Dit loop soos kaaskoek-stroop in Lekker & goed op kykNET met die gesoute resepteboekskrywer en huishoudelike naam, Carmen Niehaus, wat kykers touwys maak met die allerlekkerste kos- en drinkdinge wat met rooibostee aanmekaar gesit kan word.
En deurentyd word daar natuurlik heerlik saamgekuier aan die Weskus met bekendes, geliefdes en soms selfs onverwagte gaste.

Soos altyd, sorg Carmen dat daar iets spesiaal voorgesit word wat elke gas nog meer welkom laat voel.
In die tweede episode van die tweede seisoen het Carmen heel gepas twee gaste – en altwee van hulle lê haar baie na aan die hart: Lize du Preez, haar susterskind, en Ilze Bruwer. Lize is die bemarkingsdirekteur van Carmién Tea en Ilze is die voedseltegnoloog by die groep.

Ilze se kennismaking met rooibos kom reeds van kleintyd af se kuier op haar oupa se plaas by Nieuwoudtville en sy onthou van die rooibostee wat altyd so sterk op die Aga-koolstoof gebrou het.
Lize het natuurlik met rooibostee grootgeword en sy onthou hoe sy ook as kind reeds deur ma Mientjie, Carmen se tweelingsuster, geraadpleeg is oor verpakking. Geen wonder sy het as die bemarkingsdirekteur ontpop nie!
So tussen die bak en brou deur word daar kopstukke gesels – en die gesprekke wentel oor ingewandsgesondheid, omgewingsvriendelike verpakking en die geurprofiele van elkeen se voorkeur.
RESEPTE: SAAMGOOI-KOS/DEELKOS
Pienk Pons
Genoeg vir 2 liter

Ysbak
- 2 liter water
- Kruie van jou keuse
- Vars blomme
Pons
- 1 liter water
- 200 g (250 ml) suiker
- 500 g sak bevrore, gemengde bessies
- 6 sakkies Carmién Cranberry Hibiscus Cold Brew
- 1 kg gebreekte ys
- 2 liter limonade
METODE
Ysbak
- Kook 2 liter water en laat dit afkoel. Kook weer en laat afkoel tot koud – dit maak die ys deursigtig.
- Vul ’n groot, ronde, vriesbestande bak halfpad met die koue water.
- Plaas ’n tweede kleiner ronde bak in die water en plaas iets swaar soos blikkieskos binne-in wat die gewig van die bak afdruk en die water in die onderste bak tot by die rand van die groot bak laat styg. (Maak seker dat die kleiner bak nie op die bodem van die onderste bak druk nie.)
- Plak twee repe maskeerband oorkruis bo-oor albei bakke sodat dit stewig sit.
- Druk kruie en vars blomme in die water en vries oornag.
Pons
- Plaas 1 liter water, suiker en bessies in ’n middelslagpot en bring tot kookpunt.
- Laat kook 5-8 minute of tot vloeistof met die helfte verminder het.
- Verwyder van hitte en voeg teesakkies by. Laat trek 5-8 minute of langer indien jy dit sterker verkies.
- Verwyder teesakkies en laat die stroop afkoel tot heeltemal koud. Verwerk metstaafmenger tot puree.
- Haal bakke uit vrieskas, doop dit vinnig in kookwater en haal die ysbak uit.
- Plaas op ’n mooi bord, gooi ys en koue stroop in ysbak.
- Gooi limonade by en meng liggies deur.
- Sit voor met ekstra vars bessies, indien verkies.
Saadlavash met beethoemoes en gerookte tamatiepiekels

