Op 16 November vanjaar vier een van Suid-Afrika se gewildste en baanbreker-sepies, ’n volle tien jaar van topgehalte vermaak op die kassie. Wie sou destyds kon raai dat die karakters van hierdie sepie wat so eie Kaaps is, so ongelooflik diep in kykers se harte sou kruip?
Wat van meet af aan uitgestaan het is dat daar nie gehuiwer is om sensitiewe kwessies en talle eerstes met absolute deursigtigheid en eerlikheid te weerspieël nie.
So was Suidooster die eerste Suid-Afrikaanse sepie wat ’n Moslem-troue vir kykers gewys het. Die deernisvolle manier waarop verskeie kulturele gebruike en emosionele kwessies uitgebeeld word, dra daartoe by dat kykers sterk aanklank vind by die inwoners van Ruiterbosch, die denkbeeldige Kaapse voorstad waar Suidooster hom afspeel.
“Jy gaan ver soek vir iemand wat nie van Suidooster weet nie. Selfs Alistair Izobel se aansteeklike temaliedjie laat kykers weeksaande heerlik saamsing. Oor die afgelope 10 jaar het Ruiterbosch se inwoners diep in honderde duisende kykers se harte geklim. Hulle het soos vriende en familie geword – en net soos met vriende en familie word daar soms kliphard geraas, baklei, gehuil en gelag oor Suidooster se storielyne.
“Vandag is karakters soos Mymoena, Bridgette, Rhafiek (oftewel Fiekie), Kaashifa, Nazeem, Wade, Angie, Bennie en Zoë huishoudelike name,” sê Wilmer Müller, publisiteitsbestuurder van Suidooster.
Oor die karakters wat van die eerste dag af deel van Suidooster was, insluitend haarself, sê Portia Joel (Lee-Ann Jacobs): “Suidooster is real, dis outentiek. Die karakters is almal iemand met wie mense op straat hulself kan vereenselwig. Ons kén iemand soos Moena (Jill Levenberg), ons ken iemand soos Mrs. J (Theresa Sedras), ons ken iemand soos Bridgette (Denise Newman). Dit voel soos jou eie familie, jou eie mense”.
Jill Levenberg beaam dit.
“Suidooster is gewild omdat mense hulself in ons stories sien. Hulle huil en lag saam met ons en ons vertel stories wat nie noodwendig maklik is nie, maar wat uitbeeld wat rêrig in die samelewing plaasvind. Daar is ietsie vir almal.”

Dan is daar Denise Newman as die besigheidsvrou wat “hoge Afrikaans” praat terwyl die meeste karakters Kaaps praat.
“Ek dink die kykers hou daarvan want jy leer ook ’n bietjie oor verskillende goed. Ja, ons verskil van mekaar en dit maak ons uniek, maar daar is altyd ’n plek of ’n tyd of ’n kans om bymekaar te kom,” het sy gesê.

Vir Irshaad Ally wat die rol van Rhafiek Samsodien vertolk, lê die sleutel tot Suidooster se gewildheid daarin dat Suid-Afrikaners en ook ons Namibiese bure met die storielyne kan vereenselwig.
“Dis die formule wat werk; dis huis. En ek het Engelssprekendes en Xhosasprekendes gesien wat die sepie kyk en dit geniet. Ruiterbosch is vir ieder en elk.”
Nog een van die akteurs wat van meet af aan haarself in Ruiterbosch bevind het, is Simone Biscombe as Bianca Thuli, die vrou wie se hart 10 keer in 10 jaar aan skerwe gespat het, maar wat eindelik liefde gevind het.
“Daardie eerste episode voel nou nog soos ’n droom, en om tien jaar later te kan terugkyk is ’n seëning. Ek sal nie een oomblik van die afgelope tien jaar vir enigiets ander verruil nie. Met Suidooster word die res van die land blootgestel aan die uniekheid en ook kultuur van Kaapstad en sy mense. Ons het een baie groot inklusiewe familie geskep.”

Dit was veral tydens die Covid-19-pandemie waar Suidooster, in samewerking met die Suidoosterfees, gewys het hoe belangrik hul kykers vir hul is.
Daar is ’n massiewe permanente digitale skerm aan Atlantic Studios se voorkant aangebring en dit is as ’n inryteater ingespan. Dit was ’n rasende sukses. Sedertdien is die sepie en die fees onafskeidbaar en bied Suidooster nou jaarliks die gewilde Suidooster Stormsterk, ’n musiek- en vermaakkonsert, by die Suidoosterfees by Artscape aan.
Atlantic Studios is ook een van die suksesverhale vir die TV- en filmbedryf in die Kaap danksy Suidooster. Dit was voorheen ’n Makro en die gebou het vir ’n paar jaar leeg gestaan voor dit in ateljees begin omskep is. Vandag is dit ’n wêreldklas-ateljeekompleks waar talle internasionale reekse geskiet word.
Suidooster is ook sterk daarop ingestel om jongmense ook op ander terreine te bemagtig met die oog op werksgeleenthede. In samewerking met die SA FILM Academy en Suzuki Suid-Afrika het die Filmgro-bestuurskool by Atlantic Studios in Kaapstad gestalte gekry. Só het amper 150 jongmense in die plaaslike TV- en filmbedryf hul bestuurslisensies gekry.

- Die rymkletser Early B gaan op Vrydagaand 14 November ’n spesiale verskyning in Suidooster se 2453ste episode maak.
- Daar sal ook op Sondagaand 16 November 19:00 op kykNET & kie ’n spesiale Koortjies-episode uitgesaai word waartydens talle Suidooster-sterre met Elwira Standili kuier.
Lees ook: Koortjies: Hier’s waarna kykers kan uitsien in opwindede nuwe seisoen!
Suidooster word Maandae tot Vrydae om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET & kie uitgesaai. Dit is ook op DStv Stream en Showmax beskikbaar.


