“Kos is die taal van die liefde, maar kos is ook die kuns van liefde en samesyn.” Met daardie woorde slaan Carmen Niehaus die spyker op die kop in die derde episode van Lekker & goed op kykNET – want dis juis die liefde en samesyn wat sy week na week met spesiale gaste en die kykers deel.
Soms is dit familie, ander kere is dit weer bekende gesigte wat kykers so goed leer ken het op die kassie. Vandeesweek was dit Bravo! en Plaasjapie se aanbieder, Ewan Strydom, wat al te heerlik saam met Carmen aan die Weskus gekuier het. En sy het reeds uitgewerk wat sy vir hom gaan voorsit: Kos vir die langpad, kos wat hy kan saamneem ongeag waarheen hy koers inslaan of hoe vroeg in die oggend hy ’n vlug moet haal.

Soos kykers teen hierdie tyd weet, fokus Carmen nie net op dit wat lekker én goed is nie, maar wat ook die Olifantsriviervallei daar naby Lambertsbaai se ‘rooi goud’ (nee, nie kreef nie!) in die vorm van rooibostee uitstekend verteenwoordig.
“Ek is mál oor rooibostee . . . net so alleen, of met ’n bietjie heuning. En dis min of meer waar dit stop,” het Ewan verklap. En hy kon nie wag om Carmen se “fênsie” tee te proe nie. Tussendeur het daar herinneringe by Ewan opgeduik van Lucky Star se plaastyd-pilchards en Carmen het ’n plan vir hom daarmee gemaak in die vorm van ’n tunasmeer.

Ewan het al die wêreld deurkruis, en sy gunsteling bestemming is ongetwyfeld Thailand. Dis boonop waar hy op 10 April 2004 sy vrou, die Hongaars-gebore model en fotograaf Adrienn, ontmoet het. Ekstra spesiaal vir hom.
Hy was so senuweeagtig dat hy haar destyds vir ’n fliek genooi het – en toe sommer al sy vriende saamgenooi het! Die twee het nie eers langs mekaar gesit nie, al die vriende was tussen-in. Eind goed, als goed – en die liefde loop meer as twee dekades later duidelik nog baie sterk tussen die twee mooi mense.
RESEPTE: GESOND OP DIE LANGPAD
Ystee vir die pad
Genoeg vir 4-6 mense
- 1 liter (4 k) water
- Groot stuk heel vars gemmer, in skywe gesny
- 2 heel steranys-peule
- 2 suurlemoene se sap en skil
- 45 ml (3 e) heuning
- 5 Carmién Pure rooibosteesakkies
- ysblokkies
- hand vol bessies van jou keuse
METODE
- Plaas al die bestanddele, behalwe die teesakkies, ys en bessies, in ’n groot kastrol en bring tot kookpunt. Verlaag hitte en laat kook vir sowat 5 minute tot geurig.
- Verwyder van hitte en voeg teesakkies by. Laat staan om te trek totdat die vloeistof afgekoel is.
- Gooi deur ’n sif en plaas in yskas tot yskoud.
- Giet in flesse saam met ys en bessies.
Jogurtsaadblikbroodjies met tunasmeer & Gutsy uiepiekel
Jogurtsaadblikbroodjies
Maak 1 broodjie
Bereiding: 10 min
Baktyd: sowat 35 minute
- 500 ml (2 k) hawermout
- 15 ml (1 e) bakpoeier
- 5 ml (1 t) sout
- 180 ml (¾ k) gemengde sade (vlassaad, lynsaad, sesamsaad, pampoensaad en sonneblomsaad)
- 30 ml (2 e) chia-saad
- 50 g heel amandels
- 3 eiers
- 250 ml (1 k) natuurlike jogurt (Lancewood, lactolite) of amasi
- Sowat 125 ml (½ k) Carmién groen rooibostee, berei met 1 teesakkie
- Sade en hawermout vir oorsprinkel
METODE
Voorverhit die oond tot 190°C. Spuit ’n skoon blik goed met kossproei.
- Meng die hawermout, bakpoeier en sout in ’n groot mengbak. Voeg die sade en neute by en meng weer goed
- Klits die eiers in ’n ander bak, voeg die jogurt en ’n bietjie tee by en klits tot goed gemeng.
- Voeg die nat bestanddele by die droë bestanddele en meng liggies tot deeglik gemeng en ’n sagte deeg gevorm is, voeg meer tee by soos nodig. Moenie die deeg óórmeng nie.
- Skep in die blik.
- Sprinkel hawermout en sade bo-oor.
- Bak 30 minute lank tot gaar en ’n toetspen skoon uit die broodjie kom, keer uit en bak nog sowat 5-10 minute of totdat die kante en onderkant ook drooggebak is.
Tunasmeer
Maak sowat 500 ml (2 k)
Bereiding: 10 min
- 125 ml (½ k) mayonnaise (Light)
- 30 ml (2 e) tahini (opsioneel)
- 45 ml (3 e) kappertjiesaad
- 1 suurlemoen se sap en gerasperde skil
- 1 brandrissie, gekap (saadjies verwyder indien verkies)
- Goeie skoot olyfolie
- 2-3 blikkies (170 g elk) Lucky Star-tuna, in soutwater verpak, gedreineer, maar behou die vloeistof
- 1 soet ui van Wildeklawer, fyn gekap
- Gesmelte botter
- Paar takkies vars tiemie
METODE
- Plaas die mayonnaise, tahini, kappertjiesaad, suurlemoen se sap en skil en gekapte brandrissie in die voedselverwerker en kap fyn. Voeg die olie asook die tuna by. Verwerk tot glad, voeg van die vloeistof by indien die mengsel te droog is.
- Voeg ook die ui by en kap fyn.
- Skep in ’n bakkie met ’n deksel en giet die gesmelte botter bo-oor.
- Plaas ’n paar takkies tiemie bo-op en laat die botter stol.
- Sit voor saam met die hawermoutbroodjie.
Gutsy uiepiekels
Maak 1 bottel (750 ml) piekel
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 6 min
Basiese piekelsous
- 500 ml (2 k) rou appelasyn
- 500 ml (2 k) water
- 15 ml (1 e) sout
- 125 ml (½ k) suiker
- 7,5 ml (1½ t) heel koljandersaad
- 5 ml (1 t) heel vinkelsaad
- 5 ml (1 t) mosterdsaad
- 1 sakkie elk Carmién GUT en Carmién groen rooibostee
Groente
- 6 rooi uie, in ringe gesny saam met 5 knoffelhuisies, geskil
METODE
- Was en steriliseer glasflesse en deksels.
- Giet die bestanddele vir die basiese piekelsous, buiten die teesakkies, in ’n kastrol en bring tot kookpunt en kook 5 minute. Voeg die teesakkies by, laat trek so 2 minute en verwyder die teesakkies.
- Pak intussen die uie en knoffel in die voorbereide flesse en giet die piekelmengel oor die groente, maak seker dat die groente heeltemal bedek is.
- Maak flesse toe en seël. Keer onderstebo en laat afkoel.
Hoender-“sosaties” met koljanderpesto
Maak 26 sosaties
Bereiding: 40 min
Gaarmaak: sowat 15-20 min
- 6 hoenderborsfilette, in klein blokkies gesny
- sout
Sous
- 1 ui, gerasper
- 2 knoffelhuisies, gerasper
- 5 cm gemmer, gerasper
- 30 ml (2 e) olie
- 30 ml (2 e) brejani-masala
- 7,5 ml (1½ t) komyn
- 7,5 ml (1½ t) paprika
- 15 ml (1 e) borrie
- 45 ml (3 e) appelkooskonfyt
- 30 ml (2 e) soesji-asyn
- 15 ml (1 e) sojasous
- Sout en peper na smaak
- 80 ml (⅓ k) koljanderblare, fyn gekap
- 160 ml (⅔ k) Carmién Spicy Rooibos Masala Chai Cooking Bags, gemaak met 1 sakkie
- 60 ml (¼ k) natuurlike jogurt
METODE
- Geur vleis liggies met sout. Ryg 4 blokkies hoender op klein sosatiestokkies. Plaas in ’n bak.
- Sous: Plaas al die bestanddele vir die sous in ’n kastrol en bring tot kookpunt.
- Koel af en roer die jogurt by. Giet oor die hoendersosaties. Marineer vir sowat 2-3 ure (nie te lank).
- Braai oor matige kole of in ’n riffelpan tot gaar en sappig. Sit voor met koljanderpesto.
Koljanderpesto
Maak 375 ml
Bereiding: 10 min
- Sout
- 250 ml (1 k) pampoenpitte
- 120 g vars koljanderblare
- 2 groot knoffelhuisies, geskil
- 125 ml pecorinokaas, gerasper
- Sowat 250 ml (1 k) olyfolie
- 5 ml (1 t) suurlemoensap
- 1,25 ml (¼ t) fyngerasperde suurlemoenskil
METODE
- Sprinkel sout oor pampoenpitte en rooster in ’n droë pan.
- Plaas pampoenpitte, koljanderblare, knoffel en kaas in die NutriBullet en verwerk tot fyn, voeg die olyfolie stadig by saam met suurlemoensap en skil.
- Verwerk tot ’n growwerige pasta.
Proteïen-brownie
Maak ’n medium koek
Baktyd: 25 min

