Orden jou lewe

Deur Caro Saxon

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Ordeskepping is die ideaal in ’n wêreld waarin dinge neig om in ’n warboel te ontaard. Met die Skepping is orde ingestel waarvolgens alles in die heelal volgens ’n plan in dag en nag, seisoene en siklusse en in wentelbane plaasvind. Al is dit in die mens se aard om dinge te laat ontaard, word dié orde in gesaghebbende en maghebbende verband deur mense nage-streef. Instellings wat orde moet handhaaf, word deur orde gehandhaaf. In navorsingslaboratoriums word eksperimente van die eerste stap af gemonitor en streng beheer om ’n betekenisvolle resultaat te lewer. Orde is die beginsel van militêre optrede. Van rangorde onder manskappe tot die haarfyn beplanning van elke strategiese maneuver. In die parlement is dit die speaker se taak om botsende menings ordelik te hou en in die hof word emosies beheer deur die val van die hamer en die bevel: “Orde in die hof!” Die kuns is om dit in ons elkedagse lewe te bewerkstellig en te handhaaf.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Hoe eet ’n mens ’n olifant?” het iemand – waarskynlik iemand wat ’n deurmekaarspul moes regruk – gevra. “Happie vir happie,” was die antwoord. Só is dit ook wanneer jy ’n warboel in orde omskep. Ordeskepping is eers ’n hunkering wat ’n doelgerigte poging, mettertyd ’n gewoonte en uiteindelik ’n leefwyse raak. Ordeskepping het ’n nuwe vorm van werkskepping geword met mense wat as professionele opruimers en ordeskeppers hul brood verdien – die wetenskap van warboelogie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die stryd tussen orde en wanorde word soos die stryd tussen goed en kwaad deur akademiese navorsers bestudeer. Die gedaanteverwisseling wat ’n lewe of leefruimte ondergaan wanneer orde ’n chaos vervang, dien selfs as gewilde vermaak vir derduisende kykers wat elke week op die BBC-televisieprogram How Clean Is Your House inskakel om te kyk hoe ’n opruimingskundige te werk gaan.

Trou aan die wese van ordeskepping moet jy by die begin begin deur krities na jou lewe en lewensomstandighede te kyk: Is jy dikwels laat vir ’n afspraak? Soek jy gewoonlik jou sleutels? Is jou betalings, korrespondensie en administratiewe werk gewoonlik agterstallig? Boender jou klere of kruideniersware op jou af wanneer jy ’n kasdeur oopmaak? Of moet jy gereeld in jou woonplek ’n pad oopskrop tussen goed wat opgehoop het en rondlê?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Die eerste stap wanneer jy wanorde in orde wil omskep, is om siek en sat te voel van die deurmekaarspul wat jou huis, jou verhoudings en jou lewe oorheers. Stop die patroon van onder die mat invee en in kaste stop deur beheer te verkry. Wanorde verdwyn soos mis voor die son, dit sluip weg soos ’n paaiboelie wanneer jy dit daadwerklik hanteer.

Lees ook: Tydsbestuur: Kry meer uit jou dag

Oorsake en gevolge van chaos

Waar chaos ook al heers, eis dit sy tol

Net soos wat jy in ’n deurmekaar huis, kantoor, werkwinkel of werf verswelg word deur die wanorde van goed wat rondlê en ophoop, kry ’n emosionele chaos jou ook mettertyd onder. Geraamtes wat in jou kaste ratel, onverwerkte ervarings wat onder die mat ingeskuif word, lewenslesse wat nie geleer word nie en onopgeloste kwessies is die teelaarde vir ongeluk en ’n gevoel van oorweldiging.

Lees ook: Jy kan herstel van trauma

Iemand wat nie deurentyd haar of sy emosies, mislukkings en drome en interpersoonlike verhoudings monitor en dit hanteer nie, voel uiteindelik magteloos en gefrustreerd – asof alles handuit geruk het en in ’n monster verander het wat dreig om jou te verorber. Al uitweg is om aan die kant te maak: jou lessenaar, jou kaste, jou huis, jou lewe. Moenie jou ongeluk wegwens nie. Probleme wat nie hanteer word nie, los hulle nie vanself op nie – dit raak net erger.

