Sit stres op sy plek. Deur Anet Schoeman.
Hoe werk spanning?
Kortisol en adrenalien is die sondaars wat jou maag op ’n knop laat trek en jou hart in jou keel laat klop wanneer dinge wild raak. Dié spanningshormone word vrygestel wanneer ons bang of gespanne voel, en dis nodig om ons aan te vuur om uit gevaarlike situasies te kom. Maar as dit heeltyd gebeur, kan dit jou gesondheid ondermyn.
Uit ’n studie wat in die Amerikaanse joernaal Neuron gepubliseer is, blyk dit dat meer as 40% Amerikaners nie hul spanning goed beheer nie. Boonop sukkel gespanne mense met selfbeheer en sal meer geneig wees om ongesonde kos te eet. Trooskos moet ons beter laat voel, maar ongelukkig is dit juis dié soort kos wat kortisolvlakke verhoog.
Die moets en moenies van kos
- Neute soos okkerneute, amandels, pekanneute en haselneute beheer jou kortisol en die vitamiene kan ook jou immuniteit verbeter wat deur spanning in die wiele gery word.
- Omega-3 in olierige vis soos sardyne, wilde salm en makriel is uitstekend. Uit ’n studie het dit geblyk dat studente wat ’n omega-3-aanvulling geneem het 20% minder angstig gevoel het as die groep wat ’n plasebo geneem het.
- Anti-oksidante en vitamien C in bessies soos aarbeie, bosbessies en rooibosbessies beheer kortisol – die perfekte vruggies om soggens in jou gladdejantjie te sit.
- Spinasie, krulkool (kale) en blaarbeet (chard) bevat magnesium wat help om spiere te ontspan, asook kalsium wat kalmerend is. Gebruik die groente in ’n slaai of sny dit fyn in ’n sop.
- Donkersjokolade (ja, nie die ander soorte nie) bevat spesifieke anti-oksidante wat kortisol kan verlaag. Hou ’n blokkie byderhand as jy weet jou dag gaan aan jou kou.
- Koolhidrate wat ryk aan vesel is, soos quinoa en hawermout, laat jou langer vol voel en dit verhoog jou serotonienvlakke vir langer tye as verfynde koolhidrate.
- Volgens studieresultate kan die L-teanien in groen tee jou kortisolvlakke verlaag, endorfiene en oksitosien verhoog, spiere ontspan en so jou bui verbeter. Rooibos- en kamilletee is ook strelend.
- Vitamien B is ’n teenvoeter vir spanning – probeer om ’n klein porsie proteïen by elke maaltyd in te sluit. Eiers is goedkoop en maklik om op enige plek te eet. Dit balanseer jou kortisolvlakke.
- Bly weg van sout as jy gespanne is. Dit sneller die vrystelling van kortisol.
- Suiker laat jou bloedglukose die hoogte in skiet en dit laat jou sleg voel as die vlakke daarna vinnig daal.
- ’n Koppie oggendkoffie is vir baie mense ’n noodsaaklike regmakertjie. Tog blyk dit uit navorsing dat jy joune dalk tot so halftien moet uitstel. Jou liggaam stel soggens sy eie kortisol vry om jou op die dag voor te berei. Dus kan jy ’n bietjie wag.
- Mense gryp maklik na ’n drankie om spanning te verlig. Maar alkohol verhoog die kortisolvlakke en dit beïnvloed ook die gehalte van slaap.
- Jogurt met probiotikum het belowende resultate getoon in ’n Ierse studie. Dit wil voorkom of ’n gesonde spysverteringskanaal ’n beduidende uitwerking op gedrag het wat met spanning verbind word.
Spanning kan jou sterker maak
Spanning hoef nie net negatief te wees nie. Dr. Renata Schoeman, bekende psigiater, sê angs is ’n natuurlike toestand van die lewe en dat dit kan dien as aansporing om te skep, te presteer of enige mylpale te behaal.
“Tog kan angs oorweldigend raak en as dit nie bestuur word nie en tot patologiese angs lei, kan dit emosionele probleme veroorsaak sodat mense oorweldig en uitgebrand voel, prikkelbaar is, en paniekaanvalle en depressie kry. Maar as ons ons stresenergie gebruik, kan dit ’n kragtige dryfveer wees om uit te styg.”
As jy positief oor stres dink, kan dit jou vriend word.
Kortpad met stres
- Meditasie sny kortisol met 20%: Uit ’n Thaise studie wat oor ses weke gestrek het, het dit geblyk dat die kortisolvlakke van mense wat in dié tydperk gemediteer het met 20% gedaal het teenoor die groep wat nie gemediteer het nie.
- Genoeg slaap sny kortisol met 50%: Die verskil tussen agt uur en ses uur se slaap is klaarblyklik 50% meer kortisol. En die verhoogde vlakke kan boonop twee dae duur. Maak seker jy kry genoeg slaap. Navorsers meen ’n kort middagslapie kan vir ’n kort nag vergoed.
- Musiek sny kortisol met 66%: Musiek het ’n kalmerende invloed. Toe dokters aan die Osaka Mediese Sentrum in Japan musiek gespeel het terwyl pasiënte ’n kolonoskopie ondergaan het, was hul kortisolvlakke aansienlik laer as dié van die groep sonder musiek.
- Lag verlaag kortisol met 30%: ’n Kuiertjie by ’n prettige vriend is goud werd. Dis klaarblyklik nie net die lekker lag wat jou ontspan nie; selfs as jy net in jou humoristiese vriend se geselskap is en grappies in die vooruitsig stel, gaan jou kortisol daal.
- ’n Massering verlaag kortisol met 31%: In ’n studie aan die Universiteit van Miami se mediese skool het respondente se kortisol met byna ’n derde gedaal ná hulle ’n weeklikse massering gehad het. ’n Massering verminder stres omdat dit die vorming van dopamien en serotonien (jou goedvoelhormone) stimuleer.
- Kougom kou kan kortisol met tot 16% verlaag: Kou jouself kalm? Wetenskaplikes vermoed dat die kougomkouery bloedvloei verhoog en neurale aktiwiteit in sekere gedeeltes van die brein verbeter. Die deelnemers wat kougom gekou het in ’n studie, het ook opgemerk dat hulle meer op en wakker voel as die ander wat nie kou nie.
- Kerkgangers se kortisol is 25% laer: Doen iets vir jou siel om spanning te verlaag. Godsdienstige rituele beskerm mense teen die negatiewe gevolge van stres. Uit ’n studie in het dit geblyk dat kerkgangers laer stresvlakke het.
Lees ook: Stres: Gee aandag aan jou liggaam se waarskuwingstekens
