Met Kupido wat binnekort sy laaste liefdespyle in dié seisoen van Boer soek ’n vrou skiet, kan kykNET-kykers solank hulle lippe begin aflek vir die geïnspireerde disse en liefde vir kosmaak wat 16 Suid-Afrikaners binnekort gaan deel.
Kokkedoor: Son & see is van Donderdag 20 November om 20:00 ’n hoofgereg op die kykNET-spyskaart. Vir die tiende seisoen van Kokkedoor, trek die program nie net ’n ander voorskoot aan nie, maar kry dit ook twee nuwe beoordelaars, die gerekende koskenners Herman Lensing en Yolani Abrahams. Beide is gekwalifiseerde sjefs en het al diep spore in die Suid-Afrikaanse koslandskap getrap.

In Kokkedoor: Son & see val die kollig op die nostalgiese rol wat kosmaak in ’n familieverband speel en die manier waarop dit soos ’n goue draad tussen die verskillende generasies loop.
’n Hand vol unieke bestanddele onderskei dit van die vorige Kokkedoor-reekse:
- Die deelnemers is slegs huiskokke, en daar is nie kinkelkokke (wat ’n professionele sjefsagtergrond het) nie.
- Daar is agt spanne, wat elk uit twee familielede bestaan.
- Spanlede het ’n generasiegaping van ten minste 20 jaar.
- Die reeks bestaan uit agt episodes.
Die deelnemers aan Kokkedoor: Son & see se ouderdomme wissel tussen 18 en 64, en hulle kom van dwarsoor Suid-Afrika – van plekke soos Aberdeen in die Oos-Kaap tot Vryheid in KwaZulu-Natal en van die Paarl in die Wes-Kaap tot Pretoria in Gauteng. Die diverse groep deelnemers se beroepe sluit “snoepietannies”, ’n pastoor, padstal-eienaars en programmeerder in, en die oudste deelnemer bestuur ’n veldkombuis by die AfrikaBurn-fees.
Die deelnemers is:
Anton (64) en sy seun Stefvan (37) Stemmet

Anton is ’n oud-onderwyser en afgetrede kommersiële visserman van Yzerfontein in die Wes-Kaap. Stefvan is betrokke by bemarking en besigheidsregistrasies, en kom van De Tijger in die Wes-Kaap.
Yvette Malan (60) en haar dogter Francisca Momberg (35)

Yvette kom van ’n plaas 45 km noord van Lephalale (Ellisras) in Limpopo en is ’n eiendomsagent. Francisca bly saam met haar gesin op dieselfde plaas as haar ouers en is die bestuurder by ’n winkelsentrum.
Frans (51) en sy dogter Una-belle (18) van Wyk

Frans, wat oorspronklik van Namibië is, is die eienaar van ’n koffie- en blommewinkel in die Paarl en is ook ’n geleentheidsbeplanner. Una-belle is ’n matriekleerling aan die Hoër Meisieskool Paarl.
Marianne du Plessis (64) en haar susterskind Ronelle de Klerk (39)

Marianne is ’n afgetrede verpleegster van Kuilsrivier in die Wes-Kaap en bestuur ook ’n veldkombuis by die AfrikaBurn-fees. Ronelle is ’n argitek van Ballito, waar sy die afgelope 12 jaar haar eie praktyk het.
Shireen (50) en haar seun Reuven-Jon (21) Kadalie

Shireen is ’n bedryfsbestuurder en woon in Burgundy Estate in die noordelike voorstede van Kaapstad. Reuven-Jon, oftewel RJ, is ’n programmeerder en voltydse model en bly saam met sy ouers.
Andrew Anderson (57) en sy dogter Leoné Smit (30)

Andrew is ’n pastoor by AGS Lig & Lewe in Mtunzini in KwaZulu-Natal. Leoné is ’n tuisteskepper en boervrou, wat op ’n plaas in die distrik van Vryheid in KwaZulu-Natal woon.
Caroline Linde (55) en en haar dogter Anél van Niekerk (32)

Caroline is ’n “snoepietannie” by die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) en gekwalifiseerde somatoloog van Pretoria in Gauteng. Anél is, soos haar ma, ’n “snoepietannie” by Laerskool Tygerpoort.
Hanna (58) en en haar seun Dirk (29) van der Westhuizen

Hanna is die eienaar van die kenmerkende goudgeel Kamdebo Padstal by Aberdeen in die Oos-Kaap. Dirk bestuur die afgelope jaar die padstal, en hy is die mede-eienaar van Kamdebo Padstal | Bistro | Negosie.
Kokkedoor: Son & see bestaan uit agt episodes en begin op Donderdag 20 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Lees ook: Nuut op die boekrak!