Die meeste mense wat in wanorde leef, het ’n groot begeerte om gewild te wees, sê Cary Cooper, medeskrywer van die boek Conquer Your Stress, en professor in organisatoriese sielkunde en gesondheid. Gevolglik kan hulle nie “nee” sê wanneer iemand hulle ’n guns vra nie. Deur altyd oral te probeer wees en almal te probeer uithelp, dompel jy jou eie lewe in ’n chaos. Alles waaroor jy in jou daaglikse gang ’n ogie moet hou om te keer dat dinge uitrafel en jou mettertyd verswelg, ruk handuit. Mettertyd begin die wanorde jou oorweldig. Jy dink teen die chaos vas en raak moedeloos en gestrem daardeur. Dit kan selfs as ’n verskoning dien as jy nie kans sien om belangriker, groter kwessies die hoof te bied nie.

Mense met chaotiese lewens en lewensomstandighede, voel deurentyd oorweldig

Navorsers sê jy kan maar na kinders wat onderpresteer se kamers gaan kyk: Feitlik sonder uitsondering is dit ’n deurmekaar nes. Chaotiese lewensomstandighede of persoonlike sake raak mettertyd soos ’n bloedsuier wat al jou energie uitsuig of soos ’n oorverdowende agtergrondgedruis wat nugtere denke en optrede oorheers en jou keer om te fokus of take aan te pak en af te handel. Dit raak later ’n lewenspatroon om soos ’n springmielie net hier en daar grond te vat.

Lees ook: Perfeksionisme: Gawe of vloek?

’n Warboel raak ’n wegkruipplek

Moenie wegraak tussen die rommel en deurmekaarspul waarin jou persoonlike lewe en huis of lessenaar ontaard het nie.

Moenie dat wanorde jou jou verpligtinge teenoor jouself of ander laat ontduik nie – dit haal jou mettertyd in in die vorm van ’n knaende skuldgevoel.

Lees ook: Van uitstel kom afstel

Probeer om orde te hou deur eerlik te leef en op ’n daaglikse grondslag voor jou voordeur skoon te vee. Vra om verskoning as jy iemand ’n apologie skuld, of bely ’n oortreding en delg die skuld. Hoe gouer hoe beter en hoe vinniger kan die genesingsproses begin.

Skep orde en skep ’n nuwe begin

Al voel dit asof jou verhouding met jou lewensmaat, jou kollega of jou tienerkind ’n doolhof is waarin julle mekaar en die pad vorentoe bly soek, is dit nooit te laat om tot stilstand te kom en ’n uitweg te kry nie.

Moenie voortstrompel en aanhou struikel oor die rommel van binnegevegte, misverstande en verwyte wat oral rondlê nie. Maak jul verhouding aan die kant deur dit te fynkam en elke irritasie en aanstoot openlik vir mekaar uit te lê en, as dit moet, vir berading te gaan. Beraders en bemiddelaars is ook ordeskeppers van beroep.

As daar g’n uitkoms is nie, moet jy die verhouding beëindig of ’n egskeiding aanhangig maak as dit onafwendbaar is. Laat doen die doktersondersoek wat jy lankal uitstel en wat in vrees snags by jou kom spook. Bly in voeling met die werklikheid en met jou behoeftes en bewerkstellig sodoende orde in jou eie lewe en jou verhouding met ander mense. As jy jou lewe aan die kant hou, is dit net soveel makliker om ’n gevaarlig te sien flikker. Wanneer wanorde heers, sien jy nie eens die gevaartekens in die warboel raak nie.

Lees ook: Wenke vir ’n klein spasie

Ordeskepping noodsaak dikwels verandering

Moenie wegskram van orde af omdat jy bang is vir die werklikheid wat blootgelê gaan word wanneer jy die warboel takel nie.

As jy nie gereeld soos ’n winkeleienaar voorraadopname doen nie, hoop bruikbare en bederfbare dinge in jou lewe in ’n pakkamer op. As jy nie gereeld uitsorteer nie, word selfs die goeie goed bederf deurdat dit toegegooi is onder die dinge waarvan jy moet ontslae raak. Verander van werk of woonplek as jy ongelukkig is met jou omstandighede.

Moenie ’n onhoudbare situasie probeer verduur nie. Neem beheer oor die dinge in jou lewe waaroor jy beheer kan uitoefen.

Om orde in stand te hou, moet vaste reëls en beginsels onderhou word

Al gaan dit hóé ordelik, is wanorde altyd gereed om oor te neem net soos die ewige stryd tussen goed en kwaad.

Kyk maar na jou handsak, jou hangkas, jou huis … Die oomblik as jy skiet gee en nie hou by die eenvoudige reëls van orde nie, ruk eenvoudige goed wat andersins bedaard en onder beheer was, gou-gou handuit. Hoe deurmekaar en chaoties iets ook al lyk, dit kán opgeruim word en dit kán ordelik bedryf word deur van ’n kant af aan die kant te maak.

