy gesig byna tot teen hare.

“Mary quite contrary, as ek terugkom, soek ek ’n smile gehoor?”

Sy sit lam en kyk hoe hy weer instap. Binne hoor sy hoe die musiek nog harder gestel word en hoe jong mense jil van die plesier.

Josh kom uitgestap met ’n glas Coke.

“Hieso. So vertel my, is jy ’n devout Christian soos jou Daddy?”

“Ek glo wat ek innie Bybel lees. Net dit. God loves me.”

“Myrtle sê jou Daddy is kwaai, hy sal nie lat ek kom kuier nie.”

Sy voel benoud, maar wil dit nie wys nie.

“Wil jy? Wil jy by my kom kuier, Josh?”

Sy wil nie vir Josh kyk nie, maar sy kan dit nie weerstaan nie. Hy kyk vir haar asof sy die enigste mens by die paartie is.
Altans so voel dit vir haar. Daddy sê altyd die duiwel lyk soos die begeerlikste ding op aarde. Nou wonder sy, lyk die duiwel soos Josh?

“Ek vra jou, mag ek kom kuier, Mary?”

Sy weet sy moet, maar sy kan nie vir hom nee sê nie.

“As Daddy nie by die huis is nie. Daddy wil my rein hou.”

“Maar jy is mos rein! Kyk hoe lyk jy!”

Sy kyk skaam na haar kerkrok. Sy het nie kuierklere soos Myrtle nie.

“Moenie my spot nie, ek koop nie my klere nie. Daddy koop dit.”

Hy vat speels aan haar wang en gee haar die mooiste glimlag.

“Ek spottie, jy lyk mooi. Jy is baie mooi Mary Mary quite contrary.”

Sy weet nie wat in haar vaar nie. Die woorde spring uit haar mond.

“Ek haat my Daddy.”

Josh lyk geskok. Sy skrik self vir haar woorde voor die vreemdeling.

“Hei man, jy kan nie so vannie pastor praatie!”

Mary spring op en begin na die hekkie hardloop. By die hekkie draai sy om en kyk na die jong man met die skinny jeans wat vir haar so mooi is soos die duiwel homself seker is.

“Hy is jou pastor, maar hy is my Daddy.”

Skielik voel sy skuldig oor haar ma wat teen die tyd seker al voos geslaan is. Sy begin hardloop. So ver as sy hardloop, sing sy snikkend: He is the King of Kings, He is the Lord of Lords, His name is Jesus, Jesus, Jesus, Jesus… o, He is the King.”

Deel 2

Mary trek haar skoolrok vinnig uit en haal haar jeans uit Myrtle se kas. Haar ma het vir maande geld skelmpies weggesit sodat Mary die jeans, wit bloesie en Toms tekkies kon koop. Maar sy moet dit by Myrtle se huis wegsteek.

Na sy en haar ma ’n paar keer dikgelsaan is, het Daddy besluit sy mag een keer per week na skool by Myrtle gaan kuier. Net vir ’n uur. Dan moet sy soos die wind hol want Daddy staan altyd by die hek en wag.

Terwyl sy in Petersonstraat afhardloop na die Fickstraat-kliniek, bid sy dat daar min mense moet wees. Die rye is gelukkig kort. Sy gee ’n vrou met ’n baba kans om voor haar in te gaan want sy wil suster Liesbet sien. Haar ma kom altyd na suster Liesbet.

“Middag antie Liesbet, die kliniek is vandag stil nê?”

Antie Liebet is ’n gesette mens. Sy gaan sit met ’n sug en vee die sweet van haar voorkop af.

“Almal is of pregnant of soek die inspuiting. Hoe ganit met jou ma, kleine Maria?”

Mary begin huil nog voor sy ’n woord kan uitkry.

“Antie, Daddy gaan my en my ma dié keer doodslaan!”

Antie Liesbet spring op uit haar stoel en vou Mary toe in haar arms. Sy ken daardie kyk in ’n jong meisie se oë.

“O hemeltjie tog nee, my kind, is jy seker?”

“Antie, hy spring al hier in my skoot.”

Liesbet weet wat die gevolge vir Mary en haar ma gaan wees. Almal ken pastor Damien.

“My kind! Nee!” Hier kom moeilikheid, weet sy.

