kategorieë: LeesOntspanning

Vlam hoofstuk 47: Die oproep

Vlam hoofstuk 47: Die oproep deur Martie Swanepoel

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Vang eers op met die vorige hoofstukke van Vlam. Klik hier.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Vlam hoofstuk 47: Die oproep

Dis nou ‘n week na Duard se mislike sms en Niekie het nog nie weer ‘n woord van hom gehoor nie. Sy het hom nie geantwoord nie want in haar hart weet sy sy het uit moedswilligheid met Melissa oor die soenery gepraat.

Maar hoe meer sy daaraan dink, hoe kwater raak sy. Was dit dan so ‘n groot sonde om vir Melissa te sê hy het haar gesoen? Ja, sy het dinge ‘n bietjie aangedik, maar steeds … Is Duard dan skaam dat hy haar gesoen het?

Die woede het soos ‘n vuurspuwende berg in Niekie begin ophoop.

As Duard nie wou gehad het sy moet oor die soen praat met Melissa nie, het hy mos ‘n amptelike romantiese verbintenis met haar! Hy het Melissa dus verkul deur haar te soen en met haar te flirt! Dis vieslik! Tipies Hollywood-slymbol!

Sy was dus reg! Hy het haar misbruik!

Die gedagte laat haar bietjie soos ‘n gek voel. En as sy aan die hospitaal-eskapade dink, voel sy soos ‘n nog groter gek.

Maar sy is ook ‘n kwaad gek. ‘n Woedende gek!

Met ‘n wrewel teenoor die akteur wat so groot soos die wêreld se grootste vulkaan, Tamu Massif, opbou, maak Niekie haar gereed vir die trippie na Angola saam met die rolprentspan.

Genadig gaan Henk saam en het sy morele steun … vir wat dit werd is.

Maar sy was verbaas om te hoor dat haar pa die eerste week ook saamgaan. Duard het hom genooi!

Haar pa verduidelik dat hy as soort konsultant saamgaan omdat hy die gebied waar hulle gaan skiet goed ken. ’n Deel van die fliek gaan oor die slag van Cuito Cuanavale van 1987, waarby haar pa ook betrokke was.

Die rolprentspan sal per pad van Kaapstad deur Namibië tot by Rundu ry, waar nog spanlede by hulle sal aansluit.

Aangesien haar pa saamgaan, is haar eerste opdrag van Pieta dat sy haar pa op ‘n ‘trip down memory lane’ moet neem en die verhaal skryf hoe hy die grensoorlog ervaar het. Tot haar verbasing was haar pa effe stuurs toe hy dit hoor.

“Ek weet nie of ek my persoonlike ervaring wil deel nie. Daar is ‘n deel van my ervaring wat ek nie oor wil praat nie. Baie van ons ouens het maar so ‘n stuk waaroor ons nie wil praat nie.”

Maar Niekie het, tipies joernalis, bly torring.

“Ek sal praat oor hoe ons oor die oorlog in die algemeen ervaar het. Ek sal oor Cuito praat, maar daar is persoonlike ervarings wat my en ander se lewens verander het. Daar is mense wat vandag nog die nagevolge dra van wat gebeur het. Van my makkers se nageslagte dra steeds die letsels.”

Niekie kon sien dat die saak haar pa diep raak, maar daar was tog iets wat haar pa vir haar wegsteek, en daaraan is sy nie gewoond nie. Haar pa was nog altyd na aan haar. Hy is taamlik geheimsinnig oor die presiese agtergrond van Duard se uitnodiging aan hom.

Sy het as tiener en later op universiteit altyd haar liefdesake met haar pa bespreek, maar toe sy die saak van Duard se soen en die flirtasie opper, het sy haar byna verbeel haar pa is simpatieker teenoor die akteur as teenoor haar! Haar pa, wat voor sy by die fliek betrokke geraak het, ook snedig na Duard verwys het as ‘n ‘wannabe soldaat’! Nou is haar pa nogal beskermend teenoor die man wat haar wange rooi gesoen het en nie daarvan hou as sy daaroor praat nie!

Toe sy die saak diskreet met Pieta wou bespreek (hy is immers ‘n tweede pa-figuur in haar lewe) het hy net sy hande in die lug gegooi en gesê, “Met die saak met Melissa Garbers wat nog nie uitgesorteer is nie, is dit beter as ek so min moontlik weet.”

Henk wil ook steeds nie sy eerlike mening oor die saak gee nie. Sy raad is dat sy moet vasbyt met haar emosies tot die fliek klaar geskiet is en as daar dan nog ‘n vonk of iets tussen haar en die akteur is, kan sy dit verder neem.

Hoe meer sy oor Duard praat, hoe meer loop sy haar in ‘n duidelike deurskemering van simpatie teenoor die vent vas!

Dis waarmee sy worstel die aand voor hulle vertrek.

Met ‘n bottel wyn op haar balkon en ‘n uitsig oor die stad, besin sy oor hoe sy die slymbol-akteur en sy Melissatjie in Angola gaan hanteer.

Sy weet sy het nie ‘n greintjie akteurstalent in haar lyf nie en sy sal nie kan maak of niks gebeur het nie. Maar haar loopbaan is op die spel. Sy het al te veel drama in Mediahuis veroorsaak en as dit uitkom dat sy wel woedend is vir die akteur oor ‘n soen wat sy nie mag noem nie, kan dinge skeefloop.

Na die derde glas wyn is haar emosies dun geskaaf. Sy besluit dat sy ook in die situasie regte het! Na die vierde glas wyn skakel sy Duard se nommer.

Sy werk haar op terwyl dit lui.

Dit skeel haar nie dat die twee-uur in die nag is nie! Vanaand vertel sy hom wat sy van hom dink!

Die foon lui en lui, net as sy opgee, beantwoord ‘n vakerige stem die foon.

“Hello? Can I help you?”

Niekie word yskoud.

Dis die stem van ‘n vrou!

‘n Vrou met ‘n besliste Amerikaanse aksent!

As jy van Vlam hoofstuk 47: Die oproep gehou het, gaan jy mal wees hieroor! Luister nou na ons gratis voorlesings van Martie Swanepoel se gewildste werke: Botox, Barbies en Bietse en Dans met die rooi rok.

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.