kategorieë: LeesOntspanning

Sjef Snoekie hoofstuk 11: Soufflé

Sjef Snoekie hoofstuk 11: Soufflé deur Martie Swanepoel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Haal in met die vorige hoofstukke van Sjef Snoekie: Klik hier

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Sjef Snoekie hoofstuk 11: Soufflé

Dinge werk so met Carlotte Kramer. Sy laat die restaurant met ‘n ompad diskreet weet sy gaan hulle kom resenseer. So diskreet, dat hulle presies weet wanneer sy gaan kom! Dag, datum en tyd.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Sy sit altyd by tafel dertien. En as jou restaurant nié dertien tafels het nie, skep jy een.

Carlotte is ‘n vreemde, bygelowige vrou. Eksentriek in hoofletters gespel. Sy glo sy moet die noodlot uittart met die nommer dertien. Daarby is dit alombekend dat dié vrou aan allerlei ander kompulsies en obsessies ly.

Alles op en rondom tafel dertien moet dus ontsmet word. Dan sal sy steeds haar eie ontsmette servet uit haar reuse handsak haal en die messegoed en glase self blink poets. ‘n Lang, uitgerekte, senutergende proses wat selfs ‘n kelner met senuwees van staal sal beproef.

(Kelners vrees dié dik, ongeskikte vrou oor verskeie redes. Sjefs ook. En, sy wéét sy is in ‘n magsposisie. Haar venynige pennetjie kan jou restaurant opbou, en dit afbreek.)

Maar dié keer voel Alphonse ‘n veer.

Dié dat hy Snoekie aangestel het om die smulpaap te voer. Die oudit en drama by die restaurant het sy gemoed dun geskaaf, en hy het besluit as Carlotte verras wil word, het hy net die een om haar te verras: ‘n Avontuurlustige, hardkoppige, astrante klein aspirant-sjef van die Vrystaat.

Die meisiekind het hom al verras met nuwe smake en tegnieke, en hy reken sy sal dieselfde met Carlotte ook kan doen.

Snoekie word breedvoerig ingelig oor Carlotte se OCD-roetinetjies wat sy volg voor sy eet. Obsessief-kompulsiewe roetinetjies wat die meeste mense glo, is eintlik net sights en mind games om te wys sy is in beheer.

Sy sal die wynglas byvoorbeeld elke keer drie keer tussen haar vingers draai voor elke sluk. Sy sal ‘n skoot sout oor elke skouer gooi voor sy begin eet. Die messegoed moet met ‘n mini waterpas (uit haar groot sak) reggeskuif word. Presies simmetries. Daar mag geen vasie met blommetjies of ‘n lampie of ‘n kersie op die tafel wees nie. Die tafeldoek moet spierwit en gestywe wees.

Kortom. Carlotte is vol twak, (Alphonse gebruik ‘n ander woord) en sy geniet dit om mense rond te order.

Dit irriteer Alphonse al jarre. Hy glo vanaand is dit die aand wat die ongeskikte resensent haar tier gaan teëkom. Die effe ongekunstelde meisiekind van Suid-Afrika is sy geheime wapen vir die okkasie.

Nog ‘n vreemdheid van Carlotte is dat sy nie daarvan hou om van die restaurant se spyskaart te eet nie, en dis waar Alphonse haar hierdie keer gaan vang. Met Snoekie se hulp.

Carlotte verwag om verras te word. Sy verwag dus by haar besoek iets buitengewoon en uniek. En dit, in ‘n klein, kompakte neutedop, glo Alphonse in sy moegheid en paniek, gaan die meisie met die lang swart krulhare, die viooltjie-oë, en daai oulike kuiltjies in die wange voor sorg.

(Hy probeer homself telkens vermaan dat hy nie na die cute meisietjie moet loer nie. Sy is immers geensins sy soort nie! Hy het nog altyd meer van die modepop-soort meisies gehou. Die gegrimeerde, gegroomde soort met swymelende lywe. Soos Josephine … o, Josephine, hy mag nie nou aan Josephine dink nie. Hy moet wegbly van Josephine … én van die sagte plekkie vir die Snoekie-meisiekind.)

In die briefing oor Carlotte is Snoekie ook ingelig oor die vreemdste van al haar kenmerke: Die gevreesde smulpaap van Indulge het absoluut geen fiemies oor kos nie! Anything goes! Sowaar!

Die vrou het geen voorkeure, afkeure of allergies nie! Jy kan vir haar enigiets van die snoet tot die dier se stert opdis, en sy sal dit eet. Mits dit smaaklik voorberei is. En dit is die vangplek. Sy wéét wat vir haar lekker is en wat nie.

