kategorieë: Lees

Krismis op Avondster: Hoofstuk 2

Mary sit op die stoeptrappie. ’n Groot tas klere staan langs haar. Haar ma sit in die huis en huil omdat sy haar enigste kind in haar toestand op ’n bus sal moet sit. Die troos is dat daar nie ’n keuse is nie. Hulle wil die noodlot nie uittart nie. Dis net ’n genade dat Daddy nog nie agtergekom het dat Mary ’n hoogswanger lyf onder haar klere wegsteek nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Die harde rap-musiek wat uit die verte aankom, verraai dat Josh op pad is. Mary wil hom nie sien nie want sy voel hy laat haar in die steek noudat sy hom die nodigste het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die ou Toyota hou met ’n stofwolk stil. Die bure loer soos gewoonlik by die vensters uit om hulle misnoë oor die lawaai te wys.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Mary stap uitdagend na die hek.

“Toe? Wat soek jy hier? Ek het mos gesê ek gaan vandag. My ma het vir my geld gegee en antie Stella gaan my stad toe vat om die kaartjie te koop.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Josh staan nader, maar voor hy iets kan sê, rammel Mary woedend voort.

“Ek weet jy sal te besig wees om te jol, sê maar vir jou mammie sy moet uitkyk vir my ma. Daddy … Maar ek moet gaan. Hy sal my … My baby moet leef.”

Josh lig albei sy arms in die lug op asof hy oorgee.

“Wag! Wag! My Mary, ek gaat saam. Kevin sê die kar sal Sutherland maak.”

“Ek dog jy wil nie?”

Josh rek sy oë groot asof hy ’n spook gesien het.

“Gisternag. Ek het ’n vreeslike nightmare gehad. Ek sien myself op die bed lê. En so ’n spotlight skyn op my gesig. ’n Ingel gryp vir my by die skouers en klap my deur die gesig. Ek sien hy wil my dood donner. Sy oë gloei soos vuur. Dis ’n sign, Mary, ’n sign.”

Mary lag hom uit.

“Bleddie bangat. Dis net ’n nightmare. As jy kom, moet jy wil kom.”

Josh huil nou snot en trane en kniel smekend voor Mary.

“Ek het gedink Mary, aan ons true love. Ek wil. Ek wil my baby sien. Jy is reg, hy gaan nie ’n Cape Flat boikie wees nie. Nie ons laaitie nie.”

Mary gooi haar arms om sy nek.

“Hy sal dinge change, ons kind. Jy sal sien. Dis ’n vredeskind hierdie.”

“Mammie sê sy bid vir ons vir die pad. Sy sê ok ek moet liewer gaan. As jou Daddy weet … Hy sal my doodmaak. Daai daddy van jou: Op die preekstoel is sy woorde hard, maar sy vuiste slaan harder.”

Mary se ma kom by die voordeur uit. Sy druk Josh teen haar vas.

“Ek het geweet jy sal Mary nie drop nie. Toe toe, julle moet ry voor die pastoor kom. Ek bel gou vir Stella om te sê sy hoef nie meer te kom nie. Dankie Joshie, dankie. Pas my kind op.”

Sy druk Mary styf teen haar vas. Hulle huil.

“Ek wens Mamma wou saamkom …”

XXXXXXX

Josh en Mary is skaars in die buitewyke van Kaapstad of Josh maak die padkos oop.

“Dis exciting! Nes ’n holiday! Toe girl, kry vir jou! Hoe lyk jy so oeserig? Als gaan mos ok wees?”

“Ek voel bietjie naar. Seker al die tension. Kan ons die musiek bietjie sagter draai, dit maak die baby onrustig. Voel net hier hoe draai en skop hy vandag.”

“Hy rap saam, man, die kind laaik die music.”

Mary raak tranerig. Sy voel ellendig om haar ma by Daddy te los.

“Ek was nog nooit ver weg van die huis af nie, weet jy?”

“Jeez, ek dog jy was al by jou antie?”

“Sy het by ons gebly tot sy getrou het met die man van Sutherland. Ons is close, soos susters. Sy mos baie jonger as my ma.”

“Is dit hoekom jy nie ’n sustertjie of broertjie het nie?”

Mary raak ’n rukkie stil.

“My ma het twee verloor. Dood gebore.”

“Liewe Jirre! Jou pa?”

Mary draai dwars in die sitplek sodat sy Josh in die oë kan kyk.

