kategorieë: BlogsOntspanning

Windswael: Doolhof

Windswael: Doolhof deur Martie Swanepoel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Net duskant Port Edward lê die Red Desert, ’n okerrooi landskap van 200 hektaar. Glo die kleinste woestyn ter wêreld, en in sy hart is daar ’n doolhof met ’n oplossing wat wag as jy die regte roete kies.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die lewe is mos eintlik een groot doolhof, met elke dag ’n verskeidenheid keuses om dit interessanter te maak.

Ek glo die doolhofpaadjies van jou lewe is die blue print wat jy saamkry by geboorte. Saam met hierdie pakkie kry jy ook ’n verstand en hopelik ’n opvoeding wat jou leer van reg en verkeerd en wat jy moet doen as jy in ’n doodloopstraat beland nadat jy verkeerde paadjies geneem het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Daar is nie ontsnapkans van hierdie doolhof nie. Hy is joune om mee te maak wat jy wil. Elke besluit neem jou op ’n ander roete, en soms loop jy jou vas teen ’n cul-de-sac. Dikwels kan die doodloop bedrieglik wees. Dis soos die glasdeure waarteen mens jou soms vasloop. Jy dink nog jy gaan by die deur uit en dan slaat die venster jou bloedneus.

Die lewe is nie altyd fair nie. Dis ’n moeilike een om mee vrede te maak. Maar dis jou keuse om dit te doen of nie.

Partykeer kyk ek na mense se lewens op Facebook en dink dan, jissie, dit lyk so lekker om so en so se lewe te kan hê. Maar aan die ander kant klink my lewe dalk vir hulle ook lekker? Ek vertel mos nie altyd vir hulle hoe ek blou pilletjies en soet tee moet sluk as die angs my beetpak as my lewe ’n hobbel tref nie?

Soos die ander, wat skynbaar ’n perfekte lewe op Facebook lei, bring my doolhof my ook soms tot by ’n plek waar dit soms snot en trane en pity parties kos voor jy kan omdraai en ander koers kies.

Ek wil niemand onder die verkeerde indruk bring oor die idilliese lewe van aftrede nie. Ek rits rond, ja, maar dikwels sit ek met my skootrekenaar op my skoot in die kar en langs die kampvuur en werk. Ek skryf stories en vertaal sodat ek jêm op my brood kan smeer. Jy moet kies, wil jy jêm smeer, of net bitterbek sit en kla oor jou aftreegeld so skraps lyk.

Die slegte nuus is dat jou aftreebeleggings op papier mooi lyk as jy nog ’n salaris verdien, maar as jy net daarvan moet leef, besef jy jy kan nie meer trollies vol verwerkte groente by Woolies koop nie. Jy moet dalk leer om jou eie worteltjies te skil.

Kyk, ’n entrepreneur was ek nog altyd. My pa se kind. Altyd ’n plan om ekstra geld te maak. Om my kinders as enkelma deur skool en universiteit te kry terwyl hulle pa met sy stert in die hemel sit, het ek al buiten my day job van klasgee en stories skryf, poppe gemaak, koeke gebak, juwele gemaak en markte gehou.

Keuses, as jou bankrekening in ’n doodloopstraat beland.

Ek woon sedert Desember permanent in ons berghuis in ’n natuurpark. Daar is bokke, ape, bobbejane, onder by die rivier soms ’n krokkedil of seekoei, en hier bo in die berg soms ’n luiperd. Pragtig. Vrede.

Maar ek kry toe die droom van ’n mate van sustainable living. Ek gaan groente plant en nooit weer ’n koolkop hoef te koop nie. Ek bly immers vrek ver van ’n dorp.

Die maklike deel was die aankoop van die saad by die kooperasie op Bronkhorstspruit.

Die geesdrif het ook nie ontbreek toe ek en Sollie van die Langkloof ’n lappie grond omgedolwe en bemes het nie.

Die bokke, bobbejane en ape het nog nooit aan die opslag apelliefies geraak wat oral in die tuin opkom nie … maar die oomblik toe ons hulle in ’n ry in my nuwe groentetuin plant, het ’n trop bobbejane kom piekniek hou en elke uitgeswelde vruggie opgevreet. (Dus niks apelliefie-jêm vir my brood nie!)

