kategorieë: LeesOntspanning

Sjef Snoekie Hoofstuk 5: Tranedal

Sjef Snoekie Hoofstuk 5: Tranedal deur Martie Swanepoel. Hooffoto: iStock/piotrszczepanekfotoart

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Haal gou in!

Klik hier om in te haal met die vorige hoofstukke van Sjef Snoekie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Sjef Snoekie Hoofstuk 5: Tranedal

Alphonse is nie ‘n man wat maklik opgee nie. Dit besef Snoekie gou.

Hy gaan haar teenwoordigheid in sy kombuis nie so maklik aanvaar nie … en met die onwettige knypie Rajah het sy blykbaar oorlog verklaar.

Hy gaan haar dit nie maklik vergewe nie.

Sy het daarmee darem die ander junior sjefs se respek gewen. Niemand waag dit blykbaar om teen Alphonse op te staan nie!

Daar is ‘n nuwe onsigbare eenvormigheid in die kombuis.

Net Andrea ignoreer Snoekie openlik. Dis asof sy regdeur die Vrystatertjie kyk as sy opdragte na Juan deurblaf.

Een minuut na agt die oggend kom plak Alphonse ‘n reuse sak uie voor Snoekie neer.

“Ons maak ’n honderd uieterte vir ‘n banket. Juan, sorg dat Suzanne nie ‘n gemors daarvan maak nie.”

Dis al wat hy sê. Dan stap hy weg.

“Snoekie. My naam is Snoekie, Sjef. Nie Suzanne nie. En moenie worrie nie, ek sal jou nie teleurstel nie!”

Sy kan haar moedswillige streep nie help nie.

“Gmpf,” knor hy in die wegstap.

Hy het nogal ‘n sexy swing in sy stap, dink Snoekie, maar dan ruk sy haar hormone in toom.

Sy gaan sit die sak uie in die yskas om ‘n halfuur te verkoel.

Dan traan mens se oë nie, het haar ouma haar geleer.

Juan lyk bekommerd. “Jong, jy gaan nie genoeg tyd hê om die uie te sny as jy ‘n halfuur mors nie!”

Maar Snoekie gaan rustig aan asof sy geen sorge het nie.

Juan is bekommerd. “Min jong sjefs oorleef Alphonse se uie-toets. Jy beter ligloop.”

Na ‘n halfuur begin Snoekie vervaard uie sny. Franse uie is skynbaar bestand teen koue en gou loop die trane by haar wange af. Snoekie snuif en kou aan ‘n stuk brood, maar die trane loop. Sy kyk na die horlosie. Haar tyd raak min. Daar is nie tyd vir neus-afvee nie. Sy neem twee stukkies toiletpapier en stop dit in haar neusgate. Sy gee nie om hoe sy lyk nie. Sy gaan Alphonse se uie in tyd klaar hê.

Juan lag. “Jy is ‘n vreemde wese, Sjnoek.”

Sy hou nogal van hoe hy haar naam uitspreek. Dié Fransman laat haar aan ‘n beker dik, warm sjokolade op ‘n wintersaand dink. Hy is koesterend en lief.

Hy buig vinnig oor na haar kant en fluister.

“Sny dit dikker. Alphonse hou van dikker ringe.”

Sy sny dat dit bars. Sekuur en sonder ophou. Op die kop elfuur kom staan Alphonse agter haar. Sy draai trots om.

“Klaar, Sjef.”

Hy kyk geskok na die twee stukke toiletpapier wat by haar neusgate uitpeul. Sy besef dit, en pluk dit blitsig uit.

“Jammer, Sjef!”

Hy neem die punt van sy mes en krap krities in die bak uieringe rond.

“Hmm. Effens te dik. Was jou hande en kap hierdie sak uie ook op. Ek wil dit in fyn blokkies hê!”

Sy kyk hom effe tranerig agterna. Nogal netjiese boudjies vir so ‘n maer man. Dan druk sy nog twee stukke toiletpapier in haar neusgate en begin kap. Later voel dit haar of die trane by haar ore uitloop, maar sy kap!

So halfpad deur die proses, stop Andrea haar ‘n bondel salotte in die hand.

“Kap dit ook op, en gee vir Juan!”