“Gaat jy my eendag trou? Het jy my lief, Joshie?”

Josh vat haar hand en soen dit.

“Ek is lief vir jou Mary, genuine. As ek terug is in die Kaap en ek word promote, trou ons. Ek het oom Douglas laat weet ek moet jou wegvat. Hy verstaan. Sharp omie daai.”

“Jy gaat nie vir my slat nie, gehoor, ek gaan nie soos my ma leef nie. Ons baby, gaan ’n happy huis hê. Promise?”

“Ek promise Mary Mary quite contrary, ek promise.”

Mary buig vooroor en soen hom op die wang.

“Ek het gedog jy gaan my alleen oppie bus sit.”

“Sorrie man, ek het geskrik. Ek het nie gedink die baby kom nou al nie. Weet jy, ek was ok noggie weg van my mammie nie. Nou’s ek en jy op ’n groot adventure! Ek en jy.”

XXXXXXX

Magdalena staan by die wasbak. Deur die venster kan sy Krisjan se bakkie van die tweedelaaste hek af al sien aankom. Sy kry die ou korrelkop so jammer. Hy mis Kris baie. Veral noudat dit Kersfees is. Hy sukkel al sedert Kris medies gaan studeer het om te aanvaar dat sy seun nie ’n boer wil word nie. Maar sy weet in sy hart is hy trots op hul seun wat nou in Engeland verder studeer as spesialis.

Die honde woel opgewonde rondom die bakkie. Sy kyk glimlaggend hoe haar ou knorpot ’n paar se koppe vryf. Hy sal dit nooit voor haar doen nie. As sy by is, jaag hy hulle altyd weg.

“Magdalena! O, hier is jy. Hiers jou gemmer. Anna stuur ook dié ganseiers vir jou. Heeltemal te veel ganse daar by die statte. Die goed vreet te veel, ek het haar gesê.”

“Dankie, Krisjan. Los Anna en haar ganse, my man. Sy maak ’n goeie geldjie met die donskussings. Dis vir David se geleerdheid.”

“Het met haar gepraat oor David se houding. Hy kort ’n goeie vasvat.”

“Hy’s ’n goeie kind. Los hom. Hy het sy drome.”

Krisjan gaan sit langs die kombuistafel en kyk afwagtend in die koers van die ketel. Magdalena skakel dit aan. Woorde nie altyd nodig op Avondster nie. Krisjan skuif die hopie boeke op die kombuistafel eenkant en trek die beskuitbak nader.

“Alewig met ’n boek tussen die skape. Jy moet David uitlos, vrou. Die boeke. Jy sit goed in sy kop. Sy mense is skaapmense. Goeie plaasvolk.”

“Hy doen goed op skool, hy wil gaan leer. Gun hom die kans.”

“Ja, soos Krisjan, dan foeter hulle oorsee. Kan mos nie ’n dokter in sy eie land wees nie. Nou wil jy Anna se kind ook laat wegggaan? Dis vandat jy aan David karring dat die skape nie meer goed genoeg is vir hom nie. In elk geval, David kort nie geleerdheid om ’n goeie werk te kry nie, miskien het die regering ’n joppie vir hom!”

Magdalena kan sien in watter koers haar man die gesprek stuur. In hulle huwelik is daar sedert demokrasie twee kampe. Krisjan se kamp leef van 1994 af terug in die verlede, en sy leef vooruit. In ’n toekoms, wat sy glo, hoop gaan bring.

“Ek gaan nie vandag politiek praat nie. Dis Kersfees. Tyd vir vrede.”

“Gha! Ja, en ’n tyd vir familie. Ek sien jy het ’n feestafel gedek. Vir twee! Twee armsalige oumense!”

Magdalena weier om haar deur haar swartgallige man te laat ontstel voor Kersfees.

“Die statte se kinders kom môre sing. Jy gaan lees en bid. Soos jou pa en oupa gedoen het. Liefde vir jou medemens, Krisjan. Soos hulle gehad het.”

XXXXXXX

Die son skroei die Toyota vuurwarm. Josh moes al ’n paar keer stilhou omdat die enjin warm word. Nadat hulle die eerste keer verkeerde koers gery het, het ‘n boer hulle ‘n waterkannetjie gegee ingeval die enjin weer kook.

Die pad strek van een bult na die ander voor hulle uit. Dit verdwyn in die wasigheid van hittegolwe wat uit die teer opstyg.

Dan gee die kar ’n paar slukke en kom hortend tot stilstand.

