kategorieë: Bekendes

Sharon Stone: Slim & sexy

Sharon Stone loop soos ‘n tipiese hitman in flieks, die skouers effe krom, ken ingetrek, dieselfde lang tree. Sy is ‘n vrou wat haar hart en siel vir ‘n saak sal gee, maar sy trek aan om te verlei. Sy dra ‘n styfpassende Ferragamo-rok met ‘n suggestiewe goue ritsluiter vir ons onderhoud. Die ritsluiter is toe getrek tot ‘n paar sentimeters bo haar knie. Op 55 is sy nog die ene lang bene. Sexy. Goed versorg. Sy het ouer geword sonder om haar aan die mes of spuitnaald oor te gee. En sonder om haar aantrekkingskrag te verloor. Jy kan die energie rondom haar hoor gons. Sy het in ‘n sekssimbool ontpop met Basic Instinct en het daarna ‘n Oscar-nominasie gekry en ‘n Golden Globe gewen vir haar rol in Casino. In Lovelace, teenoor Amanda Seyfried, is sy byna onherkenbaar as die porno-ster Linda Lovelace se ma.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Jou karakter in Lovelace is baie anders as jy. Jy is ’n ouer. Hoe het dit gevoel om jou dogter in die fliek terug te stuur na ’n man wat haar mishandel?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

In daardie tydperk was ouerskap en kommunikasie heelwat anders as vandag. Dit was nie vir my geslag vreemd dat jou pa jou met ’n pak slae gedreig het nie – wanneer my pa sy gordel afgehaal het, het ons geweet ons beter maak soos hy sê. Niemand het ons ooit in die hoek laat sit nie. Of gedreig om jou iPad terug te vat as jy weer laat by die huis kom nie (lag). Almal het elke aand saam om die tafel gesit en eet. Met mekaar gepraat. Jou ouers het jou kêrel voor die tyd ontmoet en deurgekyk. Doen mense dit nog? Ons het nie meer respek vir die ouer garde nie. Gemeenskappe wat nie na hul ouer mense omsien nie, steek my dwars in die krop.

Het jy ooit Deep Throat gesien (die pornografiese fliek waarvoor Linda Lovelace in 1972 bekend geword het)?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Nee, ek kyk glad nie na pornografiese flieks nie. Ek stel nie daarin belang nie. Ek dink daar moet beter beheer oor pornografie op die internet wees. Dis te vrylik beskikbaar vir jong mense. As ouer is dit vir my kommerwekkend dat jy dit nie makliker kan blokkeer nie.

Mense sal verbaas wees om dit te hoor, veral omdat jou rol in Basic Instinct jou met ’n verleidster-etiket opgesaal het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Ek stel nie in pornografie belang nie, maar dit beteken nie ek is preuts nie. Dis net nie my soort ding nie. Ek verstaan dat sommige mense anders daaroor voel. Ek dink ook nie dis reg dat kinders daarna kyk nie. Voor Basic Instinct het ek nooit aan myself as begeerlik gedink nie. Ek was geskok toe ek myself die eerste keer op die skerm sien. Ek het toe eers besef dat ek ook so kan lyk, selfs wanneer ek nie in ’n fliek is nie. Dis iets wat ek moes aanleer. Ek was die slim meisie voor ek die sexy meisie was. Ek onthou nog die kere toe ek afgekeur is omdat ek nie mooi genoeg vir ’n rol was nie. En ná Basic Instinct het ek nie weer die kans kry om ’n gewone meisie te speel nie … Noudat ek ouer is, hoef ek gelukkig nie meer heeltyd dié soort ding te doen nie. Dit raak vervelig. En die sexy rolle het al hoe moeiliker begin word. Dis wonderlik dat mense dink jy is sexy wanneer jy in jou vyftigs is, maar terselfdertyd wil jy nie meer jou klere voor die kamera uittrek nie. Dit was ’n verligting om ’n keer ’n ouer karakter in Lovelace te speel.

Watter soort ma is jy?

Ek is baie streng. Ek verwag dat my kinders elke aand saam met ons om die tafel eet. Hulle moet hul huiswerk klaarmaak voor hulle enigiets anders mag doen. Hulle gebruik geen dwelms of alkohol nie – nie eens gewone medisyne nie. Alles is natuurlik en gesond. Hulle sê soggens by die skool die Pledge of Allegiance vir die Amerikaanse vlag en ’n gebed op. Die skool fokus op integriteit, dissipline, verantwoordelikheid en selfrespek. Die kinders leer om voor ander mense op te tree en te praat. Hulle bring baie tyd in die buitelug deur en word nie onder elektronika begrawe nie. Die ouers is baie betrokke by die skool. Ek wil hê my kinders moet onskuldig en heilsaam grootword. Dis belangrik.

Wat het jou kinders jou geleer?

’n Mens kan baie oor die lewe leer deur kinders dop te hou. Jy leer hoe om ’n beter mens te wees. Jy leer wat is werklik belangrik en wat nie.

Ek hoor jy het ’n ouma en oupa aangeneem?

