kategorieë: BlogsOntspanning

Windswael: “’n Tiet om te kom en ’n tiet om te gaan.”

Windswael: “’n Tiet om te kom en ’n tiet om te gaan.” deur Martie Swanepoel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Ek kyk elke middag hoe hulle hoog teen die berghang dwarrel. Swewend en rollend in die bergwind. Vry, vrolik soos die wind hulle waai. Windswaels.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Dis soos hulle wat ek wil wees in my aftree-jare. Ek wil my vlerke oopgooi dat die vryheid van die bergwind my vat. Hoog teen die kranse wat in die namiddag goud glim. My hart moet suis soos die wind deur die bome teen die opgestapelde rotse. Ek wil my lewe kleur met die skakerings van loof. Karee, Kiepersol, Haakdoring. In die vroeglente wil ek soos die Drolpeer my bruidsrok aantrek en die nuwe seisoen aankondig.

Laasjaar was my annus horribilis. Nog een in my dekade van tragedies, maar sekerlik die ergste.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Dit het vroeg laasjaar begin met ’n e-pos, “Geluk met die hoogpetunt van jou loopbaan, jou aftrede.”

Paniek.

Ek het geweet daar is ’n afsnypunt, ’n korporatiewe bepaling. Maar ek het gehoop hulle vergeet van my. Gedink die universiteit sal mos nooit sonder my kan funskioneer nie?

Ja, mens hoop jy is onmisbaar. Jy hoop hulle sal onthou dat jy vir lank 32 uur per week klasgegee het, jou skoene deurgestap het in toesiglokale. Gemerk het tot jou hande kramp.

Maar, om ’n voormalige koerantredakteur aan te haal onder wie ek gewerk het: Bob van Walsem het in sy swaar Hollandse aksent een keer gesê, “Daar is ’n tiet om te kom, en ’n tiet om te gaan.” Dit was my “tiet”. My liggaam het dit ook luidkeels basuin.

Sedert Johan se dood in 2008 het ek twee werke gelyk probeer doen. Probeer, want ek het by tye klaaglik misluk. Jy kan nie twee here dien nie. Ek het klasgegee en vir rooi rose geskryf en vertaal. Tussen klasse het die vertalings ingekom wat vinnig afgehandel moes word. Dan het ek die keybord gelooi.

Ek het in ses jaar ses aanlynnovelles vir rooi rose geskryf, een (bekroonde … jippie!) drama vir RSG en boeke gesub van mense wat eintlik nie behoort te skryf nie.

Saans het ek geskryf en voorberei. Geen TV, geen lees, geen rustige musiek luister, geen kuiersessies met vriendinne. Werk, werk, werk. Die kinders moes deur skool en universiteit terwyl hulle pa met sy stert in die hemel sit.

Twee werke was nie genoeg nie. Ek het ekstra werk aanvaar. Herskryfwerk, subwerk. En steeds het my overdraft in die rooi gebly. Ek het juwele gemaak, koeke gebak, poppe gemaak, markte gehou.

En dan was daar die reeks traumas. Verkeerde keuses, kurweballe. Snot, trane, slapelose nagte, angsaanvalle, kalmeerpille, antidepressante, slaapterapie, energie-inspuitings en drups om my leë tenk aan te vul.

Laasjaar was die skrif aan die muur. Ek moes my historiese ou vierslaapkamerhuis in Parys uitsorteer en oppak. Ek moes vir my huishulp van 26 jaar ’n ander werk kry en haar ’n skeidingspakket betaal. Sy en haar twee kinders was my familie. Dit was bitter, bitter swaar en ’n proses wat nie glad en konflikvry verloop het nie. Ek het my leeggehuil daaroor. Daar is dinge in die lewe waaroor jy nie beheer het nie.

My hartshond, my Labrador, Jama, het kanker gekry en ek moes hom groet. My 16 jaar oue Quinne kon nie meer uithou nie, my 14-jarige persiese kat, het gevolg.

Toe kry my ma kanker.

Ek onthou een koerantopskrif wat ek tydens my loopbaan as joernalis geskryf het nog goed. Met die Westdene-busramp het ek by ’n berig oor die begrafnis van die 42 verdrinkte kinders geskryf, “Is daar nog trane?”