“Bleddie steeks donkie! Kom nou!”

Die aansitter wil na ’n ruk nie eens meer draai nie.

“Ag Jirretjie, hier by Godverlaat se vlakte. Dit het jy nou Mary! Nou sit ons Krismis in die veld!”

Josh probeer weer antie Gwen se nommer skakel.

“Ok nie ’n cell sein nie. Wat ’n bleddie mislike Krismis!”

Mary hoor die frustrasie in sy stem. Om hulle is net vlaktes met hier en daar ‘n trop skape. Nie ’n huis in sig nie.

“Ag, Joshie, dissie so erg nie. Dis môre eers Krismis. Ons sal dit maak.”

Na ’n rukkie voel dit of die kar in die teer in gaan smelt. Mary probeer haar koud waai met met die Tupperware-bak se deksel.

“Josh, try weer, dis vrek warm. Phew! Ek braai van binne uit, kyk hoe geswel is my voete.”

Josh probeer weer, maar daar is nou net ’n sagte klikgeluid.

“Jirrekie, wat gaan ons maak? Niemand ry hierdie pad nie, dis die pad na nêrens Mary, daai mense het ons die pad in ons moere in beduie!”

Mary gooi nog ’n bietjie water op ’n sakdoek en vee dit oor haar gesig.

“Jy beter gaan hulp soek, ek voel nie te lekker nie.”

“Stadig met die water, ons weet nie waar ons is nie.”

Josh gooi die reisdeken oor die windskerm om bietjie skadu te probeer maak. Hy maak al die deure oop sodat die lug deur die kar trek.

“Josh! Kyk! Jy moet gaan hulp kry, ek is serious!”

Josh staar verskrik na die nat sitplek.

“Het jy in my kar gepie? Hel nee, jy kan mos uitklim?”

“Dis my water. Die baby se water. Hiers groot moeilikheid!”

Mary buig vooroor en begin kreun.

“O my Jirretjie. Mary jou kan nie nou die baby kry nie. Stop die besigheid! Ek moes nooit na jou geluister het nie.”

Mary huil en kreun.

“Loop kry iemand om te help!”

Josh se stem klink of hy ook wil huil.

“Wanner laas het jy ’n huis gesien, hê? Hies net skape. Wat nou? Wat maak ons nou?”

Hy probeer die kar desperaat aanskakel. Hy maak die enjinkap oop en vat verbouereerd aan ’n paar drade.

“Vandag is daar moeilikheid. Hoor jy Mary? Hoor Jy? Mary? Mary! Word wakker! Jy kan nie nou uitpaas nie!”

Hy hoor eers nie die perdehoewe in die verte nie.

David, maak die kamp se hek oop en lei die perd deur. Die skape staan nader asof hulle vir hom gewag het. Hy fluit en klim weer op die perd.

“Kom julle swerkaters, dié kant toe. Dikgevreet nê? Lekker gekuier hier langs die grootpad? Kom, kom! Ons gaan huis toe. Nou-nou kom stop die een of ander honger skermunkel en gaps julle. Hei, ou dikke, hol jong, of wil jy skaaptjoppies vir ’n skelm se Krismis word?”

Dis eers as al die skape deur die hek is en hy weer die hek toemaak, wat hy die kar se toeter ’n ent verder hoor. Hy ry nader. ’n Jong man staan en wuif by die kar.

“Help! Help” skree hy tot David naby is.

“Dagsê! Het julle karmoeilikheid? Eks David, hier van Avondster.”

Josh huil en praat gelyk.

“Soos ’n bleddie steeks donkie hier kom vasssteek. Ons het hulp nodig. My girl. Sy gaan ’n baby kry! Jy moet ons help!”

David staan nader. Die meisie lê slap skuins oor die sitplek. Haar hare is sopnat van die sweet.

“O helletjie ja, sy lyk nie goed nie! ’n Baba sê jy?”

David karring nou ook voor in die enjin.

“Probeer nou?”

Die aansitter draai halfhartig en raak dan stil.

“My ou, hoe ver is die huise van hier af? Kan jy iemand gaan roep?”

“Dis ’n ent. Mevrou, ek sal Mevrou moet gaan haal! Los maar daai foon, hiers nie sein op Avondster nie.”

“Hoe lank? Hoe ver is dit voor jy iemand kan bring?”

“’n Halfuur opstal toe te perd, ek en Mevrou sal met die bakkie kom.”