Ek het ’n paartjie, Eileen en Neil Mitzan, deur ’n vriend van my ontmoet. Hulle is betrokke by die projek Concerned Parents for Aids Research. Hulle het twee aangenome dogters gehad – die een is in ’n motorongeluk dood en die ander een aan MIV/vigs. Eileen moes in die senaat praat toe Bill Clinton nog die president was. Ek het haar aangeraai om uit die hoek van ’n ouer met hom te praat. Sy dogter was in daardie stadium op pad universiteit toe. Praat met hom oor die gevare van vigs waaraan sy dogter blootgestel kan word en hoe pynlik dit is om ’n dogter te verloor, was my raad. Ons het diep gesprekke gevoer en mekaar liefgekry. My grootouers is al lankal dood. My pa het sy pa verloor toe hy vier jaar oud was, en my ouma is dood toe ek nog ’n dogtertjie was. Ek het vir Eileen en Neil gevra of hulle my grootouers sal wees.
“Bedoel jy ’n ouma en oupa vir jou kinders?” het hulle gevra. “Nee, myne,” was my antwoord. “Maar wat moet ons doen?” “Julle moet my bel, vir my geld op my verjaardag stuur en al die familie-geleenthede bywoon,” het ek beduie (lag).
Sy bel my elke Saterdagoggend tienuur. Ek kry elke jaar saam met my verjaardagkaartjie ’n bedrag geld wat met my ouderdom ooreenstem. Ons is baie na aan mekaar. Hulle het later ook ’n band met my ouers gesmee en hulle en my sibbe het mekaar ook aangeneem.

Wat beteken geloof vir jou?

Geloof is ’n groot deel van my lewe. Ek is ’n Boeddhis, dit hou my voete op die grond en die dissipline werk vir my.

Ek hoor jy hou van drukkies?

Ons begin elke dag met oggenddrukkies. My drie seuns spring gewoonlik eerste uit die bed. Hulle het geweet daar lê vir my ’n belangrike dag voor en het vanoggend vir my hartjiepannekoeke vir ontbyt gebring wat ons het almal in die bed gesit en eet het. Wanneer klein kindertjies bedagsaam is, voel jy asof jy as ouer iets reg doen. Dit was ’n heerlike oggend.

Wat beteken geluk op hierdie ouderdom vir jou?

Ek weet nou dat geluk ’n dissipline is. Dis iets wat jy elke dag moet kies. Dis soos om oefeninge te doen. Wanneer jy van die wa afval, moet jy die dissipline hê om weer op te klim. Jy moet jouself afvra: Is dit iets wat my gelukkig of ongelukkig maak? En so moet jy begin om die negatiewe goed uit jou lewe uit te sny. Dit lyk dalk na goedheid of liefde, maar maak dit my gelukkig? Die Dalai Lama het ’n wonderlike boek geskryf: The Art of Happiness. Hy beskryf plesier as iets wat jy nou ervaar. Geluk is iets wat voortduur. Ons moet sterk genoeg wees om nie net die plesier te kies nie, maar ware geluk wat volhoubaar is. Vir my beteken volwassenheid die vermoë om die goed te kies wat geluk bring en aan te hou om daardie keuses te maak.

Jy lyk amper onherkenbaar in Lovelace. Hoe het jy dit reggekry?

In die beginjare moes ek leer hoe om mooi op film te lyk. Dit was nie iets wat gemaklik gekom het nie. Ek was op 15 reeds op universiteit. Ek het soggens uit die bed geklim, my dik bril opgesit en klas toe gegaan. Selfs toe ek met modelwerk begin het, was ek nog nie gemaklik met myself nie – ek was effens groter as die gewone modelle. En toe ek in die rolprentwêreld beland, moes die karakter interessant wees, kompleks, moeilik, selfs vreemd, anders het ek nie die rol aanvaar nie. Ek sou dit beslis nie gedoen het net omdat sy mooi klere gaan dra nie. Voor ons aan Lovelace begin skiet het, het ek nie eens gewonder hoe my karakter, Linda Lovelace se ma, in die fliek gaan lyk nie. Ek moes prostetiese tande en ’n vet lyf dra. Aan die einde het ons besluit om meer op haar psige te fokus, op haar allesoorheersende moegheid. Sy het gewerk vandat sy 14 was. Sy was lewensmoeg.

Vroue sê gereeld hulle is te besig en het nie meer tyd vir hulself nie. Voel jy ook so?

Ek dink nie dit is net vroue wat so voel nie. Maar vandat vroue begin werk het, het mans dalk meer tyd vir hulself. Wanneer werk gedeel word, is daar balans. Die hele gesin kan saamwerk om alles gedoen te kry. Ons hoef nie die beste te wees in alles wat ons moet doen nie … Dalk net goed genoeg?

Hoe voel jy oor ouer word?

Ek was nog nooit die soort mens wat oor my ouderdom gejok het nie. Ek het nog altyd gedink dis ’n simpel ding om te doen. Ouderdom is iets wat gebeur. Dis logies. Maar ons leef langer. Die middeljare is nie meer wat dit was nie. Nou maak ons gereed vir die tweede deel van ons lewe. Ons moet leer om beter na onsself om te sien. Beter daarvoor te beplan. Wat gaan ons doen? Waar gaan ons bly? Beplan jy om nog saam met dieselfde maat te wees? Voorheen het mense bymekaar gebly omdat dit die norm was. Jy het afgetree wanneer jy 62 word en op 72 doodgegaan. Dis nie meer vergesog om honderd te word nie. Wat gaan jy met die tweede helfte van jou lewe doen?

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

4 hours Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.