10 modewenke vir ’n sweetvrye somer deur Bea Lingenfelder en Susra Matthee. Hooffoto: Diane Paris
1 Linne is jou beste vriend
Linne laat sweet vinnig verdamp en absorbeer dit nie. Boonop lyk dit sommer asof jy nog somervakansie hou, al sit jy voor jou lessenaar by die werk.
Lees ook: Ons 7 moet-hê someritems
2 Vermy sintetiese materiale
As daar op die etiket “viscose” of “rayon” staan, kan daar netsowel “sweet” ook staan.
Sintetiese materiale absorbeer sweet wat ’n onaangename liggaamsreuk of ’n klammigheid kan veroorsaak. Ongelukkig bevat die meeste van ons klere hierdie stowwe, so maak seker dat jou klere die minimum persentasie van hierdie stowwe bevat.
Lees ook: Veelsydige items vir die somer
3 Pak jou styfpassende klere weg
Hoe meer jou vel kan asemhaal, hoe beter.
Stywe klere laat jou nie net klam en taai voel nie, dit veroorsaak nog méér sweet. Ons is gaande oor die culotte-broeke en uitklokrompe wat deesdae hoogmode is – vloeiend, vleiend en koel!
Lees ook: Deur die son verbrand? Dra hierdie
4 Verruil jou denim vir chambray-materiaal
Jeans is ’n staatmaker in elke vrou se klerekas, maar dit kan ondraaglik wees om op ’n warm dag stywe jeans te trotseer.
Chambray lyk soos denim, maar is ’n ligter stof wat beter “asemhaal”.
Lees ook: 8 wenke vir daardie perfekte denimpaar
5 Raak die athleisure-styl baas
Oefenklere is spesiaal gemaak om sweet vinniger te laat verdamp – net nog ’n rede om van hierdie styl te hou.
Maar nie almal is gemaklik om heeldag in rekbroeke en bandjietoppies rond te loop nie. Stileer slim met ’n oefenhempie, maksiromp en gemaklike skoene.
6 Dra oop skoene
Jou voete bevat baie en sensitiewe sweetkliere, en hoe meer lug daar kan sirkuleer, hoe beter en koeler vir jou hele liggaam. Probeer om balletstylskoene, tekkies en ander style met toe tone eerder vir ’n elegante sandaal te verruil.
Lees ook: Seer voete: Het jou voetkussinkies te min vet?
7 Bly koelkop
Hoewel hoede ’n geliefde en noodsaaklike bykomstigheid is, kan dit jou laat warm kry. Kies ’n hoed van ligte weefmateriaal, of selfs een wat bo oopgesny is.
Dun haarbande kan jou hare uit jou gesig hou. Probeer ook ’n bokstert met ’n kleurryke haarrekkie, of ’n “ongeërgde” bolla.
Lees ook: Groot, groter, strooihoede
8 Maksirokke is staatmakers
Kry ’n maksirok vir jou somerklerekas. Maksirokke is die afgelope tyd weer baie gewild. Dit is gepas vir ’n stylvolle geleentheid, maar kan maklik ’n informele voorkoms ook skep.
9 ’n Klein verandering doen wondere …
Voel jy ook soms of jy ’n glipsie gehad het nadat jy lank gesit het? Jou onderklere speel ’n groot rol wanneer dit by sweet kom. Ons almal kan hiervan getuig.
Jou broekie is daar om die sweet op te vang en vinnig te laat verdamp (nie absorbeer nie) – daarom is materiale soos katoen en viskose nie jou eerste keuse nie.
Wees op die uitkyk na ’n ligte materiaal soos netsy, of ’n sagte kant wat maklik lug kan deurlaat.
Lees ook: Jy en jou bra: 5 algemene wanopvattings
10 Min juwele
Vermy swaar en bonkige nekstukke wat heeltyd teen jou vel skuur. Dra eerder ’n paar unieke oorringe en los jou nek en hals oop.
Lees ook: 6 reiswenke vir jou juwele
Deel jou kommentaar