Josh staan huilend en kyk hoe David wegjaag.

“Jirre, jy kan nie nou vir my Mary drop nie. Jyt vir haar gepromise sy sal ok wees.”

XXXXXXX

In Avondster se plaaskombuis staan Krisjan voor die stoof. Hy lig al die potte se deksels en loer in. Magdalena staan hom geamuseerd en bekyk. Sy weet hy hou van lekker eet en sien sekerlik eintlik uit na die Kersete.

“Vir wie maak jy al hierdie kos? Dis net ons?”

“Ag, Krisjan, mens weet nooit wie die liewe Here op sy verjaarsdag na ons tafel stuur nie.”

Krisjan brom, maar proe met ’n lepel uit ’n pot.

“Ons gaan weke hieraan eet.”

Hulle hoor perdehoewe buite. Magdalena kyk deur die kombuisvenster.

“Dis David! Wat maak hy dié tyd van die dag hier? Hy is mos padkamp toe?”

David kom by die kombuis ingehardloop.

“Hiers groot moeilikheid! Daar by die pad. Mense se kar het gaan staan. Daars ’n meisie, sy gaan ’n baba kry! Ons moet jaag! Meneer, dis groot moeilikheid!”

“Bedaar eers, David. Praat stadig. Wat gaan aan?”

“Meneer, daar het mense by die grootpad gaan staan. Jongmense. Die meisie lyk nie lekker nie. Sy is pregnant. Daai baba kom vandag! Ek sê Meneer!”

“David, is jy seker? Wie is hulle? Waar kom hulle vandaan?”

“Van die Kaap Meneer. Capys. Daai meisie …asseblief Meneer!”

“Is jy heeltemal stupid? Hulle wil jou daar weg kry om ’n skaap te steel!”

Magdalena tree tussenbeide.

“Wag nou, my man. Ons kan die mense nie so in die son los nie. David, gaan haal die bakkie, ek bring handdoeke en water! Kom, Krisjan!”

“Vrou! Hoor julle nie wat ek sê nie? Capys! David het jy hulle na die huis beduie? Wil jy hê die mense moet ons kom vermoor!”

“Meneer, daai kar is vrek. Hy gaan nêrens nie. En die meisie, Meneer sy lyk regtig sleg. Ek gaan kry die bakkie.”

Magdalena haal ’n paar bottels water uit die yskas.

“Kom jy Krisjan?”

“Is julle almal mal op hierdie plaas! Wag, ek kry my geweer.”

XXXXXXX

Josh gooi die laaste bietjie water oor Mary se gesig uit. Sy kreun en kom verskrik regop.

“Jeez, Mary, ek dog jy is dood! Die mense van die plaas hier naby kom nou help. Kom, ek skuif die seat agtertoe. Dis vrek warm hier.”

Mary begin weer keun. Sy hou haar maag vas.

“Joshie, ons gaan doodbrand vandag. Dis my hel die, oor ek gesondig het.”

“Nee man, los nou daai praatjies. Dis jou Daddy wat so in jou kop praat.”

“Daddy het gewaarsku van die brede weg. Daai painting in my ma se kamer, ek het al gedroom hoe stap ek met my rooi dansrok op daai highway na die hel.”

Josh trek Mary se sandale uit en vee met die nat lap oor haar geswelde voete.

“Komaan girl, jy weet God is nie so nie. Hy is nie soos jou Daddy nie. Jyt self al so gesê. Onthou wat jy innie Bybel gelees het? Hy het jou gebless met hierdie baby.”

Mary kreun en snik gelyk.

“Dis vir Maria wat God gebless het. Oor sy Jesus se mamma is. Maar ons kind. Ons kind is ’n Cape Flats baby.”

“Nee, Mary, hoe praat jy dan nou so? Nei man, jy’s mos ’n Christian?”

Hy vryf oor Mary se voorkop en waai haar koud met die deksel.

“Joshie, sê nou daai mense kom nie? Ek kan nie meer nie.”

“Hulle kom, jy sal sien. I promise. Jy moet net glo, God is my witness, Hy gaan jou uit hierdie warm kar kry.”

“Bid vir my, Joshie. Bid vir my en die baby.”

“Kom nou Mary, wat praat jy so? Mary? Mary? Ag hel moenie weer uitpaas nie! Ag Jirretjie, hoor my vandag aan. Ek weet ek is bietjie rough around the edges, maar my Mary is ’n goeie girl. En onse baby, ag Jirre, die het mos niks verkeerd gedoen nie? Moenie lat die son vir ons vandag hier doodbrand nie. Jirre. More is dit Krismis. The happy season my Lord. Wys ’n bietjie compassion for a sinner.”

