kategorieë: Reis

Verskuif grense

Ek is in ongekaarte gebied, besef ek. Regs van my dreun ’n waterval. Kyk ek af teen die loodregte krans onder my, klou my medeklimmers soos geitjies aan die rotswand. Boontoe is soliede rots. Ons gids, Hans, beduie opgewonde dat ek na regs moet beweeg sodat ek met twee dun kabels oor die waterval kan klouter. Én oor ’n duiselingwekkende afgrond …

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Ons rotsklimmery geskied naby Oetztal in die Stuibenfall-omgewing. In die brosjure word dié gebied as “skilderagtig” beskryf: “Verskeie wandelroetes neem jou na uitkykpunte met ’n panoramiese uitsig oor die prentjiemooi vallei. Hier is ook van die gewildste via ferratas (bergklimplekke) wat ideaal vir gesinne en beginners is. Kinders oor tien sal maklik met ’n ekstra tou regkom … ” (Dalk word Oostenrykse babas met ’n natuurlike aanvoeling vir hoogtes gebore.) Maar die mooi land is immers bekend vir sy sneeubedekte pieke in die winter en die uitstekende ski-oorde in die Tiroolse streek.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

In die somer word dieselfde oorde in ’n paradys vir avonturiers, bergfietsers, klimmers en stappers omskep. Selfs in die somermaande is hier sneeu op die bergpieke. Jy kan met ’n kabelkar na die hoogste punt van die Gaislachkogl sweef en 3 048 m bo seevlak by die Ice-Q-restaurant die Pino 3000-rooiwyn drink wat uit drie wynstreke kom, en op 3 000 m verouder word.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Joernaliste wat die BMW 2-reeks Active Tourer se bekendstelling bygewoon het, kon vooraf uit drie “avonture” kies: Jy kon die bekende Oetztaler-bergskape besoek, ’n kort staproete doen, of saam met een van die wêreld se bekendste rotsklimmers, Stefan Glowacz, gaan rotsklim. Ek het gereken ná twee vlugte en drie uur per motor op baie smal bergpaadjies moet ek meer as skape en ’n wandeling beleef. Die stappery het wel saam met Karolina Kurkova, voormalige Victoria Secret-model en nou handelsmerk-ambassadeur vir BMW, geskied.

Ek het nog nooit berggeklim nie. Kilimandjaro tel nie, want dis eerder ’n uiters uitputtende staptog wat ’n uithouren word teen hoogtesiekte, veranderende weersomstandighede en wie die toenemend vuil toilette kan oorleef. Maar hierdie is beslis bergklim. Regte, egte bergklim met soliede rotswande, toue, karabyne en helms. En na my mening vir seker nie vir kinders nie. Die klimmery geskied wel met ’n “vangnet”, oftewel via ferrata (“ysterpad” in Italiaans). Op ’n via ferrata word ’n ysterkabel teen die rotse gespan en jy haak jou met spesiale toerusting aan die kabel vas sodat jy nie na benede tuimel as jy jou vastrapplek verloor nie. Nou tuimel jy net tot by die naaste vasmaakpunt.Via ferratas is veral in die Eerste Wêreldoorlog in die Italiaanse Dolomiete in die Alpe gebruik om soldate te help om makliker deur die bergagtige gebiede te kan kom. Daar is steeds vele oorblyfsels van houthutte wat moeë soldate ’n oornagplek kon bied.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Dit is dus vir minder ervare rotsklimmers (of heel onervare klimmers, soos ek) moontlik om bergklimroetes aan te durf wat hulle nooit met hul gebrekkige vaardigheid sou kon baasraak nie.

As jy nie bang is vir hoogtes nie, is dit baie opwindend. Jy dra ’n helm en ’n harnas om jou middel en bene wat met twee karabyne aan die kabel vasgeklamp word en wat jy aanskuif namate jy vorder.

Net toe ek breëbors begin voel dat ek van beginner tot ervare klimmer kan vorder, kyk ek af en sien dat my een karabyn los is en dat die ander een glad nie ordentlik deurgehaak is nie. Dít terwyl ons teen ’n negatiewe helling oor ’n rotspunt klouter.

Met ’n hart wat in my ore bons, haak ek die karabyn deur en wonder hoeveel beskerming die plastiekhelm bied as jy soos ’n klip teen die helling afbons. Ná twee uur se klim aan 450 m met ’n hoogte-toename van 300 m voel ons soos gesoute klimmers en neem foto’s saam met Stefan Glowacz wat ook een van BMW se handelsmerk-ambassadeurs is. Nes ek, het BMW ook ongekaarte ge-bied betree met sy nuwe BMW 2-reeks Active Tourer wat in Julie in Oostenryk bekend gestel is.