Laasjaar was ’n huiljaar. ’n Weenjaar. Oppak, uitsorteer, weggooi, wegpak. Vrede maak. My kinders se speelgoed, rapporte, sketsies, briefies … en toe die fluweelsakkie.

Na Johan aan ’n hartaanval gesterf het, het die hospitaal sy klere en besittings vir my in ’n plastieksak gegee. Die hemp was flenters gesny soos die noodpersoneel hom probeer red het. Ek kon daardie hemp nie weggooi nie. Ek het hom in ’n purperfluweelsakkie diep in my kas weggebêre.

Met die oppak het ek besef ek sal uiteindelik van sy klere ontslae moet raak. Dit was tien jaar.

“Is daar iemand wat 6 paar nommer 12-skoene benodig?” het ek op Parys se Facebook aangekondig. Een vrou het twee paar geneem vir haar tuinman wat sukkel om skoene vir sy groot voete te kry. Daar was ook ’n bejaarde omie met yslike rumatiekvoete.

Maar die hemp in die fluweelsakkie …

Mens kan dit nie weggooi nie. Begrawe jy dit?

Toe maak ek ’n vuurtjie en staan en kyk hoe die seer saam die rook die lug in warrel.

’n Tiet om te groet.

’n Groot deel van my drama word deur myself veroorsaak. Dis my persoonlikheid. “Highly strung”. Effe obsessief kompulsief, by tye hiperaktief.

Vir 37 jaar is my lewe gedryf deur koerant- en tydskrifspertye, en die laaste ses jaar ook deur eksamens en toetsreekse. Ek weet nie of dit iets is om op trots te wees nie, maar ek kan letterlik werk tot ander mense uitpaas. As ek begin, het ek nie brieke nie. Ek dink ek is te dom om moeg te word.

Dan brand ek uit.

Ek het Sarah se kinders soos my eie grootgemaak. In my huis. Wat my kinders gekry het, het hulle gekry. Hulle was van geboorte by my. Hulle en my twee eie kinders is my lewe. Ek het vir hulle alles probeer gee wat in my begroting kon inpas. Maar daar is iets wat ek glo hulle elkeen saamgevat het op hul volwasse lewenspaaie. Ons gee nie op nie. Nooit nie. As die geld opraak, maak ons ’n plan. Jou planne mag nooit opraak nie.

Laasjaar het my planne begin opraak. Ek het geweet die aftree-afsnypunt is finaal en daar is eenvoudig nie werk vir mense van my ouderdom nie. Ek kon nog altyd op die joernalistiek terugval, maar die beroep trek swaar.

Paniek.

Gaan ek genoeg geld hê? Hoekom lyk my beleggings nou so skraal? My pragtige ou huis, my trots waaraan ek deur die jare soveel bestee het, se waarde het skokkend byna niks gegroei nie. Die huismark is in sy maai.

As mens vir so lank alleen verantwoordelik is vir ’n huishouding se finansies en wel en wee, is dit moeilik om te aanvaar jy moet nou laat gaan. Tinus, Lieneke en Selina het grade en Given het matriek. Hulle moet nou hul eie ding doen. Sarah het ’n nuwe werk. Daar gaan nou ’n nuwe gesin in ons huis woon.

Die universiteit het my eintlik ’n guns gedoen.

Ek het soos ’n mal ding van een klas na die ander gehardloop. Drie dae ’n week by die Vanderbijlpark-kampus en twee dae ’n week in Potchefstroom. Ek moes sakke vol boeke trappe op en trappe af karwei in my haas. Soms het ek gewonder, is ek nou op die regte kampus in die regte klas by die regte vak? Met Parys as my middelpunt het ek en my rooi Toyota tussen kampusse gejaag. Een dag het ‘n verkeersvrou my duskant die Vaalrivierbrug tussen Gauteng en die Vrystaat voorgekeer, “Oumatjie, jy het 145 km/ph gery!” Oumatjie? 145 km per uur? Ek en my stokou Toyota? Ja, dit was moontlik. Voet in die hoek.

Vrydagmiddae na klas het ek 300 km na ons berghuis gery om te gaan rus en Sondae 300 km terug.

Op ’n Vrydagoggend sewe-uur van die Vrystaat na Potch in Noord-Wes om te gaan klasgee, die laatmiddag terug Vrystaat toe. Dan van die Vrystaat deur Gauteng na Mpumalanga.