XXXXXXX

Magdalena en Krisjan ry ’n ruk in stilte. David sit agterop die bakkie en spring elke keer af om die hekke oop te maak. Dan begin Magdalena prewelend bid.

“Ry vinniger Krisjan, ek voel hier is vandag iets vreeslik verkeerd. Die arme mense. Dis so warm.”

Krisjan brom onderlangs.

“Bid jy net dis mense wat regtig in nood is. Dit kan ’n lokval vir ’n plaasaanval wees. Dan is ek en jy en jou David vandag dood.”

Magdalena kyk geskok na haar man.

“Wanneer het jy so hard en bitter geword, my man? Glo jy dan nie meer aan mense nie?”

Krisjan vat die geweer wat tussen hulle staan met sy linkerhand vas.

“Ek glo wat ek sien en hoor. Honderde wit kruise teen ’n klipkoppie. Plaasmoorde. Dit glo ek. Sê nou David is in op die ding? Ons vat ’n kans vandag, my vrou.”

“Krisjan, luister na jouself. David het voor jou grootgeword. Op ons huis se vloere leer kruip en loop.”

Krisjan snork.

“Hoeveel mense is deur hulle eie plaaswerkers vermoor? Jy wil nie hoor nie my vrou, laat enigeen by die huis toe.”

“Ek weier om ’n draadhok om my huis te span. Soos ’n dier in ’n hok op jou eie plaas? God het ons nog altyd bewaar.”

“Dink jy nou wragtag al die honderde wat in plaasmoorde gesterf het, het nie ook vir beskerming gebid nie? My vrou, jou stiksienigheid gaan nog ons dood beteken.”

“Ek hoor jou my man, maar ek weier om in vrees te leef, hoor jy my! Ek weier om te glo almal is sleg.”

“Ja vrou, jy met jou goeie hart. Kyk! Kyk daar voor. Daar staan hulle. Krok van ’n kar. As ek stop, bly jy in die bakkie. Hou die geweer gereed. En bid, my vrou, anders vrek ons vandag hier.”

Josh swaai verwoed met sy arms. Hy hardloop die bakkie ’n ent tegemoet.

“Ag praize the Lord, daar kom hulle! Help! Help!”

Krisjan stop ’n ent weg van die motor. Hy klim alleen uit. David spring van die bakkie af en hardloop na die kar met ’n bottel water.

“My bra! Dankie! Dankie! Sy het weer uitgepaas. Waars die antie? Eee … hallo Oompie, ek prys die Jirre dat julle gekom het!”

Krisjan staan dreigend nader.

“Wie is julle? Wat maak julle hier? Is julle alleen? As jy iets probeer skiet ek jou vandag vrek!”

Josh begin smekend huil.

“Hei nee my Oompie, ons is nie skelms nie. Kom kyk. Mary, sy lyk sleg, Oompie!”

Krisjan stap nader aan die kar. Hy steek vas by die oop deur aan die passasierskant.

“Magdalena! Kom! David gee aan daardie water!”

Magdalena hardloop nader. Sy gooi yswater op ’n handdoek en gooi dit oor die natgeswete meisie.

“Ag hemel, Krisjan, dis die hitte, sy kook. Bring die bakkie nader!”

Josh staan versigtig nader.

“Antie? Leef sy nog? Ag Jirrekie!

Magdalena gooi komberse op die bak oop.

“Kom, laai haar agterop. Ek sal by haar sit. Ry mooi, my man! Ons sal haar vashou hier agter.”

Josh hou Mary se hand vas. Hy bid en huil deurmekaar.

“Ons gaan vir jou help, Mary, net bietjie vasbyt, my girl.”

Magdalena spat nog yswater oor Mary se gesig. Die meisie kreun sag.

“Is haar naam Mary?”

Josh knik.

“Mary? Mary? Ons is amper daar. Ons gaan jou help. Hoor jy?”

Die bakkie hou naby die kombuisdeur stil. David en Krisjan spring voor uit om die meisie te kom help dra.
Margadena beduie wat elkeen moet doen. “Kom, dra haar na Kris se kamer toe. David, bring al die waaiers! Ons sal Dok Swiegers moet kry. Sy lyk sleg. Krisjan! Moenie so versteend staan nie. Gaan bel vir Dok!”

