Luiheid kan jou goed doen!

Luiheid kan jou goed doen! Deur Anet Schoeman. Foto: Andrea Piacquadio vir Pexels

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Luiheid kan jou goed doen!

“Ledigheid is die duiwel se oorkussing,” het ons as kinders gehoor wanneer ons leeglê. Dit was goed en deugdelik wanneer jy altyd besig was. En in ’n samelewing waar jy op enige tyd en enige plek kan werk, is dit presies wat ons doen. Werk, werk, werk …

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Maar neurowetenskaplikes sê ons het ’n kalm brein vir blink planne en sukses nodig. En dat die aha-oomblikke juis soms, soos Newton en die appel, sommer net op ons neerplof. (Newton het ná ete in die tuin onder ’n boom gaan sit en ingedagte sy tee gedrink toe die appel val en hy swaartekrag “ontdek”.)

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Ons is verslaaf aan besig wees

“Ons raak verslaaf aan besig wees,” sê dr. Colleen Lightbody, ’n neurowetenskaplike en lewensafrigter by Brainwise in Sandton. “Dis ’n statussimbool om altyd besig te wees. Dit laat ons belangrik voel. Maar om heeltyd besig te wees kan ook ’n verlammende uitwerking hê – jy skram weg daarvan om dinge te konfronteer en te verwerk.

“Wanneer ons ’n taak afhandel, is daar ’n gevoel van voldoening, soos wanneer jy jou laaste e-pos afmerk. Daarom vermy ons niksdoen, want ons voel minder produktief. Maar soms bly ons bloot besig om besig te bly, maar voeg nie werklik waarde toe nie. Die brein stel dopamien vry wanneer ons iets vermag en dit laat ons goed voel. Later raak ons verslaaf aan die goedvoel eerder as werklike resultate.

“Dis dieselfde beginsel waarmee casino’s mense by die gleufmasjiene laat vassteek. Die ligte, klokkies wat lui en afwagting, laat mense ure voor hierdie masjiene staan in die hoop om weer iets te wen. Dieselfde beginsel dryf mense by die kantoor, maar later knak hulle onder spanning en werksdruk.”

Jou brein is afgeskakel

“Ons raak afhanklik van dinge wat ons plesier verskaf,” sê dr. Lightbody. Ons raak gewoond aan die gevoel en dan moet ons méér doen om dieselfde behaaglikheid te ervaar. Dis helaas, ’n wanpersepsie, want ons doen dalk meer, maar ons vermag nie meer nie. Wat dit verder niksseggend maak, is dat ons brein se outomatiese verstelling is om dinge so gemaklik moontlik te hou – dus om nie te dink nie. Só bly ons vreeslik besig, maar ons brein is nie werklik op ’n diep vlak aangeskakel nie.

In jou beroep kan jy dit vergelyk met water trap: jy is vreeslik besig, maar jy gaan nie vorentoe nie. As jy tyd maak om te dínk wat jy werklik wil hê, gaan jy doeltreffender werk en beter gehalte lewer.

Dr. Lightbody sê jou brein word net soos ’n spier sterker as hy gereeld oefening kry. Die prefrontale korteks is die sentrum in die brein wat jy gebruik vir strategiese denke, besluitneming en wysheid. As jy jou brein op ’n sinvolle manier inspan vir kreatiewe denke, raak dit gewoond om só te funksioneer. Maar gebruik jy jou brein op sy outomatiese verstelling is dít die verstelling wat jy versterk.

‘Dis ’n teenwoordigheid in die oomblik waarin jou gemoed oop is en nie besig is met ander gedagtes nie’ – dr. Colleen Lightbody.

Wees “slim” lui

Om werklik bewustelik niks te doen nie, is iets heel anders as ’n loodswaaiery. As jy bewustelik in die tuin sit, is jy bewus van die son op jou vel, die blare wat ritsel, die geur van die blomme en die nat aarde ná die reën. Nou word dit ’n ryk ervaring waar jy ander sentrums in jou brein gebruik. As jy bewustelik met ’n kind stap, is jy bewus van die warm handjie in joune en die stadige pas. “Dis ’n teenwoordigheid in die oomblik waarin jou gemoed oop is en nie besig is met ander gedagtes nie,” sê dr. Lightbody.

