kategorieë: OuerskapJou lewe

Kuberboelies

Deur die eeue het boelies menige kind se lewe versuur. Hulle was die gemene belhamels wat kinders se lewe loutere hel gemaak het met fisieke afknouery. Toe was dit veral seuns se streke. (Meisies het geskinder.) Maar met die ontploffing van selfone en rekenaars, het die boelie se gedaante heeltemal verander. Nou is dit veral meisies wat die boeliewerk doen, en alles geskied op ’n baie openbare, sosiale podium met facebook as die wapen van hul keuse. Tog hou baie kinders dit geheim en is dit vir ouers en leerkragte baie moeilik om te weet wanneer kinders gekuberboelie word.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Wat gebeur in ons skole?

“Kuberboelie is baie erger as gewone boelie of skinder, want almal kan die kommentaar sien, en selfs mense wat jou nie ken nie en aan die ander kant van die wêreld woon, kan daarby betrek word,” sê Alison Bradfield (16) van Fourways Gardens in Johannesburg. “Waar dit voorheen net gewone skinder sou wees, word dit nou ’n openbare debat waarby almal betrek word en waarop hulle ook kommentaar kan lewer. Boonop kring dit wyer uit en word dit die volgende dag in detail by die skool bespreek. Baie meisies sal ’n status op facebook pos waarin iemand beledig word. Soms word name weggelaat, maar daar is genoeg inligting vir almal om te weet na wie verwys word. Soms word mense sommer op die naam genoem.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Een van haar vriendinne het die onsmaaklike ervaring gehad dat iemand ’n twitter-profiel in haar naam oopgemaak het en foto’s van haar facebook-profiel afgelaai het. Daar is toe afskuwelike rassistiese en nare aanmerkings gemaak asof dit van haar kom. Sy moes eers ’n petisie met klomp name inkry en dit na twitter stuur voor sy die rekening kon toemaak. Die hele petalje het ses maande geduur. Vra jy rond, het heelparty kinders al van skool verander weens kuberboelie. Gita Denner van Childline vertel dat kinders al gemoor en selfmoord gepleeg het oor kuberboelie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Die slagoffer moet weet

Vroeër is agteraf geskinder, maar sosiale boelie is daarop gemik om die slagoffers te laat weet wat gesê word.  Linda* (18) van Durbanville vertel dat iemand in hul skool ’n paar jaar gelede ’n profiel as “babbelbekkie” op facebook geregistreer het en gemene goed oor ander meisies daarop gepos het. Die mense ter sprake is dan as “vriende” genooi sodat hulle die gemene goed kon sien.

Dis ook nie net hoërskoolkinders wat deurloop nie. ’n Laerskoolleerder vertel hoe ’n graadseweseun ’n webwerf begin het met “wie haat juf. Visser?” Kinders het dan hul name ter ondersteuning geteken. In Januarie het ’n boelie in ’n Wes-Randse hoërskool ’n vriendin gevra om ’n video te neem van hoe sy ’n medeskolier met ’n koeldrankbottel oor die kop slaan dat die bloed spat. Dieselfde boelie het die slagoffer reeds op facebook en Blackberry se BBM geboelie.

Joanne Venter vertel dat een van haar hoërskooldogter se vriendinne se ma haar ontsteld gebel het om te “simpatiseer” met haar dogter se swangerskap. Dit was pure nonsens, maar iemand het op haar dogter se facebook-profiel ingegaan en ’n status ge- e-pos asof hulle sy was.

Wat sê Childline: Wat is kuberboelie?

Dis wanneer ’n kind, vroeë tiener of tiener ’n ander kind/tiener sielkundig martel, dreig, teister, verneder en in die verleentheid bring.

Die Sentrum vir Geregtigheid en Misdaadvoorkoming het in 2009 ’n meningspeiling onder jong Suid-Afrikaners in vier provinsies gedoen. Dit het getoon dat 24% van die kinders deur interaksie op die selfoon en SMS’e geboelie is.

Wenke vir ouers

Moenie kinders toegang tot die internet gee sonder ’n duidelike verstandhouding oor waarvoor dit aangewend mag word en waarvoor nie.

  • Stel skriftelik duidelike reëls op en julle albei moet die ooreenkoms dan onderteken.
  • Plaas die rekenaar op ’n sentrale plek in die huis sodat jy meer beheer het.
  • Verduidelik aan kinders dat hulle nooit iets moet e-pos of SMS wat hulle nie vir daardie persoon in sy gesig sal sê nie.
  • Sorg dat kinders nie hul wagwoord met hul maats deel nie.
  • Kinders kan ook ’n Password Lock op hul foon aktiveer sodat niemand hul foon kan gebruik sonder om die kode te ken nie. (Soms gebruik boelies ’n ander kind se foon om boodskappe te stuur en so hul identiteit te misbruik.)
  • Gesels gereeld met jou kind sodat hy/sy weet dat hulle met jou oor so iets kan gesels, maak nie saak hoe jonk of oud hulle is nie.

Wenke vir kinders

  • Beperk jou selfoongebruik.
  • Wees versigtig watter foto’s jy per selfoon deel.
  • Kies mooi vir wie jy jou selfoonnommer gee en maak ’n lys van die mense.
  • As jy ’n anonieme oproep kry, bly stil wanneer jy optel. As dit ’n vriend is, sal hy eerste praat. ’n Voornemende boelie sal neersit as jy niks sê nie.
  • Moenie op beledigende SMS’e reageer nie.
  • Moenie die beledigende SMS’e uitvee nie, jy kan dit later as bewys nodig hê.
  • As ’n oproep dreigend raak, beëindig dit dadelik.
  • Moenie emosie toon teenoor die boelie nie.
  • Praat met ’n volwassene wat jy kan vertrou.
  • Vra jou selfoonvoorsiener om die boelie se nommer te blokkeer.

Tekens dat ’n kind gekuberboelie word

Baie kinders is huiwerig om hul ouers of leerkragte te vertel, want hulle is bang vir die sosiale stigma, en ook dat hul rekenaarvoorregte ingeperk sal word. Die tekens kan verskil, maar wees bedag op:

  • Ontsteltenis ná interaksie op die selfoon of rekenaar
  • Baie geheimsinnig en beskermend oor hul digitale lewe
  • Onttrek aan vriende en aktiwiteite
  • Probeer skool en skoolgesellighede vermy

Twitter en die Olimpiese Spele

Die sosiale media was met die 2012 Olimpiese Spele in Londen sterk in die nuus. So het Tom Daley (18), die beminde Britse platformduiker ’n baie beledigende twiet gekry nadat hy en sy duikmaat in die gesinchroniseerde duik uitgeval het. “Jy het jou pa in die steek gelaat. Ek hoop jy weet dit.”

Die verwysing was na sy pa wat verlede jaar op veertig aan breinkanker dood is. Tom het hierdie twiet na al sy volgelinge teruggetwiet met die boodskap “Ná ek alles ingesit het, kry jy idiote wat dit vir my stuur … ”

Die polisie het die 17-jarige seun wat die twiet gestuur het by ’n gastehuis in Dorset gearresteer. Hy is ingevolge die Kwaadwillige Kommunikasiewet van 1988 aangekla.

Ander twitter-slagoffers Kevin Pietersen, die Suid-Afrikaans gebore krieketspeler wat nou vir Engeland speel, het onlangs probleme gehad met bedrog op twitter toe iemand ’n profiel in sy naam geregistreer het en beledigende twiets gestuur het asof hy Kevin is.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

4 hours Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.