Deur Karla Janse van Vuuren
Wanneer ’n mens met Vanes-Mari du Toit gesels, kom die woorde “borrelend” en “bruisend” by jou op. Haar energie vloei deur haar woorde, en al is dit vroeg in die dag, gesels dié voormalige Protea-netbalspeler heerlik. Vanes-Mari is ’n vrou wat lankal besluit het om nie net in één boksie te pas nie. Sy beskryf haarself eerstens as “baie veelsydig” – sy dra die hoed van multi-sport-TV-aanbieder vir Supersport én veldaanbieder van die leefstylprogram Kwêla. Sy is ook ’n sportontleder, bied netbalklinieke aan en tree as ’n motiveringspreker op.
“Mense herken my dikwels van ’n element – sportvrou, aanbieder, spreker. Dis altyd interessant om mense te ontmoet wat my van verskillende milieus af herken.”
Haar veelsydigheid kom al van haar skooljare by die Afrikaans Hoër Meisieskool (Affies) waar sy as die “veelsydigste sportvrou” bekroon is.
“Ek het op skool alles gedoen – van koor sing tot sagtebal speel, so ek giggel altyd as mense my nét as netbalspeler eien. Ek is maar nog net altyd mal oor balsporte, en was nooit bang nie – ek het sommer saam met die seuntjies bal gespeel.”
Vanes-Mari het in ’n enkelouerhuis groot geword en beskryf haar ma Vanessa as “’n ongelooflike sterk vrou wat haar alles vir haar kinders gegee het”. Haar ouma en oupa, David en Marita Graaff, was ook vaste ankers in haar grootwordjare.
Sy het drie jonger broers, Francois, Jochanan en Shmu-El, met wie sy ’n hegte band het. “Ek het ook ’n wonderlike pa, maar ons het eers later in ons lewens ’n verhouding gebou.”
Haar liefde vir sport was reeds vanaf ’n jong ouderdom duidelik, maar haar netballoopbaan het in haar tienerjare momentum gekry.
“Ek het ’n ongelooflike sterk netbalafrigter gehad in Melinda de Bruyn wat my vanaf die ouderdom van 14 in Affies se eerstespan gesit het.”
Vanes-Mari beskryf Melinda as ’n mentor in haar tienerjare, en sy was verpletter toe Melinda in Vanes-Mari se matriekjaar oorlede is.
“Ek het SA’s gehaal, ons het ons droom bereik, en ’n dag daarna is sy in ’n fratsongeluk oorlede. Ek was in daardie stadium kaptein van ons eerste netbalspan, en ons moes sonder ’n afrigter SA’s toe gaan. Ek moes vinnig baie verantwoordelikheid dra en ons het uiteindelik SA’s gewen en dit aan Melinda opgedra. My netballoopbaan is in Melinda se hoop en drome vir my gegrond, en ek eer haar as ’n ma-figuur tydens ’n baie belangrike tyd in my lewe.”
Sy praat met diepe waardering oor al die vroue wat moederrolle in haar lewe vervul het. “Daar is soveel meer ma-figure in my lewe as net my eie ma. My ouma, my hoërskoolafrigters, Melinda de Bruyn en Martie Morey, die Protea-afrigter Elize Kotze, my tannie Almari Lotz, my Tuks- en Gauteng-afrigter Jenny van Dyk – dis sterk vroue wat my gevorm het. Soms is een ma nie genoeg nie; dit verg ’n hele village om ’n sterk vrou groot te maak.”
As student het Vanes-Mari nuwe hoogtes in haar netballoopbaan bereik. “Ek het twee jaar in Bloemfontein studeer, en in my derde jaar het Elize my gehelp om oor te skuif Tukkies toe. Elize is ook ’n groot mentor en ma-figuur in my lewe. In my eerste jaar onder haar afrigting het ek as 20-jarige die Protea-span gehaal.”
Vanes-Mari het in 2011 haar senior debuut vir die Suid-Afrikaanse Proteas gemaak en 38 internasionale wedstryde vir die land gespeel.
Sy het aangehou met haar studies en ná Tukkies het sy haar honneursgraad by Maties behaal. Dit is ook hier waar sy haar eksman ontmoet het. “Ons is in 2021 geskei, en toe het ek teruggetrek Gauteng toe om naby my familie te wees.”
In dié tyd het Vanes-Mari ook op haar eie manier ’n ma-rol vir haar twee jonger halfboeties, Jochanan en Shmu-El, begin vervul. “Hulle het by my in die huis kom bly, en al sal ek myself eerstens as hul sussie beskryf, was dit ’n ongelooflike voorreg om na hulle te kon omsien. Shmu-El het verlede jaar matriek geskryf en is nou ’n eerstejaarstudent by Maties, terwyl Jochanan al in sy derde jaar by Tukkies is. Hulle is twee gedrewe en gemotiveerde jong mans, wat ook so mooi na mekaar kyk.”
Vanes-Mari se 2026 het met groot verandering begin, en haar stem verhelder sommer toe sy vertel hoekom. “Ek het in 2025 vir Frikkie de Villiers, die liefde van my lewe ontmoet. Ek was besig met ’n Supersport-uitsending, en hy was daar in die agtergrond. Toe ek hom raaksien, was dit liefde met die eerste oogopslag. Die snaakse ding is dat hy gesit het toe ek hom die eerste keer sien, en ek was bang hy is te kort vir my!” lag sy.

Gelukkig is Frikkie se 6’7 darem heelwat langer as haar eie 6’2.
“Die verfrissende ding is dat hy glad nie op sosiale media is nie, en nie ’n idee gehad het wie ek is voordat ons ontmoet het nie. Hy het my daardie eerste aand vir my nommer gevra, en ons het dadelik begin gesels. Vir nege maande het ons die liefde-oor-’n-afstand-ding gedoen, en ek voel ons het mekaar só regtig goed leer ken.”
Hulle het in November verloof geraak, en besluit om dadelik met ’n gesin te begin. “Ons weet ons is albei nogal lank in die tand,” lag sy.
“Ek het in 2023 reeds oor IVF begin navorsing doen om dalk op my eie ma te word. Letterlik ’n maand voor my eerste IVF-afspraak, het ek vir Frikkie ontmoet.” Vroeg vanjaar het Vanes-Mari uitgevind sy verwag, maar het ongelukkig ’n vroeë miskraam gehad. “Dit was ’n baie traumatiese ervaring, maar ek het nou baie vrede daaroor. Dit het beslis vir my en Frikkie nog nader aanmekaar gebring.”
Hulle is op 22 Februarie in Johannesburg getroud, waarna sy Kaap toe getrek het. Haar planne vir die onmiddellike toekoms is om ’n lewe in Langebaan saam met Frikkie te bou. “Ek is 37 vanjaar, so om ma te word, is hoog op my wenslysie. Ek voel my drome om ma te word, was beperk deur my egskeiding, en daarom wil ek nie verder tyd mors nie.”
View this post on Instagram
Lees ook: 10 redes waarom jy rooi rose se Augustus-uitgawe móét lees!