Die horlosie wys daar gaan nie genoeg tyd wees om Alphonse én Andrea se opdragte uit te voer nie. Sy kyk hulpeloos na Juan. Hy rol sy oë in Andrea se koers en fluister deur sy tande. “Onthou, daar is net een hoofsjef.”

Dis die antwoord wat Snoekie wil hê.

Sy sorg eers dat sy Alphonse se opdrag uitvoer, en met die tien minute wat sy oor het, pak sy Andrea se salotte.

Op spertyd, kom staan Alphonse langs haar. Hy ruik na vanielje en kaneel, dink sy.

“En dié?”

Hy ruk die bak salotte nader. Snoekie kan aan sy lyftaal sien hier is nou moeilikheid.

Andrea staan nader.

“Ek het gesien sy jaag haar werk af, toe gee ek haar iets om haar besig te hou, Sjef. Ek weet jy hou nie van juniors wat ledig rond staan nie.”

Snoekie stoom.

Sy wil nie op haar tweede dag ‘n vyand maak nie. Andrea is ‘n senior sjef en sy kan die lewe vir mens moeilik maak.

“In my kombuis, kies ons nie kortpaaie nie. Ek duld dit nie, Suzanne! En haal daardie belaglike stukke toiletpapier uit jou neusgate. Jy is nie ‘n nar nie!”

Sjef Snoekie Hoofstuk 5: Tranedal

Hy plak ‘n stuk papier voor haar neer.

“Hier is ons ui-tertresep. Wys my wat jy daarmee kan doen, en moenie weer my kombuis besmet met jou eie brousels nie. Die geure wat gisteraand uit jou woonstel gekom het, verraai dat jy nié jou gemors verbrand het, soos ek gevra het nie! Ek gee nie om of jy ‘n Du Monde-nasaat is nie, as jy dit weer waag om enige gemors uit Suid-Afrika in my kombuis in te bring, is jy op die eerste vlug terug na die boendoes. Verstaan jy!”

Snoekie waag dit nie om in Juan se rigting te kyk nie.

Sy wil hom nie betrek nie, maar Alphonse is skaars weg, of hy fluister weer deur sy tande.

“Arme jy. Toe kry jy die woonstel langs Alphonse!”

Dis asof Snoekie se ellende nie ophou nie.

Dan is Alphonse haar buurman! Dit verduidelik die swaar rockmusiek wat sy gisteraand probeer ignoreer het toe sy kos gemaak het. Sy het huis toe verlang, en toe maak sy kerrie-eiers. Haar pa se gunsteling.

Sy lees die resep deur en werskaf in stille protes langs Andrea. Sy gaan die vroumens nie die satisfaksie gee deur te wys sy is woedend nie. Sy gaan haal al die bestanddele en pak dit voor haar uit.

Vervelige resep, dink sy wrewelrig.

Geoefende vingers vryf die botter in die meel. Sy volg Alphonse se stappe presies, maar voor sy die kors in die tertpan vasdruk, neem ‘n weerbarstige gier van haar besit. Sy voeg ‘n eetlepel gerasperde parmesaan-kaas en ‘n draaitjie swartpeper by. Dan begin sy rustig aan die vulsel werk.

Goudbruin en perfek trek sy die tert uit die oond, net betyds vir Alphonse en sy toetslepel.

Sy merk op dat daar tog fyn plooitjies langs sy slape is. Die man kan dus lag?

Sy bulder onderbreek haar gedagtes.

“Genade, maar jy is ‘n hardkoppige vroumens! Wat het jy met die kors aangevang!”

Snoekie stoot die parmesaan en peper oor die toonbank sodat hy die bewysstukke van haar misdaad kan sien. Sy probeer so nonchalant moontlik lyk terwyl die lang donker man oor haar kroontjie na die res van die kombuis bulder.

“Ek wil julle net voorstel aan julle nuwe Hoofsjef, Suzanne Roux. Sy meen mos sy weet meer as ek en kan aan my resepte verander soos sy wil!”

Sy woorde word in ‘n vreesbevange stilte ontvang.

Niemand waag dit om in Snoekie se rigting te kyk nie.

Net Andrea gee haar ‘n lekkerkry-glimlaggie.

Hierdie keer het sy dit dalk te ver geneem, weet sy en verwens die halstarrige streep in haar om altyd haar eie stempel op ‘n resep af te dwing.

Sy het skaars haar werkstasie opgeruim voor huistoegaantyd, of Alphonse kom smyt ‘n voorraadlys voor haar neer.

