Deur Margaret Gardiner
’n Mens kan Charlotte Gainsbourg as ’n ikoon van musiek, rolprent en televisie beskryf, maar sy is eintlik soveel meer as dit. As jy nie weet wie sy is nie, kan dit help as ek vir jou sê sy is in Frankryk so beroemd as wat Brigette Bardot daar was, of sy is so bekend as Gwyneth Paltrow, maar net cooler en hipper. Sy het ook ’n droë skerpsinnigheid … O, en as jy van mode hou, het jy sekerlik al van die bekende Hermes Birkin-handsak gehoor? Charlotte se ma was Jane Birkin. Jane was ’n aktrise, sangeres en ontwerper wat met ’n reeks invloedryke mans getroud en/of uitgegaan het, soos John Barry, die Engelse komponis wat Oscars gewen het vir Born Free en The Lion in Winter; die regisseur Jacques Doillon; en natuurlik Charlotte se pa, Serge Gainsbourg.
Serge Gainsbourg was ’n bekende Franse popster en word gesien as een van die wêreld se invloedrykste popmusici. Toe Charlotte so 12 of 13 was, het hulle saam ’n musiekvideo gemaak wat “Lemon Incest” genoem is. Dit was ’n baie omstrede liedjie en video. Kritici het gesê dat daar bloedskande-ondertone was, maar Charlotte het dit nog altyd ontken en daarop aangedring dat die liedjie eintlik oor vaderlike liefde gaan.
Dit is dus g’n wonder dat sy nie graag onderhoude toestaan nie. Dit was dus ’n behoorlike scoop om haar drie keer onlangs te sien. Dit was onder meer oor haar rol in Étoile (wat ster beteken). Dit is die jongste TV-reeks deur Amy en Daniel Palladino, die skeppers van Marvelous Mrs Maisle met sterre Luke Kirby, Charlotte Gainsbourg en Lou de Laâge.

Foto: Monica Schipper/Getty Images
Die Prime-reeks speel in die wêreld van ballet met ongelooflike dansnommers af. Étoile fokus op wat agter die skerms van ’n balletgeselskap gebeur. Dit ondersoek die belangrikheid van finansiële beskermhere, die hantering van die buierige balletsterre, die moeite wat dit vat om ’n gehoor te lok en die choreografie lewendig en vars te hou sonder om die kerngehoor te vervreem.
As ’n foefie doen die Paryse en New Yorkse balletgeselskappe ’n oorskakeling van ster en choreograaf na hoë risiko’s en ’n twyfelagtige uitkomste. Charlotte is die artistieke direkteur van Le Ballet National in Parys. Ons sien hoe sy die geselskap, beleggers, direksie en talent hanteer. In die komedie/drama, word baie humor ontgin uit die oënskynlike kalmte wat die fasade van karakters en gebeure teen ’n agtergrond van buierigheid, onsekerheid en chaos skep. Daar is ’n pragtige toneel waar Charlotte, alleen in ’n massiewe houtdanssaal, haar skoene uitskop en spontaan dans. Dis bonatuurlik, ’n oomblik van uitbundige vrylating.
Sy was ook by die Cannes-rolprentfees om The Phoenician, die jongste eienaardige plesier van ’n fliek, deur genre-regisseur Wes Anderson, te bemark. Die groot maatskappy Kering het ’n jaarlikse onderhoudreeks met topvroue voor en agter die kamera en Charlotte het musiekvideo’s en ’n dokumentêr oor haar ma, Jane by Charlotte daarvoor geregisseer. Sy was een van vanjaar se gevierde vroue, saam met Nicole Kidman en Dakota Johnson.
Die eerste ding wat jy van haar opmerk, is haar styl. Sy is bekend vir haar sjiek kort rompe wat haar ongelooflike bene afwys – dis ’n kenmerkende voorkoms, maar sy is ook bekend vir potloodrompe en super noupassende jeans – gewoonlik in swart. Dis die silhoeët, wat met vloeiende, oorgroot baadjies gepas word. Toe ons mekaar by ’n paneel vir Étoile in Los Angeles ontmoet het, het haar deurmekaar haarsnit haar sterk kakebeen omraam. Haar grimering was minimaal. Potlood-omlynde oë en ’n sweempie kleur wat nie daar op haar lippe was nie. “Styl gaan oor silhoeët,” sê sy met ’n sagte Franse aksent. “Balans en vloei. Die een moenie die ander oorweldig nie.”

