Mooi én slim met ’n hart vir mense

Deur Rentia Mynhardt

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Sy het nie net heel voor gestaan toe talente uitgedeel is nie; sy het sommer haar eie ry gehad. Sy’s mooi, slim en ambisieus, maar haar voete is albei op die aarde, lief vir haar land met ’n sagte hart wat ander wil ophef en met vaardighede bemagtig.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Haar pa spot altyd en sê hy dink nie hy is haar pa met daardie potblou oë en lang wimpers van haar nie! Hierdie brunette is in Pole as Mej. Supranational 2021 gekroon en het die eerste wenner van dié kompetisie geword wat uit Afrika kom. Geen wonder dat sy met die kroon weggestap het nie, want sy is beslis internasionale verhoogmateriaal. Chanique Rabe, in Windhoek gebore en getoë, skryf haar voorkoms aan haar Nederlandse ouma toe. Dié het in Namibië beland nadat Chanique se oupagrootjie die Tweede Wêreldoorlog en konsentrasiekampe oorleef het, en daarna saam met sy familie op ’n skip geklim het toe die eerste geleentheid hom voordoen.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Familie lê haar na aan die hart, en dalk so ’n bietjie meer as gewoonlik omdat haar boetie oorlede is toe sy nog klein was. “Ek het op ’n regte plattelandse manier grootgeword waar ek my pa se bakkie al op      13 af bestuur het en met ’n poegie skool toe gery het vandat ek 16 was!” Sy was lief vir sport en het veral baie goed in atletiek presteer. Ingenieursgrafika is tradisioneel ’n vak wat merendeels deur seuns geneem word, maar ook juis die vak waarmee Chanique haar kunsvaardighede kon ontwikkel. Dit was gevolglik by verre die vak wat sy die meeste geniet het.

Foto: Willem Botha

So tussendeur die akademie en sport het sy in graad 11 besluit om sommer net vir die lekker saam met haar maats aan hul skool, Windhoek Afrikaanse Privaat skool, se skoonheidskompetisie deel te neem. “My pa het altyd gesê dat ek oor sy dooie liggaam nie aan sulke kompetisies sal deelneem nie, maar toe ek met die kroon wegstap, het sy hart dalk so ’n klein bietjie vermurwe,” lag sy. In haar matriekjaar is sy as Mej. Tiener Namibië gekroon waar sy haar land internasionaal verteenwoordig het. Teen hierdie tyd het die gogga al behoorlik gebyt en is sy nie lank daarna nie in Texas, VSA, as Mej. Tienerkontinente gekroon. Sy het in daardie stadium geweet dat sy weer eendag haar land sal wil verteenwoordig.

“As ’n skaam kind vir wie mondelinge voor ’n klomp kinders soos ’n berg voor my gelê het, het deelname aan skoonheidskompetisies my die selfvertroue gegee om daardie brug te oorkom. Dit het my geleer om myself en ander lief te hê. Die blootstelling het my horisonne verbreed en geleer om verder as net my eie klein wêreldjie te dink.”

Dit was haar ouma aan haar ma se kant wat die ontwerpvlammetjie in haar aangesteek het. Hierdie ouma het in die destydse Rhodesië gewoon en het, om uit die oorlog weg te kom, geld in hul sokkies gedruk en na Namibië gevlug. Dit was altyd vir Chanique verstommend hoe sy in ’n japtrap vir haar ’n tutu of ’n      hempie aanmekaar kon slaan. “Ná skool het ek modeontwerp en grimeerkuns by FEDISA in die Kaap gaan studeer en ook my honneursgraad voltooi wat meer oor die      sake-aspek van ontwerp gegaan het. Ek het nooit verwag dat dit ’n kursus met soveel tegniese aspekte sou wees nie. Behalwe vir mense wat ek ontmoet het wat ’n groot indruk op my lewe gemaak het, is ek ook aan diversiteit blootgestel en het ek geleer hoe om jouself met modes uit te druk.”

Chanique vertel dat sy nog nooit so maer soos loopplankmodelle was nie en moes al hoor dat sy gewig moet verloor en selfs aan haar neus moet laat sny. Sy aanvaar haarself egter nes sy is. “Hoe jy lyk, kom van die Here af en as jy gesond is en vir jouself lief is, is dit al wat tel.” Sy is lief vir oefen en kyk wat sy eet, maar sy tel nie kalorieë nie en glo dat die lewe lekker moet wees. “Oefening en kos moet ’n plesier wees.”

Foto: Willem Botha

Net na afloop van haar studies het die grendeltydperk aangebreek en het sy vir twee jaar in Namibië gewoon en gewerk. Studio Chanique het die lig gesien. Dit het met maskers begin. Weens ’n groot tekort in die land het sy weggespring en die naaimasjien ingespan tot die vraag só groot geword het dat sy nie meer kon voorbly nie. Dit was hier in Namibië, waar baie plekke nie eers krag het nie, waar sy ’n manier kon vind om haar talente, vaardighede en die dinge wat haar hart warm laat klop, bymekaar te bring. “Ek het veral minderbevoorregte kinders en jongmense geleer hoe om naaldwerk te doen en het ’n paar vroue opgelei om ’n inkomste uit hul naaldwerk te verdien. Om hierdie vroue met lewensvaardighede te kon bemagtig, was ’n lekkerte wat ek nie kan beskryf nie.” Verder het Chanique ook in hierdie tyd matriekafskeid- en trourokke gemaak, asook ’n liefde vir die maak van netjiese en mooi informele drag ontwikkel.

