kategorieë: LeesOntspanning

Vlam Hoofstuk 31: Vet in die vuur

Vlam Hoofstuk 31: Vet in die vuur deur Martie Swanepoel. Foto’s: pexels

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Klik hier om die vorige hoofstukke van Vlam te lees

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Vlam Hoofstuk 31: Vet in die vuur

Dit voel vir Niekie of Jaco en Stefaans haar ure aaneen rokke laat aanpas in hul suite. Sy is later so moeg dat sy gelate in net haar bra en panty voor die modemanne paradeer.

Jaco het toe nie net een outfit vir die aand saamgebring nie. Daar is ’n hele tas vol bloedrooi, pers en geel rokke waarin hulle haar moeë lyf probeer forseer.

Sy sak later moedeloos op ’n stoel neer.

“Genade, hoeveel rokke moet ek nog aanpas? Rooi en geel nogal? Het julle vergeet my hare is rooi? Dit clash! Kan julle dit nie sien nie? My hele lewe lank vermy ek rooi en geel en nou wil julle my na so ’n fênsie plek in ’n rok laat gaan waarteen my haarkleur protesteer?”

Stefaans kom sit langs sy onwillige model.

“Sjym, jy lyk moeg. Tot jou tieties hang!”

Niekie kyk hom eers geskok aan, dan bars hulle gelyk uit van die lag. Niekie lag altyd as sy senuweeagtig is, en ’n aand om dieselfde tafel as Duard, die skatlike Melissa en die stroperige Marco gee haar die bewerasie.

Stefaans sien hy sal sy model ’n bietjie moet boost.

“Wat kan ek doen om jou beter te laat voel? … E-e-e … dis nou buiten om jou vanaand te verskoon?”

Niekie wens sy kon ’n paar glase wyn wegslaan. Of iets sterkers. Sy het dit nodig!

“Tjoklits, Stefaans, bestel vir my kamerdiens met hot chocolate, tjoklitkoek en as jy kan, iets soos ’n Red Bull.”

Die modemanne sit verstom en kyk hoe Niekie haar eie en Jaco se koek opeet en die warm sjokolade wegslaan.

“Ek haat jou,” kondig Stefaans aan. “Ek kyk net na al daardie sjokolade en dan moet ek my belt verstel. Hoe bly jy so maer? … Buiten nou jou boopse. Terloops, hulle hang nie, Meisie, hulle staan mooi punt in die wind van opwinding oor die aand.”

Niekie kan nie vir die man kwaad word nie.

Sy pas gelate nog ’n paar rokke aan voor hy en Jaco besluit dat ’n lyfklewende diep pers rok die grootste indruk op Melissa gaan maak.

Die rok is laag oor haar rug gesny en bedek net-net haar broekie.

“Steek my boud-wange nie uit nie?” vra Niekie bekommerd.

Sy trek-trek selfbewus aan die gewaagde skemerkelkrokkie.

“Meisie! Met daardie bene! Het ek al vanaand gesê ek haat jou?”

Vet in die vuur

Jaco onderbreek sy assistent effe geïrriteerd.

“Hou tog net om hemelsnaam op om so aan die rok te trek. Jy is nie ’n skaam tiener nie! Wys jou stunning bene vir die mense!”

Later, in die taxi op pad na Misha Burdon se restaurant, probeer sy haarself moed inpraat.

“Niekie, jy het al in onlusgebiede gekoes vir betogers se klippe. Jy het al weggekruip vir sluipskutters in oorloggebiede. Hoe moeilik kan ’n aand in ’n restaurant met so ’n kort rokkie nou wees?”

Om haar nagmerrie te vererger, wag ’n paar lede van die paparazzi haar in as die taxi voor die restaurant stilhou. Hulle wag natuurlik vir die sterre, troos sy haar, maar as die kamera’s kliek, voel dit vir haar of die pers rokkie al hoër teen haar bene opskuif! Sy voel ’n ongemaklike koue windjie teen haar boudwangetjies waai en sy hou net mooi niks daarvan nie!

Dis Marco wat haar kom red en na die tafel in ’n private deel van die restaurant neem. Hy eis natuurlik die plek langs hare op.

Tot haar verligting het Duard en Melissa nog nie opgedaag nie.

“Jy slaan my asem weg,” sê hy sag in haar oor. Gelukkig is dit net toe wat die rumoer buite aandui dat die sterre opgedaag het.

Duard en Melissa kom sit reg oorkant haar. Hy is hoflik en afsydig en flirt met Melissa.

Maar laasgenoemde ignoreer Niekie heeltemal.

Jaco, wat weet die twee vroue is nie ‘besties’ na die groen rok-episode nie, probeer sy bes om Melissa se guns te wen en oorlaai haar met komplimente.