Foto: Vittorio Zunino Celotto/Getty Images
Sy erken dat sy skaam is en verkies om nie onderhoude te gee nie, want: “Ek was nog altyd my ouers se dogter. Ek dink dis hoekom my ma my ’n bietjie gedruk het. My pa het daardie liedjie ‘Lemon Incest’ saam met my gedoen. Sy het gedink dit sou ’n goeie idee wees as ek iets anders op my eie gehad het. Ek het toe my eerste fliek gedoen en dit het my ’n bietjie meer moed gegee toe ek erken en raakgesien is.
“Ek was mal daaroor om voor ’n kamera met ’n span te wees, maar terselfdertyd was al die publisiteit nie vir my nie. Op 12 of 13 het ek nie verstaan hoekom ek vrae moes beantwoord nie, en hoekom ek afgeneem moes word nie. Ek was die teenoorgestelde van my pa. Op ’n manier was dit selfvertroue, want ek wou myself nie verkoop nie; ek wou nie vrae oor my ouers beantwoord nie. Ek was baie koppig. Ek het myself nie in enigiets gedwing nie, want ek hoef nie. Ek het daardie flieks net vir die pret gedoen, maar toe het ek besluit om regtig ’n aktrise te wees en voltyds rolprente te doen, en ek het gesukkel om myself te verkoop.
“Ek kon nie uitgaan en probeer om rolle te vind nie, en het steeds gewag vir mense om na my toe te kom.”
Dit het met Lars von Trier verander. “Ek wou regtig in 21 grams gespeel het. Ek het hard gewerk om die rol daarin te kry en dit het my trots gemaak. As jy iets kry net omdat iemand jou wil hê, moet jy wag dat hulle jou valideer. Dit laat jou nie glo jy kan dit doen nie. As jy vir iets veg, voel jy jy besit dit.”
Dis ’n groot bekentenis van iemand wat as gevolg van bekende familie dadelik bekend was.
“Ek twyfel baie in myself. Ek wil nie my flieks sien nie. Die plesier is om toneel te speel, myself te vergeet, en in die karakter te delf. Dis pret. Dis nie beskeidenheid nie. Ek sien al die foute en ek sien alles wat ek beter kon gedoen het. So ek is mal oor komedies, want hulle druk my nog verder.
“Dis hoekom ek van Étoile hou. Die karakter is kalm, maar binne nie regtig nie. Ek is heeltemal die teenoorgestelde. Mense dink ek is broos en delikaat, maar ek is eintlik baie sterk. My karakter lyk sterk, maar eintlik is sy heeltemal weerloos en broos.” Vir The Phoenician moes sy twee dae lank ’n kostuum aangetrek het en in ’n wêreld laat val word, wat geen sin maak nie. “Ek is by God geplaas, wat deur Bill Murray gespeel is, en wat met sy wolke gespeel het,” vertel sy geamuseerd.
Charlotte vertel wel dat dit vir haar genesend was om aan Étoile te werk. Die pragtige suite van die Majestic Hotel met sy groot geboë vensters kyk oor die Middellandse See uit, terwyl dit in die sonlig skitter. Charlotte verduidelik voorts: “Ek het die tragedie van my ma se dood deurgemaak. Toe ek vir Étoile gekies is, was sy siek. Ek het haar verloor, en toe het on mets Étoile begin, en my lewe was regtig baie swaar. Sy het altyd gesê jy is bedoel vir komedie. En daar was ek. Om in ’n komedie te kan wees… jy het pret, dis werklik ’n kans!” Dit is iets wat haar ma gelukkig sou gemaak het.
Volg Margaret op Youtube, Facebook, Twitter en Instagram!
Lees ook: La Dolce Vita roep: Stanley Tucci oor sy nuwe Nat Geo-reisreeks