Mexikaanse hamburgers met salsa. Deur Vickie de beer. Foto’s deur Lee Schwagele, CRPhotographic

Mexikaanse hamburgers met salsa
Genoeg vir 6
Bestanddele
- 250 g repiesspek
- 1 kg beesvleis (<em>chuck</em>)
- 2 knoffelhuisies, gekap
- 10 ml (2 t) komynsaad, fyn gemaal
- 10 ml (2 t) gerookte paprika
- klein handjie vol vars orego, fyn gekap
- 1 groen jalapeño (in pekel), fyn gekap
- 5 ml (1 t) sout
- 5 ml (1 t) vars gemaalde swartpeper
- 6 hamburgerrolletjies
Guacamole
- Druk 2 avokado’s met die agterkant van ’n vurk in ’n bakkie fyn en voeg by:
- 1 fyn gekapte groen brandrissie
- die sap van 1 lemmetjie
- ’n hand vol gekapte koljanderblare en
- ’n knypie sout. Meng deur en hou eenkant tot benodig.
Mexikaanse salsa
Genoeg vir 2 flesse van 375 ml
- 500 g kersietamaties, ruweg gekap
- 1 rooi ui, fyn gekap
- 1 knoffelhuisie, fyn gekap
- 5 ml (1 t) komynsaad, fyn gemaal
- uitgedrukte sap van 2 lemmetjies
- 15 ml (1 e) seesout
- hand vol vars koljanderblare, fyn gekap
Metode
- Voorverhit die oond tot 200 °C.
- Pak die repiesspek op ’n bakplaat en bak vir 15 min. of tot bros. Laat afkoel.
- Sny die beesvleis in blokkies en verwyder enige bene of senings.
- Sit die vleis in ’n voedselverwerker saam met die knoffel, komyn, paprika, orego, jalapeño, sout, swartpeper en die helfte van die brosgebraaide spek.
- Verwerk met die polsaksie tot dit soos growwe maalvleis lyk. Wees versigtig om dit nie te fyn te maak nie – twee of drie keer met die polsaksie is genoeg.
- Vorm frikkadelle die grootte van tennisballe. Druk plat en smeer met olyfolie. Braai vir 7-8 min. aan elke kant of tot gaar.
- Hamburgers: Sny 6 hamburgerrolletjies middeldeur en sit ’n frikkadel op elkeen, gevolg deur guacamole, die Mexikaanse salsa (resep onder) en die res van die bros gebraaide spek.
- Mexikaanse salsa: Meng die kersietamaties, rooi ui, knoffelhuisie, komyn, lemmetjiesap, seesout en koljander in ’n groot mengbak.
- Vul 2 x 500 ml-flesse met die salsa.
- Maak die bottels toe met deksels wat dig seël en hou vir 2-3 dae by kamertemperatuur.
- Sodra die vloeistof begin borrel, het die gisting plaasgevind. Sit die salsa dan in die yskas.
Lees nog:
Eendburgers met bruinbotter-mayonnaise
