kategorieë: Bekendes

Victor, kaptein van harte

Die jare sewentig was ’n dekade van groot gebeurtenisse. In ‘76 was daar die Soweto-opstande, die koms van televisie en Haas Das, en ’n jaar later, op 11 Mei 1977, is een van ons land se beste rugbyspelers en slotte, die onweerstaanbare Bok en Bul, kaptein, staatmakerman en -pa, Victor Matfield, gebore.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Dié held onder die helde groet ons met ’n glimlag by die swaar voordeur van die Pretorianse huis waar hy en sy vrou, Monja, pas ingetrek het. Die groot houtswaaideure is die perfekte keuse vir dié hemelbesem wat ’n nommervyftienskoen dra, want hiér sal hy sowaar nie sy kop kan stamp nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Victor en Monja is nog besig om nes te skrop in die nuwe huis, maar die allerbelangrike familie- en gesinsfoto’s hang reeds aan die mure.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Dié slot kan dalk groot en sterk wees en op die rugbyveld die opposisie se broeke laat bewe, maar hy is eintlik net ’n goeie ou wat daaraan glo om alle mense goed te behandel en hy wil ’n goeie voorbeeld stel omdat hy gedurig in die openbare oog is. Maar dis sy gesin en die mense na aan hom wat sy hart laat smelt.

“As jy my van die veld af sien saam met my vrou en tweejarige dogtertjie, Jaime, sal jy agterkom hoe maklik dit vir so ’n klein meisietjie is om ’n groot man soos putty in haar hande te laat word. Sy draai my altyd om haar pinkie en is my báie groot soft spot!”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Hy was van kleins af goed in akademie én sport, vertel hy, veral in rugby en krieket wat eintlik sy sterk punt was tot hy sy rug beseer het. Met ’n rugbybeurs is hy toe Tukkies toe om B.Com. Rek. te gaan swot.

“Ek wou graag hard studeer en ’n graad kry, maar in my derde jaar het die rugby te veeleisend geword en ek het besluit om liewer net professioneel rugby te speel.”

Sy pa, Fai (ook Victor), en ma, Hettie, is altyd daar as hy speel. “Hulle het my geleer om nederig te wees en hard te werk. My pa het saam met my geoefen en my ma was ’n wiskunde-onderwyseres en ons twee het weer saam vraestelle uitgewerk.

Hulle is die eerste mense wat my kortvat as my kop dalk ’n bietjie groot raak!” Maar aan die ander kant is hulle ook die mense wat hom aanmoedig en motiveer.

Victor sê as hy ’n slegte wedstryd gespeel het, vra hulle altyd: “Is jy siek, my kind?” Hy lag. “Dan weet ek ek het nie so lekker gespeel nie en hulle probeer dit op ’n sagte manier vir my sê.”

Ouderdom het hom geleer om hom nie te veel aan mediakritiek te steur nie. “Wat wel belangrik is, is die kritiek wat daar in die binnekring gegee word as die span Maandae bymekaarkom. En natuurlik is ek ook maar baie krities op my vertoning.”

Sy tyd saam met Monja en Jaime is baie kosbaar, veral omdat hy so baie weg is. “Ons is groot koffiedrinkers en hou van fliek, maar met die kleintjie is dit ’n bietjie moeilik, nou doen ons dit liewer by die huis.”

Die nuwe huis is baie stylvol en slim ontwerp en ingerig vir lekker gesellige kuiers. Plek-plek sien ek klein, pienk meisietjiegoed rondlê, ’n getuienis van Jaime se spelery waarby sy haar pa glo alte graag betrek – en as daardie groot hart eers week geword het, speel groot Vic maar geduldig en met oorgawe saam.

Die man agter die kaptein

Gunstelingkos: Braaivleis en dan enige kookkos. My vrou se skaapblad is baie lekker.

Gunstelingfliek: Ek hou van romantiese komedies, die jongste een is Leaving Las Vegas.

Gunstelingplek: George – al die gholfbane en die see!

Beskryf jouself in ’n paar woorde: Rustig, oopkop, gesinsman, sportliefhebber.

Wat gee jou ’n kick? Om Fourie du Preez se geld op die gholfbaan te vat!

