Resep deur Rediscover Dairy.
Genoeg vir 16 stafies.
Bestanddele
- 5 ml (1 teelepel) botter
- 2 pere (ongeveer 280 g), geskil en in blokkies gesny
- 150 g bevrore gemengde bessies
- 10 ml (2 teelepels) heuning
- 5 ml (1 teelepel) vars suurlemoensap
- 5 ml (1 teelepel) vanieljegeursel
- 30 g hawermoutvlokkies
- 25 g koekmeel
- 30 g bruinsuiker
- 15 g klapper
- 2,5 ml (½ teelepel) gemaalde kaneel
- 40 g botter
- 375 ml (1½ koppies) volroom, gewone jogurt
Metode
- Smelt die botter in ’n kastrol. Voeg die pere by en kook vir ongeveer 2 minute, terwyl jy gereeld roer.
- Voeg die bessies by en kook vir nog 2 minute.
- Roer die heuning en suurlemoensap by en kook vir ongeveer 5 minute, of totdat die vrugte sag is en die vloeistof verminder het.
- Verwyder van die hitte en roer die vanieljegeursel by. Laat eenkant staan om af te koel.
- Om die krummel te maak, voorverhit die oond tot 160 ºC en voer ’n klein bakplaat met bakpapier uit.
- Meng die hawermout, meel, suiker, klapper en kaneel in ’n bak. Voeg die gesmelte botter by en meng goed.
- Versprei op die bakplaat en bak vir ongeveer 15 minute tot goudbruin. Laat heeltemal afkoel en breek dan in krummels.
- Voer ’n vierkantige bakpan van 20 cm met bakpapier uit. Meng die vrugtemengsel met 1 koppie van die gewone jogurt. Skep in die pan en versprei in ’n egalige laag. Skep die oorblywende jogurt bo-op en trek liggies deur om ’n gemarmerde effek te skep.
- Sprinkel die krummel bo-oor en druk liggies vas. Vries oornag en sny dan in stafies. Bêre in die vrieskas.
