Genoeg vir 2 koeke.
Bestanddele
Basiese sponskoek
- 4 eiers
- 260 g strooisuiker
- 280 g koekmeel
- 15 ml bakpoeier
- 250 ml melk
- 100 g botter
- 5 ml vanielje
Basiese botterversiersel
Meng 500 g botter, 500 g versiersuiker en 5 ml vanielje met ’n handklitser en klop tot die versiersel lig en donsig is.
Metode
Basiese sponskoek
- Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer twee 17,5 cm-koekpanne met bakpapier uit vir hoë koeke, of twee 20 cm-panne vir laer koeke, en spuit met kleefwerende kossproei.
- Klits die suiker en eiers tot dik en lig.
- Sif die meel en bakpoeier saam en vou by die eiermengsel in.
- Verhit die melk en botter, maar moenie laat kook nie.
- Roer die warm melkmengsel by die res van die bestanddele en gooi die vanielje by.
- Verdeel die mengsel tussen die pannetjies en bak vir 25-30 min. in die middel van die warm oond tot goudbruin.
Pienk lamingtons
Maak een hoeveelheid van die basiese sponskoekresep
- Smeer 2 lamington-panne van 26 cm x 22,5 cm x 4,5 cm met botter en bestuif met meel.
- Vul die pan met die basiese koekdeeg en bak vir 30 min. in ’n voorverhitte oond van 180 °C, of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat afkoel en keer op ’n snyplank uit.
- Sny die koek in 15 vierkante en hou eenkant tot benodig.
- Maak ’n pakkie pienk jellie volgens die aanwysings op die pakkie aan.
- Laat staan tot die jellie begin set maar nog loperig is.
- Doop die koekvierkante in die jellie.
- Gooi 250 ml fyn klapper in ’n bord en rol die vierkante daarin.
- Sit vir 20 min. in die yskas en sit voor.
