kategorieë: LeesOntspanning

Vlam: Hoofstuk 3

Vlam: Hoofstuk 3 deur Martie Swanepoel. Hooffoto: iStock/MrKornFlakes

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Net na die eerste deadline van die dag kom staan Elsie Geselsie snipperig langs Niekie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Piet wil jou sien.”

Niekie kan aan haar stemtoon hoor dit is nié goeie nuus nie. Elsie weet weer iets wat sy nie behoort te weet nie. Haar oortjies kan soos radars deur die glasafskortings van die kantore hoor.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Niekie sien die moeilikheid sommer op ’n afstand deur die glas van Piet se kantoor. Claudia Parker. Piet se eks, redakteur van Clivia, die grootste vrouetydskrif in die land. Niemand kon nog ooit verklaar hoekom dierbare Piet eens met so ’n smuk-pop getroud was nie. Maar dan kan Niekie ook nie verstaan dat haar pa ooit met haar ma getroud was nie. Die geharde soldaat en die beauty queen. Die nuusman en die glansvrou. Teenpole wat in beide gevalle ’n onafwendbare ramp veroorsaak het.

Claudia is ’n mooi vrou. Maar Niekie het al op ou redaksiefoto’s gesien dat Claudia mooi, maar nie altyd so glamourous was nie. Die stylvolheid het skynbaar gekom toe sy van die koerant na Clivia oorgeskuif het. Nou kan mens skaars glo dat sy ooit in ’n nuuskantoor harde misdaad gedoen het.

Niekie voel die vrou se kritiese oë oor haar T-hemp en Cargo- pants beweeg. By haar flentertekkies steek dit afkeurend vas. Uit ’n wrewelrige eerbied vir die stylvolle vrou haal sy haar pet af. Haar rooi krulle gryp die oomblik van vryheid aan en spring moedswillig in alle windrigtings.

“Ek dink ek sal iets met haar kan doen,” sê Claudia aan Piet asof Niekie geen sê in die saak het nie.

“Môre Claudia,” Niekie voel hoe haar wange van verergtgeit gloei.

“O, ja, môre Nicola.” Net Niekie se ma noem haar “Nicola”, en sy haat dit.

Piet lyk ongemaklik. Hy weet hier voor sy lessenaar sit vet en vuur. Hy kyk verskonend na Niekie en skrikkerig na Claudia.

“Ehum, die direksie het Claudia se hulp ingeroep met jou Cannes-storie. Ehum, Claudia gaan jou help met die klere en vroumensgoed …”

Niekie kan sien Pieta is uit sy diepte. Hy weet nie wat om te sê nie. En dit gebeur nie dikwels nie. Net as Claudia by is.

“Watse klere moet sy my mee help?” Niekie kyk vies na Claudia wat haar steeds deur haar katoog-bril bestudeer.

“Ehum …” Piet sukkel verskonend, maar hy word deur sy eks onderbreek.

“Jy gaan Mediahuis by een van die stylvolste gebeurtenisse ter wêreld verteenwoordig. Jy kan nie so gaan nie.” Sy beduie met haar spitsneus in Niekie se rigting.

Niekie se humeur vat vlam. Sy probeer dit met moeite onderdruk. Claudia het hoge konneksies in Mediahuis. Op die direksie. Konneksies wat sy nie skroom om te gebruik nie. Dit weet almal in die maatskappy. Terwyl Pieta op nuusredakteursvlak gebly het, het sy eks hom verbygesteek op die ambisieleer. Alliepad boontoe.

Niekie weet teen hierdie tyd waar sy haar mond moet hou en waar nie. Hierdie is een van daardie in-toom-bly oomblikke wat sy so haat. Sy wil die importante vrou so graag op haar plek sit. Sy wil vir haar sê dat sy die dierbaarste man op aarde deur haar gemanikuurde naels laat glip het.

Piet kuif ongemaklik rond. Hy weet hier kom nou groot moeilikheid.

Niekie neem ’n paar sekondes om haar lont te probeer blus. Maar ’n stukkie vat tog vlam.

“Jy bedoel ek is nie ordentlik aangetrek nie? Ek is ’n misdaad- en militêre verslaggewer, onthou? Soos jy was. Dis soos ons lyk, of het jy vergeet? Daai Hollywood-vent het mos spesifiek vir ’n militêre joernalis gevra. Dink jy hy verwag iemand met ’n paar Jimmy Choo’s?”

Claudia weet baie goed Niekie ken haar joernalistieke agtergrond. Claudia was op haar dag ook ’n goeie verslaggewer. Sy is trouens steeds ’n goeie joernalis. Sy het Clivia bo al sy opponente laat uitstyg in ’n mark wat ook op internasionale vlak kompeteer.

Claudia voel egter op hierdie oomblik dat sy ’n vrye sê het oor Niekie Branders se voorkoms. Die bal is in haar baan en sy gaan hom met mening moker. Dié klein protégé van Piet irriteer haar al jare.

“Jy kan tog seker nie met daardie klere op ’n rooi tapyt gaan loop nie?”