Alphonse het ‘n paar keer by Snoekie se werkstasie verbygestap terwyl sy Carlotte se geregte voorberei. Hy het die diep frons van konsentrasie raakgesien en opgemerk hoe haar krulhare moedswillig uit die bolla kruip.  Hy het geglimlag. As Snoekie vasberade is, knyp sy die punt van haar tong tussen haar lippe vas. As sy dit doen, is sy on a roll. En dis wat Alphonse ‘n mate van gerustheid gee.

Kort voor Carlotte se verwagte aankoms, bulder Alphonse vir oulaas oor die kombuis. “Suzanne, alles reg daar?”

Almal in die kombuis loer onderlangs na Snoekie.

Haar bolla lyk teen dié tyd soos ‘n kraaines.

Haar gesig is vol meel.

“Als reg, Sjef!”

Snoekie se stemmetjie is effe dun. Sy begeer nou, meer as ooit, ‘n stuk sjokolade en ‘n sluk brannewyn. Enigiets wat haar senuwees en die knop op haar maag sal laat bedaar.

Alphonse het reeds ‘n draai by tafel dertien gemaak om seker te maak alles is reg.

Almal in die kombuis hou gemaak ongemerk die horlosie dop. Carlotte is altyd stiptelik. Op-die-minuut-en-sekonde stiptelik.

Omtrent op die oomblik wat die gedruis vanuit die restaurant aankondig dat die gas gearriveer het, bars Anina, die gekose kelnerin, in trane uit.

“Ek kan haar nie bedien nie. Daardie vrou is ‘n monster!”

Die ander kelners staan ook elkeen ‘n tree terug.

Alphonse bulder, maar ‘n stille verset hang oor die groep kelners. Verset gebaseer op vrees.

Snoekie se geregte staan gereed vir die finale afronding voor opdiening. Sy voel tevrede en ‘n diep rustigheid het oor haar neergedaal.

Sy kyk na die nukkerigheid onder die kelners. Sy gaan beslis nie toelaat dat hulle haar harde werk verongeluk nie!

“Sjef, ek sal self my geregte tafel toe neem!”

Sy voeg daad by die woord en maak haar bolla netjies en trek ‘n skoon voorskoot aan.

As Carlote van verrassings hou, is dit haar groot aand, besef Alphonse en gee ‘n kopknik in Snoekie se koers.

“Gaan verwelkom jou gas,” brom hy. “Maar vee eers jou gesig skoon!”

As Snoekie se verse eers bedaar het, kom daar altyd ‘n vlaag astrante dapperheid oor haar. Soos nou.

Sy stap deur restaurant toe. Carlotte staan in ontvangs en praatjies maak. ‘n Imposante verskynsel. Mens kan haar nie miskyk nie.

Snoekie het haar naam op Google ingetik en weet hoe die vrou lyk. Soos ‘n opperste smulpaap. Dis hoe die vrou lyk. Sy is ‘n groot vrou, soos in lewensgroot. Sy sal die Koöperasieskaal op Vredefort maklik by die 500 kg kan trek, dink Snoekie.

Carlotte Kramer dra nét spierwit linne. Sulke gewade wat om haar dik enkels swiep as sy waggelend loop. Sy dra bonkige silwer armbande om haar stewige arms. Silwer kandelare aan elke oor wieg stadig heen en weer met elke tree.

Snoekie staan eenkant tot sy sien Carlotte het haar praat klaar gepraat. Sy staan nader.

“Tafel dertien?”

Die vrou troon bo Snoekie uit. Sy kyk langs haar haakneus af na die klein wesentjie voor haar. Sy veeg haar lang silwer hare agtertoe, gee ‘n effense snork van instemming, en waggel agter Snoekie aan na die tafel.

Die restaurant hou om verstaanbare redes ‘n spesiale stoel vir Carlotte aan, besef die Vrystater. Diskreet identies aan die res van die stoele van die restaurant, maar effe groter en versterk. (Daar was al gevalle waar restaurante se stoele protesterend meegegee het onder Carlotte, en dit het nié goeie gevolge in haar resensies gehad nie. Dus het die meeste top restaurante in Europa versterkings laat maak ingeval die massiewe resensent hulle met haar besoek sou vereer.)

Snoekie probeer om nie te snak van verstomming as sy die stoel vir die vrou uittrek nie.

Dis asof Carlotte se lyf oor die stoel smelt.

Soos ‘n soufflé wat platval!

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

4 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

4 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

4 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

4 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.