kategorieë: Lees

Splinters, hoofstuk 8 LIG

Die blougrys eier het swart spikkels. Sy vou dit versigtig in haar hande toe. Dis yskoud. Die malgas-wyfie het ook nie teruggekom nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Sy onthou hoe die mannetjie dae lank sy gebied afgetree het. ’n Hele ent weg van die duisende ander pronkende mannetjies se geskarrel vir ’n nesplek op die eiland.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Met haar rug teen die muur en haar knieë opgetrek, het sy sit en wag dat hy sy wyfie nes toe bring. Sy maat.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Sy het gelag vir hul hofmakery. Die uitstrek van die nekke, die danspassies en die hoflike buig.

Hulle het lank aan die nes gebou. Met moeite guano, vere en stukke skulpe aangedra.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

’n Mooi paartjie.

Toe kom die mannetjie op ’n dag nie terug nie. Die wyfie het nog ’n paar dae gebly.

Sy maak ’n gaatjie aan elke kant van die eier. Sy blaas. Daar is nie veel binne die eier nie. Dis byna leeg.

Die leë dop lyk mooi in die mandjie op die tafel langs die wieg.

Dit was winter toe hy haar die eerste keer eiland toe gebring het. Die houthuis naby die ligtoring was byna klaar gebou. Hulle het saam mooi skulpe, klippe en stukkies spoelhout aangedra en in die bak op die tafel gepak. Soms het hulle ver ente gaan stap. In die branders gespeel.

Hulle was opgewonde toe die lewe in haar begin groei. Hy het die wieg aanmekaar getimmer van vloerplanke uit sy ouers se vervalle huis aan die oostekant van die eiland. Dit sorgvuldig geskuur en geolie.

Na die derde miskraam het hy ’n bed in sy kantoor in die lighuis ingedra.

Hulle het nooit weer gepraat nie. Hy het haar deel van die voorraad kos op die stoep gelos as hy land toe was. Hy het nooit gesê wanneer hy gaan nie. Sy het net aan die begin gevra of hy haar sal saamneem. Daarna het sy die stilte aanvaar.

Elke oggend vryf sy die eier versigtig af met ’n doek. Op haar staptogte tel sy die malgasse se sagte geel keel-vere op en pak dit om die eier in die mandjie. ’n Knus nes.

Saans sit sy op die stoep en kyk na die ritmiese lig wat die ligtoring oor die eiland gooi. Die stuk  land om die ligtoring en haar huis is die donkerste. Die ligstrale skiet ver oor die eiland en die oop see.

Sy wonder soms wat maak hy so alleen in sy toring. Selfs bedags kom hy selde uit. Saans sien sy sy silhoeët in sy venster. Die wagter van die toring. Die man wat skepe deur donker nagte en storms lei. ’n Erfenis van sy pa, oupa en oupagrootjie. ’n Trots wat hy aan sy seun wou oordra. So het hy haar dikwels vertel. Hy sou hulle seun alles van die lig en donkerte leer. Van die windrigtings en seestrome. Van stormnagte wanneer jou lig skepe deur duisternis navigeer.

Soms stap sy tot by die murasie aan die oostekant. Sy verkyk haar aan die klip-labirint wat sy ma om die huis gepak het. Hy het vertel hoe hy en sy ma in die labirint gespeel het. Hoe sy gereeld die doolhof se paadjies verander het. Sy ma het altyd gelag as hy tussen die klippe verdwaal.

Sy het die klippe weer in rye begin pak. Die paadjies verander en selfs op donker nagte probeer sy om haar weg met ’n skuifelgang te vind. Soms het sy  in die stilte ’n kind en sy ma iewers hoor lag.

Die nagte as die mis in ’n digte kokon om die huis en eiland vou, is haar gunstelinge. Dan stap sy die mis in en voel die klamheid warm om haar lyf.

Maanlignagte stap sy ver ente langs die strand en op haar terugtog onthou sy toe sy spore nog langs hare oor die sand gekronkel het.

As die see spieëlglad die nag in strek, voel dit vir haar of die lighuis se strale haar diepsee in lok. Sy weet ver anderkant die horisonne is daar lewe.

Soms wonder sy of sy ooit die moed sal hê om buite die bereik van die lighuis se strale te beweeg.

Die eiland was haar hawe weg van die onstuimigheid van haar ouerhuis.

Hy het ’n goeie werk, het haar ma gesê.

“Julle is so ’n mooi paartjie.”

Sy het hom leer lief kry. Die lang stil man. Sy het hom weer laat lag soos sy ma hom kon laat lag, het hy vertel. Hy het die swaai by die murasie gaan haal en langs die houthuis opgesit. Hy het haar vertel hoe sy ma hom so hoog kon swaai dat hy aan die wolke kon raak. Sy gaan dit ook doen, het sy belowe. Hulle kind gaan ook aan die wolke vat. So het sy belowe.

Sy pak die eier en sy verenes in ’n groter bak. Elke dag soek sy nog meer sagte dons vir die nes.

Dan klim sy die rots uit. Kruisbeen maak sy haar oë toe en luister hoe die wind en branders gesels.

As die blougroen water skuimend teen die rotse plof, laat die ysige spatsels haar rok aan haar lyf vasklou. Sy strek haar hande na die hemel om die mag van die wind in sy volheid aan haar lyf te voel.

Sy sien hom skielik in die verte oor die strand aangestap kom. Van die oostekant af. Sy maer lyf beur teen die wind. Hy stap na die houthuis. Dit is die eerste keer vandat hy uitgestap het wat hy weer die deur oopmaak.

Sy sit lank en wag voor hy weer uitkom. Hy gaan staan op die stoep en kyk in die rigting van die rots. Hy weet sy is daar. Sy gaan nie terug huis toe nie. Sy wag vir die skemerte. Vir die ritmiese strale van die lighuis wat oor die eiland flits.

Langs die wieg lê die stukke van die gespikkelde eier. Die wind waai die geel donse deur die huis.

Vir oulaas streel sy met haar vingers oor die gladde hout van die wieg. Sy vee met haar hande die stukkies eierdop bymekaar en stap tot by die leë nes. Sy pak die stukkies dop tussen die verweerde splinters been en versteende guano.

Malgasse kies ’n maat vir ’n paar seisoene.

Die paartjie het nooit weer teruggekom nie. Hulle wat so koddig kon hofmaak en dans.

Die mis waai ’n sagte wolk oor die eiland. Dis vanaand moeiliker om teen die rots op te klim. Die strale van die ligtoring is net ’n dowwe flits in die verte. Sy strek haar hande op na die sagtheid van die miswolke. Sy raak met haar vingerpunte daaraan. Ver hoor sy die geswiep van die swaai. Die kind lag.

Op die horison sien sy hoe die maan deur die mis breek. Haar tenger lyf boog deur die lig. Die water is ysig, maar sy voel ’n warm gloed deur haar trek.

Voor haar is die maan. Sy weet sy moet nie land toe swem nie. Daar ver. Daar anderkant die maan. Daar is lewe.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.