kategorieë: Bekendes

Lag-lag doen Suzelle dit self

Dis moeilik om te sê hoekom die Suzelle DIY-video’s Suid-Afrika se internetgebruikers so oorrompel het. Dalk lê die geheim in die kombinasie van bruikbare wenke en onverwagse, aweregse humor. Want toe die sonsambreel aan die brand slaan, in Suzelle se eerste video oor die maak van ’n “braai-pie” op die kole, het die 31-jarige aktrise van Kaapstad se nuwe loopbaan ook as ’t ware vlam gevat.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Julia Anastasopoulos, Suzelle se skepper, verskil baie van haar karakter. Julia is ongekunsteld, rustig, tipies kunstenaar. Suzelle, daarenteen, is gestileer en van haar styf gespuite byekorfhare tot haar tone die prentjie van voorstedelike, prim en proper deugsaamheid. Dalk lyk Suzelle vir ons ’n bietjie soos ons ma’s en oumas op familiefoto’s uit die jare sestig.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Anders as Suzelle praat Julia nie eintlik Afrikaans nie. “Ek verstaan Afrikaans, maar ek kom uit ’n Griekse familie van Johannesburg en was in ’n Engelse skool. Soms moet ek Google se vertaalfunksie gebruik om presies te verstaan wat staan in die baie Afrikaanse e-posse wat Suzelle kry. Dis vir my ’n groot kompliment dat mense dink Suzelle bestaan regtig, en dat ek Afrikaans is. Dit wys ek het iets met Suzelle reggekry.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die voorstedelike, Afrikaanse selfdoen-ghoeroe het ontstaan ná baie rondspeel met idees, vertel Julia. “Ek en my kêrel, Ari Kruger, ’n regisseur, wou ons talente met ’n lekker projek kombineer. Ek as aktrise, hy as regisseur. Ons is nogal ’n goeie span – albei mal oor komedie en ons sien altyd die snaakse in ’n situasie raak.”

Hulle het ’n klomp karakters vir ’n moontlike rolprentdraaiboek begin skep en Suzelle, die snaakse, reguit Afrikaanse meisie, het telkens maar weer in hul gedagtes kom aanmeld. “Toe begin ons dink aan scenario’s waarin ons haar kan gebruik, en omdat doen-dit-self programme deesdae internasionaal so in die mode is, het ons gedink dis ideaal. Suzelle is dus ook bedoel as kommentaar op hierdie hele neiging van aanlynaanwysings om alles en nog wat self te kan doen.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

As jy gedink het Suzelle het oornag gebeur en is sommer op ’n slimfoon verfilm, dink maar weer. “Ons het omtrent ’n jaar lank geëksperimenteer en die karakter verder ontwikkel voor daardie eerste opname die wêreld ingestuur is. Die produksie verg nogal baie – dit neem minstens ’n week net om iets van die ideestadium te ontwikkel tot op die punt waar ons dit kan verfilm. Die draaiboek moet klaarkom, ons moet besluit hoe die stel gaan lyk, die props (rekwisiete) daarvoor kry, die regte klere vir Suzelle kry … Daarna word elke video geredigeer tot ons tevrede is dat die produk goed genoeg is. Dis soos om ’n mini-fliek te maak.”

Hulle wyk wel soms van die draaiboek af. “Terwyl ons skiet, improviseer ons natuurlik ook soms. Suzelle is lighartig, pret, maar ook ’n bietjie lomp en op ’n manier ’n bietjie hartseer. Sy is ’n bietjie van ’n beheervraat en ek dink mans is nogal bang vir haar.”

Wat as pret begin het, het nou verander in ’n handelsmerk.

“Dit was ’n organiese groeiproses tot waar Suzelle vandag is, en die publiek se positiewe terugvoer verras ons elke dag.”