Mary probeer deur die snikke verduidelik hoe sy in die moeilikheid gekom het.

“Antie, dis ’n vreugde hier in my, ek glo God het hom vir my gegee. Dis true love Antie. Iemand het my lief!”

Liesbet wieg die jong meisie heen en weer in haar arms.

“My kind, ek weet van jou daddy, ek het jou ma genoeg kere weer aanmekaar geplak met elastoplast. Maar jy is self nog kind. Wag, laat ons eers sien, dé, gaan pie gou hierin lat ek kan sien.”

Liesbet vroetel in ’n kas en bid hardop: “God, jy sal moet kom help hier in die Cape Flats. Hier is nou groot moeilikheid. U ken vir Pastor.”

Sy hou die glasie na Mary uit.

“Antie hoef nie eens te toets nie, ek weet. Ek het gebid antie, baie gebid hieroor. Josh wou hê ek moes abort, maar ek weet God gaan hierdie kind van my nog gebruik. Hoor jy Antie? Hy gaan vir hom gebruik om dinge te change.”

Deel 3

Magdalena staan en skottelgoed was en sing uit volle bors: “Die Heiland is gebore, in stille Betlehem.” Krisjan sit knorrend by die kombuistafel en koffie drink.

“Jy kan maar ophou sing, Magdalena, ons vier nie vanjaar Kersfees op Avondster nie.”

“By blye engelsange, voeg ek my hart en stem…” Sing sy voort om hom te tart.

“Dis Kersfees Krisjan, hou tog op grom.”

Hy brom onderlangs.

“Dis lankal nie meer Kersfees op hierdie plaas nie.”

“Dis net in jou hart wat daar nie meer Kersfees is nie. Kris gaan môre bel en daarna gaan ons Kersete eet, gehoor?”

Krisjan brom voort.

“Ag kom nou my man, ek wens ook die kind was hier, maar nou is dit net ek en jy. Ek gaan Kersfees hou, hoor jy?”

“Krisjan sit in Engeland pleks van op sy familieplaas!”

Magdalena laat haar nie afskrik nie.

“Hy sê dis nou lekker koud daar.”

“Sê vir jou seun dis in die winter net so lekker koud hier op Sutherland.”

Magdalena stuur die gesprek in ’n ander koers.

“David het vir my twee eende geslag. Gaan lekker wees met kersiesous. Sal patats ook maak. Botterpatats.”

“Hy moet vanmiddag die skaap by die hoofpad se kamp loop haal.”

Niks gaan Magdalena se Kersfeesgees demp nie.

“Met Jasmynrys, braai-aartappels. Ek het die trifle klaar gemaak. Ons gaan lekker eet, ek en jy.”

Maar Krisjan brom voort.

“Hy word lekker wit daai David, sal hom moet vasvat. Bleddie hans.”

Magdalena gaan Kersfees hou, met of sonder haar man se gebrom.

“Hy het vir my bloubos gebring vir kerskranse. Lyk mooi teen die deure nê? Kyk net Krisjan, kyk.”

Sy gooi vir haar man nog ’n koppie koffie in. Moedswillig begin sy weer sing: “Jingle bells Jingle bells!”

Deel 4

Mary en Josh sit in sy ma se sitkamer. Hulle staar stil na mekaar. Die radio blêr voort en Josh vererg hom vir die knaende Kersfeesliedjie.

“Jingle bells, go to hells. Hel Mary, sit af die ding mens raak gatvol daarvoor!”

“Josh, wat gaan ons doen? Ek kan dit nie langer wegsteek nie. Ma weet. Ek dink sy weet. As Daddy uitvind. Ek moet wegkom voor hy sien.”

Josh draai die radio tot hy rap-musiek hoor.

“Hel ja, die pastor se dogter is pregnant. Wat ’n bleddie skande. Het jou gesê abortion sal beste wees, maar nei. Dis mos sone.”

“Dis ons kind. Ek maakie my kind dood nie.”

“Maar jou Daddy gaat jou doodslaat!”

Mary staan op en draai die radio sagter.

“Antie Gwen sê ek moet soontoe gaan. Daar’s baie werk op die plaas.”

“Op Sutherland? Is djy mal? Ek is ’n carpenter, nie ’n farmer nie!”

