Deur Margaret Gardiner.
Die 83ste Golden Globes vind op Sondag 11 Januarie plaas. Naas die Oscars vier die Golden Globes die beste in televisie, film en podsendings en is dit weer terug by die Beverly Hilton Hotel in Beverly Hills. Helen Mirren, wat 17 keer benoem is en weer vanjaar vir Mobland, is vereer met die Cecile B. DeMille-toekenning. Sarah Jessica Parker, wat ’n ikoon danksy Sex and the City geword het, het die Carol Burnett-toekenning vir haar werk in televisie ontvang.
In een van die mees mededingende wedlope van die afgelope jare kan ons net raai wie die Golden Globe sal wen, maar daar is gewis ’n verskeidenheid van bekendes. Leonardo di Caprio (One Battle After Another), George Clooney (Jay Kelly), Michael B. Jordan (Sinners), Jennifer Lawrence (Die My Love), Emma Stone (Bugonia), Kate Hudson (Song Sung Blue), Cynthia Erivo (Wicked:For Good) en ja, The Rock oftewel Dwayne Johnson (The Smashing Machine) sal op die rooi tapyt loop nadat hulle vir hul rolprentwerk benoem is.
- Kate Hudson (Foto: Mike Coppola/Getty Images)
- Jennifer Lawrence (Foto: Amy Sussman/Getty Images)
Daar word verwag dat ons die mode van die volgende opkomende sterre moet dophou: Timothée Chalamet (Marty Supreme), Jacob Elordi (Frankenstein), Jenna Ortega (Wednesday), Ayo Edebiri (The Bear), en musiek- en skermsterre Ariana Grande (Wicked: For Good), Selena Gomez (Only Murders In The Building) en Miley Cyrus (Avatar: Fire and Ash). Hulle sal die tapyt aan die gons hê.
Sodra gaste in die danssaal is, wag daar Moët & Chandon-sjampanje op hulle en kan hulle smul aan lekkernye wat deur die wêreldbekende sjef Nobu Matsuhisa geskep is, en wat die beroemde Nobu-restaurante in die mees glansryke hoofstede van die wêreld geskep het.

Sjef Nobu Matsuhisa (Foto: Monica Schipper/Getty Images)
Ons het ’n eksklusiewe onderhoud met Mayena Mustafa Nobu se terreinbestuurder gehad, wat ons deur die spyskaart gevat het. Dit het geelstert-jalapeño, kaviaarkelkies, kreefslaai met ’n pikante suurlemoensous, tai matsuhisa-nigiri met nikiri-soja, salm-nigiri met nikiri-soja, tuna-nigiri met nikiri-soja, en miso-swartkabeljou ingesluit. Vir nagereg sal gaste ’n witsjokolademousse, pistasiesponskoek en seremoniële matcha-koek geniet, wat met ’n Golden Nobu-muntstuk versier is.
Die Golden Globes, wat amptelik erken word as Hollywood se “Partytjie van die Jaar”, sal weer eens deur Nikki Glaser aangebied word. Ek sal op die rooi tapyt wees om die sterre vas te vang soos hulle aankom.

Margaret by verlede jaar se Golde Globes (Foto: Verskaf)
KYK | Margaret vind meer uit oor wat vanjaar op die Golden Globes-spyskaart is.

Volg Margaret op Youtube, Facebook, Twitter en Instagram!
Lees ook: Margaret uit Hollywood: George Clooney is die laaste rolprentster




