Deur Maretta Bellingan.
Dis ’n koel somersdag in die Kaap. Ons ontmoet in ’n teetuin vir ons gesels en Hannes, geklee in ’n swart hemp en swart broek, daag op met ’n klomp hemde oor sy arm vir die fotosessie wat ná die onderhoud plaasvind.
Sy voete is vierkantig op die aarde, sonder fieterjasies, en wat jy sien is wat jy kry… Dit mag klink soos ’n klomp clichés klink, maar dis moeilik om die TV-aanbieder en akteur anders te beskryf. Hy’s regtig een van die ‘bekendes’ in die bedryf wat nie ’ n gram aanstellerigheid uitstraal nie.
Dat hy reeds amper 30 jaar in die kollig is, sal jy nie sommer raai nie. Hy gesels land en sand met die kelnerin, met die mense by die tafel langsaan; niemand is ’n vreemdeling nie.
Hy beduie na die hemde. “Ek is mos kleremal, ek koop klere soos wat ander mense kruideniersware koop. Nie dat ek dit altyd kan bekostig nie, maar jy weet mos ek het nie kind of kraai nie, so ek mag seker soms ’n bietjie spandabelrig wees,” lag hy half verskonend.
“Ek gooi gedurig uit, maar dit raak eenvoudig nie minder nie. En dit eindig nie by klere nie,” verklap hy, “ ek’s ook mal oor glas en kristal. Ons het ’n ou Victoriaanse huis wat in 1890 gebou is, en het pragtige kandelare, kristal en glas. Ek’s ook gek oor mooi materiaal. Ek koop ’ n stuk materiaal vir ’ n stoel en ’n jaar later laat maak ek ’n broek daarvan.”
Hannes het ’n reeks met wit en swart hemde en ’n eksklusiewe parfuumreeks vir mans sowel as vroue.
“Dit word onder die handelsnaam Theatre deur Hannes van Wyk bemark. Dit was nogal moeilik om dit te ontwikkel,” erken hy. “Mense hou van verskillende reuke en dis ’n uitdaging om op een te besluit. Op die ou einde het ek net gekies waarvan ek hou.”
“Dit is aanlyn beskikbaar en by die damesoggende waar ek praatjies lewer. Ek doen die praatjies al vir baie jare, seker al vir 20 jaar. Ek verander darem die inhoud elke jaar,” voeg hy vinnig by.
Die tema van sy praatjies handel oor ma’s en vroue. “Ek was mos vreeslik erg oor my ma, Mariet, wat in 2022 oorlede is. Sy was ’n gesonde 88 en dit was ’n reuse skok, ons weet nog nie wat regtig gebeur het nie.”
Hannes en sy ma was verskriklik na aan mekaar. “Ek huil nog elke dag oor haar,” erken Hannes, wat die jongste van drie kinders is en op Aliwal-Noord groot geword het, waar hy van seuntjietyd al daarvan gedroom het om eendag ’n akteur te word.
“Aliwal-Noord is waar my menswees gevorm is. Alle krediet aan sorgvrye kinderjare op die platteland en wonderlike onderwysers wat my vir my lewe en loopbaan voorberei het. Ek dink met die mooiste herinneringe aan daardie tyd terug.

(Foto: Kyra Welch)
“Ek het geen idee hoekom nie, maar daai begeerte om toneel te speel was net altyd daar. Ek het as vyfjarige seuntjie saam met ’n Oom Retief se toneelgeselskap, amper soos die destydse Hanekoms, in die omgewing opgetree en het gediggies opgesê,” onthou hy met ’n glimlag.
“En my ouers was ongelooflik, hulle het net gesê: ‘Studeer wat jy wil, my kind, ons ondersteun jou en sal ’n plan met die geld maak.’ Ek was baie lief vir my pa, maar my ma was my rots en my alles. Ons het twee maal per dag gesels, ek het als in die lewe met haar bespreek en sy met my. Dit was werklik my grootste vrees om my ma te verloor, en toe gebeur dit.”
Dit was en is steeds baie erg vir hom, erken Hannes. “Ons was ontsettend lief vir mekaar en het mekaar met ons lewens vertrou. So ja, as jy my vra wat is my grootste vrees, dit het klaar gebeur. Ek sukkel nog baie met my hartseer.”
Hy sê hy wil haar kort-kort bel, soos as daar iets met hom gebeur. ’n Nuwe rol, ’n lekker onderhoud of nou dat Magda Louw so suksesvol is.
“My ma het net die TV-fliek gesien en dit was vir haar baie vreemd om my as ’n ou oom te sien,” sê Hannes, wat saam met Desiré Gardner in die gewilde kykNET TV-reeks as Erhard Louw te siene is. “Alle eer aan die puik grimeerkunstenaar,” sê hy daaroor.
In Mariet van Wyk se oë was haar seun nooit ’n bekende akteur nie, hy was net haar seun Hannes. “En om eerlik te wees, bekendheid is net deel van my werk. Ons plant nie harte oor of red mense nie, daar’s dus geen rede om jou belangrik te hou nie. Ons doen net ’n werk.
“Dis te danke aan die publiek dat ons kan doen wat ons begeer en geld verdien. Dit bly ’n voorreg om te doen wat ek doen. Ek het myself nog nooit as ’n bekende gesien nie. Dit vang my altyd half onkant, want hoekom wil hulle nou juis mý handtekening hê of saam met my ’n foto neem.”
Hy glo sy ongemak met roem kom van sy ma af. “Dis hoe ek grootgemaak is. Jy behandel mense soos wat jy behandel wil word. Vir my drie hondekinders, Mariet, Maggie en Lulie, is ek ook net Hannes wat kos en liefde gee.”
Hy’s ongetwyfeld versot op sy drie honde. “Ek het lank gelede in ’n onderhoud gesê ek hou meer van diere as mense en was daar nou ’n bohaai daaroor so ek sal dit nie weer waag nie, maar daai drie is my hart se punt.
“Ons het Lulie net ná my ma se begrafnis gekry. Iemand het gebel en gesê daar’s kinders wat ’n hond op ’n ashoop met klippe gooi. Ons het haar dadelik gaan haal. Dis vir my ’n groot prioriteit om by diere wat swaarkry betrokke te wees.”
Lees ook: Hannes aan Huis keer terug: “Elke keer as iemand my hul storie toevertrou, raak dit my”

