Die top-10-finaliste kom uit vier van die land se provinsies en sluit ’n wye verskeidenheid kulture en persoonlikhede in. En loopbaangewys is hulle ewe uiteenlopend – daar is van ʼn geoktrooieerde rekenmeester tot ’n sielkunde-gegradueerde en selfs ’n dokter en chirurg onder dié indrukwekkende groep vroue.
Die 67ste jaarlikse Mej. Suid-Afrika-kroningsplegtigheid vind vanjaar op 25 Oktober plaas. Die wenner sal gekroon word deur haar voorganger, die beeldskone Mia le Roux.
Vanjaar se skouspel vind plaas by Sun International se Sun Bet Arena by Times Square, Pretoria.
Ontmoet die Mej. Suid-Afrika finaliste:
Bridgette Jones, 28

Van Bridgetown, Athlone, Kaapstad. Sy is ’n lugwaardin en studeer tans bestuur aan die Duitse Internasionale Universiteit van Toegepaste Wetenskappe.
Buyisile Mashile, 28

Van Daveyton, Benoni (woon nou in Boksburg). Sy is ’n mediese dokter en chirurg. Sy het haar eerste mediese graad in Kuba verwerf en in 2022 haar chirurgiegraad aan die Universiteit van die Witwatersrand voltooi.
Ghee-Ann Rademan, 23

Van Kaapstad se Noordelike voorstede. Sy het ’n BA-graad in bedryfsielkunde en is geregistreer as ’n geestesgesondheidskenner. Ghee-Ann het haar eie aanlyn beradingsplatform vir meisies en vroue.
Gizelle Venske, 27

Van Vanderbijlpark, Gauteng (woon nou in Pretoria). Sy is ’n gekwalifiseerde geoktrooieerde rekenmeester en werk tans as ’n besigheidsontwikkelingsbestuurder by ’n internasionale belastingfirma.
Karabo Mareka, 27

Van Alexandra, Gauteng (woon tans in Virginia, VSA). Sy is ’n lugwaardin by United Airlines.
Luyanda Nonhlelo Zuma, 23

Van Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal (woon nou in Waterfall, Johannesburg). Sy is ’n aktrise en model en was ‘n top-10-finalis in Mej. Suid-Afrika 2022. Sy bestuur ook haar eie mediamaatskappy, LeNZ Media, en die Nonhlelo Foundation, wat op jeugontwikkeling fokus.
Lebohang Msimanga, 27

Van Empangeni, KwaZulu-Natal (woon nou in Midrand, Johannesburg). Sy werk as ’n kliëntbestuurder en professionele model.
Nthabiseng Kgasi, 30

Van Soweto, Gauteng (woon nou in Bryanston). Sy is ’n bemarkingsbestuurder en besit ook ’n sosiale media-bestuursmaatskappy.
Qhawekazi Mazaleni, 24

Van Gonubie, Oos-Londen (woon nou in Randburg, Gauteng). Sy het ’n graad in spraak-, taal- en gehoorterapie en is besig met ‘n meestersgraad in spraak- en taalpatologie met ’n fokus op outisme.
Zanele Phakathi, 27

Van Soweto, Gauteng (woon tans in Pretoria). Sy het ’n gevorderde diploma in besigheidsinligtingstegnologie en werk by die Public Investment Corporation. Zanele is ook die stigter van Diamonds Model Academy en die Za Power House Foundation, waar sy jong modelle afrig en gemeenskapsprojekte oor onderwys en jeugbemagtiging bestuur.
KYK | Die top-10-aankondiging
Lees ook: EDEN maak triomfantlike terugkeer ná byna ’n dekade