Saadlavash
Maak 10 groot stukke
- 375 ml (1½ k) hawermout
- 125 ml (½ k) saadmengsel (sonneblom, pampoen, lynsaad)
- 30 ml (2 e) chia-sade
- 15 ml (1 e) phylliumvesel
- 15 ml (1 e) paprika
- 5 ml (1 t) sout
- 80 ml (⅓k) olyfolie
- 500 ml (2 k) Carmién groen rooibostee, afgekoel
Vir afronding
- Olie
- Taco-speserymengsel
- Swart sesamsade
METODE
Voorverhit die oond tot 230°C. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit en spuit goed met kossproei.
- Meng al die droë bestanddele, voeg ook die paprika en sout by.
- Meng die olie met helfte van die rooibostee en voeg by die droë bestanddele.
- Meng goed en voeg dan net genoeg rooibostee by om ’n smeerbare deeg te maak.
- Smeer die deeg so dun as moontlik op ’n bakplaat met ’n deegskraper.
- Verf met olie en gebruik jou vingerpunte om die deeg egalig plat te druk.
Afronding
- Sprinkel bietjie taco-speserymengsel oor, asook sesamsaad.
- Bak 15 minute tot gaar en effe bros rondom die kante. (Verf halfpad deur die bakproses weer met olie).
- Draai om, verf die onderkant ook met olie en bak ’n verdere 7-10 minute tot bros.
- Laat dit afkoel en breek in stukke.
- Bêre in ’n lugdigte houer.
Wenk: Maak weer lekker bros deur die stukke lavash in ’n lugbraaier te bak vir sowat 5 minute.
Beethoemoes
Sesamsaadolie
- 60 ml (¼ k) olyfolie
- 45 ml (3 e) sesamsaad
Hoemoes
- 500 ml (2 k) gaar beet
- 1 blik (400 g) kekerertjies – dreineer, behou vloeistof
- 3 knoffelhuisies, fyngedruk met 3 ml sout
- 2 groot suurlemoene se sap en fyngerasperde skil
- 3 ml (ruim ½ t) elk, fyn komyn en paprika
- Carmién groen rooibostee na smaak
METODE
Sesamsaadolie
- Verhit die olie in ’n pan en braai die saad tot goudbruin, maar nie te donker nie.
- Koel af.
Hoemoes
- Plaas al die bestanddele in die voedselverwerker en verwerk tot glad, voeg die sesamsaadolie en net genoeg groen rooibostee by om ’n fluweelgladde mengsel te maak.
- Skep in ’n bakkie en sit voor met die piekels en lavash.
Gerookte tamatiepiekels
Maak 1 bottel (750 ml) piekel per groente soos hieronder aangedui
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 6 min
Beroking
- 30 ml (1 e) los rooibosteeblare
- 30 ml (2 e) rys
Groente
- 1 kg baba-tamaties
- 2 gekapte uie
- 5 gerasperde knoffelhuisies
- Sout, bietjie suiker en olyfolie
Piekelsous
- 500 ml (2 k) appelasyn
- 500 ml (2 k) water
- 15 ml (1 e) sout
- 125 ml (1/2 k) suiker
- 1 sakkie Carmién Gut-rooibostee
Speserymengsel
- 7,5 ml (1½ t) heel koljandersaad
- 5 ml (1 t) heel vinkelsaad
- 5 ml (1 t) mosterdsaad
METODE
Was en steriliseer glasflesse en deksels.
- Plaas teeblare en rys op ’n groot vel tinfoelie en vou toe. Prik die bokant vol gate.
- Plaas ’n vel tinfoelie in ’n swaarboomkastrol en plaas die pakkie tee bo-op.
- Pak die tamaties rondom. Maak toe met deksel.
- Verhit plaat op hoog tot rook begin vorm en by die deksel uitsypel. Verlaag hitte en rook 3-5 minute.
- Pak die tamaties, uie en knoffel op ’n bakplaat, geur met sout en bietjie suiker en sprinkel bietjie olyfolie oor. Oondbraai sowat 20 min tot die skilletjies net begin bars. Skep in die gesteriliseerde flesse.
- Giet die bestanddele vir die piekelsous in ’n kastrol en voeg die speserymengsel by.
- Bring tot kookpunt en kook 5 minute. Verwyder die teesakkie.
- Giet die piekelmengsel oor die tamaties, maak seker dat die groente heeltemal bedek is.
- Maak flesse toe en seël. Keer onderstebo en laat afkoel.
- Laat staan sowat 3 dae voor jy dit voorsit.
Mentolywe
Maak sowat 500 ml
Bereiding: 20 min
Piekelmengsel
- 4 knoffelhuisies, fyngerasper
- 45 ml (3 e) kappertjiesade
- 15 ml (1 e) komynsaad
- 15-30 ml (1-2 e) paprika
- 7,5 ml (1½ t) sout
- 125 ml (½ k) sultanas, afgespoel in kookwater
- 250 ml appelasyn
- 250 ml water, met 1 sakkie Carmién Revive-rooibostee
Olywe
- 150 g elk swart en groen olywe
- 80 ml (⅓ k) ment, goed afgespoel en fyngekap
- Olyfolie om te bedek
METODE
- Meng al die bestanddele vir die piekelmengsel en bring tot kookpunt.
- Pak die olywe saam met die ment in ’n skoon fles en giet die piekelmengsel oor.
- Vul aan met olyfolie tot net bedek.
- Verseël.
Oosterse poke-garnaalslaai
Slaaisous
Maak sowat 180 ml
- 60 ml (¼ k) rysasyn
- 15 ml (1 e) sjoesji-asyn
- 60 ml (¼ k) vars lemmetjiesap en skil van 4 lemmetjies
- 125 ml (½ k) sterk Carmién Citrus Camomile-groen rooibostee (3 sakkies)
- 125 ml (½ k) sterk Carmién Revive-groen rooibostee met gemmer en brandrissie (2-3 sakkies)
- 60 ml (4 e) sojasous
- 15 ml (1 e) sesamolie
- 15-30 ml (1-2 e) suiker of heuning
- 2 knoffelhuisies, fyngerasper
- 45 ml (3 e) koljanderblare, gekap
- 45 ml (3 e) Poke-geurmengsel
Proteïene
- 500 g gaar gestoomde garnaalvleis (giet van die slaaisous oor)
Bolaag: Sowat 125 ml elk
Groente: Kool-en-wortel, baba-spinasieblare, edamame-bone, mini-komkommerstukkies en avokado-stukkies
Vrugte: Stokkies nektarien of pruime
Afronding: Sesamsade en piekelgemmer en poke-speserye
METODE
Sous: Plaas al die bestanddele in ’n kastrolletjie en bring tot kookpunt. Koel af en giet in ’n botteltjie.
Poke-bakkies
- Giet bietjie van die sous oor die gaar garnale en laat staan terwyl jy die res van die slaai bymekaarsit.
- Pak die groente en garnale in hopies op ’n bord of groot slaaibak.
- Giet die sous in ’n klein bekertjie en plaas daarnaas.
- Sprinkel paar stukkies piekelgemmer asook van die poke-speserye mildelik oor en sit voor (die eter kan nog van die sous oorgiet).
Kaaskoek met boegoevrugte
Maak 1 medium kaaskoek

