Vir mense wat dit het, is vitiligo veel meer as net ’n toestand wat vlekke veroorsaak. Baie worstel met selfbeeldkwessies of ernstiger geestesprobleme. Zerelda Esterhuizen deel haar ervaring en vertel ons meer daarvan
Dit was Desembertyd by ’n vakansieoord en ek het dié dag heerlik in die son gebak.
Ongelukkig te lank, want ek het bloedrooi gebrand en die volgende dag was daar ’n wit vlekkie op my gesig. Dit was vreemd, maar ek het die vlekkie aan die sonbrand toegeskryf en gedink dat dit gou weer sou verdwyn. Ek het ’n ligte vel en het nog nooit voorheen probleme daarmee ervaar nie. Ek het nie aknee of iets dergeliks gehad nie en selfs in my tienerjare het ek net nou en dan ’n puisie gehad.
Dit was dus nie iets waaraan ek my vreeslik gesteur het nie en die vlekkie het ook vir ’n lang ruk nie verander nie. Dit het nie groter of kleiner geword nie. So het die tyd verbygegaan en toe ek weer sien, het dit amper oornag groter geword en vandag het ek ’n groot wit vlek op my gesig en vlekke op my hande en heupe. Die vlek op my gesig is om my oë, weerskante van my neus en op albei wange.
’n Dermatoloog het later vitiligo gediagnoseer en ek gebruik tans ’n room wat nie lyk asof dit help nie. Ek sien binnekort ’n ander dermatoloog wat hopelik ander behandeling kan voorskryf. Intussen het ek al vele (peperduur) onderlae probeer om die probleem te verdoesel, maar sonder sukses. Ek kort nog die regte kamoefleerder … Daar is egter baie vitiligolyers wat dit nie wegsteek nie en hul wit vlekke trots vertoon. Ek salueer hulle, maar dis nie ek nie. Ek soek ’n oplossing …
Lees ook: Wintershande? Ons het die allerbeste raad opgespoor
Wat is vitiligo?
Dit is ’n outo-immuuntoestand wat veroorsaak dat gedeeltes van die vel sy kleur verloor en dan wit vlekke veroorsaak. Die kleur van ons vel, hare en oë kom van ’n pigment wat melanien genoem word. Die melanien word deur harde werkers vervaardig, wat as melanosiete bekendstaan. Dit is die selle wat pigment maak en dit kom in die buitenste laag van die vel voor. Mense wat donkerder van gelaat is, het meer melanien in hul vel as mense wat lig is. Vitiligo gebeur wanneer die melanosiete die liggaam se immuunstelsel aanval en vernietig. Dit kan enige plek op die liggaam voorkom, maar dit kom gewoonlik meestal voor op die vel om die oë, mond, elmboë, gewrigte, hande en enkels.
Mense wat vitiligo het, het gewoonlik ook ander immuuntoestande, soos psoriase, alopesie, Addison se siekte, rumatoïede artritis, lupus en skildkliersiekte. (In my geval is dit laasgenoemde.)
Ek dink my vitiligo het tydens die Covid-tydperk vlamgevat. Dit was ’n tydperk van hoë stres vir ons almal. Die tydskrif waar ek jare lank gewerk het, het toegemaak en die mat onder ons almal uitgeruk. Nes soveel ander in die land, het ek boonop ongesonder geleef. Ek het nie eens probeer om te oefen nie en het baie meer geëet en gedrink …
Kon die stres as sneller gedien het? Heel moontlik, as ons die Cleveland-kliniek in Amerika kan glo. Volgens hulle kan die hoeveelheid pigment wat jou melanosietselle vervaardig, verander as jy voortdurende emosionele of liggaamlike stres ervaar.
Ek het ook later mikronaaldbehandelings gehad, wat volgens my dit beslis vererger het. My raad aan lyers is om nie enige behandelings te probeer sonder ’n dermatoloog se insette nie.
’n Dermatoloog gesels
Dr Suretha Kannenberg is ’n dermatoloog van Kaapstad en sy verduidelik dat daar twee verskillende tipes vitiligo is: segmentele en nie-segmentele vitiligo.
“Segmentele vitiligo ontwikkel gewoonlik baie vinnig en bly dan só. Dit reageer ook sleg op behandeling. Segmenteel sê vir ons dat die toestand in ’n spesifieke dermatoom (deel van die vel wat deur ’n enkele senuweewortel voorsien word) voorkom. Daar is baie foto’s aanlyn waar ’n mens kan sien hoe hierdie dermatome lyk. Nie-segmentele vitiligo is meer algemeen. Dit kom bilateraal simmetries op die vel voor en dit beteken dat dit links en regs op dieselfde plekke op die liggaam voorkom. Vitiligo is ’n toestand wat ‘koebneriseer’. Dit beteken dat letsels algemeen in omgewings van trauma/skuring voorkom. Dit sal dan algemeen links en regs simmetries in gedeeltes van friksie en/of trauma voorkom. Ons kyk ook dan na die graad van aantasting (vitiligo universalis) of spesifieke beelde soos ‘confetti vitiligo’ wat byvoorbeeld ’n spesifieke aantasting is en wat baie aggressief is.”
Volgens dr Suretha is mediese kamoefleermiddels een van die belangrikste hulpmiddels vir lyers. “Behandeling neem ongelukkig lank en in daardie tyd kan die regte kamoefleermiddel baie goed vir lewensgehalte werk. Die belangrike beginsels in die behandeling is om eerstens die vernietiging van die melanosiete (selle wat pigment vervaardig) te stop en om dan die herpigmentasie aan te moedig. Produkte soos kortisoonrome of kalsineurin-inhibeerders word gebruik om die vernietiging stop te sit.