“Die vleis-yskas. Maak ‘n opname van die voorraad voor jy huis toe kan gaan. En sorg dat jy nie weer verbrou nie. Ek kan nie drie foute op een dag van ‘n intern hanteer nie!”

Dis elfuur die aand. Die kombuis raak stil en van die sjefs gaan huis toe. Die yskas is ysig, maar Snoekie kners op haar tande. Sy sal nie weer verbrou nie.

Sy staan tussen die rye karkasse aan die hake. Beesboude, varke, rye eende en fisante. Sy werk onverpoosd. Al die getalle klop, maar iets pla haar. Haar oog vang ‘n varkkarkas wat vir haar besonder klein lyk vir sy gewig. Na jare op haar pa se plaas weet sy al hoe ‘n karkas van 50 kg moet lyk en dié een lyk te lig. Sy bekyk die karkas langs hom. Dié een lyk ook te lig. Dié een langs hom ook! Iets is nie pluis nie! Die karkasse is beslis ligter as wat die voorraadlys aandui!

Sy onderstreep die gewigte waaroor sy twyfel en stap na Alphonse se kantoor. Andrea sit by hom. Hulle het elkeen ‘n glas wyn in die hand. Andrea kyk geïrrireerd op, en Alphonse glimlag snedig.

“En toe, Hoofsjef, is jy klaar met die voorraad?”

Sy ignoreer die smaal.

“Hier is fout met die voorraad. Baie van die karkasse lyk te lig vir die gewig wat die lys aandui. Ons sal dit self moet weeg. Ek dink die slagpale het ‘n fout gemaak.”

Die keer is dit Andrea wat ontplof.

“Luister hier, ek weet nie hoe julle dinge in Suid-Afrika doen nie, maar hier in Frankryk ken juniors hul plek. Ek is persoonlik verantwoordelik vir die bestelling van die vleis en ek gaan nie dat jy my kom vertel hoe om my werk te doen nie!”

Andrea gluur na Snoekie en stap woedend by die kantoor uit.

“Sjef, ek dink tog ons moet die vleis weer weeg. Ek ken vleis en ek dink daar is fout,” probeer Snoekie die haar saak staaf.

Alphonse gryp die lys uit haar hande.

“Ek dink dis tyd dat jy huis toe gaan. Jy het genoeg moeilikheid vir een dag veroorsaak! Ek wil jou stiptelik sewe-uur more-oggend by jou werkstasie sien! En, ek wil nie weer daardie onaardse geure uit jou woonstel ruik nie!”

In die woonstel maak Snoekie ‘n blik chakalaka oop. Haar hart is seer en sy verlang na haar land. Sy maak dit warm en eet dit saam met hompe brood. Happies Suid-Afrika troos haar.

Sy grawe in haar trommel na die onthou-CD wat haar pa vir haar ingepak het. Leon Schuster se ‘Hie’ kom die Bokke’, Kurt Darren se ‘Kaptein, Span die seile’ en Dozi se ‘Ryperd’ probeer hard om die heavy rockmusiek vanuit die woonstel langsaan te verbloem.

Saam met die geure van die chakalaka neem die klanke Snoekie terug na ‘n plek waar mense vir haar lief is.

Sy huil ‘n uilose huil.

Dan hamer iemand aan die deur.

Sy weet wie.

“Sit daardie vieslike musiek af!”

“Sit joune sagter, dan draai ek myne sagter,” snik sy.

“Wat de hel ruik so! Het jy nie ore nie?”

Sy hou snikkend ‘n stuk brood met chakalaka na die man.

Hy hap … kou … hap weer.

Sy wys woordeloos die blikkie.

Haar neus loop.

Die trane loop.

Hy gaan haal ‘n stuk toiletpapier en rol twee neusproppe.

‘n Groot hand vou oor die agterkant van haar lank krulhare, wat nou los oor haar dun slaaptoppie hang. Hy druk die papier-rolletjies saggies in haar neus en vee haar trane met sy mou af.

“Gaan bad en gaan slaap. Ek wil jou sewe-uur by die werk sien.”

Sy kan nie glo sy stem kan so sag en vriendelik wees nie.

Hy neem dit oorblywende sny brood met chakalaka en stap uit.

Na ‘n ruk hoor sy die rockmusiek langsaan word stil.

Kook saam

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.