Maar hulle rol nie skielik in die geld nie. “’n Mens kan eers regtig geld maak uit ’n video op YouTube ná iets soos een miljoen trefslae. So, nee, ons het nog nie juis geld gemaak uit Suzelle nie. Maar borge begin nou belangstel en daar is planne vir ’n eenvroustuk met Suzelle as hoofkarakter.”

Julia het eintlik half per ongeluk aktrise geword. Sy is ook ’n uiters begaafde visuele kunstenaar en grafiese ontwerper en was onder meer verantwoordelik vir die muurskilderye in twee MyCiti-busstasies en The Book Lounge in Kaapstad. Sy het ook twee kinderboeke geïllustreer: Bonsai and Geronimo, wat Kaapstad in September 2012 in Helsinki by die World Design Capital 2012-uitstalling moes verteenwoordig, asook Jeff and George, wat pas by Penguin verskyn het. (Bonsai and Geronimo is ook as interaktiewe e-boek en digitale speletjie beskikbaar.)

Dit was ná skool vir haar moeilik om tussen ’n kuns- of dramagraad te kies. “My ma, Christine, was ’n kunsonderwyseres en het ons altyd aangemoedig om te skep. Ek teken al vir so lank ek kan onthou. Ons kom uit ’n baie kreatiewe gesin. My pa, George, is ’n ingenieur en het ook ’n sterk aanvoeling vir kuns, en ons almal stel baie belang in drama en toneelspel. Dit was ’n moeilike besluit, maar drama het gewen. Ek het my dramagraad aan die Universiteit van Kaapstad behaal.”

Die toneelwêreld bly maar ’n moeilike bedryf en die kuns help om kos op die tafel te kry, vertel sy.

Is die rustige Julia enigsins soos die besige-bytjie-Suzelle? Sy lag. “Ja en nee. Ek is ook mal oor doen-dit-self-projekte en baie handig. Ari spot my altyd daaroor, maar ek sit maklik my eie rakke op, of boor gate om skilderye op te hang. Ek was nog altyd so, maar het nie ’n idee waar dit vandaan kom nie.”

Wat voorkoms betref, is daar min ooreenkomste. “Ons hare is darem dieselfde kleur,” sê Julia laggend.

“Maar ek trek baie informeel aan, dra amper altyd donker kleure en my hare is gewoonlik deurmekaar. Ek is beslis nie so formeel soos Suzelle nie. Om haar te speel dwing my so ’n bietjie buite my gemaksone. Dit het eintlik so half per ongeluk gebeur dat sy ’n rok dra – ek het aanvanklik sommer in my verhoog-klerekas rondgekrap en op ’n rok afgekom. Mettertyd het haar styl nogal ontwikkel in iets eie aan haar – deesdae koop ek selfs spesiaal vir Suzelle klere!”

Sy is beslis ook nie so aaklig met haar vriendinne soos wat Suzelle met Marianne is nie,” skerts sy. “Anders as Suzelle, laat ek darem my vriendinne toe om te praat! My beste vriendin, Gina Collins, speel die rol van Marianne.”

Die feit dat Suzelle ’n Afrikaanse karakter is, is deels gebore uit Julia se liefde vir aksente.

“Dis iets waarmee ek as aktrise regtig goed is. En ek hou van Afrikaans, want dis so uniek. Suzelle het bly opduik, maak nie saak hoe ek en Ari rondgesoek het na iets unieks nie. Ek dink dis dalk omdat mense hulle met iemand soos Suzelle kan vereenselwig.”

Sy benadruk dat sy nie met Afrikaners of Afrikaans spot nie. “Inteendeel. Ek het die grootste respek vir Afrikaanse mense. Ek hoop dat ons met Suzelle ook iets van Afrikaans kan vier.”

Daar was teen druktyd al 21 Suzelle-video’s op die Suzelle DIY YouTube-kanaal, en Suzelle gaan nog lank met ons wees, verseker Julia my.

