kategorieë: VerhoudingsJou lewe

5 dinge wat niemand jou vertel voor jy trou nie

1. Nie geluk nie, maar groei

Marriage is not meant to make you happy; it’s meant to make you grow.” Só het dr. John Demartini, bekende Amerikaanse inspirasiespreker en skrywer van onder meer The Heart of Love (Hay House, 2007), een van my gevestigde oortuigings by ’n seminaar aangevat. Ek was oombliklik omgekrap. Trou jy dan nie om gelukkiger te wees, om iemand te hê wat jou kan aanvul en voltooi nie?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Mettertyd het ek besef wat hy bedoel. Om te verwag dat jou huwelik(smaat) net geluk sal bring, is onrealisties. Die lewe bestaan uit oppe en affe; ons is op aarde om lig én donker te ervaar.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Daarby deug dit nie om iemand anders vir jou geluk verantwoordelik te hou nie. Jy is die een wat die keuses maak, ook oor hoe jy op jou omstandighede reageer. Dis menslik om soms soos ’n slagoffer te voel, maar volwassenheid veronderstel verantwoordelikheid vir jouself. En die huwelik is ’n uitstekende leerskool vir dié soort ding.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Volwassenheid veronderstel verantwoordelikheid vir jouself

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Wanneer jou maat jou knoppies druk, kan jy reageer deur te wonder watter miskende deel van jou nou onder jou aandag kom. Nes die werklikheid bestaan elkeen van ons uit donker én lig. Ons is konsensieus én laks, vrygewig én suinig – hang net af op watter gebied: fisiek, finansieel, dalk emosioneel.

Dis nuttig om jou maat se optrede in dié lig te herinterpreteer: wat is dit wat my ontstel, en waar doen ek dit op my beurt? Tree hy ongevoelig teenoor ’n bedelaar op, is ék dalk ongevoelig teenoor myself. Is hy te trots om ander se wenke te aanvaar, is ék dalk te trots om God om hulp te vra. Ek kom agter ons is ewe feilbaar. Ons het iets gemeen.

Hierdie spieëloefening kan ’n reusekopskuif verg, maar hou die fokus waar dit hoort: op my en op my groei. Dis dalk ’n steiler pad, maar een waarop ek teleurstelling en irritasie kreatief tot selfkennis en ’n ryper menswees kan omvorm.

Dis ook waar dat ek eienskappe wat ek in my maat bewonder in ’n ander gestalte in myself kan ontdek, maar dis ’n storie vir ’n ander keer …

2. Ná magnetisme kom die magstryd

Ai – hoekom gaan die euforiese fase van verliefwees so gou verby? Een oomblik loop jy nog kop in die wolke met jou volmaakte maat aan die hand terwyl jy ’n goedvoelhormoon so kragtig soos kokaïen afskei, en die volgende ervaar jy onttrekkingsimptome. Skielik het jou maat foute! Jy skynbaar ook.

Volgens Imago-verhoudingsterapiekenners is dit presies wat veronderstel is om te gebeur, weer eens in die naam van groei.

Van kleins af word ons deur interaksie met ons ouers gevorm. Omdat hulle onvolmaak is, word ons verwond. Later word ons aangetrek deur iemand met dieselfde eienskappe as ons ouers; ons onbewuste herskep as’t ware die oorspronklike scenario sodat ons dié keer die probleemkwessies kan oplos.

So kan ’n man wat kleintyd met ouerbetrokkenheid oorlaai is, trou met ’n vrou wat meestal aan haarself oorgelaat is. As volwassene het hy baie alleentyd nodig, terwyl sy angstig voel as sy alleen gelaat word. Hy ervaar haar as klouerig; sy sien hom as afsydig.

Die wonder is dat albei se wonde geheel kan word deur die situasie te verstaan en te strek om in hul maats se behoeftes te voorsien. As hy doelbewus probeer om haar tegemoet te kom, leer hy om emosioneel toegankliker te raak. Deur hom doelbewus ruimte te gun, raak sy onafhankliker. Elkeen word ’n heler mens. Die bewuste verhouding word die terapie.

Imago-verhoudingsterapie rus paartjies met doeltreffende kommunikasie- en ander hulpmiddels toe en verg uiteraard toewyding en geduld. Tog is dit gerusstellend om te weet die magstryd is ’n normale fase wat verliefdheid in deurleefde liefde kan help verander.

