kategorieë: InspirasieJou lewe

Ontmoet Carina Franck van Kalahari Lifestyle

Ontmoet Carina Franck van Kalahari Lifestyle deur Cornel Dunn. Foto’s: Johan Wilke

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Dit staan vas. Carina Franck is vir seker ’n ambassadeur vir haar reeks skoonheidsprodukte. Jy kan nie help om dadelik haar mooi, bloesende vel raak te sien nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Carina is ’n boorling van die Gariep, ’n gebied neffens die Oranjerivier. “My pa boer steeds daar. Ek het tussen die rooi duine, skape, wingerd en pekanneutbome grootgeword. ’n Volronde jongmenslewe was my beskore,” vertel Carina. “In my skooldae sou ek maklik ’n klein rugsakkie pak, op my perd klim en die veld inry. Dikwels sou ek eers die volgende dag terugkom. Dit was die soort omgewing waarin ek grootgeword het – veilig en vry. Hierdie grootwordjare het die grondslag gelê vir die mens wat ek vandag is.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Kalahari beteken ‘plek van droogte’. Soms is daar in ’n mens se hart ook so ’n plek maar wanneer jy jou met geure bederf, is dit asof daar ’n reëntjie op daardie droë kol uitsak. Dit is waarom ek my produkte die naam van die Kalahari gegee het. Daar is soveel teksture en geure in hierdie dorre landskap waarvan ek elemente in my reeks gebruik.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Carina is een van vier kinders. Sy is ná skool vir ’n oorbruggingsjaar Israel toe. Sy was nog daar toe haar ma oorlede is, en sy het dadelik teruggegaan plaas toe.

“Dit was vir my ’n emosionele reis wat ek nie seker is ooit ’n einde gaan hê nie. Ek ruik nog haar geure en hoor haar stem. Soms, wanneer ek oorsee reis en van my produkte sien, wonder ek wat my ma sou gesê het. Sy was so ’n groot deel van my lewe en my sukses dat ek altyd wens dat ek dit nog met haar kon deel.”

Ná ’n jaar en ’n half op die plaas is Carina Kaapstad toe. Dit was vir haar ’n reuse-aanpassing nadat sy so lank ’n huishouding én ’n skoolbus bestuur het. In die Kaap het sy haar man, Johan, ontmoet. Hy is ’n Johannesburger en ’n jaar later het sy ook daarheen verhuis.

“Ek het van jongs af geweet ek wou ’n sakevrou word. Ek glo wanneer daar ’n vlam in jou brand om iets te bereik moet jy jou omring met mense wat daardie vlammetjie aanblaas. As jy jou passie en talent kombineer, kan jy enige droom verwesenlik.”

Hiervan is Carina se lewe ’n getuienis. Sy wou nie by die huis sit en niksdoen nie en het besluit om ’n gevestigde skoonheidshuis, Nimue, te koop. Sy het niks van die bedryf geweet nie en het aan die diep kant ingespring. In daardie stadium was Nimue nog ’n klein maatskappytjie met net ’n paar produkte, maar met ’n nuwe bemarkingstrategie en ’n opgradering van die formules het sy binne ’n jaar ’n uitvoerprogram op die been gekry.

“Wat ek vandag weet, het ek die afgelope agttien jaar geleer. Ek het ook baie gelees en internasionale ekspo’s bygewoon. Ek het my met inligting bemagtig en my met mense omring wat meer as ek weet. Maar ek het vir seker ook geweet wat ek wou hê. Ek weet hoe ’n goeie produk moet lyk en voel en wat die eindresultaat moet wees. Soms word ek in die middel van die nag wakker met ’n nuwe idee. Die lekker ding van my eie maatskappy is dat ek vinnige besluite kan neem – in ’n korporatiewe omgewing sou ek nooit so ’n luukse kon hê nie.”

Met die geboorte van haar dogter, Donna, het sy besluit om Nimue te verkoop. “Soms kan jy ’n reeks net tot op ’n sekere hoogte neem en dan is dit tyd vir ’n nuwe uitdaging.”

Carina was 44 toe Donna gebore is, en dit was vir haar nogal ’n reuse-aanpassing met baie uitdagings en nuwe verantwoordelikhede.

“Ek wou altyd ’n kind gehad het maar het baie lank gewag. Ek sou nie aanbeveel dat enigiemand so lank moet wag nie. Donna is altyd aan my sy. Sy gaan oral saam met my.”

