Deur Mariette Snyman
Hou kommer oor jou tiener jou snags wakker? Wil jy graag beter verstaan wat jou kind voel en dink? ’n Psigiater gee riglyne oor tienerontwikkeling, normale tienergedrag en wat goeie ouerskap behels.
Dis nie net tieners wat hul oë rol nie. By tye doen hul ouers dit ook – dalk met die versugting dat iemand asseblief tog net ’n handleiding moet saamstel wat hulle kan help om hul kind beter te begryp.
Dr Terri Henderson, ’n Kaapse psigiater wat op adolessente fokus, het aan hierdie versoek voldoen. Haar boek Let’s Talk Teen (Quickfox, 2021) is nou wel nie vir ouers geskryf nie, maar vir tieners sodat hulle kan verstaan wat hulle beleef en positiewe, ingeligte keuses kan maak. Niks keer ouers egter om dié eerlike, toeganklike boek te lees nie. Begrip vir die veranderinge in ’n tiener se brein, liggaam en leefwêreld maak dit makliker om die nodige struktuur te skep en hulle in die vorming van ’n gesonde identiteit te ondersteun.
“Tieners is fassinerend!” sê Terri. “Die energie en kreatiwiteit eie aan dié fase is ongelooflik. Toegegee, ouers het nuwe vaardighede nodig om hul kind deur adolessensie te begelei, maar daar is baie om te geniet en te vier.
“Tienerwees kan in twee woorde opgesom word: massiewe verandering. Adolessensie, die tydperk tussen die aanvang van puberteit en volwassenheid, bring ingrypende biologiese, neurologiese, emosionele en sosiale verandering mee.
“Biologies verander ’n kinderlýf in ’n volwasse liggaam. Puberteit, die fisieke en seksuele volwassenheidsproses, tref nie ’n 12- of 13-jarige uit die bloute nie. Dit behels ’n tydperk van ses of sewe jaar wat by meisies gemiddeld op agt en by seuns op nege begin.
“Sommige kinders ontwikkel fisiek vinniger, wat probleme kan skep omdat grootmense meer volwasse optrede van kinders met ‘volwasse’ liggame verwag. Hul maats wat stadiger ontwikkel, bekommer hulle dalk weer dat hulle agter raak,” sê sy.
Terri vertel dat tienerbreine aanpasbaar is en dit stel hulle in staat om nuwe vaardighede aan te leer. Afgesien van die bou en versterking van neuronnetwerke word ondertreffende verbindtenisse weggesnoei om vir nuwes plek te maak.

Foto: Pexels
Tienerwees kan in twee woorde opgesom word: massiewe verandering
“Breinontwikkeling vind in ’n stadige golf van agter na voor plaas. Die agterkant van die brein is geprogrammeer om op beloning te reageer en verklaar tieners se voorliefde vir nuwe ervarings. Wat ouers dikwels as impulsiwiteit sien, spoor jongmense in werklikheid aan om die brug van hul ouerhuis na die grootmenswêreld oor te steek.
“Die voorkant van die brein, gerig op beplanning, probleemoplossing, prioritisering en ingeligte keuses, ontwikkel heel laaste, gewoonlik net betyds vir tieners se matriekjaar!”
Terri sê wat emosionele en sosiale ontwikkeling betref, ervaar adolessente hul emosies intens. Positiewe en negatiewe gevoelens raak weerskante en tieners leer nog om dit te reguleer.
“Ouers kan gerus gesprekke oor hul kind se emosionele belewenis aanknoop. As kinders se denke oorwegend negatief is of hul emosies hulle oorweldig, kan dit op geestesgesondheidsprobleme dui. Dit moet onmiddellik hanteer word.”
Volgens Terri verskuif tieners se fokus sosiaal van hul gesin na hul ouderdomsgenote – en met rede. Hulle ontwikkel binne hul portuurgroep hul identiteit, verwerk nuwe ervarings en gaan die toekoms tegemoet.
“Gesonde ontwikkeling vind binne ’n gesonde ouderdomsgroep plaas. ’n ‘Goeie’ groep verhoog ’n tiener se kans om dié fase suksesvol te hanteer. Die ‘verkeerde’ groep kan hulle intrek in ’n sfeer wat geen veiligheid of steun verskaf nie en hul lewensreis bemoeilik.”