- 125 ml (½ k) warm Carmién Ashwagandha-rooibostee (2 sakkies)
- 80 ml (⅓ k) kakao
- 60 ml (¼ k) olie
- 1 blik (400 g) tertappels, verpulp
- 125 ml (½ k) bruinsuiker
- 250 ml (1 k) witbroodmeel
- 125 ml (½ k) soja-proteïen
- 2,5 ml (¼ t) sout
- 20 ml (4 t) bakpoeier
- 125 ml (½ k) hawermout
- 3 eiers
- 1 plak (80 g) donker sjokolade, gesmelt
- 5 ml (1 t) vanieljegeursel
- Handvol frambose
- Kakao vir bo-oor stuif
METODE
Voorverhit die oond tot 180 °C. Spuit ’n losboom-koekpan met kossproei en voer die bodem uit met bakpapier.
- Meng die rooibostee, olie en kakao saam en roer die appelpuree en suiker by.
- Sif die meel, proteïenpoeier, sout en bakpoeier saam en voeg die hawermout by.
- Klits die eiers, sjokolade en vanieljegeursel saam en klits die rooibosmengsel by.
- Vou die droë bestanddele in.
- Skep in die voorbereide koekpan, sprinkel die frambose oor en bak sowat 25 minute of tot die brownie net-net gaar maar nog effe “gooey” is. Koel af en stuif met kakao indien verkies.

Lekker & goed word Donderdagaande op kykNET (DStv-kanaal 144) om 17:30 uitgesaai of stroom op DStv Stream.
Lees ook: Misi is weer op ’n reddingsmissie in In die sop: Gastehuisrevolusie