“Dan gaan ek alleen. Tot die baby kom. As Daddy eers die baby sien …”

Josh draai die radio weer harder.

“Girl, God vergeef, maar nie jou Daddy nie!”

“Sutherland issie so ver nie, die kar sal dit maak. Asseblief, Josh.”

“Gaat jy ma alleen, ek is happy hier wa ek is.”

“Dis jou baby ook!”

“Jy is die een wat nie vir die injection gegaan het nie.”

Mary gaan staan uitdagend voor hom.

“O, ek het jou lief Mary, for ever. Ek laaik nie condoms nie, Mary …Bly jy op die Flats, Josh, ek sal die baby alleen grootmaak. Sonder jou … en Daddy. ’n Kind is hoop, Josh. Hierdie kind, jy sal sien. Hy gaan hoop bring.”

Deel 5

Mary staan op die sypaadjie en wag tot Josh van die werk af kom. Sy kry warm in die bonkige sweetpakbaadjie. Vir maande al braai sy uit, maar dis al hoe sy haar swellende maag kan verbloem.

Daddy is by ’n kerkraadsvergadering. Sy hoor die rap-musiek nog voor Josh se kar om die draai kom.

“Hei sexy! Jy is brave vanaand. As Daddy jou sien, kry jy slae vanaand!”

Mary klim langs kom in die kar. Sy weet sy moet vinnig praat. Netnou kom Daddy vroeg huis toe.

“Joshie, ek was weer by die clinic vandag. Die suster sê die baby is naby. Ek moet Sutherland toe al moet ek lorries hike.”

“Jy’s lekke mal, Mary. Hulle gaat jou rape, al is jy pregnant.”

Mary se stem raak radeloos.

“Jy ken vir Daddy. Ek moet wegkom.”

“Net so voor Krismis? Kan ons nie eers Krismis hou nie?”

“Antie Liesbet by die kliniek sê dis enige dag. Hoor jy? Enige dag!”

Josh sit die radio af van skok.

“Liewe Jirretjie, Mary, ek kan nie. Dis Krismis, my mammie. Ek kan mos nie my mammie Krismis drop nie? Ek sal jou op ’n bus sit.”

Josh haal geld uit sy sak.

“Dê, hier’s my Krismisbonus. Kom, ons gaan hoor van ’n bus.”

Mary klim kwaad uit die kar. Sy begin aanstap huis toe en Josh volg haar stadig.

“Kom nou, Mary! Klim in.”

“For ever and ever? Trek jou broek op en die forever is verby? Lekker fool ekke. My true love. Vat jou geld, ek sal regkom. Toe, loop! Ek sal nie vir my baby vertel sy pappa was ’n coward nie. Jy sal sien, hierdie kind.Hy gaan nie hier in die Cape Flats muf nie.”

Josh lag halfhartig.

“Dream on girl. Dis onse mufplek dié, die Flats, hy gaan ok hier kom sit en wag vir whatever ons voor wag. Jy moes na my geluister het, liefs abort het. Dis al hoe jy kon keer dat jou kind op die Flats bly.”

Sy klim in die kar en klap die deur toe.

“Die Here gaan met my wees. Hy het vir my gebless met hierdie baby. Gebless hoor jy my? Dit staan daar in my Bybel: “Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind.”

“Jesus Christ! Jy’s nie … jy is Mary, Mary van die Cape Flats, hoor jy?”


Deel 6

Mary se ma sit alleen by die kombuistafel. Sy skil groente. Oor die radio speel Bony M se Mary’s Boy Child. Sy neurie sag saam die musiek.

Sy staan ’n ruk in die deur na haar ma en kyk. Vandag moet sy met haar ma praat. Voor dit te laat is.

Sy haal ’n groentemes uit die laai en gaan sit langs haar ma. Na die tweede aartappel breek sy die stilte.

“Ons moet praat, Mamma, ek kan nie meer stilbly nie.”

“Mamma weet, Mary.Ek weet. Het gewag dat jy self sê.”

“En Daddy? Weet hy?”

“Dink jy hy sou stilgebly het as hy weet? Wat gaan ons doen? Dis seker al ver?”

Mary vee trane af.

“Ek het vir antie Gwen gebel, sy sê ek moet Sutherland toe kom. Daar bly tot ons met Daddy kan praat. Sy sê Mammie moet saamkom, want as ek loop, gaan Daddy jou doodslaat.”