(Foto: Kyra Welch)
Hannes, wat sy dramagraad aan Kovsies voltooi het, en nou amper tien jaar as aanbieder van Kwêla werksaam is, het veral weer die laaste vier jaar meer gereeld toneelwerk gedoen waaronder sy eenmanstuk Sê groete vir Ma waarmee hy oor die land heen getoer het.
Hy was ook in die TV-reekse Spoorloos te siene waarin hy die rolle van ’n kindermoordenaar en ’n professor vertolk het.
Hy onthou toe hy destyds ook ’n ietwat gure karakter in Egoli vertolk het. “Die mense het my regtig gehaat. Ek is met koffie gegooi en mense wou my nie in die winkel help nie, maar was dit nou ’n heerlike rol. Krynauw het saam met die hele wêreld geslaap en vreeslik gesuip. In ’n stadium het ek selfs ’n lyfwag gehad,” onthou hy laggend.
Hannes, wat destyds ’ n dekade lank in Egoli te siene was, is al telke male vir Silwerskermfees toekennings vir sy toneelspel benoem. Hy’t ook al die toekenning as beste aanbieder vir ’n joernaalprogram vir Kwêla gewen.
“Ek kan nie kies tussen aanbieding en toneelspeel nie. Ek is as ’n akteur opgelei en dit sal altyd my eerste liefde bly, maar Kwêla en Hannes aan huis lê my baie na aan die hart.”
As aanbieder skep hy die indruk dat hy totaal in beheer is, en straal ’n rustige selfvertroue uit. “Ek doen baie huiswerk,” verklap hy. “Ek doen regtig geweldig baie voorbereiding. En jy leer om te luister en dis nogal ’n kuns. Mense kritiseer my soms dat ek gaste onderbreek, maar hulle moet onthou ek het net tien minute om die onderhoud te doen.
“Ek kan werklik nie een onderhoud in die meer as 500 episodes wat ek al gedoen het, uitsonder nie. Ek’s dankbaar dat ek soveel vertroue by gaste inboesem dat hulle openhartig met my gesels. In my volgende lewe sal ek ’n haarkapper word,” terg hy.
“En sê tog vir die mense hulle moet my hare uitlos,” sê Hannes, wat sy hare vir sy rol as Erhard moes kleur, spottend. “Dis ’n wonderlike rol om te speel. Desiré is werklik ’n goeie skrywer en mense vind aanklank by die karakter.
“Ek is opreg dankbaar dat ek soveel uiteenlopende rolle oor die jare kon vertolk en nou ’n oom wat 30 jaar ouer as ek is. Baie mense besef nie eens dis ek wat die rol vertolk nie.”
Lees ook: Hannes van Wyk oor Magda Louw & Erhard-karakter: “Dis lekker dat mense my nie in die rol herken nie”

(Foto: Kyra Welch)
Die onderhoud vind plaas aan die begin van die nuwe jaar en ek wonder hoe Hannes sy Kersvakansie deurgebring het. “Ek geniet dit die meeste om by my huis vakansie te hou. Jy onthou seker nie, maar ’n 100 jaar gelede het ek vir ’n Britse produksiehuis ’n program gedoen en het die wêreld platgereis en met almal van Bill Clinton tot Naomi Campbell onderhoude gedoen.
“So my ideale vakansie is by my huis. Ek doen tuinwerk, gaan stap op die strand met die honde en ek lees graag. En ek skeer net as ek voor die kameras moet wees. By die huis is ek in ’n sweetpak en T-hemp, of liewer ’ n vessie en ’n speedo,” terg hy.
“Maar in die kombuis is ek ’n volslae mislukking. Hoewel ek my ma se souttert perfek kan maak!”
Wat weet ons nié van Hannes nie? “Ek het so ’n bietjie van ’n beneukte kant. Ek haat luiheid. En as ek betyds kan wees, kan jy ook. Dis net goeie maniere. En ek hou nie van mense wat onsensitief is teenoor ander nie. Mense wat eenvoudig dink hulle het die vryheid om te sê net wat hulle dink,” sê die man wat erken sy grootste swakhede is karre en tjoklits.
En sy planne vir die toekoms? “Ek hoop ek kan Kwêla doen totdat ek eendag met ’n kierie loop. En ek hoop Magda Louw het nog baie lewe.
“Ek is werklik geseënd. Ek het ’n goeie lewe, ek is gesond, het ’n handjie vol fantastiese vriende en ’n loopbaan waarvan ek net kon gedroom het. Daar’s soveel briljante akteurs wat werkloos is, en ek tel my seëninge elke dag.
“Ek is nie ’n dweper nie, maar ek is ‘n diep gelowige mens. Dis die fondasie van my bestaan.”
Hierdie artikel het oorspronklik in ons April-uitgawe van 2023 verskyn.
Lees ook: TV-benoemings vir vanjaar se kykNET Silwerskermtoekennings bekend