Haar onderneming moes vir twee jaar eers ’n bietjie op die agtergrond geskuif word in die tyd wat sy aan Mej. Supranational deelgeneem het. “As ek dink aan wat hierdie kompetisie vir my beteken het, slaan ek sommer hoendervleis uit. Van matriek af het ek geweet ek wil my land se vlag op ’n internasionale verhoog laat wapper, ongeag deur watter platform. Hierdie kompetisie het my soveel blootstelling gegee en ook die geleentheid om my naaldwerkprojekte met ander regoor die wêreld te deel.” By die naaldwerkskool wat sy in die noorde van Namibië saam met African Monarch Lodges begin het, het sy nie net die kinders geleer naaldwerk doen nie, maar ook die mammas en toesighouers sodat hulle volhoubaar daarmee kon voortgaan wanneer Chanique nie daar was nie. “Ek het ’n volledige kurrikulum geskryf wat hulle gebruik omdat ek nie altyd daar kan wees nie. Dit leer jou van hoe om ’n garing deur ’n  naald te trek, tot hoe om self patrone te maak en daarvolgens klere te maak.”

Na afloop van die kompetisie het sy Pretoria toe getrek om nader aan haar verloofde te wees, en kon sy weer volstoom met haar onderneming aangaan. Behalwe vir haar ontwerpe, tree sy ook as grimeerkunstenaar op en bied soms werkswinkels vir groepe vroue aan saam met ’n lekker glasie wyn of twee. Co Productions tree as haar agent op en hanteer haar afsprake vir wanneer sy motiveringspraatjies en afrigting vir modelwerk en skoonheidswedstryde moet doen.

Chanique erken dat daar ’n paar uitdagings is wanneer jy vir jouself werk. “Jy moet eenvoudig positief bly. Stel vir jouself haalbare doelwitte, en al voel dinge soms onderstebo, doen dinge eerder reg, al vat dit langer. Om halsoorkop in ’n ding in te storm wat te groot is om te hanteer, het gewoonlik nie ’n goeie uitkoms nie. Slaan eerder remme aan, doen iets stadiger, en maak seker die eindproduk is soos jy dit wil hê.”

Foto: Willem Botha

Haar oë blink wanneer sy vertel hoe sy haar Pretorianer-man as eerstejaar in Swakopmund op die strand ontmoet het, maar die liefde eers ’n jaar of wat later vlamgevat het toe hulle mekaar toevallig weer in die Kaap raakgeloop het. Hulle het vroeër vanjaar die knoop deurgehaak op die presiese plek waar hulle mekaar ontmoet het. Deidré and co. het ʼn groot rol in hulle woestynsprokie gespeel. Hulle het nie net die troue beplan nie, maar ook Kyle en die strooijonkers se pakke en die strooimeisierokke gemaak. Gaste is met ’n bus na die middel van die Namib-woestyn aangery waar Chanique in haar Anel Botha-skepping ’n mevrou geword het.

Chanique en Kyle woon dolgelukkig saam met Bets, hul bulhond, in Bloubul-wêreld. Nadat hulle hul eerste huis saam gerestoureer het, was daar kopers wat hulle ’n aanbod gemaak het en het hulle daarna huis nommer twee aangepak waar hulle tans woon.

“Wie weet, miskien trek ons eendag terug Namibië toe, maar vir die oomblik probeer ek net eers ’n      verskil maak waar ek nou is,” vertel sy.

Chanique stel vroeg in 2024 ’n klerereeks saam met die B Loved Foundation bekend, ’n      welsynsorganisasie waarvoor sy as ambassadeur dien. Met hierdie projek sal sy weereens minderbevoorregte mans en vroue leer naaldwerk doen en wys hoe om ’n bestaan daaruit te maak. Sy is ook by die versorging van vroue en kinders op fisieke sowel as emosionele vlak betrokke. Chanique deel opgewonde hoe sy met ’n naaldwerkprojek by Jakaranda Kinderhuis afgeskop het.

Sy droom groot, maar vir nou wil hierdie pasgetroude skoonheid wat ewe gemaklik sonder grimering rondloop, net eers op haar huwelik fokus, nuwe tradisies ontwikkel en haar onderneming laat groei. “Ek wil ook graag mense help wat by die skoonheidsbedryf betrokke wil raak.” Sy het al internasionaal haar voetspoor gemaak, maar die voetspoor wat sy in harte en lewens maak, is selfs groter.

rooi rose en Ontbytsake op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus in 2023 op ’n nuwe reeks – vrouesake. Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.

Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.

Lees ook: ’n Onderneming wat blom

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

Roeline geniet dit vreeslik om “mevrou dominee” in Diepe waters te speel

Roeline Daneel, bekend vir haar rolle in Fraksie, Binnelanders en Fynskrif en die wenner van die beste aktrise in ’n…

1 hour Gelede

Hoe gedrukte foto’s jou kind se waarde bevestig

Hoe gedrukte foto’s jou kind se waarde bevestig versorg deur Mariette Snyman. Foto's Pexels “Gedrukte…

20 hours Gelede

Die regte medisyne vir verkoue

JY KAN jou seer keel en koors self dokter én stukke beter voel. Ons wys…

1 day Gelede

Wynproe en stap: Die nuutste ervaring by Blaauwklippen

Woorde en foto’s: Clifford Roberts Ek wil glo dat, soos ek, elke nuwe staptog met…

2 days Gelede

Ontdek die topervaring waar alles met Club Med ingesluit is

As jy nie die konsep ken nie, stel ons jou graag daaraan bekend: Dis ’n…

2 days Gelede

Ons Moedersdaggeskenkgids: Kreatiewe geskenke wat wys jy gee om

rooi rose intekening Teken in of hernu jou intekening op die gedrukte weergawe vir net…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.