Sy lewe al langer as twee dekades tussen waarheid en leuens, op voorblaaie en tussen die geraas van sosiale media. In die episode van Waar daar ’n wil is wat op 9 Desember 2025 uitgesaai word, maak Amor Vittone haar hart teenoor Lee-Ann van Rooi oop oor al hierdie uitdagings.
“Ek lewe my lewe in liefde. Ek lewe met passie. As jy nie passie het nie, dan het jy niks nie,” sê Amor vroeg reeds in die program.
Maar om ’n lewe onder die vergrootglas te leef is nie altyd maklik nie. Amor het bekendheid verwerf in verskeie hoedanighede – van Suid-Afrika se eerste Lotto-glansvrou tot sangeres en aktrise. Dan was daar natuurlik haar sprokieshuwelik met die Springbokrugbyspeler Joost van der Westhuizen, die geboorte van hulle twee kinders en toe die baie openbare verbrokkeling van hulle huwelik en Joost se motorneuronsiekte en dood in 2017.
Sy praat openhartig met Lee-Ann oor verskeie aspekte van haar lewe – ook oor wat haar die heel seerste gemaak het.
Haar antwoord? “Wanneer vertroue gebreek is. Wanneer liefde wat jy gedink het daar is, nie meer daar is nie.” Die ergste was egter om te sien hoe seer haar kinders en haar eie ouers kry te midde van die hele rumoer en geskinder rondom haar en Joost.

Sy erken sy is nie altyd reg nie. “Ek het verskriklik baie foute gemaak. Baie! Maar ek het dit reggemaak met my Skepper, en ek het nie nodig om verskoning te maak by mense nie. Ek is op ’n veilige plek in my lewe.”
Joost, wat sy haar groot liefde noem, leef voort in sy kinders – en nie net lyk Jordan baie na sy pa nie, hy én sussie Kylie het van dieselfde gewoontes as hulle pa.
Hulle het ook oor vergifnis gepraat, en Amor sê: “As jy nie vergewe nie, kan jy nie aanbeweeg nie”. Dit is ook duidelik dat sy ’n ondersteunerstelsel het wat haar staande hou – haar ma, Delyse, suster Lorén en swaer Lennie de Villiers, haar suster Ilana wat in Kanada woon, asook haar goeie vriendin Helena Tarantino.
Delyse praat in die program oor die eerste keer wat sy en Amor se pa, Dario, vir Joost ontmoet het en hoe hy vir hulle vertel het dat hy op skei staan van sy eerste vrou. Sy wys daarop dat Amor in daardie stadium meer suksesvol as Joost was. (Dario is in 2023 op 82-jarige ouderdom oorlede.) Lorén en Helena is ewe beskermend teenoor Amor en sal enigiets doen om haar te ondersteun.
Amor vertel aan Lee-Ann dat depressie en angs haar veral in 2022 aan die keel gehad het. Met alles wat in haar lewe aangegaan het, het sy begin sukkel om te slaap. Slaappille was vir haar die antwoord, maar later was twee of selfs vier pille nie genoeg nie, en dit het haar gesondheid begin affekteer. Vandag kan sy egter terugkyk na hierdie tyd as net nog ’n hobbel in die pad wat sy oorkom het.
Wat was die les wat haar die langste gevat het om te leer, was Lee-Ann se laaste vraag.
“Om myself te vergewe,” het Amor geantwoord.
Waar daar ’n wil is met Amor Vittone as gas, word op 9 Desember 2025 om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Lees ook: Nuwe realiteitsreeks Volspoed plaas ’n renjaer én sy gesin in die kollig