Dit verskil heeltemal van “bewusteloos” voor die televisie sit. Die idee is om jou brein ’n blaaskans te gee, maar as jy dit op die regte manier doen, kan jy tot nuwe insigte kom sonder dat jy hoef te probeer.

Chris Bailey, skrywer van Hyperfocus: How to be more productive in a world of distraction, skryf dat ons veel kreatiewer is wanneer ons ons fokus verloor en net in die oomblik leef. Hy sê fokus is nodig om jou werk gedoen te kry, maar kreatiewe idees kom gewoonlik wanneer jy iets anders doen, soos in die stort staan, ’n boek lees, op die strand lê, of jou oggendkoffie drink. Wanneer jou brein ontspanne is, kan jy oplossings kry en planne maak.

Bailey glo jy kan blinker planne maak as jy ’n keer tot stilstand kom. Dan kan jou brein deur die warboel gedagtes sif en soms ’n verband trek tussen iets wat jy die drie weke gelede gelees het en ’n probleem wat jy op die oomblik het. As jy gedurig neus teen die grond vorentoe beur, is daar nooit tyd vir hierdie waardevolle nadenke nie.

Michael Lewis, ’n New York Times-topverkoperskrywer (Moneyball, The Big Short), erken in ’n onderhoud dat hy sy “luiheid” as ’n filter gebruik om seker te maak hy belê net tyd in projekte wat werklik die moeite werd is. Hy vertel dat hy in New Orleans grootgeword het waar niemand veel doen nie. “As jy heeltyd besig is om besig te wees het jy nooit tyd en ruimte om op die uitkyk te wees na besonderse projekte nie.”

Die Universiteit van Kalifornië het bevind dat mense wat in die gewoonte kom om hul gedagtes te laat dwaal, oorwegend oor die toekoms dink, wat hulle help om duideliker doelwitte te hê en ook makliker oplossings vir huidige probleme te kry.

Dus, ledigheid is ’n bate as jy slim daarmee woeker.

Leef bewustelik

“Daar is 86 400 sekondes in ’n dag en die meeste van ons laat dit in ’n waas by ons verbysnel. Deur doelbewus bewustelik te leef, raak jy betrokke by wie en wat jy is, eerder as om in ’n dwaal te lewe. Dit stel ons ook in staat om teenwoordig te wees in elke ervaring en by elke mens wat ons ontmoet.” – Dr. Colleen Lightbody.

Wenke om slim lui te wees
Dr. Colleen Lightbody sê sy het reëls vir haarself om seker te maak sy skakel wel af. Probeer dit

  • Skakel jou rekenaar saans ná sewe af. Toets jouself en kyk of jy werklik produktief is wanneer jy saans werk. Soms is dit meer om jou gewete te sus dat jy daar sit.
  • Bly saans weg van Facebook en ander sosiale media. Dit kan jou maklik negatief laat voel.
  • Gaan draf sonder jou horlosie of musiek. Wees bewus van geure, die son, wind. So vergeet jy van die gewoel en gewerskaf van die dag en kan ’n oplossing of kreatiewe gedagte uit die bloute by jou opkom.
  • As jy fietsry, maak tyd om ordentlike gesprekke met jou vriende te voer. Stel werklik belang.
  • Hou op om dinge outomaties te doen. Kyk nuut na jou lewe, jou sport, werk, gesin, gesondheid … En herinner jou telkens aan wat werklik belangrik is.
  • Skakel af voor jy saans gaan slaap. Geen skermtyd voor slapenstyd nie. Lees ’n boek om jou gedagtes rustig te kry. So raak jy ontslae van die stres van die dag wat jou nagrus kan benadeel.
    – Dr. Colleen Lightbody: brainwise.co.za

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

7 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

7 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

7 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.