Genoeg vir 6
Bestanddele
Deeg
- 50 g klapperolie
- 80 ml (⅓ k) water
- 210 g speltmeel
- 2,5 ml (½ t) sout
- hand vol kruie, fyn gekap
Tert
- 250 g kersietamaties
- 4 klein soetrissies, in die lengte deurgesny en ontpit
- 30 ml (2 e) olyfolie
- 2 groot murgpampoene, met ’n groenteskiller in linte gesny
- 250 g ricotta
Hempsaad-en-basiliekruid-pesto
- 2 groot hande vol basiliekruid
- 125 ml (½ k) hempsaad, fyn gemaal
- 2 knoffelhuisies, gekap
- 125 ml (½ k) olyfolie
- 60 g parmesaan, gerasper
Metode
Voorverhit die oond tot 200 °C.
- Pak die kersietamaties en soetrissies op ’n oondpan. Gooi 15 ml olyfolie oor en strooi seesoutvlokkies oor.
- Rooster vir 20-25 min. of tot die tamaties sag is en oopbars.
- Meng die oorblywende olyfolie deur die murgpampoenlinte.
- Verhit ’n riffelpan oor hoë hitte.
- Skroei-rooster die linte vir 2 min. aan elke kant in ’n voorafverhitte, baie warm riffelpan, of tot riffelmerke verskyn.
Deeg
- Bring die klapperolie en water in ’n kastrol tot kookpunt. Trek van die hitte af.
- Meng die speltmeel, sout en kruie in ’n groot mengbak. Voeg die watermengsel by en roer tot ’n deeg vorm.
- Knie tot die deeg heeltemal sag is.
- Rol die deeg tussen 2 lae bakpapier uit tot 1 cm dik.
- Haal die boonste laag bakpapier af en lig die deeg met bakpapier en al op ’n bakplaat. Bak vir 15 min. of tot liggoud en effens bros.
- Pak die groente en ricotta op die halfgaardeeg.
- Bak vir nog 15-20 min. tot goudkleurig.
Basiliekruidpesto
Maak dit terwyl die tert bak.
- Verwerk die basiliekruid, hempsaad en knoffelhuisies in die voedselverwerker tot glad en deurgemeng.
- Hou die masjien aan. Hou die olie ’n entjie bokant die bak en voeg stadig by tot die pesto goed gemeng is.
- Roer die parmesaan by en geur met sout.
- Skep lepels vol van die basiliepesto op die tert net voor jy dit voorsit.
Lees ook: Somerse groenslaai met ’n rokerige pancetta-slaaisous
