Die sanger en liedjieskrywer Rudi Claase is al 25 jaar in die musiekbedryf, maar is deesdae veral in die nuus weens sy gesondheidsprobleme. Daar was talle ander storms ook in sy lewe, maar tog lyk Rudi gelukkig. Hy was vandeesweek Rian van Heerden se gas op Laataand by Rian.
Rudi het eerlik gepraat oor hoe dit werklik met hom gaan en erken dat sy gesondheid ’n groot faktor in sy daaglikse lewensgehalte is. Ten spyte daarvan bly sy ingesteldheid positief en fokus hy daarop om vorentoe te beweeg.
Volgens Rudi was hy nooit werklik voorbereid op die werklikhede en uitdagings van roem nie. Mettertyd het hy egter besef dat openbare aandag onafwendbaar is as jy kies om in die kollig te leef. Hy glo ’n mens moet die goeie én die slegte van bekendheid aanvaar as deel van die pakket.
Die gesprek het ’n ongewone kant van sy persoonlikheid onthul toe hy vertel het van sy vroeë belangstelling in begraafplase – plekke wat hy as stil en sonder die geraas van die wêreld beskryf het.
Rian en Rudi het gesels oor sy suksesvolle sangloopbaan saam met Corlea Botha, en Rian wou weet hoekom hulle paaie geskei het. Rudi het geantwoord: “Ek het geen idee nie. Jy sal vir haar moet vra. Ek het 16 jaar laas met haar gepraat.” Hy het erken dat hy dinge probeer regmaak het, maar ook verklap dat hulle nie in die openbaar van mekaar mag praat nie, aangesien daar ’n ooreenkoms in plek is.
Die gesprek het daarna gedraai na Rudi se gesondheid. Rian het gevra hoekom hy soveel private goed met die publiek gedeel het. “Ek het nog nooit die mense gelos nie. Selfs toe ek in die verlede in my loopbaan op plekke gelos is, het ek nie die mense gelos nie. Jy raak ook baie geheg aan die band wat jy met die vermaaklikheidsindustrie het. En die oomblik as dit weggeraap word, is daar ’n stilte. En as jy nie jouself keer nie, maak jy daai stiltes vol snert. Ek dink oversharing is ’n ding, maar nou kan ek terugkyk en dink: ‘Weet jy wat, al was jy nog net semi-gereed, hier lê jy ten minste met ’n pyp in jou neus in die hospitaal en bid vir mense.’ ”
Rudi het gesê hy is al ongeveer die afgelope tien jaar siek. Vyf van daardie jare was hy in en uit by die hospitaal gewees, en die afgelope drie jaar is hy ernstig siek.
Rian wou weet wat werklik fout is, en Rudi het verduidelik: “Ek is gebore met ’n blindederm wat gebars het toe ek tien dae oud was. Ek was ’n baie sieklike kind. Tydens Covid het ek ’n breuk opgedoen. Ek is geopereer en ’n jaar later het dit geskeur. Iemand het weer ’n operasie gedoen en daarna het ek by ’n chirurg geëindig wat 14 operasies in 90 dae gedoen het.”
Toe Rudi ná die laaste operasie wakker word, was hy verlam en net sy oë kon beweeg. Hy moes weer leer loop en praat en het eers onlangs weer begin oefen om te sing. Rudi is ook ’n maand gelede gediagnoseer met Cushing-sindroom – ’n gewas op die brein.
Rian het gevra oor die oomblik toe hy vir ongeveer 30 sekondes klinies dood was. Rudi het verduidelik dat sy hart gaan staan het nadat hy medikasie gekry het waarvoor hy allergies is. “Wat ek vir jou kan sê van daai ervaring, is dat ek nog nooit in my lewe vir iets so dankbaar was soos vir daai halwe minuut wat my hart gestop het nie. Want as dit nie gebeur het nie, sou ek nie die ewige lewe kon gehad het in die Here wat ek nou vandag het nie. Die Here moes my fisies doodmaak om my te laat lewe.”
Rian en Rudi het ook oor sy vrou, Suzette, gepraat en oor hoe sy hom deur alles ondersteun het. Hulle is al tien jaar getroud.

Een van die grootste treffers wat Rudi geskryf het, is “Sewe oseane”, wat Andriëtte Norman bekend gemaak het, en dit was toe Andriëtte wat as sy verrassingsgas ingestap het. Hulle het lekker oor die liedjie gesels, en sy het vertel hoe dankbaar sy is dat Rudi haar daarmee vertrou het.
Die volledige episode is op DStv Stream en Catch Up beskikbaar. Laataand by Rian word elke Dinsdagaand om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Lees ook: Groot name en groter geheime in kykNET se nuwe misdaaddramareeks

