Probeer jy te hard om gelukkig te wees? Dis hoekom jy nou dadelik moet ophou probeer

Probeer jy te hard om gelukkig te wees? Dis hoekom jy nou dadelik moet ophou probeer deur Anet Schoeman. Foto: Brooke Cagle

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Probeer jy te hard?

Voel dit soms of almal rondom jou dit lekkerder as jy het? Jou vriende se kinders glimlag breër, hul verhoudings is gelukkiger … Maar maak nie saak hoe hard jy probeer nie, jou geluk ontspoor daagliks. Kenners sê ons probeer so hard om gelukkig te wees dat ons ons in die proses ongelukkig maak.

“Ons is blootgestel aan groot sosiale druk om gelukkig te wees. Sosiale media beeld konstant ander mense se ‘perfekte’ lewe uit,” sê Sarah Lamont, arbeidsterapeut en bestuurder van die terapeutiese program by die Akeso-kliniek in Randburg. “Op sosiale media het niemand geldelike probleme nie, hul vrolike kinders blink uit in sport en saans eet die hele gesin heilsame, tuisbereide maaltye om die eettafel.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Hokaai, sê Sarah.

“Ons moet verstaan dat mense net hul glansoomblikke deel, en ook aanvaar dat wat ander mense doen, hul lewe is. Ons is almal individue en elkeen van ons het ’n unieke lewensritme en manier van doen. Dis belangrik om realisties oor ons eie verwagtinge te wees.”

Lees ook: Hoe jou selfbeeld jou geluk beïnvloed

Ons probeer so hard om gelukkig te wees dat ons ons in die proses ongelukkig maak

Hier is 7 stappe hoe jy gelukkiger kan wees – sonder om te hard te probeer.

1. Sny die lysie korter

Ons saboteer dikwels ons eie geluk en maak eiehandig die latjie waarmee ons ons kasty. “Dis ironies dat ons lysies maak om ons lewe te organiseer en om in beheer te voel, maar dan oorlaai ons die lys so dat ons later geen beheer het nie. Die ding wat ons beheer moet gee, word nou die bron van meer spanning.”

Georganiseerdheid is koning en maak ons glo gelukkig, verkondig die media. Die Marie Kondo-ingesteldheid – wat ons maan om niks op te gaar nie en alles netjies soos eendjies in ’n ry te bêre – beloof ons ewige geluk en vrede.

Sarah sê daar is voordele aan goeie organisasie en dit kan jou lewe vergemaklik en jou ligter laat voel.

Maar daardie ewige lysies kan jou juis ongelukkig maak as jy goed probeer beheer wat nie beheer kan word nie. Jy het dalk jou dag tot in die fynste besonderhede beplan en toe oeps baba op jou netjiese baadjie net voor jy kantoor toe ry, of dalk is jou regterhand op kantoor siek en skielik voel alles buite beheer.

Die kaartehuis stort ineen en jy voel heeltemal oorweldig. “Bou ’n buffer in jou dag vir onvoorspelbaarhede en moenie ontspoor as iets verkeerd loop nie.”

Lees ook: 5 maniere om jou dag reg te begin

2. Wees realisties

Leer ook om realisties te wees.

Ons leef onder druk en ’n gevoel van dringendheid neem later ons lewe oor en ons dag stort in duie wanneer ons in iets soos ’n verkeersknoop beland.

Sarah sê ons voel gelukkig wanneer ons die verwagtinge haal wat ons geskep het. Dan kan ons die boksie in ons gedagte aftik. Maar wanneer jy té gefokus raak op jou verwagtinge, soos dat die kinders teen agtuur gebad en in die bed moet wees, is die teleurstelling groot wanneer jy dit nie regkry nie.

“Moenie dat jou verwagtinge die maatstok word waarmee jy jou geluk meet nie. Kyk soos ’n buitestander na jou situasie en stel vas wat jou gelukkig maak. Besluit of die maatstaf emosioneel gebalanseerd en realisties is. As dit onrealisties is, kan jy nie die regte resultaat verwag nie.