3. Jou alles-in-een maat is ’n mite

As jy verlief is, kan die res van die wêreld maar vergaan – behalwe dié elemente wat gekookte etes en skoon klere verskaf. Wanneer jou geliefde daar is, loop jou beker oor. Julle doen alles saam.

Tot jy op ’n dag dowwe kolle in jou droom ontdek. Hy lees nie meer jou diep gedigte nie. Die chick fliek laat hom koud. Dis ’n teken om weer balans in jou lewe te bring.

’n Huwelik kry swaar wanneer een maat dink dat sy maat se liefde al is wat hy nodig het. Dan neem dié maat simbolies die rol van die ouer oor, verduidelik dr. John Townsend in Leef in liefde (Struik Christelike Boeke, 2009). “Julle het ander bronne van liefde ook nodig vir passie in jul verhouding, anders sal die een die ander versmoor. Dit help om drie stelle goeie, deernisvolle vriendskappe te hê: joune, myne en ons s’n.”

In The Heart of Love maak dr. Demartini die ongewone stelling dat jou geesgenoot in elk geval 24 uur per dag, sewe dae per week rondom jou is. Om dit te toets, kan jy die volgende oefening probeer:

• Maak ’n lys van wat jy in jou geesgenoot soek. Skryf elke eienskap neer.
• Kyk nou waar en deur wie elke kenmerk reeds in jou lewe gestalte vind. Wie is lewenslustig, kreatief, suksesvol, of laat jou lag?
• As jy aanhou soek, sal jy agterkom watter vriend, kollega, familielid of kliënt – of boek, fliek of dagdroom – hierdie eienskap in jou lewe indra. Jy het reeds alles wat jy begeer.
• As dit vir jou na skrale troos klink, kan jy só daarna kyk: wat sou jy op die lange duur verkies: een allesomvattende verhouding, of ’n ryke ervaring van baie mense, dinge en plekke?

4. Ek verstaan hom nie!

Dis nie ongewoon om een oggend wakker te word en te wonder wie die vreemdeling in jou bed régtig is nie. Sy optrede maak net nie sin nie. En jy was onder die indruk jy weet hoe sy kop werk …

Die enigste betroubare voorspelling wat jy ooit oor ander kan maak, is dat hulle aan hul waardes getrou sal wees, beweer dr. Demartini. “Waardes” hou hier eerder verband met dit wat belangrik is as dit wat reg en verkeerd is.

Dr. Demartini onderskei sewe waardevelde: spiritueel, intellektueel, loopbaan, finansieel, familie, sosiaal en fisiek. Elkeen van ons lys hierdie velde in ’n spesifieke volgorde.

Ons lewe wys wat voorop staan – dit waaroor ons die meeste dink, droom en praat, waarmee ons ons ruimte vul en waaraan ons tyd, geld en energie bestee.

Rangskik gerus jou en jou maat se velde van belangrik na minder belangrik. Nie net maak voorkeure en besluite skielik meer sin nie, maar jy het nou ’n kragtige instrument om doeltreffend met jou maat te kommunikeer. Die geheim is om jou hoogste waardes in terme van syne oor te dra.

Gestel jou topprioriteit is familie, en syne intellektueel. Sodra hy voel jy gee te veel aandag aan die kinders, kan jy hom daaraan herinner dat dit hom ekstra tyd gee om interessanthede op die Internet op te soek. Dié kuns word breedvoerig in The Heart of Love bespreek.

As jy moedeloos wonder hoe twee mense wie se waardes soveel verskil, na aan mekaar kan bly, is hierdie oefening vir jou:

Skryf jou vyf belangrikste waardevelde neer, en sy topvyf langsaan. Lys minstens vyf maniere waarop jou maat se boonste waarde jou help om jou hoogste prioriteit te vervul. Druk deur as dit moeilik voel! Lys nou vyf maniere waarop jou boonste waarde hóm help om sy prioriteit te vervul. Herhaal die proses vir die ander vier items op elkeen se lys.

Dié bedrieglik eenvoudige oefening herbedraad jou brein en open ’n nuwe deur tot kommunikasie en intimiteit. Omdat ons waardes kan verander, is dit goed om dit elke kwartaal te herhaal.