Ek en my ou rooi Toyota.

Jaag, jaag, werk, werk.

Toe kom maak ’n oubekende siklus weer nes in my lewe. Slapeloosheid, moegheid, angsaanvalle, depressie.

Gaan ek al my werk klaarkry? Gaan ek genoeg geld hê? Gaan ek my huis verkoop kry? Gaan my ma sterf aan kanker? My ma, my anker, my huilskouer? Wat gaan ek maak as sy my alleen los met al die dinge?

My huis is opgepak en met my effense obsessiewe geaardheid was ek nie tevrede voor dit nie nuut geverf is en die tuin oorgedoen is nie.

Ek het hope goed weggegooi. Johan se versameling uitstekende novelles is aan die universiteit geskenk, dertig bokse boeke is na die dierebeskermingsvereniging. Bokse resepteboeke aan ’n jong sjef, bokse klassieke novelles aan ’n student in tale.

In my poging om my lewe en gesondheid in toom te kry, het ek 15 kg verloor en dit het die uitsorteer van my klere maklik gemaak. My klere kan nou in ’n klein hangkas inpas. My besittings kon uiteindelik in ’n stoor van 20 vierkante meter inpas.

Dit was ’n helende, moeilike proses. Dit het aan my siel gevreet en aan my menswees gepik.

Dis vrek moeilik, maar jy kan nie alles met jou saamvat nie. Ek het ’n sakkie gemaak waarin ek een handgemaakte item van my ouma, een handgemaakte item van my ma en een van my skoonma gepak het. Dis genoeg herinneringe.

Daar is genoeg kosbare oomblikke in foto-albums en in jou hart. Oor die uitsorteerproses kan ek boeke skryf. Jy gooi stukkies van jou lewe weg.

Maar in die proses moet jy vrede maak.

My arme getroue huisdokter in Parys het my twaalf jaar op sy klein skouertjies gedra. Hy en my apteker. Hulle het my angs en depressie beter geken as mense na aan my.

Met die oppak en afskaal het ’n reuse insinking gekom. Onbeheerbare angsaanvalle. In nagte van min slaap het die swart hond my van vertrek na vertrek in my chaotiese huis gejaag. Dit was asof ek net nie kon klaarkry met die pakkery nie. Gryp hier, vat daar. Merk, vertaal skryf, opstaan, ry, ry, ry.

Ek het later ’n pakkie siekesertifikate in my laai gehad. Uitbranding, het die dokter op elkeen geskryf. Ek kon glad nie meer cope nie. Ek het dae om gehuil en menigmaal ’n gruwelike spektakel van myself gemaak voor mense. Ou tjankbalie.

Ek wat my kinders geleer het om nooit op te gee nie, ek het dit oorweeg om op te gee.

Daaglikse kalmeerpille en angspille. Vitamien B-drups en -inspuitings. Slaapterapie. My siel en wese was moeg en leeg.

Maar daar was ’n “tiet” wat alles verby gegaan het.

My ma is deur twee groot operasies en kankerbehandeling, my huis is opgepak, my laaste vraestelle is opgestel en gemerk. Ek het die stoorkamer met my ekstra besittings agter my toegetrek en die nodigste op ’n trailer gelaai. Ek het finaal berghuis toe gekom. Hier waar my sielsmaat my help om rus en vrede te vind.

Ek slaap beter. Ek maak tuin, lees novelles waaroor ek nie hoef te doseer nie, luister musiek, maak gourmet-geregte. Ek klim klowe uit en sit saans na die berghange in kyk met ’n ou dun whiskytjie.

Dan kyk ek na die windswaels wat tol en dwarrel.

*Onderskrif vir die hooffoto:

Tydens die laagtepunt van my uitbranding het ek een oggend by ons berghuis deur my kamervenster na die berg gekyk. Toe die son skuif, het hierdie beeld verskyn. ‘n Duif het die vorige dag teen die venster vasgevlieg en hierdie beeld gelaat. Ek kon duidelik die beeld van ‘n engel in die ets sien, en ek het geweet, ek gaan weer oukei wees.

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

5 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

5 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

5 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

5 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

5 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

5 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.