“Beplan vir die onverwagte sodat daar ruimte is sou jou planne nie perfek uitwerk nie. Ons is so gewoond om alles in die hoogste versnelling te doen dat ons dieselfde dringendheid na ons gesinslewe bring en ongeduldig en ontmoedig word wanneer dinge nie op geoliede wiele in plek gly nie. Dis dán wanneer emosionele welstand vir almal in die slag bly.”

Lees ook: 30 maklike dinge wat jy kan doen om meer geluk in jou lewe te kry

3. Vat ’n blaaskans

“Ons voel skuldig wanneer ons niks doen nie; of in die bad lê en te laat in die bed kom. Maar onthou, die oomblikke van niksdoen en onverwagse pret bring soms meer geluk as om aan verwagtinge te voldoen.

Word rustig.

Wees op die uitkyk na onbeplande oomblikke van geluk, eerder as om net te fokus op die doelwitte wat jy vir die dag gestel het. Moenie dat buitensporige beplanning toevallige vervulling in die wiele ry nie. Maak tyd om jou oggendkoffie op die stoep te drink, eerder as om die koffie in die motor op pad werk toe af te sluk.

“Ons kan van die skuld vir ons dolle gejaag aan omstandighede en sosiale druk koppel, maar dis belangrik om self ook verantwoordelikheid te aanvaar.” Sarah haal ’n oudprofessor aan wat gesê het jy kan die rotteresies aanvat, maar of jy wen of verloor, jy bly ’n rot.

“Is dit so belangrik dat jou kinders druiwesap in hul kosblik het dat jy kosbare speel- en ontspantyd saam met hulle inboet om winkel toe te jaag, eerder as dat hulle water drink? Ons probeer so hard om die regte ding te doen dat ons perspektief verloor. Te veel suiker is ’n euwel, maar generasies het gelukkige kinders op Oros grootgemaak. As jy hier en daar die minder perfekte ding doen, gaan jou kinders steeds oorleef … en dalk gaan almal minder gespanne en gelukkiger wees.”

Lees ook: Leef stadiger, leef meer

Daar is oomblikke van geluk in elke dag

4. Maak beter keuses

Gee jou die ruimte om te kies, eerder as om die perfekte plan slaafs na te jaag. Ons gun ons selde die tyd en ruimte om keuses te maak, en in ons haas maak ons dikwels die verkeerde keuses.

As jy soos ’n robot voel, gaan jy nooit die kopruimte hê om vars besluite te neem nie. Ons onderskat hoeveel geluk ons uit kleiner takies of oomblikke kan put, en boet dit in vir die groter verwagtinge. Al is jy ’n baasbakker, is dit goed genoeg om soms ’n koek te koop. Dit kan jou ’n tydjie gee vir iets wat vreugde bring.

Lees ook: 4 maklike dinge wat jy nou kan doen om gelukkiger te wees

5. Besluit wat belangrik is

“Hou op skuldig voel as jy nie jou eie hoë standaarde haal nie. Probeer om meer in voeling te wees met wat jy uit ’n situasie wil hê, as om net te maak soos jy altyd maak. Dit beteken nie jy moet alles oorboord gooi nie. Besluit bewustelik wat jou prioriteite vir elke unieke situasie is. En weet: as jy te hoë verwagtinge het, gaan jy die bal laat val.”

Sarah sê daar is minder skade en spanning as jy vooraf besluit watter bal jy wil laat gaan voor dit val.

“Besef dat jy nie alles kan doen nie en gee jouself toestemming om van die balle te laat gaan. So verander jy jou verwagtinge en verminder spanning. Kyk na jou lysie en besluit vooraf wat is realistiese verwagtinge en wie jy sal moet teleurstel. Onrealistiese mikpunte bring mee dat jy jou en jou gesin dikwels laaste stel, wat jou geluk opslurp.”