Sy trek Mary se klere uit en gooi ’n klam laken oor haar. Die waaiers maak die vertrek koel.

“Kom nader, Josh, sy gaan nou beter voel, jy sal sien. Vat die waslap en doop dit gereeld in die yswater. Dan vee jy haar gesig af.”

Mary begin kreun en maak haar oë oop. Josh val op sy knieë langs die bed.

“ Ag Jirre, dis a miracle! Mary!”

“Josh? Waar’s ons?”

Magdalena hou ’n glas water voor Mary se mond.

“Kom, vat ’n paar slukkies yswater. Eers net ’n bietjie. So ja.”

Mary sluk gulsig.

“Hoe voel jy nou, my kindjie?”

“Die kar, die vreeslike hitte, sê nou my baba is dood?”

Krisjan kom staan by die deur. Hy beduie Magdalena moet hom volg.

“Dok Swiegers is Kaap toe. Suster Matty is ook nie op die dorp nie. Ek het David gestuur om Anna te gaan haal. My vrou, wat maak ons as die Capy meisie vanaand in ons huis doodgaan? Kyk hoe lyk sy!”

“Liewe vader, Krisjan, dit is iemand se kind.! As dit my kind was, sou ek bly wees as iemand haar help. Sou jy wou hê sy moes langs die pad doodgaan?”

“Jys reg hulle is net kinders. Seker weggeloop! Ek bel sommer die polisie. Netnou het ons groot moeilikheid. Jy weet hoe is dié mense. Nou is ons huis vol Capys!”

Magdalena staan woedend voor haar man met haar hande in die sye.

“My man, ek kan nie glo wat ek hoor nie. Waarheen moes ons haar vat? Stalle toe?”

Krisjan praat sag, asof hy die vrees onderdruk.

“Ek sê jou as hierdie meisie vanaand onder ons dak doodgaan is daar moeilikheid! Haar mense kom van die Kaap af en brand ons huis af!”

Magdalena gee haar man ’n moordende kyk. Hy retereer want hy ken sy vrou as sy so vir hom kyk.

“Dis ’n mens in nood en ek gaan haar help. Sy is in kraam en ly aan hitte-uitputting. Ons is te ver van hospitale en ons kan haar buitendien nie in die toestand vervoer nie.”

Krisjan waag dit om weer sy mening te gee.

“Vrou, jy het nog nooit ’n baba gevang nie. Dis baie anders as ’n lam! Sy is nog bloedjonk en sy is swak. Ek sê jou hierdie is net moeilikheid.”

Magdalena stoot hom uit die pad sodat sy verby kan kom.

“Ja, my man, dit is moeilikheid, maar dis nou ons moeilikheid. Ons het nie ’n keuse nie.”

“Jy bedoel jou moeilikheid. Die vent kan saam David huis toe gaan. Hy slaap nie ook hier nie!”

“Waar is jou hart, Krisjan. Dis sy baba ook.Jy kan hom nie nou statte toe jaag nie. Skaam jy jou nie?”

“Jy doen in elk geval wat jy wil, Magdalena. Karring maar aan, ek gaan slaap.”

Hy stap knorrig die gang af. Magdalena staan ’n rukkie geskok in die gang.

“Kris, ek moet Kris bel. Hy sal weet wat ek moet doen!”

Sy stap kombuis toe en begin haastig die nommer in Londen bel.

“Tel die foon op seun! Wees asseblief daar. Nee! Here jy moet my help, ek voel hulpeloos.

Die hospitaal, dalk is hy aan diens.”

Sy bel weer. Dit voel vir haar ’n ewigheid voor sy foon begin lui.

“Ee, hallo, can you put me through to the ER? Thank you. Is dr. Naude available? Oh, he’s not working toninght. Ok, Thank you.”

Sy laat sak haar gesig in haar hande. Daar is ’n klop aan die deur.

“David! Waars jou ma?”

“Mevrou, dis asof die hel vandag los is op Avondster. Oom Koos het ’n toeval gekry en ma help Ta Meentjie. Hy lyk glo sleg.”

“Hemel David! Ons kry nie dok Swiegers of suster Matty nie. Vanaand is dit net ek en ek het nog nooit ’n mensbaba gevang nie.”

“Mevrou sal dit kan doen, Mevrou kan enigiets doen.”

XXXXXXX

Lees ook hoofstuk 1 hier
Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.