Foto: Pexels
Is my tiener se gedrag normaal?
Terri noem dis normaal dat tieners obsessief op hul vriende fokus. Dit vorm deel van adolessente ontwikkeling.
“Hulle mag hulle ook in hul kamer terugtrek waar hulle min van die werklikheid probeer maak. Tieners het hul ouers en gesin egter broodnodig. Hulle moet verseker word dat hulle saak maak en sónder moontlik by gesinsaktiwiteite betrek word,” sê sy.
“Dis normaal dat tieners volwassenes se uitkyke, waardes en selfs geloofstelsels bevraagteken en vrae oor die wêreld vra.
“Dis ’n uitdaging, maar ouers kan moeite doen om ’n kalm ruimte te skep waar tieners hul gedagtes kan lug sonder om te voel hulle loop die gevaar van verwerping.”
Sy sê voorts dis normaal dat tieners en hul selfone – die lewenslyn na hul vriende – onafskeidbaar is, maar dié verhouding moet bestuur word.
In Let’s Talk Teen verduidelik Terri vir tieners dat ’n selfoon hulle net so vatbaar vir onvanpaste, gevaarlike en vernederende boodskappe as vir goeie, gawe en liefdevolle boodskappe maak. Hier volg van haar aanbevelings:
- Skrap (delete) enigiemand wat jou aanlyn seermaak of verneder.
- As jy iets wat aanlyn gebeur nie kan bestuur nie, laat iemand wat jy vertrou dit op jou foon hanteer.
- Moet nooit inligting deel met iemand wat jy nog nie ontmoet het nie.
- Moet nooit seks-teks nie – dit kan by enige persoon en op enige sosiale platform beland en word deel van jou permanente digitale voetspoor.
- Sit jou selfoon snags weg; die blou lig en aktiwiteit op ’n aanlyn platform ontwrig jou slaapsiklus.
- In die lig van selfoon- en speletjiesverslawing kan jy jou foon gebruik met élk van die volgende in plek: As jy snags genoeg slaap en nie bedags nie; jy van aangesig tot aangesig met vriende sosialiseer; jy tred hou met jou skoolwerk; jy gereeld ’n vorm van oefening doen; en jy gehaltetyd saam met jou gesin deurbring. As jy heeldag speel, is jy nie meer deel van die wêreld nie. Dit isoleer jou en vergroot jou kans op eensaamheid of depressie, of laat jou dalk voel sosiale kontak is angswekkend.
“Dis normaal dat tieners eksperimenteer; só neem hulle besluite oor sake. Ouers se betrokkenheid is egter uiters belangrik. Sommige adolessente het geen trek vir riskante seksuele gedrag, die uittoets van dwelms, ensovoorts nie, maar ander gryp dit aan.”
In haar boek verskaf Terri riglyne vir hierdie soort vraagstukke. Oor dwelms sê sy onder meer: “Tieners eksperimenteer hiermee weens nuuskierigheid, groepsdruk of om oorweldigende gevoelens te probeer hanteer.
“Dwelms mors met jou brein. Dit beïnvloed die manier waarop jou brein en liggaam funksioneer. Jou hart klop vinniger, jou niere werk nie behoorlik nie, jou spiere versamel giftige neweprodukte en die normale funksionering van neuro-oordragstowwe word versteur. Fisiek is dit geen plesierige ervaring nie. Geestelik is jy in vryval.
“Dis bly nooit by slegs één dwelgrit nie, of hoe? Wat eers ‘hoog’ voel, voel later ‘laag’, en jy verhoog jou inname of neem iets sterkers om weer ‘hoog’ te voel. ’n Bose kringloop ontstaan.
“Ek herinner jou aan jou kosbare brein, wat jou deur die lewe moet sien en aanhou ontwikkel tot jy 24 is. As jy jou stowwe inneem wat chaos in jou brein ontketen, word hierdie ontwikkeling gerem en sal jou volwasse brein nooit behoorlik funksioneer nie. Daarby verhoog dit jou risiko op geestesiektes.
“Op dié pad stap jy al verder weg van ’n goeie toekoms, van die goeie mense in jou lewe en die dinge wat jy op prys stel. Die dwelm word mettertyd jou eerste prioriteit en ander lewenskeuses verskuif na die tweede, derde of laaste posisie.”

Foto: Pexels
Is ek ’n goeie ouer?
“Die volmaakte ouer bestaan nie,” sê Terri. “Ouers moet net ‘goed genoeg’ wees. Dit beteken hulle sien hul tieners werklik raak, stel belang in dit wat hul tiener interesseer, en slaag daarin om liefde by hul kind – en dit te wys.
“Hierdie ouers is bereid om vastigheid te skep deur grense te stel oor sake soos inkomtye. Grense waaroor ouers en tieners ooreengekom het, werk die beste, maar die ouer moet dit konsekwent toepas.
“Neem ’n tiener se versoek om hulp ernstig op, veral as dit met emosionele welsyn te doen het. Tieners wat hulp vra, is dapper. Ondersteun jou kind, wat ook al oor jou pad kom.”
Lees ook: Gee om – dis goed vir jou!
