Opgestel deur Vilien-Miri Coetzee
Badkamers is dikwels die kleinste vertrek in die huis met die minste ruimte om te versier. Dis nie aldag moontlik om meubels en dekorartikels in te bring om die ruimte mooi te laat lyk nie, en stoom kan ’n badkamer maklik muwwerig en bedompig maak.
Die regte plante kan egter help. Baie badkamers kry nie aldag genoeg lig en vars lug nie. Kies dus plante wat goed in ’n vogtige omgewing aard, meestal van min lig hou en wat sal help om die lug vars te hou al wissel die temperatuur.

Dié plante sal met min moeite pragtig lyk:
-
Lugplante (Tillandsia)
Lugplante (spesifiek epifitiese lugplante) kom in tropiese gebiede van Suid-Amerika voor waar hulle hulself hoog aan bome se takke heg. Anders as ander plante het hierdie plant, wat nogal soos ’n toweragtige tuimelkruid lyk, nie eintlik wortels nie. Lugplante kry water en kos uit die lug. Dit is selfversorgend én vogliewend – perfek om in jou badkamer te bly!
Lugplante blom slegs een keer, maar lyk tog te fraai op ’n mooi stuk hout, in ’n terrarium, met ’n stukkie draad voor ’n venster of langs ’n stort opgehang. Moet hulle nie in volson plaas nie, maar wel waar daar helder lig is en spuit hulle nou en dan nat.
-
Welige woud
Hierdie plante behoort in ’n badkamer te floreer:
- Gelukkige bamboes (Dracaena sanderiana) – helder, indirekte lig, hoё vog
- Mot-orgidee (Phalaenopsis) – min tot helder, indirekte lig, hoё vog
- Skoonma-se-tong (Sansevieria) – min tot helder, indirekte lig, min na matige vog
- Vredeslelie (Spathiphyllum) – min tot helder lig, matige tot hoë vog
- Portaalplant (Aspidistra elatior) – min lig, min vog
- Hen-met-kuikens (Chlorophytum comosum) – helder, indirekte lig, hoë vog
- Swaardvarings (Nephrolepis exaltata) – helder, indirekte lig, hoë vog
- Sambreelplant (Schefflera) – helder, indirekte lig, minder vog
- ZZ-plant (Zamioculcas zamiifolia) – min lig, min tot matige vog
Wenke
- Kies plante wat van warm, vogtige omgewings hou. Dink aan die natuurlike habitat waarin hulle voorkom.
- Maak seker dat jou plante nie direk in kontak met warm water van die stort kom nie. (Moet hulle dus nie binne jou stort op die vloer plaas nie.) Maak dit eerder individueel nat.
- Jou badkamer moet verkieslik ’n venster of dakvenster hê wat lig inlaat. Hoewel hierdie geharde plante is en van hulle minder lig nodig het, het alle plante steeds ’n vorm van natuurlike lig nodig om te groei.
- Dis ’n goeie idee om een tot twee keer ’n week jou plante te roteer en iewers te sit waar daar ’n sonkol is as jou badkamer glad nie lig kry nie.
- Al is die lug vogtig moet jou plante steeds water kry. Toets die klamheid van die grond.
Het jy geweet?
Mense wil al jare, en veral sedert Covid-19, die skoonheid van die natuur na binne bring. Selfs in die 17de eeu het seevaarders eksotiese plante wat hulle tydens hul reistogte huis toe gebring het in potte in hul huise begin sit as aandenking of trofee. Joseph Banks het byvoorbeeld Europa aan die bloekomboom, skaamkruid, en wattelboom (’n groot indringerplant in Suid-Afrika) bekendgestel.