Sewe jaar gelede het Carina Kalahari Lifestyle van stapel gestuur. Daar was ’n behoefte aan ’n eg Suid-Afrikaanse produk op die oorsese mark. Daar was Thai-masserings en Indiese behandelings maar niks uit die Afrika-stal nie. Sy het Kalahari Lifestyle aanvanklik as ’n spa-reeks begin met lyf- en leefstylprodukte.

“Vyf jaar gelede het ek ’n klein velsorgreeks bygevoeg, wat ongelooflik gegroei het. My reeks is natuurlik met plantbestanddele wat met moderne bestanddele van bekende laboratoriums gekombineer word. Daar bestaan nie iets soos ’n suiwer natuurlike produk nie omdat alles preserveermiddels bevat. Dit bly vir my ’n ongelooflike ervaring om in ’n spa in ’n ander land in te loop en my produkte te sien.”

“Daar is verskeie elemente uit die Kalahari in my reeks. Vir my professionele reeks lyfafskilferaars het ek die Kalahari se rooi sand, sout uit die panne en fyngemaakte aalwynblare gebruik wat ons met suiwer druiwepitolie en essensiële olies meng. Kalahariklei en -modder word ook as luukse lyfmaskers ingespan. Die verfynde weergawe hiervan word op die gesig gebruik. Tsammapitte word gebruik vir die unieke en delikate olie daarvan. Ons kry baie goeie resultate teen inflammasie met duiwelsklou. Dis is ook baie doeltreffend teen aknee en hiperpigmentasie.”

“Ek is baie betrokke by my reeks. Ek staan soggens douvoordag op en speel met Donna tot sy skool toe gaan. Daarna is dit ’n vol dag om elke aspek van my onderneming onder oë te kry: kliënte, produksie, produkontwikkeling … Ek werk in ’n oop kantoor sodat ek my vinger op die pols van die res van die span kan hou. Maar die vierjarige Donna is ’n prioriteit in my lewe. Verlede jaar het ek ses weke lank in Europa getoer. Donna was in Finland, Denemarke en Nederland in die skool. Sy is net vir ’n beperkte tyd nog so klein. Mense is dikwels verbaas as ek vir sake oorsee reis met Donna aan my sy, maar vir my is dit ononderhandelbaar.”

Klein Donna ken byna meer tradisionele plante as haar ma en sal dikwels met ’n plant naderdraf as sy dink dit sal vir Carina van waarde wees. Dit is vir Carina fantasties om te sien hoeveel Donna op al die reise ontwikkel het.

Maar om vir haar man spesiale tyd te reël, is ’n baie groter uitdaging.

“Johan reis ook baie, maar ons bel mekaar drie maal per dag en deel ons belangstelling in mekaar se lewe. Jy staan op gevaarlike grond as jy jou man se belange begin ignoreer. Al is ons dikwels ver van mekaar, ken ons mekaar se stemtoon en ervaar ons mekaar op ’n diep vlak. Hy gun my al die sukses in my lewe. Ek is werklik geseënd met ’n man wat glo dat ’n vrou dinamies mag wees.”

Carina is baie betrokke op Askham. Kalahari Lifestyle het in die Koopan-nedersetting in die Molopo-distrik ’n voedingsprojek vir kleuters begin. In baie gevalle is die maaltyd wat die kinders hier kry, hul enigste kos vir die dag. Hulle finansier ook ’n onderwyseres wat drie dae per week vir die kinders van die omgewing klas gee. Die leerlinge word onder meer geleer om skaak te speel. Daar word ook twee keer per jaar ruim klereskenkings gemaak. Die Koopan-nedersetting is baie behoeftig en huisves van die laaste San-mense in die omgewing. “Die werksmoontlikhede is baie skaars en hulle is ver van groot dorpe af waar daar dalk geleenthede is.”

Hoewel Carina internasionale sukses behaal het, bly haar voete plat op die soutpanne van Askham. Hier leef sy die waardes uit wat sy kleintyd geleer is.

Het jy geweet? Bobby van Jaarsveld is hul handelsmerkambassadeur en hy het selfs vir hulle in die Kalahari gaan kuier. Om meer uit te vind hieroor en oor Kalahari Lifestyle, besoek gerus hul webblad.

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

7 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.