5. Die liefdesvuur verflou

Al lyk dit aanvanklik onwaarskynlik, kom daar ’n dag dat jy jou skaars aan jou man steur as hy stomend uit die stort kom, of dat hy – al is jy hoe skraps geklee – kwalik ’n wenkbrou lig.

Seks eb en vloei in langtermynverhoudings. Afgesien van oorsake soos gesondheidsprobleme, kinders wat aandag verg, moegheid, werk- of finansiële druk, onverwerkte trauma of onopgeloste verhoudingskwessies, is daar ook ’n dieper dinamiek.

Waardevervulling – om te voel jou waardes word raakgesien en in ag geneem – speel ’n groot rol in seksuele vervulling, sê dr. Demartini. Daarby kan jy die ruimte tussen julle verryk deur dit vir jou maat veilig te maak om te sê en te leef wie hy is. Dit vra ’n nieveroordelende houding.

Hoe beter jy jou eie skadukant ken en integreer, hoe minder sal jou maat se “foute” jou pla. Dr. Demartini se boek The Breakthrough Experience (Hay House, 2002) is ’n stap vir stap innerlike transformasieproses wat jy tuis as selfhelpmiddel kan gebruik. Jy kan ook ’n naweekwerkwinkel bywoon

Eienskappe van jou maat (of jouself) wat seksuele vervulling kortwiek, kan deur dié proses geneutraliseer word. Dieselfde geld ’n ongelyke verhouding in terme van eiewaarde.

Dikwels het een maat – sê maar die vrou – op een of meer gebiede min eiewaarde, terwyl haar man homself oorskat. “Hulle begin dan bekende rolle speel, soos ouer en kind of die een wat beheer en die een wat beheer word,” skryf dr. Demartini in The Heart of Love. “Hoe groter die magsverskil, hoe meer demp dit die liefdeslus. Wie wil met hul pa of ma getroud wees?” Dié situasie moet bewustelik hanteer word.

’n Gulde reël is om doelbewus jou potensiaal in elke waardeveld te ontwikkel. Dit maak jou ’n aantrekliker mens, en sommer ook interessanter vir jouself!

Vraag aan lesers: Is of was jy getroud, en indien wel, vir hoe lank? Wat het jy ná die troue oor die huwelik agtergekom waarop jy glad nie voorbereid was nie?

Herine Fourie
Ek is 34 jaar lank met my tweede man getroud. My eerste huwelik het ná twee jaar op die rotse geloop. Met my eerste huwelik het ek met ’n skok ontdek dat ek met ’n man getrou het wat dieselfde eienskappe as my pa gehad het. Ek was lief vir my pa, maar blind vir die feit dat my ma ’n sielsongelukkige mens was. Ek het eers later die volgende geleer:

1. Hoe swaar die verantwoordelikheid van ’n gesin op ’n vrou se skouers rus. Dit klink romanties om te trou en ’n baba of twee te hê. Maar babas bly nie lank babas nie –  binne ’n paar jaar is hulle groot en begin die harde werk wat lewenslank duur.
2. ’n Mens verander namate jy ouer en meer volwasse word. Met die jare ontdek jy dat julle nie meer dieselfde mense is as die twee wat destyds met mekaar getrou het nie.
3. Die huwelik is geen waarborg vir lewenslange geluk nie. Díe moet jy in jouself ontdek.

Caren Kretsman
Ek is twee jaar gelede geskei ná ’n huwelik van twaalf jaar. Ek het besef dat ’n geesgenoot nie noodwendig ’n troumaat is nie, want die invloed van jou vormingsjare is ’n groot skakel in die keuses wat jy in jou volwasse lewe maak. Jy moet eers jouself kan liefhê voordat jy liefde aan ’n ander kan betoon.

Cleona Goosen
Ek is agtien maande lank getroud. Daar is baie huwelikskwessies waarvan ek eers ná die troue bewus geword het, maar een van die belangrikste is dat jou liefde elke dag groei en jy elke dag aan jou verhouding moet werk. Met die ekonomiese krisis op ons voorstoep is dit moeilik om kop bo water te hou. Spanning kan jou maklik kop laat verloor en selfs daartoe lei dat elkeen sy frustrasies op die ander uithaal. Daarom moet jy naby God en mekaar leef! Die lewe is wreed, maar liefde oorwin alles.

Lees ook: ’n Fotograaf se wenke vir jou troudag

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

4 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

5 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

5 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

5 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

5 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

5 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.