“Die rok wat Niekie aanhet, is spesifiek met jou ongelooflike lyf en bene in gedagte ontwerp. Jy is die enigste een wat daaraan reg sal kan geskied. Niekie, sal jy opstaan en in die rondte draai sodat Melissa die snit van alle kante kan sien?”

Niekie kou die binnekant van haar wange van ingehoue woede. Hoe durf hierdie Jaco-vent? Nogal? Hy maak dit duidelik dat Melissa baie beter as sy in die rok sal lyk!

Haar wange gloei van verleentheid as sy opstaan. Sy wens sy was eerder in Afghanistan met ’n paar skerpskutters wat op haar skiet.

Haar oog vang die van Duard. Sy kan sien hy geniet haar verleentheid.

Daar is een karaktertrek wat haar nog altyd in moeilike situasies kon red.

Moedswilligheid.

Sy voel hoe ’n vlaag haar wese oorneem en hoe sy met die kort rokkie al in die rondte begin tol. Die rokkie swiep sensueel deur die lug en sy voel meer as net ’n briesie oor haar agterstewe waai. Sy weet haar spierwit Woolies-panty steel die kollig by die rok!

Die vertoning veroorsaak ’n klein pandemonium om die tafel. Jaco probeer sy model beheer; Marco gee ’n wolwefluit; en sy kan voel hoe Melissa se oë vuurkolle van woede in haar panty brand!

“E-e-e … ek glo julle het die idee van die rok gekry? Dit sal jou lieflike bene komplimenteer, Melissa. Ek het natuurlik ’n paar voorbeelde waaruit jy sal kan kies!”

Dit kos ’n paar stewige slukke wyn voor Niekie se binneste ophou bewe. Die aand is ’n nagmerrie! Sy loer terloops na Duard en vererg haar vir haarself. Wat maak dit saak wat die vent dink?

Marco probeer die geselskap aan die gang hou en hy en Duard deel ’n paar ou grappies. Melissa draai omtrent heeltemal dwars in haar stoel en kyk net vir Duard. Sy maak of die res van die mense om die tafel onsigbaar is.

Die spanning maak Niekie honger. Die klein happies salm van haar voorgereg het haar stewige Boere-hongerte geensins gestil nie. Sy merk op dat Melissa net haar kos met haar vurk rondstoot en niks eet nie.

Geen hoofgereg op die spyskaart lyk of dit haar hongerte sal kan stil nie. Michelin Ster of te not, sy is honger.

Sy roep ’n kelner nader.

“Het julle nie ’n behoorlike steak nie? So 300g?”

Die kelner stik van verontwaardiging.

“Ons spyskaart is met sorg uitgewerk om die fynproewersgas tevrede te stel. Kan ek iets vir u aanbeveel?”

Niekie kan sien Jaco bloos tot in sy sokkies oor haar gebrek aan protokol in so ’n grênd plek. Tot haar verbasing is dit Duard wat die situasie red.

“Ek is seker julle kan ’n goeie stuk steak vir mej. Branders gaarmaak? Hoe lyk dit, Vlam? Moet hulle dit flambé?”

Die kelner trippel woedend kombuis toe en Stefaans begin onbeheersd giggel.

Hy lig ’n glas wyn in Niekie se koers.

“Op die honger meisie wat ’n uur gelede twee vet stukke tjoklitkoek verorber het!”

Niekie kan sien dat Melissa se oë genoeg vonke skiet om ’n steak te flambé!

Met die aankoms van die hoofgeregte is dit duidelik die vet is in die vuur.

Melissa het ook én flambé steak bestel!

Tussen die vlamme van die sissende vleis deur gluur die twee vroue mekaar aan.

Jaco kyk senuweeagtig na Niekie se rok.

“Versigtig, daardie rok is vlambaar!”

Maar Niekie is sommer nou ook vir hom keelvol.

“Is dit nie die idee nie? Dat die rok smeulend moet wees?”

Maar ’n nuwe vuur word aan die oorkant van die tafel aangesteek. ’n Regte een! Met die dat Melissa so oor haar flambé steak buig om Niekie te wys wie is baas, het haar vals wimpers vlam gevat!

Sy gil en Duard probeer vervaard die smeulende wimpers met ’n servet blus!

Binne minute het Melissa se assistente uit die vertrek langsaan opgedaag om die ster te kom red. Haar wimpers het aan mekaar vas gesmelt en hulle moet haar soos ’n blinde by die deur uitlei!

Vir ’n ruk is daar ’n geskokte stilte om die tafel.

Almal vermy oogkontak.

Maar Niekie kan voel hoe die lag soos ’n orkaan in haar begin opborrel, en sy weet sy en Stefaans moet onder geen omstandighede oogkontak maak nie!

As jy van Vlam Hoofstuk 31: Vet in die vuur gehou het sal jy baie hiervan hou!

Ons het ’n lekker voorlesing van Botox, Barbies en Bietse, ook uit die pen van Martie Swanepoel! Klik hier om dadelik te begin luister – dis gratis!

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.