Lees ook: ’n Klottervrye huis

Moenie aanhou voortploeter in die gemors nie – kom tot stilstand, neem jou lewe in oënskou, kry gidse en roetekaarte en volg die nugtere, logiese aanduiders. Sodoende loop jy nie in sirkels nie, maar soek en kry jy ’n uitweg.

Wat doen jy met die goed wat jy uitgooi?

Ongeag of dit boeke, klere, speelgoed, ornamente of nutstoestelle is – jy hoef dit nie in die vullisblik te werp nie. Jy kan daarvan ontslae raak deur dit te:

1 Verkoop: Met behulp van kleinadvertensies of op die Internet of selfs met pamflette kan jy dit te koop aanbied. Andersins kan jy dit na ’n tweedehandse winkel of ’n rommelwinkel toe neem en te koop aanbied. Waardevolle ontwerpersklere kan jy aan ’n kostuumwinkel verkoop of aan ’n handelaar in antieke klere. Andersins kan jy in jou woonbuurt adverteer en ’n kattebak- of garageverkoping hou.

2 Skenk: Daar is baie minderbevoorregte mense in ons land. Al is die fleur van ’n kledingstuk al af, is dit nog ’n waardevolle besitting vir iemand wat koud kry of andersins in vodde sou loop. Kerke en vroueverenigings sorg gewoonlik dat sulke skenkings by die mense uitkom wat dit nodig het.

3 Ruil: Jy kan óf jou ware by ’n tweedehandse winkel gaan ruil óf jy kan die voorbeeld van ’n groep vroue van Johannesburg volg. Elke maand of twee kom hulle bymekaar en bied alles wat hulle nie meer gebruik of nie meer wil hê nie, te ruil aan. “Dit is gewoonlik kledingstukke of byvoorbeeld kostuumjuwele wat nog ’n lang gebruiksleeftyd oorhet, maar wat om watter rede ook al nie meer hul doel in die oorspronklike eienaar se lewe dien nie. Maar daar is soms selfs stoele, tapyte, skilderye en tyddeelvakansies te ruil,” verduidelik Inge*.

“Jy het iets dalk present gekry of op die ingewing van ’n dapper of roekelose oomblik gekoop en agterna besef dat dit nie in jou huis of by jou klerestyl pas nie. Dis onnodig dat iets wat iemand anders nuttig kan gebruik, onbenut iewers in ’n kas lê. Ons het g’n komplekse daaroor om mekaar se wit olifante ’n tweede kans te gun nie.” Daarby is dié ruilsessies ’n vrolike kuierkans. Hulle bring lekker kos en wyn saam en grawe opgewonde en gaan in hul skik met hul vondste huis toe.

Klim in die kas in

Omdat vroue ’n besondere verhouding met die inhoud van hul klerekaste het, deel Inge praktiese raad vir orde in jou klerekas:

Die “jaar”-gids

Die probleem is gewoonlik dat jou klerekas propvol klere is waarvan jy net ’n paar kledingstukke gereeld dra. Daarby is dit goed om van enigiets wat jy nie in die afgelope jaar (maksimum) twee jaar gedra het nie, by voorbaat ontslae te raak.

Die “drie bondel”-stelsel

Voordat jy jou klerekas enigsins kan orden, moet jy die vorige seisoen se klere ook uitsorteer en wegpak, en die res volgens die “drie bondel”-stelsel uitsorteer: staatmakers in een bondel, onbruikbare klere (wat verstel en versien of skoongemaak moet word) in die tweede bondel en uitgediende klere in die derde bondel. Wees veral genadeloos wanneer jy oor ’n afgeleefde kledingstuk of onderklere en uitgetrapte skoene moet besluit.

Lees ook: Stoor jou klere reg

Die eerste bondel is die goeie, mooi klere wat jy sonder om te wonder of dit in die mode is en of dit nog goed lyk, kan aantrek – die onbetwiste gunstelinge wat altyd goed lyk en waarin jy goed voel. Hierdie klere kan jy in groepe van broeke, rompe, rokke (aand- en dagrokke afsonderlik), bloese, pakke, baadjies en jasse ophang aan goeie hangers waarvan dit nie afgly nie of in toeritssakke van materiaal (plastiekbedekking kan natuurlike stowwe laat muf) ophang. Hang dit ook volgens kleur bymekaar. Om motte weg te hou, moet jy sederhoutstafies en laventelbossies in die kas hang. (Sederhout is olierig, moenie dat dit aan jou klere raak nie, en laventel moet gereeld vervang word.) Onderklere en T-hemde (ook volgens kleur en aard gesorteer) kan jy in laaie of dose met deksels bêre.