Dieselfde met die spinasie. Daar het vir maande ’n opslag spinasiebossie ongeskonde eenkant langs die suurlemoenboom gestaan, maar die oomblik toe ek ’n paar rye spinasie met goot verwagting in my lappie groente plant, het die bosbokke almal opgevreet.

Geen aap het nog ooit aan ons rissies in die blomtuin geraak nie. Tot ons hulle in netjiese rye in die groentetuin geplant het. Kaal gevreet.

Doodloopstraat.

Lees ook: Windswael: Alleenvlug

Maar ek laat my nie onderkry nie. Ek laat ’n reuse voëlhok aanry. Geen aap of bobbejaan of bosbok gaan nou by my groentetjies uitkom nie …

Ruspes wel. Ai. Ek spuit en plant en spuit. En dan gaan koop ek maar weer groente as ek my twee-weeklikse besoek aan die dorp bring.

Jong, maar toe sien ek op Pinterest ’n ander plan. Ek gaan babatjies maak van al my vetplante en potjies maak wat ek by markte gaan verkoop. Kwekerye gaan toustaan vir my skeppings!

In netjiese rye maak ek toe my baba vetties staan. Nogal in mekkartonne wat ek herwin, want sien, ek is mos omgewingsvriendelik hier in die berg. Die ape het nog nooit aan my woestynrose gevreet nie. Tot nou. My hele nuwe oes is binne weke stompies afgevreet. En, hulle is slim genoeg om te weet die melkkartonne hou dalk nog ’n lekseltjie melk in. Hulle skeur dit stukkend en strooi my herwinningsdrome die hele tuin vol.

My potte lyk ook nie juis soos die voorbeelde op Pinterest nie, maar ek aanvaar dié plan nog nie as ’n doodloopstraat nie.

Eergister kry ek weliswaar ’n nuwe plan. Laetitia vra op Facebook wie kan fudge maak vir haar winkel?

Ek, Ek!

Dadelik spring die ratjies in my kop in plek. Unieke fudge soos “aarbeie-en-room” en “lemon meringue”? Ek dink etikette en verpakking uit. Wat van Turkish delight, vra ek haar. Miskien ook nougat?

Ek soek resepte en maak planne.

Gaan dié plan nie ook dalk ’n doodloopstraat wees nie?

Dalk.

Maar dalk nie!

Ek het die afgelope maande wonderlike avonture beleef. Ek het in die Waterberge, by Middelburg, die wildekus en by Groblersdal gaan stap. Ek het by Barberton en Badplaas gaan kamp en langs die Vaalrivier en by Kaapsehoop in gastehuise gebly. Ek het tussen die berghuis en die strandhuis gependel en pas vliegkaartjies na Seoul en Vladivostok bespreek, maar dit beteken nie die lewe is net ’n lied nie. Mens werk jou hele loopbaan hard en maak geld bymekaar vir jou oudag, en ek weet nie of dit ooit genoeg is nie. Dis hoekom mens plannetjies moet maak. Planne maak die lewe interessant. Party werk, party nie.

Lees ook: Windswael: Paaie

Wat jy regtig nodig het as jy vas in ’n doolhof is, is ’n goeie plan, glo ek. Een wat jou in jou spore laat omdraai en ’n ander roete stap. Maar soms moet jy eers uitvind waar jy is sodat jy kan rondkyk hoe jy uit die cul-de-sac kan kom.

Hierdie week het ek onverwags op ’n doolhof afgekom toe ek The Red Desert besoek het. Kronkels en draaie en doodlooppaadjies met klippe op okerrooi grond uitgepak.

Ek het gestap, gedroom, my vasgeloop en weer omgedraai.

Maar uiteindelik het ek by die kern uitgekom.

Lees nog van Martie Swanepoel se blogplasings vir ons, Windswael

Het jy geweet?

Martie skryf ook vervolgverhale vir rooi rose! Klik hier om haar vervolgverhaal, Vlam te begin lees.

Ons het ook ’n podsending gemaak van haar verhaal Botox, Barbies en Bietse, en dis voorgelees deur Elize Cawood. Klik hier om te begin luister!

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 day Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 day Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 day Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 day Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.