Toe Julia onlangs die eerste keer haar verskyning maak as die oorwerkte ma in ’n advertensie vir ’n bekende versekeringsmaatskappy, was die openbare reaksie baie interessant en uiteenlopend. Aanlyn-kommentaar het gewissel van verbasing oor haar veelsydigheid tot teleurstelling dat sy nie soos Suzelle daarin lyk nie. Hieroor lag Julia lekker.

“Dis wonderlik dat mense dink Suzelle is ’n regte mens. Maar as aktrise doen ek wat my hand vind om te doen, en ek het al ’n hele paar advertensies vir oorsese media gemaak. Plaaslik was ek al te sien in ’n Telkom-advertensie en kort ná my studie het ek ’n rol in die Kunste-kaap-produksie van Shakespeare se Hamlet gehad. Hierdie advertensie is eintlik al meer as ’n jaar gelede geskiet en dis bloot toevallig dat dit nou eers uitgesaai word. Hopelik toon dit my talent en veelsydigheid as aktrise.”

Sy en Ari is nou drie jaar lank ’n paartjie nadat hulle eers lank net vriende was. Hoe is dit om saam met hom aan Suzelle te werk?

“Dit kan nogal rof wees, maar terselfdertyd ook wonderlik, want ons ken en verstaan mekaar so goed.” Hulle droom van nog projekte saam.

“Ons sal graag ’n unieke, Suid-Afrikaanse fliek wil maak wat internasionaal sy stempel kan afdruk. Iets snaaks, aweregs, soos ons. Maar dit moet donker, skerp komedie wees – beslis nie Leon Schuster-humor nie. Dit moet ook pragtig verfilm wees.”


Julia agter die skerms

In haar vrye tyd ontspan Julia graag met ’n boek.
“Ek is ook mal oor fliek en TV-reekse. ’n Mens kan maar sê ek is ’n reeks-verslaafde!” Sy bly fiks met joga, stap graag en hou van buitelug-aktiwiteite. Wat maak haar gelukkig? “Kos, kos en nog kos! Alle kos – ek het nie nonsens nie!
Onthou, ek is Grieks en ek het hierdie Mediterreense benadering tot kos in my bloed. Ek kook graag, en het tot onlangs toe nog saam met my suster gewoon wat net so ’n groot foodie is. Ari is Joods, en ons deel dus hierdie familie/gemeenskap-benadering tot kos en saamkuier. Ek is mal oor my familie en vriende. My ouers woon steeds in Johannesburg en ek mis hulle. En ja, ek mis Johannesburg ook. Maar ek is sedert 2001 in Kaapstad, en ek is lief vir die stad.”
En wat maak haar kwaad? “Ari sê ek word kwaad as ek honger is,” giggel sy.

Kyk na Suzelle by www.youtube.com/user/SuzelleDIY

Haar nuwe video, “How to Make a Pizza out of Cauliflower”


Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

5 lekker hoemoes-resepte

Hou jy van hoemoes? Dan sal 13 Mei vir jou ’n belangrike datum wees. Dié…

4 hours Gelede

Is dit hoekom jy maagpyn het?

Waar pyn jou maag? Die presiese plek waar jy die pyn ervaar, kan aandui wat…

3 days Gelede

Hoe om jou dogter groot te maak om sterk en vol selfvertroue te wees

In ons moderne wêreld, waar die uiterlike voorkoms blyk om al hoe belangriker te word,…

3 days Gelede

Sauvignon Blanc Dag op prettige manier gevier

Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts Dis hoe die Suid-Afrikaanse wynbedryf die afgelope naweek Internasionale…

3 days Gelede

Willem Botha se nuwe liedjie kry die partytjie aan die gang

Veelsydigheid is Willem se middelnaam, maar musiek bly sy passie. Hierdie enkelsnit is sy eerstevrystelling…

3 days Gelede

Lemoen-ontbytkoekies

Die koekies is heerlik klam en maklik om te maak. Jy kan hulle sonder die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.