Wat dink jy van Suid-Afrika? Ons het ’n great land, met probleme, ja, maar ook positiewe goed. Dikwels besef jy eers wat jy het as jy weggaan. Ons was nou lank in Frankryk en ons inkopiesentrums en paaie lyk baie beter en is meer gevorderd. Hier moan mense so maklik, soos toe krag die groot issue was, maar stap ek in Frankryk in ’n gebou in, is die ligte af, want jy moet dit aanskakel en weer afsit as jy loop. In Suid-Afrika werk dit nie so nie. Die ligte brand en baie min mense doen hul deel om te spaar. As ons almal net ’n bietjie positiewer word en harder probeer, kan ons ons land nog beter maak.

As jy een ding kon verander, wat sou dit wees? ’n Werk vir almal in SA.

Wat maak jou woedend? Arrogansie.

En watter opponente krap aan jou? Ag, maar die WP. Dis ’n ou Bulle vs WP-rivalry, deel van die geskiedenis. ’n Ou soos Percy sal vir die Sharks kan speel, maar nooit vir die Bulle nie, en andersom. Maar ek het groot WP-vriende, soos Schalk en Jean.

Wanneer huil jy? Die laaste keer was in ’n movie toe ’n man se dogtertjie vermoor is. As jy ’n pa is, kan jy nie meer sulke movies kyk nie.

Watter waardes is vir jou belangrik? Jy moet so lewe dat mense jou waardes in jou optrede kan sien en nie in jou woorde nie. Jy moet mense behandel soos jy behandel wil word.

Hoekom hou jy van vroue? Hulle is so sag en ondersteunend. Ons mans is net beter mense as ons saam met ons vroue is. O, ja, en hulle is nice om na te kyk.

Beskryf vir my die hedendaagse vrou en man: Die hedendaagse vrou moet haar eie drome hê, maar sy moet steeds daardie moederlike instinkte behou sodat sy altyd daar is vir haar gesin. Voordele? Sy is nie hulpeloos sonder haar man nie. Nadele? Sy het dalk ’n bietjie min tyd vir die gesin. En mans? Almal jaag net meer geld en status na. Hulle werk harder, maar die gesin word al meer afgeskeep.

Wat maak ’n vrou onweerstaanbaar? ’n Sterk karakter, wilskrag, en die vermoë om haar eie drome na te jaag. Maar ook die vermoë om vinnig en onverwags daardie ander, sagte kant wat ons mans partykeer nodig het, na vore te laat kom.

Wanneer is ’n vrou vir jou sexy? Sy moet confident wees. As sy vir haarself sexy is, sal sy dit uitstraal. ’n Goed versorgde vrou is baie sexy.

Wat is jou gunstelingdeel van die vroulike liggaam? Sal in die moeilikheid kom as ek dié een antwoord, maar my vriende sal weet.

Dink jy elke pot het ’n deksel? Ek dink elke pot het meer as een deksel. Geen verhouding is perfek nie en geen man of vrou is perfek nie – ’n verhouding is iets waaraan jy altyd moet werk. As jy saam met jou partner ’n beter mens as voorheen word, weet jy jy het die regte mens gekies.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Hoe gedrukte foto’s jou kind se waarde bevestig

Hoe gedrukte foto’s jou kind se waarde bevestig versorg deur Mariette Snyman. Foto's Pexels “Gedrukte…

16 hours Gelede

Die regte medisyne vir verkoue

JY KAN jou seer keel en koors self dokter én stukke beter voel. Ons wys…

21 hours Gelede

Wynproe en stap: Die nuutste ervaring by Blaauwklippen

Woorde en foto’s: Clifford Roberts Ek wil glo dat, soos ek, elke nuwe staptog met…

2 days Gelede

Ontdek die topervaring waar alles met Club Med ingesluit is

As jy nie die konsep ken nie, stel ons jou graag daaraan bekend: Dis ’n…

2 days Gelede

Ons Moedersdaggeskenkgids: Kreatiewe geskenke wat wys jy gee om

rooi rose intekening Teken in of hernu jou intekening op die gedrukte weergawe vir net…

2 days Gelede

Kristen Raath oor haar snaaksste, en vernederendste, oomblik op die stel van Wyfie

Dié toekennings, wat deur Screen International aangebied word, word op 20 Mei 2024 in Cannes, Frankryk, uitgedeel.…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.