“Baie wydverspreide aantasting en aggressiewe vinnige verergerende letsels benodig soms pille of inspuitings. Die volgende stap is dan om die herpigmentasie aan te moedig. Hier is ligterapie baie doeltreffend hoewel dit ongelukkig lank mag duur. As wydverspreide aantasting teenwoordig is, word die hele lyf behandel. Die pasiënt sal twee tot drie keer per week ’n paar sekondes in ’n spesifieke ultravioletmasjien (narrowband UVB) moet lê,” verduidelik sy.
Dr Suretha verduidelik voorts dat kleiner plekkies gewoonlik so een keer per week vir ’n paar sekondes met ’n excimer-laserlig behandel word. Daar is ongelukkig nie so baie van hierdie masjiene in die land nie.
“As die vitiligo omvangryk is, kan ’n mens soms besluit dat dit beter is om die oorblywende pigmentasie weg te neem. ’n Mens moet egter baie mooi hieroor nadink, want die mens se identiteit kan baie nou aan velkleur gekoppel wees. As vitiligo vir een tot twee jaar stabiel is, is chirurgiese behandeling ’n opsie. Soms word ‘needling’ gebruik, soms oorplantings van eilandjies van pigment, en soms word eie melanosiete oorgeplant. Die laaste een word net in baie gespesialiseerde sentra gedoen. Mediese tatoeëerings kan ook soms baie verligting bring, maar net as die toestand heeltemal gestabiliseer het.”
Lees ook: Lys van kosse wat suur verminder en vermeerder
Kan vitiligo omgekeer word?
Die goeie nuus is dat daar mense is wat al uitstekende resultate gesien het. Dis egter nie altyd ’n maklike proses nie, sê dr Suretha.
“Segmentele en baie aggressiewe vorme is geneig om ’n probleem te wees. Daar is sekere gedeeltes van die liggaam wat minder goed op behandeling reageer, soos die lippe, hande en voete en geslagsdele. Liggaamgedeeltes wat nie klein haarwortels het nie (soos die lippe en vingerpunte), reageer slegter, want daar is melanosietstamselle in daardie haarwortels. As die hare wat uit die follikels verskyn wit is (leukotrichia), is die kanse op herstel ongelukkig skraal in daardie gedeelte. Dele van die liggaam wat bietjie meer son kry, reageer gewoonlik beter. As die vitiligo reeds lank teenwoordig is, is die kanse ook skraal op herstel.”
Hoop vir lyers
Daar word voortdurend navorsing oor die toestand gedoen en ’n spesifieke groep middels (JAK-inhibeerders) het reeds baie goeie resultate begin toon. Dr Suretha vertel daar begin binnekort in Suid-Afrika ’n nuwe vitiligostudie in van die groot sentrums in ons land.
“Suid-Afrika het ook ’n baie aktiewe vitiligo-vereniging. Dis die Vitiligo Society of SA (VSSA). Loer gerus na hul webwerf. Daar is ook ’n Vitiligo Warriors WhatsApp-groep,” sê sy.
Lees ook: Verkoue, griep of iets erger? Só weet jy
10 feite oor vitiligo
- Vitiligo kan so vroeg as babatyd begin of dit kan eers by volwassenes ontstaan. Ongeveer die helfte van mense met vitiligo ontwikkel dit voor die ouderdom van 20.
- Vitiligo is kosmeties. Dis nie pynlik nie en ook nie aansteeklik nie.
- Dit raak ongeveer 0,5% en 1% van die wêreld se bevolking.
- Mense van enige ras of geslag kan die toestand opdoen, maar dis natuurlik meer opsigtelik in mense met donker velle.
- Ongeveer 30% van vitiligogevalle is geneties. Dit beteken dat die toestand oorerflik is.
- Genetiese mutasies het ’n uitwerking op hoe die melanosiete funksioneer. As ’n genetiese mutasie die selle teiken wat vir jou vel pigment gee, kan jy vitiligosimptome ervaar.
- Dis baie belangrik vir vitiligo-lyers om ’n goeie sonskerm te gebruik. Die gedeeltes wat pigment verloor, kan veral sonskade opdoen.
- Vitiligolyers kan abnormaliteite in hul oë se retinas ervaar. Die kleur van hul irisse kan ook verander.
- Vitiligolyers se selfbeeld word dikwels geknou. En daar is lyers wat angstigheid en depressie ontwikkel. Daar is egter nog geen spesifieke verband tussen vitiligo en geestestoestande gevind nie. Navorsing hieroor duur egter voort.
- Ongelukkig is daar geen spesifieke aanvullings wat ’n merkbare verskil aan die toestand kan maak nie, vertel dr Suretha. “Daar is sommige studies wat wys dat antioksidante (soos Polypodium leucotomos) kan help en ’n gesonde dieet is steeds baie belangrik,” vertel sy.
Het jy geweet?
Mattel het ’n Barbie-pop met vitiligovlekke bekend gestel.
Zerelda se raad
Ek het baie geld gemors op produkte wat aanlyn verkoop word en wat niks gedoen het nie. Moenie iets probeer sonder ’n dermatoloog se insette nie. Doen ook navorsing om die regte dermatoloog te vind. As jy iets op jou vel sien wat nie reg lyk nie, gaan sien dadelik iemand. Ek het my probleem hopeloos te lank geïgnoreer.
Bou jou immuunstelsel. Ek het my liggaam jare en jare afgeskeep en leef nou eers gesonder. Ek oefen, drink aanvullings en probeer gesonder eet.
Kontak ons kenner
Dr Suretha Kannenberg by 066 480 1558 of www.skindoctorcapetown.co.za
Ander bronne: my.clevelandclinic.org, www.yalemedicine.org, www.globalvitiligofoundation.org
Lees ook: 7 tekens van lipodeem