Verskaf deur ontbytSAKE
Die gewilde TV-program ontbytSAKE het vanjaar ’n baie spesiale gas by hul ontbytSAKE Toekennings 2026. Dit vind op Donderdag 10 September by die Sunbet Arena, Time Square in Pretoria, plaas.
Loren Allred is veral bekend daarvoor dat sy die wêreldbekende stem agter die lokettreffer, The Greatest Showman, se liedjie ‘Never Enough’ is. In 2022 het sy dit vir die eerste keer bekend gemaak op Britain’s got Talent. Intussen het haar loopbaan behoorlik vlam gevat en word sy gehoor en gesien op al die wêreld se grootste verhoë.
Loren Allred kuier ook in die ontbytSAKE-ateljee dié week om te gesels oor haar lewe en loopbaansukses. Dit word op Saterdag 12 September uitgesaai.
Allred deel die ontbytSAKE-toekenningsverhoog met die talentvolle Suid-Afrikaanse kunstenaars Elvis Blue, Tarryn Lamb, Elandré en Elmé Churr. Die aanbieder is die geliefde Minki van der Westhuizen, wat bygestaan word deur ontbytSAKE-aanbieders, Leon Gropp en Charlene Lackay.
ontbytSAKE Onderneming van die Jaar-toekennings
Wat drie jaar gelede begin het as die ontbytSAKE Onderneming van die Jaar-toekennings om Suid-Afrika se klein- en mediumondernemings, wat op ontbytSAKE adverteer, te vereer, is vanjaar ’n multimiljoenrandse skouspel van kleur en klank. Dit bring van Suid-Afrika se invloedrykste sakeleiers, entrepreneurs, beleggers en hoëprofielgaste bymekaar tesame met wêreldklasvermaak en die jongste tegnologie.
Kunsmatige Intelligensie vorm ‘n integrale deel van die ervaring met ‘n asemrowende oudiovisuele vertoning wat deel is van die produksie.
Die geleentheid se hoëprofielgastelys sluit bekende plaaslike en internasionale persoonlikhede, sportsterre, politici, sakeleiers en invloedryke entrepreneurs in. Dit skep ’n unieke platform waar kleinsake-eienaars en gevestigde ondernemings met mense aan die voorpunt van sake, belegging en innovasie kan skakel.
Viering van Suid-Afrikaanse uitnemendheid
“Dit gaan oor meer as wie ’n trofee huis toe neem. Dit gaan oor die mense agter die ondernemings, die stories van sukses en die geleenthede wat ontstaan wanneer sake, tegnologie en mense bymekaar gebring word,” sê Louis McLaren, ontbytSAKE se Uitvoerende Vervaardiger.
“Die ontbytSAKE Toekennings/Awards wil hiermee ’n brug bou tussen Suid-Afrikaanse ondernemings, ’n vinnig veranderende KI-gedrewe wêreld en internasionale beleggers – en finaliste, en wenners groter sigbaarheid bied as bloot die erkenning van ’n toekenning.”
Die ontbytSAKE Toekennings-produksie word saamgestel deur die bekroonde kreatiewe regisseur, Andrew Timm, en is ’n viering van Suid-Afrikaanse uitnemendheid met die sakewêreld, tegnologie, mense en wêreldklasvermaak op een verhoog. Dis soveel meer as net toekennings.
Die aand begin met ‘n rooitapyt-aankoms vir al die gaste, sowel as wynproe en netwerkgeleenthede voor die vertoning en ‘n TV-opname wat om 18:00 begin.
Lees ook: ‘Die Wynmeester’: Eerstegeslag-wynmaker vanjaar se wenner van gesogte kroon | rooi rose