“Hoekom praat jy eerste met my suster? Ek is jou ma! Jy weet ek kan Daddy nie alleen los nie!”

Die trane vloei vryelik tussen die skillery deur.

“Ma moet hier wegkom. Kom saam, asseblief, Mamma.”

Mary se ma staan op en snuit haar neus.

“Jou Daddy, ek kan nie. Ai my kind, jy moes versigtiger gewees het.”

Mary snik hard.

“Ek kon nie na antie Liesbet gaan en haar sê die pastor se dogter soek ’n injection nie. Kon ek? Mamma, verstaan jy nie?  Ek wou ook voel iemand is vir my lief.”

“Jy is sestien en Josh agtien. Julle is kinders!”

Mary sit ’n ruk in stilte. Dan begin sy opnuut huil.

“Josh wil nie saamgaan Sutherland toe nie. Ek gaan alleen. Hy het busgeld gegee.”

Haar ma staan op en haal geld uit ’n laai.

“Hier is nog. Ek het begin spaar toe ek agterkom.”

Mary hou haar Ma styf vas.

“Kom saam, asseblief, Mamma?”

Deel 7

Mary staan op die sypaadjie en luister hoe die kerkorrel speel. Antie Eddy oefen vir Sondag se diens. Haar hart klop byna vinniger as die fetushartjie in haar. Sy is bang, maar neem haar voor sy sal nie toelaat dat Daddy vandag sy hand teen haar lig nie. Nie nou nie.

Daddy kniel voor die kansel. Sy stap stadig nader.

“Daddy soek my?”

Daddy praat weer in sy preekstoelstem.

“Dis God wat jou soek, Maria.”

“Ek is mos hier, hoekom soek God my?

“Die Here het jou geroep van jou moederskoot af van geboorte het hy jou naam genoem.”

Mary probeer geduldig luister hoe haar pa hom verbeel hy is God.

“Wat wil die Here van my hê, Daddy? Hy ken mos my hart. Ek bid elke dag tot Hom? Hy beskerm my. Hy weet …”

Sy koes as Daddy sy vuis in haar rigting swaai. Skielik is haar pa se stem weer die van ’n Capy.

“Moenie voor die Jirre lieg nie! Jou slet!”

Sy koes vir nog ’n hou en kyk hulpeloos in die rigting van die orrel. Antie Eddy hou vinnig op speel en stap haastig by die deur uit.

“God ken my Daddy, en hy ken vir jou! Hy sien wat jy aan my en Mamma doen.”

Daddy gryp haar aan die hare en sy ruk los.

“Moenie jou hande ooit weer vir my lig nie, sien jy hierdie mes? Ek sal wag tot jy slaap en ek sal jou keel afsny! Hoor jy my! Dit was die laaste keer wat jy my geslaan het.”

Die predikantstem neem weer van Daddy besit.

“Wee die opstandige kinders wat ’n plan uitvoer, maar dit is nie uit My nie. Wat ’n verbond sluit om sonde op te stapel.”

Mary druk haar ore toe. Sy kan nie meer na haar pa se oordeel luister nie.

“Hou op om met die stem van God te probeer praat. Jy is nie God nie, Daddy! Jy is Damien Price, pastor van die Cape Flats, vroueslaner! Partykeer dink ek jy is die satan homself!”

Sy snikhuil en haar stem eggo deur die leë kerk.

“Maar jy is my Daddy, hoor jy, my Daddy!”

Daddy se oë gloei van woede. Sy sien hoe spoeg in sy mondhoeke sit soos as hy beserk raak van woede.”

“Kom dogter! Kniel voor my. Jou lippe is ver van die Here. Jy weet en verstaan nie, want die sonde het jou oë toegesmeer.”

Hy gryp Mary aan die arm en probeer haar dwing om te kniel, maar sy ruk los en hardloop weg. By die kerk se deur draai sy om en kyk na haar Daddy. Hy kniel weer op die mat voor sy preekstoel.

’n Snikkende gil breek uit Mary se keel.

“Ek gaan nou Daddy, mag God met jou wees!”

(LEES HOOFSTUK 2 HIER)

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

5 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

5 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

5 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

5 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

6 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

6 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.