Op die tweede bondel stapel jy alle kledingstukke wat versien moet word: dié waarvan some ingesit en knope aangewerk moet word en wat droogskoonmaker toe moet gaan.

Op die derde hoop gooi jy alles wat jy nie een keer die afgelope jaar gedra het nie – m.a.w. klere wat te klein is, uit die mode is en sommer net nie meer jou styl is nie. Hiermee hou jy ’n verkoping, ruil dit uit of gee dit vir welsynsorganisasies.

Lees ook: 16 maniere om geld op jou klerekas te spaar

Skoene word net so uitgesorteer. Bêre dit in skoensakke of -rakke met skoenbome daarin om die vorm te behou. Vanieljepeule daarby laat ruik dit lekker.

Verminder ook die verskeidenheid skoonmaakmiddels in jou kombuis- of badkamerkas. Jy is verlei om dit te koop omdat elkeen op die rak ’n ander voortreflikheid beloof het, maar jy kan met heel eenvoudige (en dikwels goedkoper) middels wat jy in elk geval in jou huis het, eintlik alle skoonmaaktake verrig.

Geldsake

Naas jou persoonlike en huishoudelike chaos is geldsake die ander geil teelaarde vir wanorde – veral rekeninge en belasting.

Rekeninge en banksake

Baie mense gooi vensterkoeverte met rekeninge en waarskuwings eenkant toe en hoop dat die skuld sal weggaan as hulle dit ignoreer. Dit werk nie so nie. ’n Mens maak net jou skuldeisers kwaad as hulle niks van jou kry of hoor nie en uiteindelik kom jou naam op ’n swartlys en kan dit jou kredietwaardigheid in die toekoms knou. Maak elke rekening oop en tref ’n reëling met die mense vir wie jy geld skuld as jy dit nie kan betaal nie. Moenie net verdwyn nie. Dieselfde geld jou bankkonsultant. Hou kontak en hou haar of hom op die hoogte van jou geldelike situasie.

As jy sien dat jy jou kredietperke gaan oorskry, moet jy dadelik met jou konsultant of persoonlike bankier in verbinding tree en reëlings tref sodat jou tjeks of debietorders nie as onverreken teruggestuur word en dit jou kredietrekord benadeel nie.

Belasting

Vir baie mense is “belasting” ’n nagmerrie. Carien Steenkamp ’n belastingraadgewer en eienaar van die maatskappy Concilio op Stellenbosch, se wenke is ’n nuttige gids vir die ontrafeling van die kraaines waarin belastingpligtiges dikwels toegewoel voel: “Elke mens moet ’n soort liasseerstelsel kry wat vir haar of hom werk. Ek dink die belangrikste is om jou sake in verskillende afdelings in te deel (dit sal natuurlik verskil afhangend van elke mens se omstandighede). Kry byvoorbeeld ’n flip file (sakkielêer) met opskrifte: petrol, boeke aangekoop, onthaal, bankstate, voertuig-uitgawes, salarisstrokies, ens. “Liasseer die betrokke goed soos jy die pos oopmaak – of een maal per week wanneer jy jou handsak skoonmaak. Dan is dit baie maklik om aan die einde van die jaar alles bymekaar te bring.”

“Hou ’n boekie en ’n pen in jou motor en skryf elke keer as jy ry om te gaan werk, net vinnig jou kilometerlesing en jou bestemming neer. Een keer per week kan jy dan die elektroniese kopie op jou rekenaar op datum bring. Soos enige goeie gewoonte is dit maar iets wat jy moet aanleer. As jy dink dat hierdie bietjie moeite vir jou tyd en belasting kan spaar, is dit wel die moeite werd!”

Voorsorgsmaatreëls om te keer dat orde weer in wanorde ontaard:

  • Kry jou kop en hart skoon dan volg orde in alle ander aspekte van jou lewe.
  • Hou elke dag by jou ordeningsprogram totdat dit uiteindelik ’n leefwyse raak. Ordelikheid is nie ’n talent nie – dis ’n lewenskeuse.

Lees ook: Die beste wenke om vanjaar jou huis en lewe te ontklotter

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.