Die motor sal in Januarie in SA beskikbaar wees. Dis ’n baie belangrike model vir BMW omdat dit die eerste voorwielaangedrewe model is. Dis ook die eerste BMW-model met ’n driesilinderenjin. Agterwielaandrywing was nog altyd deel van BMW se DNS. Dit was veral gerig op verrigting en gee ’n spesifieke dinamika aan ’n voertuig. Dit beteken ook dat die massaverspreiding van die voertuig goed gebalanseer is en ’n goeie ry-ervaring bied. Die nadeel is dat die aandryfstelsel baie kompleks is en heelwat meer ruimte in beslag neem. Voorwielaandrywing is ’n meer doeltreffende aandryfstelsel. Sedert die Mini (voorwielaandrywing) deel van die BMW-stal geword het, het dit meer van ’n opsie geword en die 2-reeks word dan ook op die Mini-onderstel gebou.

INNSBRUCK
Ons groepie SA joernaliste het in die skilderagtige Innsbruck in Oostenryk geland en toe in die 2-reeks Active Tourer gespring. Op pad Oetztal toe het ons verby lieflike mere, unieke dorpies en op smal bergpaadjies gery wat ons oorgenoeg geleentheid gebied het om die Active Tourer te laat werk.

Ons het deur die smal straatjies van ’n fraaie dorpie gevleg en hier groei malvas en petunias amper onwerklik geil op vensterbanke. Alles is so perfek dat jy verwag dat Heidi en Peter enige oomblik

om die hoek kan verskyn. Maar toe ons navigasie ons op ’n dwaalspoor in kringe deur die dorpie laat ry, het die bewoners hul verdraagsaamheid lelik verloor toe ons per ongeluk ’n eenrigtingstraat verkeerd aandurf. Wys jou, padwoede is nie uniek aan Suid-Afrikaners nie! Aanvanklik voel die Oostenrykse bergpaadjies verspot smal as jy skielik aan die “verkeerde” kant van die pad moet ry. Maar as jy eers hieraan gewoond is, en nie in koue sweet uitslaan as die loodregte af grond aan die een kant en die aankomende vragmotor aan die ander kant die bergpas soos ’n enkelspoorlyn laat voel nie, is jy bewus van die baie gladde en weelderige gevoel van die voertuig. BMW se produkbestuurder, Jochen Schmalholz, het verduidelik dat die splinternuwe platform sommer baie vir BMW gaan beteken. Die dwars gemonteerde enjin skep meer ruimte aan die binnekant van ’n voertuig waarvan die buite-afmetings nie so groot is nie.

Hoewel die Active Tourer ontwerp is om ’n veeldoelvoertuig te wees wat eienaars se avontuurlustige leefwyse steun, het Jochen die versekering gegee dat hulle seker gemaak het dat die Tourer steeds soos ’n BMW voel en ry. Daar sal ook later vanjaar ’n model met sewe sitplekke beskikbaar wees.

Dis die eerste “sports activity tourer” vir BMW en hulle hoop om ’n nuwe groep bestuurders te lok. Met die bekendstelling van die eerste generasie 1-reeks was 70% van kopers nuwe kliënte. Hulle hoop om dieselfde met die Active Tourer reg te kry en fokus veral op Europa en China as hul hoofmarkte.

Die voordeel is dat die voertuig ligter is en dus meer ekonomies kan wees. Dis ook ideaal vir eienaars wat nie ’n baie groot voertuig soek nie, maar tog van die hoër sitposisie en ekstra kopruimte hou. Maar wat van buite na ’n meer praktiese vervoerwa lyk, is steeds van binne die luukse koets waarvoor BMW bekend is. Passasiers vlieg sakeklas in die Active Tourer, maar dit beteken dat daar nie ’n reuse-kattebak is nie. Die agtersit-plekke kan vorentoe en agtertoe skuif om passasiers in groot weelde te vervoer en heeltemal platvou om alles en nog wat te akkommodeer. Deur die sitplekke plat te vou, vergroot die ruimte van 468 liter tot 1 510 liter. Tog is dit prakties vir die weeklikse pendel- en skoolroete. Naweke kan jy ’n fietsrak aanhaak of ’n bagasiehouer op die dak sit en meer avontuurlustige aktiwiteite aandurf.

Die Active Tourer is langer as die 1-reeks en hoër as die X1 wat dit ideaal maak vir naweekpret. Hoewel dit nie vierwielaan-gedrewe is nie, gee die hoër grondvrye hoogte jou ’n hupstoot.

Hierdie perdjie gaan jou nie in Chuck Norris verander nie, maar dit gaan jou die vryheid gee om grondpad en veldpaadjies suksesvol te oorwin sonder om met die onderstel op elke middelman vas te haak. Die 2-reeks Active Tourer sal teen einde Januarie 2015 by handelaars in SA wees. Daar word beplan om vier modelle in SA beskikbaar te stel: die 218i, 220i, 225i en die 220-dieselmodel. Beskikbaar in handratkas- en outomatiese modelle.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

5 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

5 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

5 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

5 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

6 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

6 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.