Kors
- 80 ml (⅓ k) bruinsuiker
- 250 ml (1 k) hawermout
- 50 g gekapte neute of pampoensade
- 60 ml (¼ k) klappermeel
- Knippie bakpoeier en sout
- 80 g botter, gesmelt
- 1 eierwit
Vulsel
- 2 x 230 g gladde, geroomde maaskaas (creamed cottage cheese)
- 250 ml (1 k) volroom, natuurlike jogurt
- 25 ml (5 t) mielieblom
- Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
- 4 eiers
- 125-180 ml (½ -¾ k) bruinsuiker
- Knippie sout
Bolaag
- 3-4 nektariens, perskes of pruime in skyfies gesny
- 30 ml (2 e) bruinsuiker
- 125 ml (½ k) Carmién Pure rooibostee (1 sakkie) en Carmién Buchu-en-rooibos (1 sakkie)
- Vars vrugte vir afronding
METODE
Voorverhit die oond tot 120˚C
Kors
- Plaas die bruinsuiker, hawermout, neute, klappermeel, bakpoeier en sout in die voedselverwerker en kap goed fyn.
- Voeg die botter deur die tuit by en meng goed .
- Voeg die eierwit by en meng tot ’n deeg.
- Skep uit en druk vas in ’n 23 cm losboompan – teen die boom sowel as die kant.
Vulsel
- Klits al die bestanddele saam tot net gemeng, nie skuimerig nie.
- Giet in die kors.
- Bak 1-1½ uur of tot die vulsel stewig, maar steeds nog effe drillerig is.
- Skakel die oond af en koel af in oond as jy tyd het.
Bolaag
- Kook die vrugteskyfies saam met die suiker en rooibostee tot effe stroperig.
- Koel af en meng vars vrugteskyfies by.
- Skep oor die afgekoelde kaaskoek.
Voorsit
Skep van die salsa in elke koppie en geniet.

Lekker & goed word Donderdagaande op kykNET (DStv-kanaal 144) om 17:30 uitgesaai of stroom op DStv Stream.
Lees ook: Lekker & goed-resepte: Tennis en tee met Hannes van Wyk