Niekie kyk stip-vraend na Piet.

“Watter rooi tapyt?”

“Ehum, daar is ’n paar funksietjies wat jy sal moet bywoon.”

Niekie se lont is dadelik weer aan die brand.

“Ek dog ek gaan net om ’n onderhoud met daai wannabe-soldaat te doen.”

Piet probeer die vlamme blus.

“Ja, maar om jou reis die moeite werd te maak vir Mediahuis, moet jy ook ’n paar ander stories doen. Jy weet mos hoe dit werk.”

Die bal is weer op Claudia se terrein.

“Jy gaan vir ons ’n eksklusiewe storie doen oor die modes! Jy sal vooraf moet uitvind wie dra watter ontwerper se klere en dit vanaf die rooi tapyt vir ons twiet. Jy sal op jou voete moet dink. Jy sal die onwerpers se style moet herken en moet weet in watter flieks die celebs speel. Ons het baie werk voor jy gaan. En ja, jy sal self goed moet lyk op die rooi tapyt. Ons het ’n paar plaaslike top-ontwerpers opgeline om ons te help.”

Niekie is nog besig om na haar asem te snak terwyl Claudia die volgende mokerhou slaan.

“Jy is ook bevoorreg om ’n tweede eksklusiewe onderhoud te doen! Ons het dit net gister vasgemaak. Melissa Garbers speel die rol van ’n militêre verslaggewer. Soos jy. Jy sal daarvan hou om met haar te praat. Jy het seker al van haar gehoor? Ek het vir jou ’n bietjie navorsing gebring.” Sy sprei ’n pak glanstydskrifte op Piet se lessenaar uit. Vanaf elkeen se voorblad staar Melissa uit die hoogte na Niekie.

Vonkies spat oor haar lont.

“Ek het darem ook my navorsing gedoen, dankie. Ek weet wie sy is. En nee, ek en sy het niks vir mekaar te sê oor die werk van ’n militêre verslaggewer nie. Ek speel nie ek is een nie. Ek is een.”

Claudia kyk na Piet want sy is duidelik nie lus om met die halstarrige Branders-meisiekind te stry nie.

“Ehum, Vlam, jy weet mos hoe die goed werk. Ons looi mos maar ’n storie hard as ons die kans kry. Jy is buitendien die enigste een wat opgewasse gaan wees teen daardie Duard-akteur. Hy is ’n uiters moeilike man en het glo ’n passie oor oorloë. Hy weet waarvan hy praat en jy sal jou storie moet ken om by hom uit te vind hoe hy regtig oor die bosoorlog voel. Dis ons angle. Ons wil weet wat de hel die Amerikaners beoog met ons oorlog.”

Niekie snork onvroulik.

“O, regtig? Is hy ’n kenner van oorloë? Om van oorloë te lees en om ’n soldaat te wees is twee verskillende dinge. Ons sal maar sien wat weet hy van die grensoorlog. En noudat ek daaroor dink, dit sal eintlik interessant wees om te hoor wat Melissatjie weet van militêre sake. Dis reg, ek sal met die vrou praat. En ek sal my mooiste rokkie aantrek.”

Sy kyk moedswillig na Claudia wat haar katbril senuweeagtig verstel en indringend na Piet kyk, asof sy hom tot aksie wil aanspoor.

“Vlam, dis ’n belangrike storie vir Mediahuis. Ons het ’n wêreld-scoop met hierdie onderhoude. Duard Wayne is ’n loketverkoper. Die storie kan die sirkulasie opstoot. Elke ou wat al in die army was, sal die koerante koop om dit te lees.”

Beelde van die glansheld flits deur Niekie se kop. Dit vorm ’n massiewe kontras met die grensheld-pa waarmee sy grootgeword het.

“Pieta, ek is reg vir hom. Ek het gelees hy is ’n arrogante, humeurige vent. Ongeskik met die pers. En ja, ek weet van sy kamma-privaatheid. Maar daar is hy veilig. Ek wil in elk geval net met hom oor die bosoorlog praat.”

Claudia swaai haar gemanikuurde handjies asof sy ook iets wil byvoeg, maar sy kan sien Piet is nou in ’n diep drif.

“En nog ’n ding, Vlam. Jy moet jy ook ’n paar ander stories daar doen. Uhmm … soos oor ’n paar belangrike primières en dinees.”

Dis vir Claudia die teken dat hulle nou na haar terrein beweeg.

“Ek het goeie nuus vir jou! Jy kom ’n paar weke Kaap toe sodat my span jou onder hande kan neem! Jy weet? Soos ’n totale make over! Pieta, jy gaan hierdie girl nie herken as ons met haar klaar is nie!”

Sy kyk moedswillig na Niekie. Sy weet goed sy het die hef in die hand.

“Nicola, ek kan nie wag om die eindresultaat te sien nie. Kom ons sê maar ek is die goeie fee en jy Aspoestertjie. Jy gaan stunning lyk!”

Lees ook:

Ons nuwe vervolgverhaal, Vlam

Vlam Hoofstuk 1

Vlam Hoofstuk 2

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 weeks Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.