Dis belangrik om te leer om teleurstellings te oorleef en te verstaan dat jy nie alles kan doen en almal gelukkig kan hou nie. Bel vooraf en skuif die afspraak of takie. Maak net seker dat jy nie elke keer dieselfde mens teleurstel nie.

“Jy hoef ook nie elke keer te verduidelik van die kat wat siek is, of jou motor wat gaan staan het nie. As jy dit te persoonlik maak en te veel inligting gee, raak jy te apologeties en gee jy ruimte vir mense om jou te manipuleer of te oordeel. Sê net jy kan ongelukkig nie die afspraak nakom nie.”

Lees ook: Leer hoe om nee te sê

6. Hou op vergelyk

Vergeet van die foto’s van ander superma’s wat lyk of hulle alles regkry. Fokus op jouself en doen wat vir jou reg en realisties voel. Niemand vertel ooit op facebook hoe hulle twee flaters gehad het voor hulle die bobaas-sjokoladekoek op die foto gebak het nie.

“Dis soms eers as mense deur trauma tot stilstand gedwing word dat hul uitkyk oor wat geluk werklik is, verander. Dan besef ons dat daar oomblikke van geluk in elke dag is; ons moet net oopkop wees om dit raak te sien. Vra jou elke aand af of jy genoeg geluk in die klein oomblikke van die dag gesien het.”

Lees ook: 70 topwenke vir geluk

7. Organisasie is goed tot op ’n punt

Goeie organisasie help jou om deur die dag te kom en gee jou ’n groot mate van bevrediging. Dit kan jou ook gelukkiger laat voel. Maar as jy te hard probeer om alles in jou lewe te organiseer kan orde die manier word waaraan jy jou sukses en geluk meet. Omdat orde jou veilig en gelukkig laat voel, kom jy in die versoeking om alles te wil orden en organiseer. Dit ontneem jou van spontaneïteit.

Moenie so gefokus wees op organisasie en netheid dat jy jou humeur verloor oor die koppie wat op die tafel agterbly nie. Is dit die einde van die wêreld as die koppie tot die volgende dag daar staan? Teleurstellings maak ons sterker. Ons kry vaardighede om krisisse beter te oorleef.

Sommige mense maak verwoed skoon wanneer hulle ongelukkig is omdat dit ’n gevoel van vervulling gee. Dit kan ’n doel dien, omdat dit ons in beheer van iets laat voel terwyl die res buite beheer is. Dit word ’n probleem as dit ons ontneem van ’n koffie en geselsie met ’n vriendin omdat ons eerder die kaste wil regpak. Organisasie is buite beheer as jy nie realisties is oor die gedrag wat jy voel jou beheer gee nie – dus as jy koorsagtig skoonmaak en regpak omdat dit jou maatstaf is om goed te voel.

Lees ook: 6 maniere om langer en lekkerder te lewe

Navorsing toon …

“Geluk is ‘n goeie ding, maar as jy dit sien as ’n doelwit wat bereik moet word, is mislukking gereeld jou voorland,” skryf Brock Bastian, ’n sosiale sielkundige aan die Universiteit van Melbourne.

Die studie het bevind dat as jy te veel klem op geluk plaas, dit jou reaksie op negatiewe emosies en ervarings beïnvloed en veroorsaak dat jy slegter oor teleurstellings voel en langer daarop vashaak. Dit skep op die lange duur net meer spanning.

Die oogmerk van die studie is nie om ’n strewe na geluk te veroordeel nie, maar eerder om te wys dat dit normaal en gesond is om soms teleurgesteld en ongelukkig te voel.

Lees ook: 7 maniere om werklik te ontspan

Sarah Lamont: sarah.l@kenilworthinc.co.za . Akeso 24 uur-hulplyn – 0861 435 787

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.